Woorde uit die Bybel – Openbaring (5)

The Church is justified, not because her children do not sin, but because they do –  G. K. Chesteron

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (5)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

Huidige en toekomstige openbaring

In ‘n sekere sin is God se openbaring beëindig. Ons kan met reg vra: Het God laas in die Bybel met ons gepraat? Nee. God sê steeds wat Hy 2 000 jaar gelede in en deur sy Seun gesê het. As ons sy woord hoor of lees, word ons gekonfronteer deur sy woord, want dit vereis ‘n reaksie van ons. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons (2 Korintiërs 2:14).

 Maar die grootste en duidelikste openbaring van God moet nog kom – die wederkoms van Jesus Christus. Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is asof ons in ‘n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak  wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ‘n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet (1 Korintiërs 13:12). Luister na Johannes: Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word (1 Johannes 3:2). In die heel  laaste boek en die heel laaste hoofstuk van die Bybel lees ons: Hulle sal reguit na God kan kyk en sien hoe Hy lyk. Dat hulle aan God alleen behoort, sal uit hulle straal, want God se Naam sal oor hulle voorhoof geskrywe staan (Openbaring 22:4).

 Ja, God se volledige openbaring kom nog, maar hy het reeds genoeg van Hom aan ons geopenbaar. Wat moet ons doen? Stop. Luister. Doen.

 Die een les wat ons uit hierdie eerste woord van ons kan leer, is dat daar meer in woorde steek as waarvan ons bewus is. Ons gaan nou na die tweede woord kyk: die Skrif.

 




Woorde uit die Bybel – Openbaring (4)

The Gospels are a river in which a gnat can swim and an elephant can drown – Gesegde van sommige van die vroeë kerkvaders.

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (4)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

Algemene en spesiale openbaring

Ons hoor dikwels van God se algemene en sy spesiale openbaring. Wat beteken dit?

  • God se spesiale openbaring

Dit is wanneer God Hom aan besondere mense op ‘n besondere tyd en op ‘n besondere manier openbaar. Ons kry dit in die Bybel en daarom is dit net vir diegene wat sy woord lees en hoor. Hierdie boodskap sluit in die openbaring van God se verlossing deur Jesus Christus. Dit hanteer dus die behoeftes van sondaars.

 

  • God se algemene openbaring

God openbaar Homself nie net in die Bybel nie. Sy algemene openbaring word oral te alle tye en aan alle mense gegee. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is God se openbaring van Homself in die natuur. As ek opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is oral in die lug opgeteken. In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is …  Daar is nie ‘n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie (psalm 19:2 – 5). Paulus bevestig dit: Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie (Romeine 1:20).

 God se algemene openbaring is nie net beperk tot sy openbaring in die natuur nie, maar ook in ons gewetens. Mense het nie altyd ‘n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is (Romeine 2:14 – 15). Ongelukkig beskryf Paulus ook ‘n baie algemene reaksie op God se algemene openbaring: Omdat hierdie mense glad nie daarin belangstel om God op die regte manier te ken nie, het Hy toegelaat dat hulle kan dink net wat hulle wil en doen wat hulle wil (Romeine 1:18).

 God se algemene openbaring  bevat geen verlossingsboodskap nie. Dit praat van die mens se behoeftes. God se spesiale openbaring bevat die verlossingsboodskap en hanteer die behoeftes van sondaars.

 Volgende keer sluit ons af met ons bespreking oor die woord openbaring. Dan gaan ons na huidige en toekomstige openbaring kyk.




Woorde uit die Bybel – Openbaring (3)

 

You can always give without loving, but you can never love without giving. —Amy Carmichael

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (3)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

Teksaanhalings kom uit Die Boodskap.

 

Wat het God aan die mens geopenbaar?

Kom ons kyk na enkele dinge wat God aan die mens geopenbaar het:

  • God openbaar Homself aan die mens

Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekend gemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag veral in die skepping aan ons kom wys (Romeine 1:20). Die hoogtepunt van sy openbaring van Homself was sekerlik die menswording van Jesus Christus.

  • God openbaar sy koninkryk aan ons.

Luister net na Jesus se “intreepreek”: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Kyk net hoeveel van Jesus se gelykenisse het met die koninkryk te doen.

  • God openbaar sy verbond aan ons

Doen dit, want jy behoort aan die Here. Van al die volke op die aarde het die Here jou gekies en jou sy spesiale eiendom gemaak. Jy moet daarom anders as die ander volke leef (Deuteronomium 7:6). In die Nuwe Testament kry ons ‘n nuwe verbond met Jesus Christus as Middelaar. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan (Galasiërs 4:9).

  • God openbaar sy wet aan ons

God persoonlik skryf die tien gebooie op die kliptafels en gee dit vir Moses by Sinaiberg. Dit is sy wil vir alle mense.

  • God openbaar sy verlossing aan ons

Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat oor die goeie boodskap oor Jesus wat julle red (Efesiërs 1:13). Ons kry dieselfde in Romeine 1:16: Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo. God red mense van dit wat hulle bedreig.

 In ons volgende gedeelte gaan ons kyk na God se algemene en sy spesiale openbaring.




Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

A secret sin on earth is an open scandal in heaven – Lewis Sperry Chafer

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

 

Teksaanhalings kom uit Die Boodskap.

 

Persoonlike Openbaring

God openbaar Homself aan die mens. Sy doel is dat die mens Hom as persoonlike God in ‘n persoonlike verhouding met die mens kan sien. Hoe maak God Hom aan ons bekend? Net soos ons ons aan ander mense bekend maak – deur te praat oor Homself en oor ons soos Hy ons sien. Hy vertel vir ons wat Hy in die verlede gedoen het (byvoorbeeld die skepping van alles); Hy vertel vir ons wat Hy tans besig is om te doen (hoe Hy alles orden en beheer); Hy vertel vir ons van sy toekomsplanne (die wederkoms van Jesus Christus). Hy gee vir ons rigting en raad; Hy maak beloftes en waarsku ons; Hy sê vir ons wat Hy goedkeur en wat Hy afkeur. Deur stellings oor Homself te maak, maak Hy Hom aan ons bekend.

 

Openbaring in die Ou en Nuwe Testamente

In die Ou Testament het God direk met sekere mense gepraat – Adam en Eva, Kain, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses en die profete. Deur Moses en die profete praat Hy met Israel. Amos sê: Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers (= die profete) gesê het nie (3:7). Die uitsprake van die profete begin dan ook dikwels met die woorde: Die Here sê …

 In die Nuwe Testament verander dinge egter. In Hebreërs 1:1 – 4 lees ons daarvan. God praat nie meer deur sy profete nie, maar deur sy Seun. In hierdie opsig vervul Jesus Christus dus die bediening van die profete. Maar dit wat Jesus gesê het, kom van die Vader: Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen (Johannes 7:16). Maar Jesus openbaar nie net die Vader deur wat Hy gesê het nie, maar ook deur wie Hy was en wat Hy gedoen het. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk, sien ons wie en hoe God is (Kolossense 1:15)

 Nog ‘n verdere ontwikkeling is dat God die Heilige Gees gestuur het. Later sal my Vader vir julle julle spesiale helper, die Heilige Gees stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26). Die Heilige Gees openbaar die volle waarheid oor God en stel die gelowiges in staat om van God te getuig: Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word (Johannes 15:26).

 Jesus Christus en die apostels se woorde vorm ‘n eenheid – die Nuwe Testament. Dit was God se laaste woorde aan die mens.

 Maar wat is dit wat God aan die mens geopenbaar het? Daarna kyk ons volgende keer.