Wat is redding?

The gospel kingdom is a kingdom of light, life and love. Opposite to light is ignorance and error. Opposite to life is a religion that consists of shows, dead rites, and empty ceremonies. Opposite to love is uncharitableness, malice, and especially hatred of the power of godliness – Thomas Manton

 

Wat is redding?

Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood (Romeine 1:16).

Hiervolgens is redding die finale oorwinning van die evangelie – dit bring gelowiges  na ewige veiligheid en vreugde in die teenwoordigheid van die heilige en genadige God. Hierdie definisie beklemtoon ‘n paar punte:

 

  • Redding kom as ons die evangelie glo. Almal is kandidate vir redding. Die enigste vereiste is dat ons die goeie nuus van wie Jesus is en wat Hy aan die kruis vir ons gedoen het, glo. Paulus sê die evangelie is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo. Maar hierdie glo is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie: Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Korintiërs 15:2). Ons moet vashou aan die evangelie en nie net die evangelie glo nie.
  • Redding het gekom … en redding kom nog. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof (Efesiërs 2:8). Tog lees ons dat ons deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Petrus 1:5). Paulus stel dit so: Want Hy (die Heilige Gees) het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag (Efesiërs 4:30). Ons is beseël vir redding, maar die dag van vervulling kom nog.
  • Redding is veiligheid en vreugde voor ‘n heilige God. Ons is gered, maar van wat? In die Nuwe Testament lees ons van ‘n paar dinge waaraan ons gebonde is: bose magte, die korrupsie van ons liggame, sonde, ens. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word (Romeine 5:9). Die evangelie gee aan ons veiligheid van God se straf. Dit stel ons vry om die wonder van ‘n reddende God met vreugde te geniet – vir ewig.

 

Hierdie is John Piper se siening in een van sy preke. Ek dink dit maak die baie duidelik.

 

 




Is Paulus ’n vals apostel?

Is Paulus ‘n vals apostel – Francois Malan

Cobus vra:

Ek het n dokument op truthseekers.co.za gekry wat vir Paulus heeltemal verwerp en sê dat hy n valse apostel was wat homself aangestel het. Die dokument se naam is The shocking truth en is by hulle download gedeelte. Sulke dinge verwar mens partykeer baie en ek sal graag julle opinie oor dit wil hoor.

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

 Ek het by die truthseekers se 32 bladsye artikel ‘Paul: Apostle of the Stumbling Block’ uitgekom, waar hulle probeer bewys dat Paulus darem koring ook tussen sy kaf gesaai het en deur die geskiedenis die hoofstroom Christendom laat struikel het met sy leer, wat teen die wet van die Here is, en vir die vryheid van die gelowige, vry van die wet. In die artikel word gewys na die afgod wat Paulus sou volg en op ‘n aantal leuens wat Paulus sou verkondig, en Paulus se stryd met die twaalf apostels wat deur Jesus (Yahushua the Anointed Son) aangestel is.

 

Die hele artikel spreek van ‘n verdraaide kennis van die Bybel en van die geskiedenis, ‘n vooropgesette idee wat bewys wil word, en ‘n swak interpretasie van die Skrif. Die skrywer verwys na die probleme wat groepe ook met Paulus se anti-wet leer het, nl. die messiaanse Jodedom, die Sewendedagse Adventiste en die World Wide Church of God.

 

Hoofstuk een handel oor: wie was die Magtige (Mighty One) vir wie Paulus gedien het? In Paulus se optrede in Atene vind die skrywer die sleutel, nl. die Onbekende God waarby Paulus aangesluit het in Hand 17:22-23. Die Onbekende God word dan geïdentifiseer as die valse ‘mighty one’ Ares, die Grieke se god van oorlog (deur die Romeine Mars genoem). Maar die skrywer verwar dan die Griekse Ares (Mars in Latyn) met die Latynse woord aries vir ‘n ram (arnion in Grieks), en beweer dat vandag word Ares as die sterrebeeld Aries (die ram) vereer waarby die hele konstellasie (zodiac) bygesleep word vir sterrewiggelary (horoscope).

 

            Van die Griekse woorde ‘die onbekende god’ agnostos theos (foutief gespel as agnostes theos) maak die skrywer ‘agnostic worship’ die geloof dat niks van God geken kan word nie.

 

            Sy weergawe van Hand. 17 steek vas by die naam Areopagus, die rots (heuwel van Ares, en vandaar na Ares) in Atene waar Paulus sou gepreek het. Hand 17:22 sê Paulus het in die middel van die Areopagus gestaan, wat waarskynlik verwys na die Raad van Atene wat die naam Areopagus vir hulle Raad aangeneem het.

 

            Daarna identifiseer die skrywer Paulus met die mense (die skrywer sê: ‘one so-called apostle) wat hulle voorgee as apostels in Efese, wat leuenaars is en die leer van die Nikolaïete verkondig (Openb 2:2-6), soos ook in Pergamus en Tiatira (Openb 2:14-15, 20). Die skrywer sien dit as ‘n waarskuwing dat Paulus ‘n struikelblok is wat die mense laat val, soos Jesus ‘n struikelblok was vir dié wat Hom nie verstaan het nie! (1 Petr.2:8 Jes.8:14 onbegryplik in die skrywer se redenering). Die naam Nikolaus (nikao ‘oorwin’ en laos ‘volk’ sou dan verwys na die man wat die volk van die Gesalfde Seun oorwin deur te leer dat vleis wat aan afgode geoffer is maar geëet kan word, soos Paulus in 1 Kor 8-10 doen. 

 

Om dit te kan doen verwys hy na die manuskrip in die John Rylands Biblioteek in Manchester wat sou bewys dat Openbaring in 40n.C. geskryf is. Die oudste afskrif wat ons van enige Nuwe Testamentiese boek het is die papirus (nr.52) in die John Rylands biblioteek, wat ongeveer 125 n.C. geskryf is en waarvan slegs Joh.18:31-33, 37-38  van die Evangelie volgens Johannes behoue gebly het (nie Openbaring nie). Johannes het die openbarings van die boek Openbaring in sy ouderdom op die eiland Patmos gesien het, toe hy daarheen verban is (Openb 1:9). Dit waarskynlik in die jare 90-100 n.C.

    

Jakobus, die leier van die gemeente in  Jerusalem, en by die vergadering wat besluit het dat die besnydenis nie vir die bekeerlinge uit die heidendom nodig is nie (Hd 15) word met die apostel Jakobus geïdentifiseer, wat toe reeds deur Herodes doodgemaak was (Hand.12:2). Ook die brief van Jakobus word deur die skrywer aan die apostel Jakobus toegeskryf en nie aan die broer van Jesus (vgl. Gal 1:19), wat later Jesus se volgeling geword het en ‘n leier in Jerusalem geword het (vgl. Hand 12:17 nadat die apostel Jakobus reeds doodgemaak is volgens Hd 12:2).

 

Hoofstuk twee wil bewys dat Paulus geen apostel is nie. Oor Handelinge se drie berigte oor Paulus se bekering sê die skrywer dat volgens Hand. 26 het die Gesalfde Seun aan Paulus sy opdragte gegee, terwyl volgens Hand.9 en 22 aan Paulus gesê is hy moet na Jerusalem toe gaan en daar opdragte kry (van die ander apostels). Die verband van Hand.9:6 wys egter na Damaskus as die stad waar vir hom gesê sal word wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen), en in Hand 22:10 word dit duidelik uitgespel dat hy na Damaskus toe moet gaan en daar sal alles vir hom gesê word wat God bepaal het wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen). Die skrywer sien ‘n verskil tussen Lukas se berigte oor Paulus se bekering en Paulus se eie weergawe in Galasiërs 1:13-2:9 waar Paulus van ‘n drie jaar periode in Arabië praat voordat hy Jerusalem toe is. Die skrywer beskou dit as bewys dat Paulus seniel was toe hy Galasiërs as ‘n ou man geskryf het (terwyl Galasiërs een van Paulus se eerste briewe na sy briewe aan die Tessalonisense of selfs voor hulle geskryf is). Volgens Hand 9:23 het daar ‘n lang (hikanos) tyd verloop voordat die Jode begin saamspan het (met die goewerneur, vgl. 2 Kor 11:32,33) om Paulus in Damaskus dood te maak voordat hy in die nag oor die muur ontsnap het na Jerusalem.

 

            Die skrywer sien Gal 2 as bewys dat Paulus se rebellie teen die 12 apostels steeds toegeneem het, dit ten spyte van Hand 15 se vergadering waar hulle met Paulus en Barnabas saamgestem het om die heidene nie die las van die wet en die besnydenis op te lê nie, maar dat Petrus-hulle glo dat hulle deur die genade van die Here Jesus gered is, netsoos die heidene  (Hand 15:10, vgl. 15:1,2). Volgens Gal. 2:9 het die pilare van die gemeente, nl. Jakobus (Jesus se broer wat nie een van die 12 was nie), Petrus en Johannes aan Paulus en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, en het hulle ooreengekom dat Paulus en Barnabas na die heidene gaan en hulle na die Jode. En dan spring die skrywer na 2 Korintiërs 11 om te bewys dat Paulus teen die 12 apostels in opstand is. Die probleem is dat die skrywer aan geen ander gelowige as ‘n apostel kan dink as aan die 12 nie, terwyl die NT na vele ander as apostels verwys. In 2 Kor 11:5 en 12:11 verdedig Paulus juis sy apostelskap teen mense wat hulleself as buitengewone (huperlian) apostels aanbied om die gemeente van Korinte, wat deur Paulus gestig is (Hand.18) van hom en sy evangelie weg te lei. Hulle doen dit deur te roem oor hulle welsprekendheid en sosiale status, en hulle strewe na aansien onder die mense. Daarteenoor volg Paulus die kruisweg van Jesus se lyding om liefdevolle dienaar van ander te wees, soos Jesus (vgl. 2 Kor 6:1-13).

 

            Romeine 3:7 word buite sy verband misbruik om te bewys dat Paulus erken dat hy lieg. In vers 4 sê hy reeds: Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar. Ons verkeerde dade laat blyk dat God regverdig is (v5). Vers 8 verduidelik v7, waar Paulus homself gebruik as voorbeeld van alle mense. Vers 8 sê:  Beteken dit dat ons sê ‘laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom?’ ‘Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê (soos die skrywer van die artikel), maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.’       

 

Hoofstuk 3 plaas Paulus se wet/onderwysing (Torah), wat eintlik ’n anti-wet is, teenoor die ware wet/onderwysing (Torah). Daar word na die leuens van Paulus verwys:

 

Eerste leuen: slegs die vrou was verlei (1 Tim 2:14) – die teks sê nie dat slegs die vrou verlei is nie, maar, soos v13, verwys na Adam wat eerste gemaak is, Eva daarna, is dit ook nie Adam wat (eerste) verlei is nie, dit is die vrou wat haar (eerste) laat verlei het en die gebod oortree het. Die argument van 1 Tim 2:8-3:13 gaan oor leierskap in die gemeente, en die rol van man en vrou in die gemeente van Efese waar vroue in die gemeente rondgegaan het en oor allerlei verkeerde dinge gepraat het (5:13).

 

Tweede leuen: niemand is regverdig nie (Rom 3:9-18). Paulus sou Ps 14:1-4 verkeerd aanhaal. Die eerste drie verse sou net oor mense sonder die wet praat en nie van mense wat volgens die wet lewe nie, wat dan in verse 4-5 bespreek sou word.  Maar vers 2 sê dat God uit die hemel afkyk op ‘die kinders van Adam (die mens)’…om te sien of daar iemand is wat God soek. Vers drie: God sien dat daar nie een is wat goed doen nie, nee, nie een nie (v3). ‘kinders van Adam (die mens) sluit alle mense in. Daarin het Paulus die Psalm reg verstaan.

 

Derde leuen – Paulus se idee hoe ons regverdig is (Rom 3:21-22). Die skrywer verkwalik Paulus wat verklaar dat regverdigheid los van die wet staan. Die skrywer en sy mense glo dat daar geen geregtigheid bestaan los van die wet nie, omdat die Gesalfde vir ons oortredings van die wet gesterf het. Daarom is die wet vir hom deel van ons geregtigheid. Hy verwys na Jer 31:31-33 se nuwe ‘verbond’ wat ‘n valse vertaling van berit sou wees. Volgens hom moet dit met ‘eed’ vertaal word. Die Hebreeuse woord berit beteken ‘ooreenkoms’ of ‘verbond’ terwyl die Hebreeuse woord vir ’n ‘eed’ sjebu‘ah is soos Jeremia dit in Jer.11:5 gebruik. Vir Paulus is die nuwe verbond wat God met ons maak dat Christus die verhouding tussen ons en God reggemaak het, en dat God ons aangeneem het as sy kinders. Dit spel Paulus uit in Romeine 8, en kom daarmee ooreen met Johannes 1:12.

 

            Vir Paulus kan ons goeie werke volgens die wet nie ons verhouding met God regmaak nie, maar slegs die offer van sy Seun, wat self God is, se dood aan die kruis. En as ons in Hom glo, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat in ons kom woon, is ons kinders van God. Maar daarmee verwerp Paulus nie die wet nie. Hy sien dit as die reël vir ons lewe uit dankbaarheid vir ons verlossing, as die huisreëls vir God se kinders.

 

            As Jakobus 2:4 dan sê dat geloof sonder werke dood is, bedoel hy nie daarmee dat die werke ons regverdig voor God nie (soos die skrywer dit interpreteer nie), maar dat ons werke die bewys is van ons verbondenheid aan ons Vader, die regte verhouding wat reeds deur Christus vir ons verwerf is. Die skrywer sê Johannes definieer geregtigheid soos dit in die wet gedefinieer is. Maar Johannes beskryf die doel van sy hele Evangelie ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:31) – nie soos dit in die wet gedefinieer is nie.

 

            Die skrywer neem Paulus kwalik dat hy kan sê dat ons wel vleis kan eet wat aan afgode geoffer is, omdat ons weet dat daar geen afgod is wat iets beteken nie, en dat geen God is nie, behalwe Een (1 Kor 8:4). Maar as my eet van daardie vleis my swakke boer laat struikel, bly Paulus weg van sulke vleis af (1 Kor 8:7-13). Hoewel die hele Ou Testament dit verbied, kom Jesus en verklaar dat alle voedsel rein is (Markus 7:19). Paulus volg maar net Jesus se woord.

 

Vierde leuen – God het jou lief of haat jou nog voor jy gebore is (Rom 9:12-13). Sy eintlike beswaar is teen God se genadige verkiesing, wat in Romeine 9-11 bespreek word.

 

Vyfde leuen – Paulus se leer oor besnydenis – volgens Gen 17:9-14 sou dit vir altyd geld as teken van God se verbond met Abraham en sy nageslag. Omdat Paulus glo dat gelowiges kinders van Abraham is (Gal 3:16,29), moet hulle ook besny word. Maar die skrywer vergeet van die Jerusalem-vergadering van Hand 15 wat besluit het die besnydenis is onnodig.  

 

            Die skrywer beweer verkeerdelik dat die woord vir ‘eed’ berit  is, wat beteken dat ‘n mens ‘n ooreenkoms sny (‘n verbond is mos ‘n ooreenkoms!). Die woord vir sny is egter karat en om ‘n verbond te sny (karat berit), dit verwys na die gebruik om ‘n dier in twee te sny, die twee partye loop daartussen deur en sê: mag die Here so met my maak as ek nie hierdie verbond nakom nie (vgl. Gen 15:17; Jer 24:18-20).

