Die leuens wat die kerk vertel (1)

Without the Spirit we can neither love God nor keep His commandments.” – Augustinus

 Die leuens wat die kerk vertel  (1)

Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

 

Hoe het dit gebeur? Ongesonde onderrig kan op verskeie manier in ‘n gemeente insluip. Soms word ‘n waarheid verkondig op so ‘n manier dat dit ander waarhede uitsluit. Soms word ‘n waarheid oordryf – dit gaan verder as wat die Bybel sê. Soms word Bybelse waarskuwings geïgnoreer of so geherinterpreteer dat dit sy impak verloor. Paulus waarsku hierteen: Want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend (2 Timoteus 4:3 – 4). Is dit nie wat vandag reeds in sommige kerke gebeur nie?

Hill identifiseer dan wat hy die sewe grootste leuens wat die kerk ingesluip het, noem – leuens wat tot ‘n whiteout gelei het. Hulle is:

  • Oorbeklemtoning van voorspoed
  • ‘n Oordrewe siening van genade
  • Die vergoddeliking van die mens
  • Antinomianisme
  • Uitdaging van die gesag  van God se Woord
  • Verwerping van die hel
  • Universele versoening

 

In die volgende aantal blogs gaan ons meer in diepte na hierdie leuens kyk.




Die lidmate loop weg

I believe Satan to exist for two reasons: first, the Bible says so; and second, I’ve done business with him. —D.L. Moody

Die lidmate loop weg

Gary McIntosh en Charles Arn (What Every Pastor should Know) het onlangs oor die behoud van lidmate geskryf. Twee belangrike bevindings was:

  • Van al die lidmate wat die gemeente verlaat, doen 82% dit binne die eerste jaar. As die gemeente lidmate wil behou, moet hy sy pogings op die eerste jaar na ‘n lidmaat by die gemeente aangesluit het, fokus.
  • Meeste nuwe lidmate gee die gemeente ‘n ses maande tydperk. Slaag die gemeente die toets, bly die lidmaat gewoonlik nog ‘n verdere ses maande. Daarna is die lidmaat waarskynlik opgeneem in die gemeente.

Die vrae wat hierdie lidmate na ses maande vra, is gewoonlik:

  • Het ek vriende in die gemeente gemaak? Diegene wat die gemeente verlaat,het meestal  twee of minder as twee vriende in die ses maande gemaak.
  • Is daar ‘n plek in die gemeente waar ek inpas? Is hierdie persoon by ‘n klas of groep ingeskakel?
  • Wil die gemeente my werklik hê? Is die ander lidmate nog so vriendelik as toe ek by die gemeente aangesluit het? Word ek aangemoedig om by die bedienings betrokke te raak?

Die lidmaat  mag dalk nie die vrae vra soos gestel nie, maar hierdie drie sake is vir hom krities belangrik. As die lidmaat goed voel oor hierdie drie vrae sal hy gewoonlik nog ses maande bly. Daarna evalueer hy weer die gemeente en wel oor die volgende drie sake:

  • Is my vriende so goed soos ou vriende? Die gehalte van die verhoudings word nou bepaal.
  • Hanteer die groep my behoeftes? Na ses maande vra die lidmaat of sy belegging in tyd in die gemeente of kleingroep die moeite werd is.
  • Is my bydrae belangrik? Almal wil deel wees van iets groter as homself. Lidmate sluit by ‘n gemeente aan met hierdie verwagting.

Ek dink meeste van ons is bekend met die ses vrae. Wat vir my baie interessant was, is die tydperke. Lidmate gaan hierdie vrae vra en hulle antwoorde gaan bepaal hoe hulle reageer – bly hulle of gaan hulle. Hierdie vrae help ons ook om te bepaal waaraan ‘n gemeente aandag moet gee as hy die nuwe lidmate wil behou.




Die leuens wat die kerk vertel (6)

Who is the Holy Spirit? The Holy Spirit is the Spirit of God and is called the third person in the Trinity. Is the Holy Spirit divine? Yes, the Holy Spirit is GodJohn Broadus

Die leuens wat die kerk vertel  (6)

Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

 

Ons kyk nou na Hill se laaste twee leuens.

  • Verwerping van die hel

Nêrens sien ons die bevraagtekening van God se Woord duideliker as wanneer dit kom by die onderwerp van die hel en toekomstige oordeel nie. Ons verkondig ‘n ongebalanseerde evangelie – beklemtoon God se liefde en genade en ignoreer sy oordeel en geregtigheid – ons het  geen plek meer vir die hel in ons teologie nie. Hoekom gebruik Jesus dan sulke sterk taal soos hierdie: Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande kners (Matteus 8:12)? Hoekom sê Jesus: Want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland (Matteus 5:30)? Hoekom waarsku ander skrywers ons herhaaldelik oor die oordeel wat kom (Efesiërs 5:1 – 6)?

