Die Handelinge van die Apostels: Paulus se afskeidspreek Deel 3 en slot (Hand 20:32-38) – Francois Malan

20:32 Die derde deel van Paulus se rede, sy vooruitskouing op die toekoms, word ingelei met ‘En nou…’   Omdat hy nie langer by hulle kon bly nie, vertrou hy hulle toe aan die sorg van God. Die oorgawe van die gemeente en sy ouderlinge aan die sorg van God eggo die gemeente in Antiogië se oorgawe van Barnabas en Paulus aan die genade van God vir die eerste sendingreis (Hand 14:26) en die broers in Antiogië wat vir Paulus en Silas aan die genade van die Here opgedra het vir die tweede sendingreis (Hand 15:40). God sal hulle versorg deur die woord van sy groot genadewerk wat Paulus aan hulle verkondig het oor Christus se verlossingswerk (dit is die boodskap van die Here se genade van Hand 14:3; die evangelie van God se genade van Hand 20:24). Die boodskap oor Christus se sterwe, opstanding en hemelvaart om vanuit die regterhand van God oor die heelal te regeer en in ons kom woon het met sy Heilige Gees is altyd opnuut teenwoordig (vgl. Matt 18:20 en 28:20 oor Christus se teenwoordigheid; Joh 14:17,23 oor God se inwoning in ons). Deur dié woord bou God die enkeling en die gemeente op (vgl. Hand 9:31) om al meer op God te vertrou en soos Jesus te word (2 Kor 3:18). Dit verwys na die onmiddellike toekoms van die gemeente (vgl. Moses se seën volgens Deutr 33:3-5). Die volgende sin verwys na die hemelse toekoms wat God aan die Efesiërgelowiges as erfenis  sal gee saam met al die geheiligdes wat hulle aan God toegewy het (vgl. Paulus se brief aan die Efesiërs 1:14-19; 5:5; Rom 8:17; Hand 26:18). 

20:33-34 As voorbeeld vir die ouderlinge van Efese om in die toekoms na te volg, herinner Paulus hulle aan sy optrede tydens die drie jaar by hulle. Hy het niemand se goud of silwer of klere begeer nie – oud-Oosterse rykes se rykdom het nie slegs uit goud en silwer wat gesteel kon word bestaan nie, maar ook uit mooi klere wat deur motte gevreet kon word (Matt 6:16; vgl. Josua 7:21).  

Paulus het van sy reg tot onderhoud nie ten volle gebruik gemaak nie, om soveel mense as moontlik te wen (1 Kor 9:18-19; vgl. ook 2 Kor 11:7-9). Met handewerk het hy in sy eie en sy mede-arbeiders se behoeftes voorsien. Paulus was ’n tentmaker (vgl die verklaring by Hand 18:3).

20:35 Met sy voorbeeld en onderrig aan hulle het Paulus aan hulle gewys dat ’n mens deur hard te werk die swakkes prakties moet help (Ef 4:28).

Die ouderlinge se leer en lewe moet met mekaar ooreenstem (vgl. Rom 15:1-2). As motivering vir die soort optrede verwys Paulus hulle na ’n woord van die Here Jesus wat hulle moet onthou en dit in hulle optrede toepas. Jesus sou gesê het: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’ Hierdie woorde kom nie in die Evangelies voor nie, maar woorde van Jesus in die Evangelies het dieselfde strekking, bv. Luk 14:12-14; 6:20; 33-36,38; 18:28-30. Volgens Joh 21:25 was dit nie moontlik om alles wat Jesus gedoen het, neer te skryf nie. Daar was egter woorde van Jesus wat slegs mondelings oorgelewer is. Paulus se woorde aan die ouderlinge van Efese word afgesluit met ’n woord van Jesus self om hulle te motiveer om hard te werk om ook die armes te kan help (vgl. 2 Thess 3:7-13).

20:36 Paulus sluit sy ontmoeting met die ouderlinge af met ’n gebed waaraan almal deelgeneem het om op hulle knieë voor die Here te vra om sy leiding en sorg oor die ouderlinge en die gemeente van Efese en oor almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep (soos in 1 Kor 1:2; vgl. Paulus se kommer oor al die gemeentes in 2 Kor 11:28).

