Alle Paaie lei na Jesus: Verskillende houdings teenoor die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Verskillende houdings teenoor die wet – Adrio König

3.8 Verskillende houdings teenoor die wet

Wat kry ons nou as ons terugkyk? Onder Jesus en die gelowiges het ons vier verskillende reaksies op die wet gekry. Mense wat graag van die evangelie ’n bespotting wil maak, sal maklik na hierdie verskille kyk en beweer dat daar onversoenbare houdings onder die vroeë Christene was.

Maar kom ons kyk hierna. Dit gaan oor Jesus self, oor die Christen-Jode, oor Paulus en oor die Hebreërskrywer.

  • Jesus aanvaar die wet en bring die kern van die wet na vore.
  • Die Christen-Jode eis dat die wet by geloof in Christus moet bykom om in die heil te kan deel.
  • Paulus verwerp die wet as heilsmiddel.
  • Die Hebreërbrief verwerp die wet radikaal as volkome minderwaardig teenoor Christus.

 

Jesus Ons het van die begin af gesien dat Jesus die wet hoog geag het. Hy het selfs die doel van sy koms omskryf in terme van die wet. En dis duidelik dat Hy die doel van sy koms juis téénoor mense formuleer wat gedink het Hy gaan die wet afskaf: “Moenie dink Ek het gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie. Ek het gekom om … hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt 5:17).

Wanneer Jesus dan een vir een op die Tien Gebooie ingaan, blyk dit dat Hy téénoor die letterlike uitvoering van die wet, die diep geestelike betekenis na vore bring: nie net letterlik iemand vermoor nie, maar iemand met jou woorde of jou kyk vermoor; nie net fisiek onrein wees nie, maar in jou gedagtes. ’n Kenmerk van Jesus se houding is dan ook om die hele wet in een of twee kerngebooie saam te vat en só tot die hart van die wet deur te dring. Ons het die paar opsommings onder mekaar

geskryf:

  • “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matt 7:12).
  • “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37 ev).
  • “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh 13:34).
  • “Wat volgens die wet van God die swaarste weeg, is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23).

In Jesus se positiewe houding teenoor die wet het dit dus gegaan oor die hele wet in die sin van God se wil vir ons hele lewe. En Jesus het dit verinnerlik omdat dit vir Hom om ons verhouding met God en met mense gaan, en nie maar net om formele handelinge nie.

 

Die Christen-Jode Die Christene uit die Jode, en ook ’n apostel soos Petrus, het aan die begin van Handelinge skynbaar nog nie goed verstaan wat Jesus regtig bedoel het met die kern van die wet en die verinnerliking daarvan nie. Hulle het Jesus eerder nagevolg in die streng handhawing van kleiner besonderhede in die wet soos uiterlike reinheid en onreinheid. Daarom was die rein kossoorte nog belangrik, en ook die afsondering van heidene,  selfs heiden-Christene. Hierdie houding kon egter nie die toets van die tyd deurstaan nie. God het Petrus oortuig om na Kornelius te gaan, en wat ’n heerlike uitkoms was dit nie (Hand 10-11). En Paulus het Petrus skerp aangespreek toe hy weer teruggeval het (Gal 2:11 ev).

 