Dit is iets heeltemal anders om die aard van die toekomstige oordeel wat diegene wat die evangelie verwerp, gaan tref, te bespreek as om dit te verwerp. Wat ons wel weet van die toekomstige oordeel  is dat dit onomkeerbaar is en dat die gevolge aaklig en permanent gaan wees. In Openbaring 20:11 – 15 lees ons van die laaste oordeel voor die groot wit troon. Maar moderne dwaalleraars het besluit om alle verwysings na oordeel en die hel uit die evangelie te verwyder.

  • Universele versoening

Hierdie mense glo dat almal uiteindelik  gered sal word en in die hemel kom – Jesus het immers vir almal aan die kruis gesterf. Daar sal toekomstige lyding wees, maar dit is toetsing en nie straf nie. Uiteindelik word almal gered. Hierdie mense verwys na ‘n vers soos Kolossense 1:20: Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hulle wys ook daarop dat soos almal in Adam gesterf het so sal almal in Jesus leef (Romeine 5:12 – 21).

Dit is duidelik dat die gelowige se fondament besig is om weggekalwe te word en as die storms kom, sal die huis inmekaar stort. Hierdie vals leerstellings is nie meer ‘n sagte briesie nie, maar ‘n sterk wind – dit het ‘n dodelike whiteout geword. As ons toelaat dat hierdie verdraaiings van die evangelie voortgaan, kan ons in ‘n sneeustorting beland wat alles wat vir ons kosbaar is, vernietig.




Hoeveel beloftes is daar in die Bybel?

Hoeveel beloftes is daar in die Bybel? – Kobus Kok

Cameron vra:

Hoeveel beloftes, presies, is daar in die Bybel?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoeveel beloftes  is daar in die Bybel?

Daar is ‘n belofte vir elke dag van die jaar in die Bybel! Dit hang natuurlik af hoe mens na die beloftes van God kyk. Een van God se beloftes, kan ‘n belofte wees vir elke dag tot die einde van jou lewe. Soos dat God jou oneindig liefhet en dat hy getrou en regverdig is, en jy gered sal word. Eintlik is daar oneindige beloftes in die Bybel, afhangende van die lens wat jy gebruik om God se Woord te lees.  ‘n Verdere vraag is wat ons presies met “belofte” bedoel. Die Heilige Gees openbaar ook waarheid aan jou, en dikwels staan iets nie eksplisiet in die Bybel nie, maar gee God vir jou ‘n boodskap of “belofte”. Persoonlik is ek ongemaklik met die begrip “belofte” en om dit te gebruik as ‘n kategorie om te kan verwag dat God sekere dinge gaan doen, of behoort te doen. Uit Job se lewe leer ons dat die lewe dikwels baie onvoorspelbaar is, en dat dit wat ons dink “beloftes” is, nie altyd presies daarna uitsien soos ons dink nie. Vat maar net die voorbeeld van God se belofte aan sy volk dat hulle die beloofde land sal besit. Uit die geskiedenis weet ons dat dit ‘n baie komplekse saak is. Sommige mense gebruik die Bybel amper op n magiese manier, en is van mening dat die Bybel ronde getalle beloftes gee soos 365 of 100 of selfs 7 en 10. Mens kry baie sulke voorbeelde. Wees versigtig daarvoor.

 

Miskien moet ons die woord “presies” hoeveel beloftes daar in die Bybel is vervang met iets soos “watter geloofswaarhede” God in die Bybel gegee het – geloofswaarhede is waaraan ek altyd kan vashou ondanks die oppe en die affe van die lewe. Een so ‘n belofte is dat die wat glo, verseker kan wees van God se liefde en dat hulle die ewige lewe sal ontvang (Joh 3:16; 20:30-31). Implisiet in Openbaring 4:1-11, waar ons die troonsaal prentjie van God sien, word die verskillende kleure van die troon verbind met sekere geloofswaardhede, soos dat God die God van lewe is. Implisiet is daar die “belofte” dat God voorsien, en dat God in beheer is. So is daar baie tekste, een vir elke dag van die jaar tot die einde van jou lewe, waarin jy God se boodskappe van hoop, en Sy verbintenis om betrokke te wees by jou lewe, elke dag nuut kan ontdek. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok