Die genesing van die melaatse (1)

Happiness is not in the mere possession of money; it lies in the joy of achievement, in the thrill of creative effort  – Franklin D. Roosevelt

 

Die genesing van die melaatse (1)

Jesus het afgekom van die berg af, en ‘n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. ‘n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak (Matteus 8:1 – 2).

Melaatsheid was destyds ‘n gevreesde aansteeklike siekte. Vir die antieke Israeliete was mense met melaatsheid ‘n sigbare les oor sonde. Soos melaatsheid mettertyd die hele persoon affekteer, affekteer sonde ook die hele persoon; melaatsheid is lelik en ongeneeslik behalwe as buitengewone maatreëls getref word,

 

 

Daar is ‘n paar interessante kenmerke van hierdie man met melaatsheid:

  • Hy kom met vertroue na Jesus. Hy het waarskynlik Jesus se liefde en deernis aangevoel en besef dat Jesus nie omgee om met hom geassosieer te wees nie. Die melaatse se primêre bekommernis was sy groot behoefte en Jesus se vermoë en gewilligheid om dit te hanteer.
  • Die melaatse nader Jesus met eerbied. Sy roep na Jesus en sy naderkom na Jesus, wat streng verbied is, was nie aanmatigend nie, maar die gevolg van nederige aanbidding. Kniel beteken in werklikheid neergeval voor Jesus. Sy gesindheid bewys dat hy Jesus  as Here beskou het – hy herken Jesus se Goddelikheid; hy weet dat Jesus, as God se Seun, hom kan genees.
  • Die man kom vol verwagting, maar nie met eise nie. Daarom nader hy Jesus met eerbied en nederigheid. Dit is duidelik dat hy graag genees wil word, maar hy vra nie eksplisiet vir Jesus vir hierdie guns nie. Dit was darem te veel om te vra. Daarom sê hy: Here, as U wil, kan U my gesond maak.  Vandag kry ons by sommige gelowiges die gesindheid  dat as hulle vra God hulle moet gesond maak.
  • Die man se geloof was opreg – hy is oortuig dat God hom gesond kon maak, maar hy onderwerp hom aan die soewereine wil van God – Jesus kon sy melaatsheid genees, maar Hy was nie verplig om dit te doen nie. Sy geloof herinner ons aan die geloof van Daniël en sy drie vriende: Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie (Daniël 3:17 – 18). Net so sal die melaatse ook aanvaar wat Jesus ook al besluit.

 

Hierdie man staan teenoor die Joodse leiers. Hulle was altyd reg; hulle was mooi aangetrek; inwendig was hulle egter korrup en ongelowig. Die melaatse was uitwendig afstootlik in voorkoms, maar inwendig was hy vol opregte geloof.

 

Dink oor die ooreenkoms van melaatsheid en sonde. As sonde se gevolge duidelik in ons gesig en op ons vel sigbaar was soos melaatsheid, hoe sou dit ons gedrag en gehoorsaamheid beïnvloed het?

 

Ek het hier gebruik gemaak van Daily Readings from the Life of Christ, Vol. 1, John MacArthur.




Die genesing van die melaatse (2)

Just don’t give up trying to do what you really want to do. Where there’s love and inspiration, I don’t think you can go wrong – Ella Jane Fitzgerald

 

Die genesing van die melaatse (2)

Toe steek Jesus sy hand uit, raak aan hom en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg (Matteus 8:3).

In die vorige blog het ons baie aandag aan die melaatse gegee en gelet op sekere interessante eienskappe by hom. Kom ons kyk na Jesus se optrede.

 

Die wet van Moses verbied Jode on aan melaatses te vat, want hulle was onrein. In Levitikus 13 lees ons van velsiektes wat ‘n persoon onrein maak. Baie van die beskrywings daar kan met melaatsheid inpas. Levitikus 5:3 sê dat as iemand raak aan iets onreins van ‘n mens, iets wat hom onrein maak, en hy is nie bewus daarvan nie, is hy skuldig. Toe Jesus aan hierdie man raak, was Hy onmiddellik seremonieel onrein.

Melaatses is uit die samelewing gewerp en moes buite die dorpe woon. Hulle moes hardop skreeu as hulle nader kom, sodat die mense kan padgee voor hulle onrein word. Dink nou net aan die melaatses. Al geselskap wat hulle gehad het, was ander melaatses. Hoe het hulle nie verlang na nabye kontak met ‘n persoon wat gesond is nie

Jesus raak aan hierdie man. Dit was nie nodig nie – Hy kon die man met ‘n woord gesond gemaak het. Ongelooflik. Die Seun van God reik in liefde uit en raak aan hierdie uitgeworpene van die uitgeworpenes. Niemand anders sou dit gedoen het nie.