20:37-38 Na die afsluiting van Paulus se laaste boodskap aan die ouderlinge met die gesamentlike gebed tot die Here, skilder Lukas ’n roerende en aanskoulike prentjie van hulle afskeid van Paulus. Al die leiermans van die gemeente het hardop gehuil en hom kom omarm om elkeen aan hom ’n drukkie te gee (omarm – letterlik: val hom om die nek – wat ’n sterk emosie uitdruk. Hulle het gehuil – die woord klathmós beklemtoon die harde geluid van hardop huil) en hom op die wang gesoen (soos vandag nog in die Midde-Ooste); alles uitdrukkings van egte toegeneentheid en waardering (vgl. Gen 33:4; 45:14-15. Die woord  katafiléō is nie die gebruiklike heilige kus nie, maar kom uit ’n smartlike liefdesdrang; ). So neem hulle bedroef afskeid van hulle groot apostel in die verwagting dat hy gaan sterf en dat hulle hom nie weer sal sien nie, soos hy gesê het (20:25). Hulle vergesel hom tot by die skip vir sy reis na gevangenskap en lyding wat op hom wag (20:22-23).

Paulus word in die kort opsomming van sy boodskap andermaal bekendgestel as die Here se dienende instrument. Soos die Heilige Gees hom lei, volg hy met oorgawe ten spyte van kwaai teenstand, bedreigings, en die verwagting van lyding wat vir hom voorlê. Daarby is daar ook die diepe verbondenheid aan hom deur die gemeente in Efese, wat saam met hom ly. In die brief wat hy later aan die Efesiërs skrywe besing hy die onmeetlike onbegryplike liefde van Christus en dat ons dit mag ken (Ef 3:14-19).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se afskeidspreek Deel 2 (Hand 20:22-31) – Francois Malan

20:22-23 Nadat Paulus ’n opsomming van sy bediening in Efese gegee het om die ouderlinge, wat sy bediening moet voortsit, daaraan te herinner, vertel hy aan hulle wat sy huidige posisie is. ‘Nou dwing die Gees my om na Jerusalem toe te gaan’ (die werkwoord déō ‘bind’ word ook gebruik vir ‘dwing;’ die perfektum vorm van die werkwoord beteken dat hy bewus geword het van die leiding van die Heilige Gees en dat dit voortduur). Jesus het gesê: ‘Die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig…’ (Joh 14:26). Die Heilige Gees het gekom om by ons te bly en in ons te wees (Joh 14:17), soos Jesus self in ons is (Joh 14:20). Die Vader en die Seun het by die een wat vir Jesus liefhet sy woning gemaak (Joh 14:23). Paulus het net bewus geword dat die Gees hom dwing om na Jerusalem toe te gaan sonder om te weet wat met hom gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan hom bevestig het (hom gewaarsku het – albei betekenisse van diamartúromai)) dat gevangenskap en thlipseis ‘moeilikhede en lyding’ op hom wag (vgl. Hand 19:21; 20:16 vir sy besluit). Die onsekerheid oor wat op hom wag blyk ook uit sy brief aan die Romeine 15:30-32 wat pas voor sy vertrek uit Korinthe deur hom geskryf is.

Daar is ’n ooreenkoms tussen Jesus se opdrag aan Paulus om in Jerusalem te gaan ly en Jesus se eie reis na Jerusalem.  Lukas 9:51-19:28 vertel dat Jesus vasbeslote die reis na Jerusalem onderneem het toe die tyd vir sy hemelvaart nader gekom het. Dit nadat Jesus twee maal reeds vir sy dissipels gesê het dat die Seun van die Mens baie moet ly, verwerp en doodgemaak moet word en op die derde dag opgewek word (Luk 9:22), en in die hande van mense oorgelewer gaan word (Luk 9:44). Die derde keer wat Jesus van die doel van sy reis na Jerusalem vir sy dissipels vertel, brei Hy uit op die eerste twee. In Luk 18:31-34 Hy dat dit ’n vervulling sal wees van wat die profete geskryf het, dat Hy aan heidene oorgelewer sal word, bespot en beledig sal word, op Hom gespuug sal word, Hy gegesel sal word en doodgemaak sal word, maar op die derde dag sal opstaan. Soos Jesus gaan Paulus op na Jerusalem om op Pinksterdag in gevangenskap te gaan wat vir vier jaar sou duur. Later sou hy in Rome doodgemaak word oor sy geloof en belydenis van Jesus Christus as die Here deur wie alles is en ons deur Hom (1 Kor 8:5; vgl. 2 Tim 4:6-8 oor Paulus se dood en verheerliking).

20:24  ‘Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie’ – met ander woorde hy gee nie om of hy lewe of doodgaan nie (vgl. Matt 16:24-27 ‘…wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind…’ vgl. Flp 1:21-24) ‘solank ek my sending en diens, wat ek van die Here Jesus ontvang het, voltooi, naamlik om te getuig (van wat ek self beleef het) van die evangelie van God se genade.’ Soos Jesus is Paulus ook nie gebind deur sy aanstaande nood nie, maar deur die sin van sy lewe wat die doel van sy lewe is. Hy beskryf sy sending (figuurlike betekenis van die woord drómos ‘weg’) as ‘n diens (’n diakonía ‘diens of amp’) wat hom opgelê is. Sy diens is ’n wedloop soos in 1 Kor 9:24-26; Flp 3:14; 2 Tim 4:7 waarvoor hy aangestel is. Sy diens aan sy Here is ’n diens aan die wêreld soos Jesus se diens was (Mark 10:45). Vir die voltooiing van Paulus en Jesus se diens word dieselfde Griekse woord teleiō gebruik (Joh 17:4). Paulus is daarvan bewus dat die Here Jesus deur Hom sy werk op aarde voortsit as ’n diens wat Jesus daagliks aan hom opdra. Dit gaan om die evangelie, die goeie boodskap van God se onverdiende genade teenoor die wêreld met die offer van Jesus vir ons sondeskuld en om sy verlossing van ons uit die mag van sonde. Dit moet in geloof aangeneem en uitgeleef word.

20:25 Met die derde deel van sy toespraak skets Paulus sy toekoms en dié van die gemeentes in Asië. Hy som sy werk in Asië op as die verkondiging van die koninkryk, dit wil sê die koningskap van Jesus in die koninkryk van God, dat Jesus die koning, die Here word wat die seggenskap kry oor die lewe van die mense wat in Hom glo. Hulle sal Paulus se aangesig, dit beteken vir homself, nie weer sien nie. Hulle het eintlik verstaan dat hy in Jerusalem sou sterf (vgl. 20:38). Paulus sou egter weer by hulle uitgekom het na ’n moontlike vrylating uit Rome se gevangenisskap (vgl. 1 Tim 1:3; 3:14; 2 Tim 1:18; 4:6,12-17,20; Titus 1:5).

20:26 Paulus het sy sending/sy diens voltooi as ’n lewende getuie van die evangelie van God se genadige verlossing deur Jesus Christus, die koning van God se koninkryk. Daarom ‘getuig hy op dié dag van vandag’ aan die ouderlinge van Efese ‘dat hy rein is (katharós) aan hulle almal se bloed’ – dat hy, Paulus voor God onskuldig is as iemand van hulle verlore sou gaan (vgl. Eseg 33:1-6). Bloed verwys hier na die ewige dood, soos in 18:6. Volgens Mattheus 27:24-25 het Pilatus gesê dat hy onskuldig is aan die bloed van Jesus Christus, waarop die hele volk geantwoord het: ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!’

20:27 Vers 26 som vers 25 op: Paulus se aanstelling tot sendingdiens in vers 25 is die verkondiging van God se koninkryk in vers 26. So is vers 27 weer ’n gevolgtrekking uit vers 26: Paulus is onskuldig as hulle sou verlore gaan (vers 26) omdat hy nie teruggehou het om die volle heilsplan van God aan hulle te verkondig nie (vers 27). Alles wat God beplan het (vers 27) is dieselfde as vers 25 se koninkryk van God wat Hy beplan het.

Paulus sluit die opsomming van sy arbeid in Efese af met die stelling dat hy nie teruggehou het (ou hupesteilámên) om God se volle heilsplan aan hulle te verkondig nie (vers 27), soos hy in vers 20 begin het dat hy niks teruggehou het (oudèn hupesteilámên) om enigiets wat vir hulle voordelig kon wees aan hulle te verkondig nie. Paulus skryf later aan die Efesiërs 1:11 ‘In Christus is ons ook uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur.’

Uit die hele relaas blyk dit dat God se openbaring in Jesus se koms, lyding, dood, opstanding en hemelvaart nou nog geopenbaar word. Dit geskied deur die prediking en optekening daarvan en mense se hoor en lees daarvan deur die eeue. Jesus is besig om deur sy volgelinge en hulle getuienis en geskrifte God se wil uit te voer.

20:28 Van sy eie verantwoordelikheid wat in die vorige verse uitgespel is, gaan hy na die verantwoordelikheid van die ouderlinge van Efese. Hulle funksie in die gemeente word beskryf met die beeld van ’n skaapwagter wat sy kudde versorg en beskerm teen wrede wolwe (vers 29). Voorop in die sin, met beklemtoning, staan die woord ‘Wees waaksaam’ proséchō – om voortdurend gereed te wees om kennis te neem van enige gevaar, behoefte of verkeerde optrede en gepas daaroor op te tree. So moet ‘n herder waak teen enige gevaar wat hom en sy kudde bedreig, let op hulle behoefte aan kos, water en ondersteuning, en ’n skaap wat afdwaal terugbring in die trop. In Johannes 10:11 het Jesus gesê: ‘Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.’ Die herderbeeld in die Nuwe Testament kom uit die Ou Testament: Jesaja 40:11 ‘Soos ’n herder versorg die Here God sy kudde…’  In Eseg 34:11 wat handel oor die ontroue herders, sê die Here  ‘Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien…’ In Ps 23:1-4 bely Dawid: ‘Die Here is my herder’ (vgl. 1 Petr 5:1-4 vir Petrus se aanwysings vir die ouderlinge ).

Paulus sê die Heilige Gees het die ouderlinge aangestel as bewakers (episkopoi ‘wat die verantwoordelikheid het om te sorg vir die geestelike belange; in Engels is dit met ‘bishops’ vertaal) om die gemeente van God soos ’n skaapwagter te lei, te help en te versorg (poimaïnō). Die gemeente het God vir Homself verkry deur sy eie bloed (dood). Manuskripte uit die sesde en sewende eeu n.C. het ‘God’ verander na ‘die Here:’ Dan lees die teks: die gemeente wat die Here vir Homself verkry het deur sy eie bloed. Die ouer lesing met ‘God’ is ’n belydenis dat Jesus God is, soos Jesus volgens Johannes 14:10-11 gesê het. Later skryf Paulus aan die Efesiërs 1:7,13 ‘In Jesus Christus het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredinge…..die bevryding van God se eiendomsvolk’ (vgl. 1 Petr 1:19 ‘…julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus;’  Openb 1:5 ‘…Aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het…’ Dit onderstreep die belangrikheid van Jesus se dood vir ons verlossing omdat Hy God is wat self ons sondes op Hom geneem het.

In verse 21-28 word verwys na God se genadige heilsplan en sy koningskap oor ons lewe, wat Paulus verkondig; na die Here Jesus wat aan Paulus sy opdrag gegee het en deur sy eie bloed die gemeente verwerf het; en die rol van die Heilige Gees wat vir Paulus lei en die ouderlinge as bewakers van die Here se kudde aanstel – van God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees se eenheid en samewerking aan die evangelie om mense tot bekering tot God en geloof in die Here Jesus te lei.

20:29 Om te waak teen die wrede wolwe behoort tot die beeld van die herder as deel van die Bybel se voorbeelde van die rol van die bose om mense weg te lei na die dood, weg van die lewe wat God aan ons wil skenk (vgl Joh 10:1; Luk 10:3; Matt 7:15). Die ouderlinge moet waak teen die valse leer van mense wat die gelowiges wil weglei van die suiwer evangelie van God se genade, van Jesus as Verlosser, en van die Heilige Gees se inwoning en leiding. Die valse leraars en valse lering lei die gemeente tot ondergang.

20:30 Die valse leraars kom van buite die gemeente, soos in vers 9 beskryf, en veral deur die Jode se aanslae op die gemeente soos dit telkens geblyk het, en reeds deur Jesus as kinders van die duiwel beskryf is (Joh 8:44; vgl. Titus 1:10-11). Maar ook van binne die gemeente self sal daar vals leraars opstaan wat die gelowiges probeer oortuig om hulle te volg en met die ander gelowges te breek. So het Paulus dit self ondervind (vgl. Gal 1:6-12; 4:9-11; 5:2,12 en 2 Kor 11:13-15; vgl. Rom 16:17-18; Kol 2:8; 1 Joh 2:19).  Dit verbreek nie slegs die eenheid van die gemeente nie, maar bedreig die heil van die gelowiges.

20:31 Oor die huidige en ewige gevolge van dwaalleer moet die ouderlinge voortdurend gereed en op hulle hoede wees – dit is die betekenis van die figuurlike gebruik van die woord vir wakker wees. So roep Paulus in sy briewe die gemeentes op om waaksaam te bly (vgl. Rom 16:17-18; Flp 3:2; 1 Thess 5:6; 1 Kor 16:13; Kol 4:2). Paulus beklemtoon die dringendheid van sy waarskuwing met verwysing na die voorbeeld van sielsorg wat hy vir hulle in Efese gestel het (vgl. 1 Thess 2:9-12; 2 Thess 3:8-9). Vir drie jaar lank het hy nag en dag (die Joodse volgorde vir dag en nag. Hulle dag begin met sonondergangs) nie opgehou om elkeen van hulle met trane te onderrig in God se woord, te waarsku teen afval en dwalendes te vermaan nie (betekenisse van die woord nouthetéō). Die drie jaar tel blykbaar Hand 19:8 se verwysing na drie maande in die Joodse sinagoge by, sowel as Hand 19:9-10 se twee jaar in Tirannus se saal en die ‘tyd lank’ wat hy daarna nog in Asië vertoef het (Hand 19:22) toe die oproer plaasgevind het (20:1).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

 




Die Handelinge van die Apostels: Van Troas na Milete (Hand 20:13-16) – Francois Malan

20:13 Soos ’n dagboek se aantekeninge beskryf Lukas die reis van Troas na Milete soos Paulus dit gereël het, waarskynlik met die skip se kaptein en met sy metgeselle. Nadat Paulus ’n hele nag lank gepraat het, het hy nog die fisiese krag gehad om te voet die ongeveer 30 kilometer te loop van Troas tot by Assos, die eerste hawe suid van Troas. Die ander lede van sy geselskap, Sopater, Aristargus, Sekundus, Gaius, Timotheus, Tigikus, Trofimus en die skrywer Lukas (20:4; vgl. ‘ons’) is per skip om kaap Lekton (huidige Baba) deur die Assosstraat tussen Asië se verste westelike punt en die eiland Lesbos na Assos se hawe, ongeveer 80 kilometer van Troas af. Die groot teater van Assos kyk uit op die see en die eiland Lesbos aan die oorkant. Waarom Paulus wou stap word nie gesê nie, maar hy kon met die stap alleen wees met die Here. 

20:14 Paulus het by hulle op die skip geklim en die 50 kilometer na die hawe Mitilene, die hoofstad van die eiland Lesbos aan die suid-oostelike kant van die eiland gevaar, waar hulle oornag het.

20:15 Die volgende dag is hulle per skip van Mitilene na die vyfde grootste Griekse eiland Chios, wes van Smirna op die vasteland. Blykbaar het hulle voor anker teenoor Chios oornag (ántikrus aflandig, naby die kus). Die dag daarna het hulle na die eiland Samos geseil. Hulle het waarskynlik aan die westekant van Samos om gevaar en nie aan Efese se kant wat ’n bietjie meer as 2 kilometer oos van Samos se oostekant af lê nie. Die dag daarna het hulle die stad Milete bereik aan die suid-westelike punt van Klein-Asië. 

20:16 Die rede waarom hulle langs die westekant van Samos direk na Milete gevaar het, was Paulus se haas om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees (speúdō begeer of jou haas om iets te doen). Hulle het ook die kollektes, wat deur die gemeentes opgeneem is vir die armes in Jerusalem, by hulle gehad (vgl. Gal 2:10; 1 Kor 16:1-3; 2 Korinthiërs hoofstukke 8-9; Rom 15:30-31). Pinkster is die Jode se oesfees om die Here te dank vir die graanoes (Eks 23:16; Lev 23:15-21). Vir die Christene is dit ook die herdenking en dank aan God vir die dag waarop die Heilige Gees in die gelowiges begin woon het. Paulus beskou die kollekte as die vrug van die gemeentes se geregtigheid, hulle danksegging aan en verheerliking van God, en hulle gehoorsaamheid aan hulle belydenis van die evangelie van Christus (2 Kor 9:10-13).

Hy het besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie tyd in Asië hoef te spandeer nie. Hy het besef hoe swaar hy sou loskom as hy eers in Efese kom en die mense hoor dat hy daar is. In Efese het hy ook swaar gely, volgens 2 Kor 1:8-10. Die Here het die begeerte in Paulus geplaas om op Pinksterdag 56 n.C. in Jerusalem te wees. In Handelinge 20:22-23 sê Paulus: En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Heilige Gees, na Jerusalem sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag.’ Tydens die Pinksterfees was daar ’n groot skare in Jerusalem wat vir Paulus uit die tempel gesleep het (Hand 21:27,30). 

Paulus se afskeidspeek aan die ouderlinge van Efese (Hand 20:17-38) 

20:17 Paulus stuur ’n boodskap van Milete af aan die ouderlinge van die gemeente in Efese om hulle te ontbied om na Milete te kom. Milete is ongeveer 45 km suid van Efese, aan die suid-westelike punt van Klein-Asië. 

20:18-35 Toe die ouderlinge in Milete aangekom het, het hy die volgende boodskap aan hulle gelewer. Die boodskap het vier dele. Elke deel word met ’n formule ingelei:

1 ’n Terugblik op die verlede, oor Paulus se optrede in Asië, veral in Efese, ingelei met ‘Julle weet dat…’ 20:18-21;

2 ’n Beskrywing van die hede, oor Paulus se onmiddellike situasie, ingelei met ‘En kyk, nou gaan ek…’ 20:22-24;

3 ’n Vooruitskouing oor die toekoms, van Paulus se moontlike dood en die aanslae van ’n valse leer teen die gemeente,                           ingelei met ‘En kyk, ek weet nou dat…’ 20:25-31;

4 Seën en ’n vermaning, ingelei met ‘En nou vertrou ek julle toe aan God…’ 20:32-35. Die preek word afgesluit met ’n                           woord van die Here Jesus.

20:18 Die ouderlinge was blykbaar van die eerste gelowiges in Asië – ‘Julle weet hoe ek vanaf die eerste dag wat ek in Asië aangekom het die hele tyd by julle was…’ Dit verwys na sy geloofsoortuigings, sy lewenswandel en optrede onder hulle van die begin tot die einde van sy drie jaar bediening onder hulle tydens sy derde sendingreis. Die drie jaar sluit  ook die kort tydjie in, wat hy met die Jode geredeneer het tydens sy tweede sendingreis (Hand 18:19-21).’Julle’ staan met klem voorop in die sin. Hulle is die getuies van sy onberispelike en liefdevolle optrede tydens sy hele bediening en optrede by hulle. Hoe sy  optrede by hulle was, word in die volgende verse uiteengesit:

20:19 Paulus se lewe was gekenmerk deur sy nederigheid, trane en die Jode se vervolging van hom: Hoe hy die Here in alle nederigheid gedien het (douleuō veronderstel nederige diens soos van ’n dienskneg of slaaf) deur die wil en opdragte van sy Eienaar, die Here, getrou en met vreugde uit te voer. Sy vrywillige selfvernedering om soos ’n slaaf sy Here te dien omdat Jesus hom met sy bloed gekoop het, was by Jode en heidene onbekend en deur die Grieke as dwaasheid afgekeur (1 Kor 1:23). Terwyl hy besig was met die werk van sy Here moes Paulus dikwels huil oor die reaksie en hardheid van mense se harte teenoor die wonderlike evangelie oor Jesus en sy verlossing (vgl. Hand 20:31 om elkeen met trane te waarsku). So sal wrede wolwe ook vir hulle na sy vertrek binnedring (20:29). Daarby het die Jode, sy volksgenote, met sameswerings teen hom probeer om hom in strikke te vang (epiboulais komplotte, planne maak vir valse optrede teen hom, soos in Jerusalem ook op hom gewag het, 20:29). In Romeine 9:2-3 vertel hy hoe hy ook met trane dink aan sy volksgenote wat weier om in Jesus te glo.

20:20 Die werkwoord hupostéllō kan beteken om terug te hou om iets te doen uit vrees vir die gevolge, of om op te hou om iets te doen omdat dit onder omstandighede beter is. Paulus sê hy het homself nooit teruggehou om iets nie te verkondig wat vir die gemeente in Efese tot voordeel kon strek nie – met ander woorde hy het altyd alles wat tot die gemeente se voordeel kon strek, aan hulle ‘in besonderhede vertel’ (anangéllō). In 20:27 praat hy van die volle heilsplan van God wat hy aan hulle verkondig het. Dit het hy nie net in die gemeentesamekomste of by openbare lesings gedoen nie, maar ook in hulle huise. Onvermoeid en sonder om op te hou het hy hulle onderrig. 