Paulus deel Jesus se nadruk op die kern van die wet. Hy som die wet selfs in net een gebod op: “Al die gebooie … word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet” (Rom 13:9-10). Paulus is dus volkome positief as die wet gebruik word vir sy oorspronklike doel: die manier waarop God wil hê dat sy kinders sal leef. Daarom gebruik hy die wet as basis vir sy vermanings aan gemeentes oor hoe hulle tot eer van God moet leef (Ef 4-5; Kol 3). Maar daar is by hom ’n negatiwiteit teenoor die wet wat ons nog nie by Jesus kry nie. Dit kom na vore wanneer die Christen-Jode net soos die Jode self, dit as heilsmiddel wil gebruik. Paulus se streng negatiewe houding kan dus nooit teenoor Jesus se positiewe houding afgespeel word nie omdat dit om twee totaal verskillende kante of betekenisse van die wet gegaan het. Paulus se verwerping van die wet as heilsmiddel kom voort uit sy siening van die oorweldigende betekenis van Jesus se kruisoffer. Dit is so onvergelyklik heerlik dat niks daarmee in kompetisie mag staan nie. Trouens Paulus gaan eintlik verder.  Dis meer as net dat die wet nie met Christus mag meeding nie. Dis ook die geval dat ons glad nie in staat is om die wet te hou en daar deur verdienste by God op te bou nie (Gal 2:15 ev). Ons kan net deur die krag van die Gees die wet hou (Rom 8:4), en daarvoor het ons juis die geloof in Jesus nodig.

 

Hebreërs Terwyl ons nog ’n mengsel van positiwiteit en negatiwiteit by Paulus kry, is Hebreërs eensydig negatief oor die wet. Maar “wet” beteken hier die tempelkultus. Die skrywer probeer Christene wat huiwer of hulle met Jesus moet voortgaan, oortuig dat hulle alles gaan verloor as hulle teruggaan na die Ou Testament se offersisteem. Daar is geen vergelyking tussen die betekenis van Jesus en die waarde van die tempel, priesters en offers nie. Dit is namaaksels, dit is kragteloos en selfs nutteloos, dit is op sy beste maar net ’n skadubeeld van wat in Christus gekom het, nie eens ’n werklike beeld nie. Dit kon in elk geval nie regtig die sonde versoen nie, en daarom moes daar ’n ander offer, ’n ander wet, en ’n ander verbond in die plek daarvan kom. Ons het in Jesus regtig iets totaal nuuts. Dit is nie maar net ’n aanpassing of verbetering van die oue nie. Dit vervang die oue. Van die oue mag niks oorbly nie. Maar onthou, die “wet” is hier die tempelkultus met sy priesters en offers. Christus het dit totaal vervang en versoening en vergifnis op ’n ander vlak gebring. Dit, nee Hy, is onvergelyklik. Hy het alles nuutgemaak. Alle paaie lei na Jesus!

 

In die laaste artikel in die gedeelte oor die wet gaan ons na die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (2) – Adrio König

3.7.2 Die afskaffing van die hele tempelkultus

Maar in die hoofdeel van die Brief wat nou volg (hoofstuk 8-10), word alles net eenvoudig nog erger. In fyn besonderhede word  die onvermoë van die wet uitgespel in terme van die tempel, die priesters en die offers. Dit bring mee ’n volkome negatiewe beoordeling van die totale struktuur van die hele tempeldiens, die diens wat die hart van die Ou-Testamentiese godsdiens was.

Die tempel In die Ou Testament was die tempel die plek waar die offers gebring en die versoening tussen God en mens plaasgevind het. Dit was ’n heilige plek met geweldig baie voorskrifte van wie waar mag ingaan en wie wat mag doen. Daar was geen plek heiliger as die tempel nie. Dit was selfs die woonplek van God. In die Allerheiligste deel van die tempel kon net die hoëpriester net een keer per jaar ingaan om versoening te doen vir die sonde.

 

In Hebreërs word nou herhaaldelik na die tempel verwys, maar elke keer in skokkend negatiewe terme. Dit was “maar net ’n kopie, ’n flou skadubeeld van die ware, hemelse heiligdom” (8:5, NLV). In die hemel dien Christus dus nou in “die verbondstent wat groter en volmaakter (as die tempel) is en nie deur mense gemaak is (soos die tempel) nie” (9:11). Die aardse tempel was net ’n afbeelding en ’n namaaksel van die ware tempel (9:23-24). Is dit vreemd dat sommige Christene uit die Jode gevoel het dis darem te erg, só kan hulle nie dink aan die heiligdom waarin God self volgens hulle oortuigings woon nie?

 

Die priesters en die offers Die priesters en die offers moet saam behandel word omdat die priesters eintlik net in verband met die offers ter sprake kom. Volgens die skrywer aan die Hebreërs was Christus ’n belangriker priester as die gewone priesters omdat Hy volgens ’n ander orde priester was, die orde van Melgisedek (Heb 7). En deur sy hele optrede en die onvergelyklike betekenis van sy

kruisoffer, het Hy ook bewys dat Hy baie belangriker was. En die skrywer noem nie minder nie as nege aspekte waarin Christus se offer dié van die Ou Testament oortref.

  • Christus is vir ewig priester terwyl die gewone priesters mekaar moes opvolg (7:24)
  • Die gewone priesters moes eers vir hulle eie sondes offer, maar Christus het nie sonde gehad nie (7:27; 9:7).
  • Die priesters moes elke dag offers bring, terwyl Christus net een maal een offer gebring het wat alle sonde versoen het (7:27; 9:12, 25).
  • Die priesters moes die bloed van diere offer, maar Christus het Homself geoffer (7:27; 9:12, 14). Hy was, terloops, die eerste priester, en Hy is steeds die enigste priester wat ooit Homself geoffer het, en Hy is die enigste gasheer wat ooit Homself as ete aanbied – in die nagmaal (Joh 6:53-56).
  • Die offers van die Ou Testament kon nie werklik die sonde versoen nie (10:4, 11) – ’n skokkende verklaring! Dit is offers wat deur God ingestel is! Maar Christus se één offer het dit finaal vir alle tye gedoen.
  • Hierdie offers kon net die uiterlike van die mens reinig, nie die innerlike en die gewete nie (9:10, 13, 14; 10:1-2). Hierteenoor het Christus ons gewete vrygemaak van die las van die sonde (9:14).
  • Trouens juis die feit dat die offers herhaaldelik gebring moes word, het voortdurend aan die sonde herinner (10:3), terwyl daar geen offer meer nodig is vir die sonde nie omdat alle sonde deur Christus se een offer versoen en vergewe is (10:18).
  • Christus het dan ook amptelik die ou offer-sisteem afgeskaf en ’n nuwe in sy plek ingestel (10:8-10).
  • Maar omdat die wet hierdie ou offers voorgeskryf het, moes daar ook ’n nuwe wet kom (10:8-9).

 

’n Mens word so stadigaan gewoond aan die soort vergelyking wat hier getref word, en besef nie dat dit die allerradikaalste verwerping is van die totale priester-, offer- en versoening-sisteem wat onder die direkte gesag van God gestaan het nie. Radikaler kan dit nie. Die tempel was maar net ’n skadubeeld en selfs ’n namaaksel, die offers kon in elk geval nooit die sonde versoen nie, selfs die wet was slegs ’n skadubeeld, nie eens ’n werklike beeld nie, van die weldade wat sou kom (10:1), sodat beide die wet en die verbond vervang moes word!

 

Kan ’n mens nog wonder waarom daar gelowiges uit die Jode was wat diep geskok was om só te dink oor die hele versoeningsisteem van eeue en eeue? Besef ons watter radikale besluit dit vir hierdie mense was om ’n Christen te word, om Jesus as die Messias te erken? En om Christene te bly nadat hulle geleidelik begin besef het hoe radikaal die breuk met die Jodedom was?

 

Natuurlik is hier ook ’n ander kant van die saak. Ons moet onthou dit gaan nie oor die hele wet nie. Onthou “die wet” het verskillende betekenisse gehad. Dit kon die Tien Gebooie beteken, of die hele Pentateug, of selfs die hele Ou Testament, maar ook net aspekte soos in hierdie geval die tempelkultus (die tempel-, priester-, offersisteem). Dit gaan dus glad nie om die afskaffing van die hele Ou Testament of die hele Pentateug, of die Tien Gebooie nie.