Jesus genees hom onmiddellik: En sy melaatsheid was onmiddellik weg.  Toe Jesus aan hom raak, verdwyn sy melaatsheid. Jesus het soms mense in stadia genees. Die blinde man in Betsaida (Markus 8:22 – 26) en die man wat blind gebore is (Johannes 9:6 – 7) is voorbeelde hiervan. Hierdie moes ‘n dramatiese ondervinding vir die ooggetuies gewees het. ‘n Uitgeworpene, sy vel vol swere, staan skielik op – gesond. Sy ledemate is normaal; sy gesig is sonder littekens; sy oë is helder en blink; sy stem is sterk en vol vertroue. Die moderne wetenskap met al sy wonderlike kundigheid en vermoë om te genees, kan nie ‘n melaatse onmiddellik genees nie.

Is daar sekere mense aan wie jy nie graag wil raak nie – nie fisies of met oogkontak nie? Wat gee aan ons die reg om nie met liefde na ‘n ander persoon in nood te kyk nie – om ons hulp aan te bied en om hom te aanvaar?

Ek het hier gebruik gemaak van Daily Readings from the Life of Christ, Vol. 1, John MacArthur.




Die tempelreiniging (2:13-22)

Die tempelreiniging (2:13-22) – Francois Malan

Die Johannes-Evangelie plaas dit aan die begin van Jesus se bediening in Judea om te verduidelik dat die Messias vernuwing bring in die diens van God, soos die wynwonder ‘n nuwe reiniging simboliseer; ook dat Jesus se optrede skeiding bring onder mense: sommige kom tot geloof (v11), en ander kom in verset (v18-20).

 

2:13  Vir sy nie-Joodse lesers onderskei die skrywer tussen die Joodse paasfees wat die uittog uit Egipte vier en die Christelike paasfees wat die opstanding van Jesus vier. Soos vir die Jode voorgeskryf is, gaan Jesus ook Jerusalem toe vir die paasfees wat volgens Johannes begin op Vrydagaand  (13:1; 18:28; 19:31).  ‘opgegaan’ – Jerusalem lê 700 meter bo seespieël, Kapernaum 200 meter onder seespieël en die Jordaan by Jerigo nog verder onder seespieël. Daarby gaan die pad van Jerigo na Jerusalem berge op en berge af.

 

2:14 In die voorhof vir vroue en nie-Jode bied verkopers offerdiere, wat deur die priesters goedgekeur sal word, te koop aan (duiwe vir die armes se offers (Lev 5:7) , skape vir die paaslammers (Eks 11:3-6), beeste vir dankoffers van die rykes (Lev 1:1-9). Die geldwisselaars ruil die Romeinse geld met die keiser se kopbeeld op, vir tempelgeld waarmee die jaarlikse tempelbelasting betaal word.

 

2:15 Jesus vleg ‘n sweep van tou (waarskynlik van die toue waarmee die diere vasgemaak is); dit is soos ‘n koning se teken van gesag. Dat geharde besigheidsmanne luister, is ‘n wonder. Jesus tree op met die gesag van die Seun van God wat die eer en heiligheid van die huis van sy Vader beskerm. Die handelaars trek die aandag af van die dankbare aanbidding van God, en godsdiens word besigheidstransaksies om God se guns met offers te wen.   

 

2:16:  Die duiweverkopers moet die duiwe met hokke en al wegvat. Hulle maak die huis van ‘my Vader’ ‘n huis vir handeldryf/’n mark. Vir die eerste keer in Johannes praat Jesus van God as sy Vader. Johannes lê klem op die ontheiliging van die tempel. Die sinoptiese Evangelies beklemtoon die oneerlike praktyke ‘’n rowersnes’ (Jer.7:11) omdat die pryse so hoog was, en die priesters wins gemaak het uit die handelaars se stalletjies en ‘n persentasie van die wins.

 

2:17 Jesus se volgelinge sien sy optrede as ‘n vervulling van Ps 69:10 (volgens die Griekse vertaling). Met dié Messiaanse psalm identifiseer hulle Jesus met die verwagte Messias. Jesus kom alles wat die ware aanbidding van God kan verhinder uit die weg ruim. Die dissipels vrees dat Jesus se optrede sy dood sal kos, maar niemand roep die tempelpolisie om Hom te stuit nie.