20:21 Op grond van sy eie ervaring van die verheerlikte Here Jesus (Hand 9:5) het Paulus aan Jode en Grieke getuig (die Griekse werkwoord diamartúromai beteken om ’n ernstige verklaring te maak op grond van persoonlike kennis) van bekering tot God en van geloof in ons Here, Jesus (vgl. Rom 1:16-17). Die Griekse woord vir bekering, metánoia, is om jou lewenswyse te verander op grond van ’n algehele verandering van jou gedagtes en houding oor sonde en die regte verhouding met God. Dit gebeur deur te glo in Jesus as die Here van jou lewe. Hy het uit liefde jou sonde op Hom geneem en jou vrygespreek, en Hy het jou verhouding met God reggemaak deurdat God jou in liefde as sy kind aangeneem het omdat jy aan sy geliefde Seun Jesus verbind is in geloof. Die nuwe lewenswyse is deur Jesus opgesom in Joh 13:34: ‘Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.’ 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis na Masedonië en Griekeland (Hand 20:1-6) – Francois Malan

20:1 Nadat die gevaar vir die gemeente in Efese afgeweer is en Paulus sy werk in Efese as afgehandel beskou het (19:21), het Paulus ’n tyd ná die oproer die gemeentelede (letterlik: dissipels) laat roep, hulle moed ingepraat, hulle gegroet, vertrek en na Masedonië via Troas gereis soos hy hom voorgeneem het. Dit was waarskynlik ná Pinkster van die jaar 55 n.C. (1 Kor 16:8-9). Op pad na Troas sou hy seker van die gemeentes in Asië soos Smirna en Pergamum besoek het. In Troas kry hy ’n oop deur vir die evangelie, maar neem van hulle afskeid om te kyk of hy nie vir Titus in Masedonië sou ontmoet nie (2 Kor 2:12-13). In 2 Kor 2:13 sê hy dat hy geen gemoedsrus kon kry voordat hy nie van Titus gehoor het oor hoe sy sending na Korinthe verloop het nie. 

Met die toer kry Paulus ook die kollektes bymekaar wat die verskillende gemeentes vir die armes in Jerusalem bymekaar gemaak het (vgl. 1 Kor 16:1-4; 2 Kor 8-9; vgl. Rom 15:25-27,31).

20:2 Daardie streke van Masedonië verwys na die gemeentes in Filippi, Berea en moontlik selfs Thessalonika. (Hand 19:21; 1 Kor 16:5-9). Sy tweede plan was om deur Griekeland na Masedonië  en terug na Griekeland te reis maar die plan het toe nie uitgewerk nie, want hy moes toe vinnig en vol droefheid van Efese na Korinthe en terug na Efese toe reis (2 Kor 1:23; 2:1). Nou voer hy sy oorspronklike plan uit om eers Masedonië toe te gaan op pad na Griekeland

(2 Kor 1:15-16). Op die reis deur Masedonië versterk hy die geloof van die lidmate van die gemeentes wat hy op die tweede sendingreis gestig het. Letterlik staan daar hy het hulle met baie woorde bemoedig – veral in hulle stryd te midde van ’n krom en verdraaide geslag Jode en heidene waaronder hulle skyn soos sterre in die heelal, omdat God in hulle werk om op te tree soos Hy dit goedvind (Flp 2:13-16). In hierdie tyd het hy moontlik tot in Illirikum aan die weskus van Masedonië gevorder (Rom 15:19).So het Paulus in Griekeland, moontlik deur Athene of direk van Illirikum na Korinthe gereis.

In Masedonië het Paulus ook vir Titus ontmoet wat die goeie nuus gebring het van die versoening in Korinthe (2 Kor 7:5-9,13). In 2 Kor 7:6 vertel hy hoe God hom bemoedig het met Titus se verslag toe hy reeds in Masedonië op Titus gewag het.

20:3 Paulus oorwinter vir drie maande in Korinthe in Griekeland, van die helfte van November 55 n.C. tot die helfte van Februarie 56 n.C. Hier skryf hy die brief aan die Romeine, moontlik aan huis van Febe in Kenchreë (Rom 16:1-2) ter voorbereiding van sy beplande eerste besoek aan Rome (Rom 1:8-12; 15:22-24). Sy mikpunt was om uit Rome ook Spanje te bereik (Rom 15:24; 16:28).

Met die lente van 56 n.C. het die skepe weer begin vaar en Paulus wou op die vinnigste manier, per skip, na Antiochië in Sirië reis. Hy moes egter weer sy reisplan verander. Die Jode wat laas voor Gallio ’n bloutjie geloop het (Hand 18:14-16), het nou ernstiger planne teen Paulus. Hulle komplot was moontlik om ’n aanslag op sy lewe op die skip uit te voer – na sy bekering en prediking in Damaskus het die Jode van Jerusalem ook ’n komplot teen hom gesmee om hom dood te maak (Hand 9:23-24). Soos die vorige keer, het Paulus gehoor van die komplot.  Hy besluit toe om van Kenchreë deur Masedonië na Jerusalem te gaan. Hy sou weer by Berea, Thessalonika en Filippi kon uitkom. Oorspronklik wou hy met die Paasfees in Jerusalem gewees het (Hand 18:21: volgens die 1953 vertaling van woorde wat in die 6e eeu in die teks ingevoeg is: ‘Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem wees’), maar het toe eers sewe weke later met Pinkster daar aangekom (Hand 20:16) weens die komplot van die Jode teen hom.

20:4 In 1 Kor 16:3-4 het Paulus al gesê dat hy die persone wat die gemeente goedkeur, met aanbevelingsbriewe na Jerusalem met die gawes van die Korinthiërs stuur. Indien dit die moeite werd is, sou hy ook gaan, en kan die gemeente se verteenwoordigers saam met hom gaan (vgl. ook Hand 24:17; Rom 15:25-28; 2 Kor 8-9). Hier gee Lukas ’n lys van die sewe persone wat saam met Paulus reis met die gawes aan Jerusalem:

  • uit Berea Sopater seun van Pirrus – dit is onseker of dit dieselfde is as Paulus se volksgenoot Sosipater (Rom           16:21);
  •  uit Thessalonika Aristargus en Sekundus – Sekundus word net hier genoem;
  • Aristargus was een van die twee reisgenote van Paulus wat Efese se massa saamgesleep het teater toe            (Hand 19:29), en was in Hand 27:2 saam met Paulus op die skip Rome toe as Paulus se                                     medegevangene (Kol 4:10) en medewerker (Flm 24);
  • uit Derbe Gaius, wat ook in Efese saamgesleep is teater toe;
  • uit Listra Timotheus, Paulus se permanente metgesel sedert die tweede sendingreis (Hand 16:3). Paulus noem  hom my geliefde geestelike kind (1 Tim 1:2; 2 Tim 1:2);
  • uit Asië (Efese) Tigikus en Trofimus. Trofimus die Efesiër was saam met Paulus in Jerusalem (Hand 21:29) en op ’n latere reis het Paulus vir Trofimus siek in Milete agtergelaat (2 Tim 4:20).
  • Paulus stuur Tigikus uit Rome met die briewe aan die Efesiërs (Ef 6:21-22), aan die Kolossense (Kol 4:7-8) en aan Filemon (Kol 4:9).

20:5 Die ‘ons’ gedeeltes van Handelinge begin weer hier in Filippi, waar Lukas blykbaar agtergebly het op Paulus se tweede sendingreis (Hand 16:17 waar laas ’n ‘ons’ gedeelte in Handelinge was). Paulus en Lukas bly in Filippi om die Paasfees en die sewe dae van die ongesuurde brood saam met die gemeente te vier, en stuur die sewe manne na Troas om daar vir hulle te wag. Hiervandaan bly Lukas by Paulus tot in Rome (Hand 28:16). Lukas, Paulus se geliefde dokter, stuur uit Rome groete aan die Kolossense (Kol 4:14). In Paulus se laaste brief toe hy vir ’n tweede keer in Rome gevangene is, sê Paulus ‘Net Lukas is nog by my (2 Tim 4:11). 

20:6 Paasfees is op Vrydagaand gevier. Die Ongesuurde Broodfees begin ook dié Vrydagaand vir sewe dae tot die volgende Vrydagaand. Teen Woensdag vertrek Paulus en Lukas uit Filippi en weens ongunstige winde neem dit hulle vyf dae tot by Troas waar hulle Sondag land. Hulle bly sewe dae in Troas tot die volgende Sondag, die eerste dag van die week, en vertrek Maandagoggend van Troas af (Hand 20:7). Op hulle tweede sendingreis, nadat Paulus die visioen van die Masedoniese man gesien het, het hulle met gunstige wind slegs twee dae geseil van Troas na Neapolis, Filippi se hawe (Hand 16:11-12). Met hulle spoedige vaart het die Here toe aan hulle die dringendheid van die visioen wat Paulus gesien het, bevestig. Nou neem dit hulle vyf dae.

Skrywer:  Prof Francois Malan