 

En dan moet ons terugdink aan Jesus self. Hy het Homself in beginsel in die plek van die tempel gestel (Joh 2:19-21), al het Hy nog nie in die praktyk van die tempeldiens afstand gedoen nie. Dit beteken dat ons in die Hebreërbrief in beginsel net ’n konsekwente uitwerking van Jesus se eie radikale vernuwings-ingesteldheid het.

 

In die volgende artikel gaan ons na verskillende houdings teenoor die wet kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart

Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart – Milanie Vosloo

Hang skoon wasgoed in jou hart!

Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. Moenie lelike dinge sê nie. Spreuke 4:23 – 24a

Ons steek dikwels dit wat regtig in ons harte is, met vroom woorde weg. So bluf ons mekaar soms met mooi woorde terwyl ons eintlik iets totaal anders dink. En dan, op ‘n dag, stort ons daardie gedagtes in woorde teenoor iemand uit … wat groot en onnodige skade berokken. Die feit is dat ons nie vir baie lank vuil wasgoed van ons hart kan wegsteek nie. Een of ander tyd word ons ware kleure hoor- en sigbaar.

Salomo het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het dat dit wat in ons hart gebeur, die allerbelangrikste basis van wysheid is. Dit is immers dié deel van ons menswees waaruit ons hele lewe vloei. En daar is maar een manier om te sorg dat ons harte suiwer is: ons moet dit elke dag onvoorwaardelik in die hande van die Gees van God plaas. Net Hy kan die vuil wasgoed in ons harte agter die wegsteekplekke uithaal, dit suiwer en dit netjies terug pak in die kas. Net Hy kan die ongenaakbare vlekke wat ons lewens so vervuil, uitwas en in die plek daarvan sy geur van liefde sit.

 

Bid dat die Gees jou ryklik met sy skoonheid sal vul sodat jy ánders oor mense sal dink, die beste van hulle sal glo en kraakvars suiwer in jou liefde sal wees.

 

O Gees van God, vul my. Vul my hart propvol … met U.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




Die Tien Gebooie as hoofwet

Die Tien Gebooie as hoofwet – Francois Malan

Jan Smith vra:

Die tien gebooie blyk vir my die “Hoofwet” te wees terwyl die ander by-wette en/of regulasies is wat die dag tot dag gedrag en lewenswandel van Israel gereël het. Ek verwys hier na die seremoniële wette, die morele wette en juridiese wette soos mens dit kry in Eksodus en Levitikus  —-  of vorm hulle almal saam die Wet van Here?

 

Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet tot niet te maak nie maar om dit te vervul. Het Hy nou hier na die Tien Gebooie verwys of was dit die totaal wat ook die by-wette en  saamgestelde wette insluit. Nou was daar glo 692 (?) bykomende oorlewerings “wette” wat deur die leiers van Israel bygevoeg was.

 

In sommige kerke word die Tien Gebooie nog elke Sondag gelees maar daar is niks melding van die by-klousules en regulasies nie. Baie gelowiges voel erg oor die wet en daar is aanbieders van programme wat CD na CD dorp na dorp stad na stad vrystel/besoek om die reg van die Sabbat heringestel te kry.

 

Galasiërs handel oor die wet en hy sê: Die wet is onmagtig om te red maar dit lei ons na Christus.

Niemand word deur die wet by God geregverdig nie. Die wet was ‘n Tugmeester na God toe totdat die geloof gekom het om ons los te koop van die vloek van die kruis. Besnydenis of onbesnydenis het geen waarde by God nie. Slegs die geloof soos Abraham wat in God geglo het en die is hom tot geregtigheid gereken. Die wat besny moet die wet ten volle hou. Breek jy een breek jy almal.

 

Vrae: Is die Tien Gebooie dus die Hoofwet by die koms van Christus toe Hy dit kom vervul het?

