Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

Every Christian is either a missionary or an imposter – Charles Spurgeon

 

Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Jy mag nie steel nie (Eksodus 20:15).

 

Calvyn sê dat ons reg en geregtigheid aan ons naaste verskuldig is, want hy is ook ‘n beelddraer van God. Die Bybelse siening is een van verantwoordelikhede en nie een van regte nie. Die tien gebooie spel uit wat ons ons naaste skuld en nie wat ons van hom kan verwag nie. Van ons word verwag om ons naaste se reg op privaat eiendom te respekteer. As dit ‘n misdaad is om iets van iemand te steel, het daardie persoon tog die reg om daardie ding te besit.

 

Maar daar is ook ‘n ander beginsel te sprake: God is soewerein oor alles wat Hy gemaak het. Ons is dus in werklikheid nie eienaars nie, maar rentmeesters. Om te misluk in ons rentmeesterskap beteken in werklikheid dat ons van God en ons naaste steel.

 

Hoe oortree ons dan hierdie gebod? Luther sê ons oortree die gebod as ons ons naaste uitbuit – iets wat tot ‘n verlies vir hom lei. Ons steel nie net as ons iemand se besittings vat nie, maar as ons hom in besigheid uitbuit. Luister na Luther: “If we look at mankind in all its conditions, it is nothing but a vast, wide stable full of great thieves.” Hy verwys hier onder andere na swendelaars. Hierdie is dikwels gesiene mense in ons samelewing.

 

Die Heidelbergse Kategismus sê: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes. Die Heidelbergse Kategismus stel dit ook positief: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek behoeftiges in hulle nood kan help.

 

Dit gaan dus in hierdie gebod nie net oor diefstal nie. Ons kan natuurlik op verskillende maniere steel – bedrog, buitensporige krediet (ek koop dinge wat ek weet ek nooit sal kan betaal nie), buitensporige pryse vir goedere (ons glo solank iemand bereid is om die prys te betaal, is alles reg), deur goedkoop arbeid te gebruik – veral kinders, ens. Luther het gesê dat ‘n Christen skoenmaker ‘n goeie skoen moet maak en dit teen ‘n billike prys moet verkoop. ‘n Moderne metode van steel is deur buitensporige rente te vra.

 

Steel is dus ‘n veel breër begrip as wat ons normaalweg dink.




Die Tien Gebooie: Tot die dood ons skei

God’s word cannot be without God’s people and, conversely, God’s people cannot be without God’s Word (Martin Luther).

 

Die Tien Gebooie: Tot die dood ons skei

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

Jy mag nie egbreuk pleeg nie (Eksodus 20:14)

George Barna het reeds jare gelede bevind dat daar geen verskil tussen die leefwyse van Christene en ongelowiges is nie.

Barna sê dat alhoewel Christene glo dat die huwelik intrinsiek ‘n belangrike instelling is, gee hulle toe aan sosiale en ekonomiese druk wat huweliksverhoudings uitdaag.

Wat is egbreuk? Ons dink daaraan in wetlike en tegniese terme.

 

Weereens hanteer Jesus hierdie probleem in sy bergrede: Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg … Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met ‘n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk (Matteus 5:27 – 28 en31 – 32). Jesus herhaal hierdie beginsel weer in Matteus 19:8 – 9.

 

Wat is egbreuk? Die vraag wat ons eintlik moet vra, is: Wat is die huwelik? Die huwelik is aan alle mense as verbond by die skepping gegee. Vir Christene is die liggaam belangrik: Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? (1 Korintiërs 6:15). Paulus gaan verder: Of weet julle nie dat iemand wat met ‘n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee  sal een word.” Die huwelik is God se gawe vir die mens om die diepste menseverhouding te ondervind. Egbreuk verbreek dus die diepste verhouding wat God daargestel het vir ons om te geniet.

 

Die Heidelbergse Kategismus (Vraag 109) vra: Verbied God met hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie? Die antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, ‘n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei.

 

Maar daar is ook ‘n positiewe verwagting van hierdie gebod. Dit sluit in:

  • Wedersydse liefde – die huwelik is nie net wetlike ooreenkoms nie.
  • Seksuele trou
  • Gemeenskaplike eiendom – ons moet met mekaar deel. Dit geld nie net vir materiële dinge nie, maar ook drome, probleme, vrese, hoop, bekommernisse, ens.
  • Die opleiding en opvoeding van die kinders.
  • Dra mekaar se swakhede met ‘n begeerte om hulle te verwyder.

 

Volgende keer kyk ons na: Jy mag nie steel nie.




Die Tien Gebooie: Is ons pro-lewe?

Were we able to know exactly what our most influencial religious leaders think of God today, we might be able with some precision to foretell where the Church will stand tomorrow (A. W. Tozer)

 

Die Tien Gebooie: Is ons pro-lewe?

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag nie moord pleeg nie (Eksodus 20:13)

Op elke mens is die beeld van God gestempel. God het alle dinge gemaak, maar net die mens dra sy beeld – al is dit soms bevlek.

Miskien moet ons breër kyk na ander sake wat die beeld van God raak. Ons is byvoorbeeld anti-aborsie, maar wat van die groot aantal arm kinders wat ondervoed is? Wat van kinders wat steeds sterf aan voorkombare siektes omdat hulle nie toegang tot gesondheidsorg het nie?

 

Christene se plek in die wêreld is een van diens – hulle is bekommerd oor sake buite hulleself. Martin Luther het geglo dat hierdie gebod oortree word, nie net as ‘n persoon iets boos doen nie, maar as hy iets goed teenoor sy naaste nie doen nie. As jy jou liefde van hom weerhou en jy hom van die diens wat sy lewe kon red, beroof, is jy skuldig. Ons kan nie die wêreld verlaat in ons soeke na heiligheid nie. Ons kan nie in ons evangeliese subkultuur terugtrek nie. Heiligheid beteken immers liefde vir God en ons naaste. Calvyn sê dat die groot gevaar is dat ons so op ons eie verlossing fokus dat die verlossing en welstand van ons naaste nie raakgesien word nie.

 

Die sesde gebod beteken dat ons nie ‘n ander persoon mag doodmaak nie – ook nie deur gedagtes en woord nie. Net omdat ons nie iemand vermoor het nie, beteken nie dat ons hierdie gebod nagekom het nie. Die gebod vereis dat ons alles in ons vermoë moet doen om die gesondheid en welstand van ons naaste te beskerm.

 

Die Heidelbergse Kategismus sê: “Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku. Dit is alles vir Hom heimlike moord.” Maar waar kom hierdie idees vandaan? In die bergrede sê Jesus: Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matteus 5:21 – 22”. Later sê Jesus: Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg (vers 43). As ons werklik ons naaste wil liefhê, sal ons ons vyande ook moet liefhê.

 

Jy mag nie moord pleeg nie, het nie net ‘n negatiewe betekenis nie – ons moet ook die fisiese en geestelike welstand van ons naaste bevorder – al is hy my vyand!

 

Hoe oortree ons vandag hierdie gebod. Paulus onderskei tussen die praktyke van die sondige natuur en die vrug van die Gees (Galasiërs 5:19 – 23).Hierdie praktyke van die sondige natuur sluit in onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,, afguns, dronkenskap, uitspattigheid,ens. Hoeveel van hierdie dinge verdra ons nie – ook in die kerk? Hierdie praktyke vernietig verhoudings.

 

Ons oortree die sesde gebod deur enige gesindheid wat of aktiewe seermaak of passiewe apatie teenoor dit wat vir ons naaste goed is, verdra. Dit sluit dus dinge soos haweloosheid en ondervoeding in. Lees net weer Matteus 25: Jesus identifiseer so met die behoeftiges dat alles wat ons aan hulle doen Hy sien as iets wat aan Hom gedoen is.

Hierdie gebod bring weer ‘n groot waarheid na vore: God is meer bekommerd oor ons verhouding met ander as oor gedragskodes.

 

Volgende keer kyk ons na die gebod oor egbreuk.

 




Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom

Any supplement to the gospel supplants the gospel – Josh Moody

 

Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

Eer jou Vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee (Eksodus 20:12).

 

Waar het ons aan die idee gekom dat ou mense niks het om aan die samelewing te bied nie? Hulle praktiese ondervinding, hulle kennis van gebeure in die verlede, hulle wysheid om probleme te hanteer wat hulle vantevore reeds teengekom het, gee aan bejaardes ‘n spesiale rol in meeste kulture. Maar in ons selfgesentreerde, individualistiese kultuur plaas ons ons ouers in ouetehuise.

 

Wat verwag God van ons in hierdie gebod? “Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.” (Heidelbergse Kategismus: Vraag 104). Die eerste vier gebooie het betrekking op ons verhouding met God. Nou gaan ons aandag gee aan ons plig teenoor God, maar nou indirek. Dit gaan oor ons naaste wat na God se beeld geskep is. Wie is ons naaste? Bo aan die prioriteitslys staan ons familie. Die familie is die fondament van alle verhoudings. Die familie van God is die kerk.

 

Hierdie gebod het ‘n opdrag en ‘n belofte. Diegene wat oor ons gestel is, het twee pligte: om te heers en te beskerm. Maar ‘n heerser mag nooit dink dat dit dieselfde as mag is nie – die sinnelose gebruik van mag. Die plig is om te heers en te verdedig. Heersers moet altyd soek na wat die beste is vir diegene wat hulle dien.

 

Paulus sê: Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. “Eer jou vader en jou moeder,” is ‘n baie belangrike gebod. En daar is nog ‘n belofte by: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” En Vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil (Efesiërs 6:1 – 4). Ouers het dus ook ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle kinders.

 

Ons moet die vyfde gebod ook wyer lees. As ons nie duidelike gesagslyne het nie, volg anargie. Maar gesag moet altyd getemper word deur die plig van heersers – heers en verdedig. Hoekom word hierdie gebod so ondermyn?

  • ‘n Jeugkultus. Ons leef in ‘n tydperk waar daar ‘n passie vir jeug is.
  • Die hede. Die dieper betekenis van die lewe vir baie mense is om geld te maak – ons maak baie geld, gee dit uit en leef vir vandag.
  • Aanmatiging. Gelowiges glo wat hulle wil solank hulle net ‘n versie kry om hulle siening te ondersteun. Ons steur ons nie aan die verlede of die toekoms nie. Daarom eer ons nie meer die mense wat ons vooraf gegaan het nie. Selfs in kerke oordonder die nuutste en grootste die getoetste uit die verlede.
  • Ek-isme. Paulus skryf aan Timoteus: In die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig (2 Timoteus 3:1 – 5).

 

Ons erken nie meer gesag nie. Wat ek doen is reg en goed; niemand kan vir my voorskrywe nie. Hierdie gebod maak dit duidelik: ek moet mense in gesagsposisies eer.

 

Volgende keer die vraag: Is ek pro-lewe?