 

            Die Hebreeuse woord om te besny,  mool, word ook gebruik vir die afsny van gras. Die opdrag aan Abraham was om die voorhuid van die manlike geslag af te sny. Die skrywer maak beswaar teen die engelse ‘circumcision’ wat rondom sny beteken. Circumcision volg egter die Griekse vertaling peritome (rondom sny) vir die Hebreeuse mool (afsny). Weens sy misverstand van mool reken die skrywer daar moet net ‘n snit in die voorhuid gemaak word..          

 

Sesde leuen – dat mans nie iets op die kop mag dra of lang hare hê nie (1 Kor 11). Daarvoor verwys die skrywer na die engele wat hulle gesigte bedek met hulle vlerke, Elia wat sy gesig bedek het in die teenwoordigheid van God, die nasireërs wat hulle hare laat groei het (Num.6:2-5), Absalom se lang hare, en Mat 6:6 se gebed in die binnekamer (Grieks: tameion). Hy meen die woord tameion verwys na ‘n gebedsmantel, ‘n betekenis wat die Griekse woord duidelik nie het nie.

 

            Hy beweer ook dat Jesus ‘n baard gehad het op grond van Jes.50:6, en dat die mense wat Hom gevang het sy baard uitgepluk is om Hom te verneder, volgens Esra 9:3 se voorbeeld. Maar ons word toegelaat om ons baarde netjies te knip op grond van Mefiboset se onnet baard (2 Sam 19:24), maar mag dit nie afskeer nie.

 

Die skrywer beweer Paulus het al sy briewe geskryf nadat hy eers in die tronk beland het. Maar slegs 5 van Paulus se 13 briewe dui aan dat hulle uit ‘n gevangenis geskryf  (Efesiërs, Kolossense, Filemon, Filippense, en 2 Timoteus). Daarby is Paulus se briewe geskryf voordat enige van die Evangelies, Handelinge of algemene briewe en Openbaring geskryf is, terwyl die skrywer reken Paulus was van die laaste Bybelskrywers.

 

Paulus wanhoop aan die Galasiërs wat weer wil terugkeer na die onderhouding van die wet om voor God geregverdig te word deur hulle eie goeie werke. Want daardeur verwerp hulle Christus, wat self God is wat mens geword het, self die straf op ons sonde gedra het, en ons van die mag van die sonde verlos deur God die Heilige Gees te stuur om ons in staat te stel om te lewe volgens Jesus se wet,  sodat ons selfs ons vyande sal liefhê, want 1 Johannes sê God is liefde, en as ons nie uit sy liefde lewe en mekaar liefhet nie, is ons nie sy kinders nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Is goeie werke belangrik?

The ultimate measure of a man is not where he stands in moments of comfort and convenience, but where he stands at times of challenge and controversy.”  –  Martin Luther King Jr.

Is goeie werke belangrik?

Scot McKnight (The Sermon on the Mount – 2013) sê dat ons finale bestemming deur ons werke bepaal word. Ons word deur geloof gered, maar op ons werke geoordeel. Baie mense glo dat as hulle gebid en Jesus in hulle harte ingenooi het, is hulle gered … veilig. Hulle vertroue is op ‘n eenmalige besluit, maar daarna toon hulle geen tekens van dissipelskap nie. Die basis van ons Christelike geloof is: Ek word deur Jesus Christus gered om sy dissipel te wees.