Hoekom wil sekere Skrifuitlêers  aandui dat die wet steeds geldig is en letter vir letter van toepassing is?

Is dit korrek dat Christus die wet gewysig het om te lees: “Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself.

Indien die voorgaande waar is beteken dit, myns insiens, dat daar ‘n vloek oor die onderhawige gemeente uitgespreek word met die lees van die wet – omdat geen mens dit wel kan onderhou nie?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Daar is drie gebruike van die wet: (i) daaruit leer ek deur my hele lewe my sonde en ellende beter ken (Romeine 7:7), en dit dryf my tot Christus en sy genade (Galasiërs 3:24); (ii) dit het betekenis as riglyn vir die burgerlike orde van die samelewing; (iii) dit is die aanwysing vir die gelowige se lewe van dankbaarheid teenoor God vir sy verlossing en hoe ons ons moet gedra in die groot huisgesin van God, wat ons uit genade  deur Christus se lewe en sterwe en opstanding aangeneem het as sy kinders, en ons deur God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, wil leer om as kinders van God, Jesus se voorbeeld en woorde te volg (2 Kor 3:18; Rom 8:9-17).

 

Jesus het nie die wet gewysig nie, maar saamgevat in die liefde tot God en tot my naaste (Matt 22:37-40). Die eerste vier van die tien gebooie handel bv. oor ons verhouding tot God, en die laaste ses oor ons verhouding tot ons medemens (Eks.20:1-17). Maar Jesus het ook op die wet en die profete uitgebrei in die bergrede (Matteus 5-7) om hulle hulle volle betekenis te laat kry (Matteus 5:17) en ‘n kort praktiese toets  daarvoor gegee in die goue reël van 7:12 Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet  julle aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete (vgl. ook Paulus se uiteensetting van die wet in Romeine 12:9-21 en 13:8-14). 

 

Christus het ons vrymaak van die vloek van die wet wat vereis dat ek my eie verlossing moet bewerk met my goeie werke om God te behaag. Dit was ook nie die bedoeling met die tien gebooie volgens Eks. 20 nie. Die tien gebooie begin met die verlossing van Israel uit die slawerny van Egipte (20:2) om sy volk te wees wat Hom liefhet (Eks 20:3-11; vgl. Deutr.6:5 Omdat die Here ons God is, moet jy Hom liefhê met hart en siel, met al jou krag), en mekaar liefhê (Eks. 20:12-17; Levitikus 19:18 ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here wat so sê’; Jesus sê in Matt 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel wat sy son laat opkom oor slegtes en goeies, en laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen).

 

Die by-klousules en regulasies oor die offers vir die sonde is vervul deur God self toe sy Seun gesterf het vir die sonde van die hele wêreld (Johannes 1:29), vir die mense van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Die offers was maar ‘n skaduwee van wat sou kom, en wat nou deur God afgeskaf is (Hebreërs 10:1-10 ons is vir God afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd). Paulus sê ons moet onsself aan God gee as ‘n lewende offer, toegewy om in alles te lewe as God se kinders en toe te laat dat Hy ons denke vernuwe om te onderskei wat vir God goed en aanneemlik is (Rom 12:1,2).

   

Jesus het selfs die sabbat se betekenis verander en gesê: My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook (Joh. 5:17; vgl. Mark 2:27 en 3:4; Kolossense 2:16,17; Romeine 14:5,6).

 

Dit is tog nodig dat die wet van die Here vir die gemeente voorgehou word as maatstaf vir ons lewe, nie slegs die negatiewe ‘jy mag nie’ van Eks 20 wat die grense vir ons optrede aandui nie, maar ook die positiewe vervulling van die wet met die liefde van God, waarin ons lewe gewortel en gegrond moet wees deurdat Christus deur geloof in ons kom woon (Efesiërs 3:17) 

 

Skrywer: Prof Francois Malan