 

2:18 Die Joodse leiers, Jesus se teenstanders , eis ‘n wonderteken om sy volmag van God vir sy optrede tot hulle bevrediging te bewys. Jesus weier om sy ongelowige teenstanders te bevredig.

 

2:19 Jesus antwoord met ‘n metafoor/beeldspraak wat ook ‘n raaisel is (vgl. Mk 4:11,12). In Grieks het elke woord hier twee betekenisse:  ‘breek af’ (maak los)  kan na die tempel verwys en na ‘n mens wat sterwe; ‘die tempel’ kan ook na die mens se liggaam verwys (1 Kor 16:9); ‘oprig’ word gebruik van ‘n gebou en opwek uit die dood.  Jesus verwys na die toekomstige optrede van die Jode wat Hom gaan  uitlewer om gekruisig te word. Hulle sal dan saamwerk aan die teken wat hulle vra, ‘en na drie dae sal Ek dit weer oprig’. Maar die tempel waar die offers gebring word, gaan ook afgebreek word, omdat Jesus se liggaam die afdoende offer gaan bring (Hebr 10:19-20). Met sy opstanding verrys Hý as die nuwe tempel, nadat die voorhangsel van die ou tempel geskeur het, sodat Hý die vrye toegang tot God is vir elke sondaar  wat na Hom toe kom (vgl. Jn 14:7).          

Volgens Matteus 26:61 word hierdie antwoord van Jesus as getuienis teen Hom gelewer.

 

2:20 Die Jode verstaan Jesus se antwoord as ‘n verwysing na die tempelgeboue. Hulle beskou dit lagwekkend en onmoontlik. Die gebou wat Herodes in 19 v.Chr. begin bou het, is eers in 64 n.Chr. voltooi en in 70 n.Chr. deur die Romeine afgebreek  Indirek het hulle self die tempel afgebreek deur hulle jarelange weerstand teen die Romeine.  Die 46 jaar na 19 v.C. beteken dat Jesus ongeveer 28 n.Chr. gekruisig is.

 

2:21 Johannes verduidelik Jesus se uitspraak om ‘n misverstand by sy lesers te voorkom. Na drie dae sal sy liggaam opgewek word. Die liggaam van Jesus is die tempel waarin God teenwoordig is; ‘n ander manier om te sê: die Woord het mens geword (Jn 1:14).  Met sy uitspraak bedoel Jesus dat in sy liggaam word die vervulling gegee van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe maak die offerdiens oorbodig (Jn 4:21-26; 10:11), en sy opstanding maak die tempel self oorbodig (vgl. Jn 11:25,26). Hy is die nuwe tempel van Openb 21:22 en 22:1-2.  Nie ‘n gebou nie, maar die Persoon van Christus in wie die Gees van God woon is die tempel van God (1:33), deur wie ons na God gaan.

 

2:22  Na sy opstanding het dit alles eers vir die dissipels duidelik geword, onder die leiding van die Heilige Gees (vgl. Jn 14:26; 16:13).  Toe het die dissipels geglo dat sy woorde dieselfde gesag het as die Ou Testamentiese Skrif, dat Hy die Woord van God is en bring. Toe het hulle aanvaar dat die tempelreiniging ‘n teken is dat die ou  bedeling plek gemaak het vir die nuwe. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die suiwer leer

Hard work is painful when life is devoid of purpose. But when you live for something greater than yourself and the gratification of your own ego, then hard work becomes a labor of love – Steve Pavlina

 

Die suiwer leer

 Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms (1 Timoteus 4:8).

Waar kry ons hierdie suiwer leer? In die Bybel. Maar ‘n opname deur Gallup bevind dat Amerikaners die Bybel hoog ag, maar dit nie lees nie. Min Amerikaners kan al tien die gebooie opnoem; net 50% kan een van die evangelies noem. Sulke statistiek beklemtoon die behoefte aan suiwer leer en Bybelse onderrig.

 

Luister na Paulus se raad aan Timoteus: Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. As jy dit doen, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het.

Die beeld wat Paulus hier gebruik is dié van ‘n atleet – nie een wat af en toe oefen nie, maar ‘n wêreldklas een. Hierdie soort oefening vereis dissipline en toewyding. Geestelike oefening is beter as fisiese oefening, want dit is van waarde nou en tot in ewigheid. Paulus het so geleef.  Daarom voeg hy by: Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehou aanvaar word.

Is jy deel van ‘n plaaslike gemeente? Groei jy in die geestelike dissiplines? Word jy ‘n sensitiewe interpreteerder van God se woord? Net soos ons van fisiese gesondheid en fiksheid bewus is, moet ons ook van geestelike gesondheid en fiksheid bewus wees.