 

Mense vra dikwels twee vrae oor werke:

  • Watter soort goeie werke moet ek doen? Onmiddellik dink ek aan “groot” dinge soos wonders doen, preek of selfs demone uitdryf. Dit is nie wat Jesus sê nie. Hy vra: Het jy vandag barmhartigheid aan ‘n behoeftige bewys? Het jy vandag na iemand op die rant van die samelewing uitgereik of het ek opgetree soos die ryk man teenoor Lasarus wat by sy deur gelê het? By hierdie vrae kan ek nog baie byvoeg. Die basiese vrug van die Nuwe Testament is liefde – liefde vir God en liefde vir my naaste. Die basiese vraag is: Wat het ek vandag vir ander mense gedoen?
  • Hoeveel van hierdie goeie werke moet ek doen? Sodra ons kwantitatief hierna kyk, slaan ons die bal mis. Dit gaan nie oor hoeveel nie, maar oor wat.

Werke kan natuurlik nagemaak word. Daarom is werke nie voldoende nie – stem my gedrag ooreen met dit wat van Jesus se volgelinge verwag word? Ek moet ook onthou dat die doen van eenvoudige dinge meer werd is as buitengewone gawes. Wat vir Jesus Christus belangrik is, is liefde, deernis en barmhartigheid.

Ek moet die evangelie hoor en aanvaar, maar dan moet ek doen. Hoor sonder doen is nutteloos.

 




Lance Armstrong

Those who teach by their doctrine must teach by their life, or else they pull down with one hand what they build up with the other. —Matthew Henry

 

Lance Armstrong

Wat ‘n tragiese verhaal. Hier is iemand wat teruggeveg het na hy vir testikulêre kanker behandel is – ‘n verhaal wat baie mense aangegryp het.

Die opkoms en val van Armstrong moet ons daaraan herinner hoe maklik dit is om toe te laat dat sonde jou hele lewe vernietig. Ed Stetzer wys daarop dat die patroon in hierdie geval niks nuut  is nie:

  • Ons interne begeertes is die basis vir ons eksterne sonde.

Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep (Jakobus 1:14). Die begeerte om te slaag, om te wen, om die beste te wees, kan hom op baie maniere voordoen. Die begeerte om te slaag is nie verkeerd nie, maar as dit die fokus van ons lewens word, mag dit lei tot gedrag wat God nie eer nie.

  • Om ons selfsugtige begeertes te vervul, gebruik ons dikwels kortpaaie

Armstrong is nie die eerste atleet om verbode middels te gebruik nie. Veral in fietsry is dit ‘n groot probleem. Vir baie is hierdie kortpad na die toppunt van prestasie net te aanloklik om te vermy. As die begeerte om uit te blink dié prioriteit in ons lewens word, word kortpaaie die norm – reëls en wette word geïgnoreer. Dikwels word die opwinding om die geheim te verberg selfs belangriker as die doel self.

  • Omdat ons bang is ons geheim word geopenbaar, grawe ons dikwels ‘n dieper gat

Koning Dawid is ‘n goeie voorbeeld. Hy gaan tot die uiterste om sy geheim ‘n geheim te hou. Batseba se man is weg op militêre diens; sy en Dawid begin ‘n verhouding en sy word swanger. Dawid kom nou met ‘n ingewikkelde plan na vore om sy betrokkenheid by Batseba geheim te hou. Hy reël selfs dat haar man doodgemaak word. Armstrong doen ook alles in sy vermoë om sy geheim te behou. Doen ons dit nie ook nie?

  • Die geheim kom altyd uit – of nou of in die ewigheid

In Dawid se geval is dit die profeet Natan wat in die troonsaal verskyn en die koning se geheim openbaar maak. In Armstrong se geval is dit veral sy spanmaats en die U. S. Anti-Doping Agency. Op een of ander stadium word ons sondes geopenbaar – of in hierdie lewe of by die finale oordeel.

 

As ons nou die Lance Armstrong-debakel sien ontvou, moet ons dink aan ons eie lewens – die gevaar van sonde, maar ook die vergifnis deur Jesus Christus. ‘n Onbekende prediker het jare gelede gesê: “Sin will take you further than you want to go, keep you longer than you want to stay and cost you more than you want to pay.”