Die Tien Gebooie: Rus verseker (2).

When Christ calls a man, he bids him come and die – Dietrich Bonhoeffer

 

Die Tien Gebooie: Rus verseker (2).

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Hebreërs 4 help ons met die gebod oor die sabbatdag.  In 3:5 – 6 bevestig die skrywer Christus se voorrang bo Moses.  In 3:12 – 15 en 19 waarsku die skrywer sy gehoor: Broers julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie ..

. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het … Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie. Dit beteken nie die belofte van rus het verval nie: Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie (4:1). Die Israeliete het nie geglo nie en daarom het hulle nie in die rus ingegaan nie: Ons wat glo, gaan wel in die rus in (4:3)

 

God nooi ons steeds in sy sabbatsrus: Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie (4:8 – 10).

 

Ons word uitgesluit van God se ewige rus as ons aanhou streef vir sy guns en nie al ons vertroue in Christus plaas nie. Hierdie ewige rus is niks ander as Jesus Christus self nie. Dit is interessant dat ons in Matteus 11:28 – 30 lees dat ons na Jesus moet kom en Ek sal julle rus gee … en julle sal rus kry vir julle gemoed. Net daarna lees ons dat Jesus die Here oor die sabbat is.

 

Nou die vraag: Is ons verplig om die sabbat te onderhou? As ons let op Paulus se advies aan Christene in Romeine 14 moet ons nooit iets wat teen ons gewete indruis doen nie. As ek glo dat ek die vierde gebod letterlik moet onderhou, moet ek dit doen. Ons moet nooit iets waarteen ons gewete beswaar maak ligtelik opneem nie. Maar ons mag dan nie die vryheid wat my medegelowiges oor hierdie saak geniet, veroordeel nie. Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God (Romeine 14:5 – 6).

 

Baie mense glo egter dat die vierde gebod nie meer bindend vir Christene is nie. Die vierde gebod word nie in die Nuwe Testament vermeld nie. Christene word wel beveel om gereeld bymekaar te kom (Hebreërs 10:25). Dit is dan op die Sondag gedoen. Nêrens lees ons in die Nuwe Testament dat elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word nie (Eksodus 31:15). Paulus sê:Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus (Kolossense 2:16 – 17). Jesus Christus is die rus vir God se kinders. Maar die skaduwee is nou ‘n werklikheid. As mense nie in Christus vertrou en nie ophou staatmaak op hulle eie pogings nie, sal hulle nie God se rus binnegaan nie.

 

Baie van die praktiese aktiwiteite van die sabbat is steeds vir die gelowige en die kerk belangrik. Hier dink ons aan nadenke, gebed, die Woord en sakramente en gemeenskap. Dit is die dag waarop gelowiges en hulle families fokus op God se woord – hulle herfokus met die oog op die week wat voorlê. Calvyn sê dat met die koms van Christus het die seremoniële deel van die gebod verval. Hy glo dat dit die geleentheid is om:

  • Bymekaar te kom om die Woord van God te hoor, die sakramente te bedien en vir openbare gebede.
  • Om arbeiders vry te stel van werk.

Ons moet onthou hoe die Seun van God vir ons vrede, verlossing en rus  gebring het. Hier in hierdie rus kry ons die Here van die sabbat wat sy hande na ons in vrede uitsteek: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee (Matteus 11:28)

 

Volgende keer kyk ons na ons verhouding met ons ouers.

 

 




Die Tien Gebooie: Rus verseker (1)

Christian preaching is expository preaching … Properly speaking, “exposition” has a much broader meaning … To expound Scripture is to bring out of the text what is there and expose it to view … in such a way that it speaks its message clearly, plainly, accurately, relevantly, without addition, subtraction or falsification (John Stott).

 

Die Tien Gebooie: Rus verseker (1)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou (Eksodus 20:8 – 11)

 

In Genesis 2:2 lees ons: Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na  al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. In Eksodus 31:14 lees ons: Onderhou dus die sabbatdag. Dit moet vir julle ‘n gewyde dag wees. Dit lyk dus asof die Sabbat nie ‘n universele beginsel is nie, want hier gaan dit spesifiek oor Israeliete – die kinders van God. Dit is die mense met wie God ‘n verbond aangegaan het.

 

Luther glo dat die primêre doel van die Sabbat die bevordering van die koninkryk van God is. Calvyn sê dat weens die swakheid van die mens hy een dag vir onderrig en nadenke nodig het. Die Sabbat is dus nie net ‘n nuttige instelling nie – dit is ingestel met ‘n spesifieke doel.

 

Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie. Rus beteken nie dat alle aktiwiteite nou gestaak word nie. As die Jode die Sabbat gevier het, het hulle uitgesien na die einde van hulle lyding, opofferings en seremonies na die finale rus.

 

In die Nuwe Testament het die lig gekom. Dit is die einde van die Joodse week en die begin van ‘n nuwe tydperk en nuwe skepping. Dit leer ons iets van God – nie van onsself nie; dit gaan nie daaroor om die lewe vir ons makliker te maak nie, maar dit leer ons van ‘n tyd wat God vir ons voorberei het en wat nog kom. Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding … Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek (Psalm 62:2 en 6). Let op die verhouding rus en verlossing wat net van God kom.

 

In Hebreërs 4 lees ons van die belofte van rus vir dié wat glo. Daarna kyk ons volgende keer




Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

The most important daily habit we can possess is to remind ourselves of the gospel – Charles Spurgeon.

 

Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of  op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (Eksodus 20:4)

 

Die mens aanbid nie alleen vals gode nie, maar probeer voortdurend om nuwe maniere om God te aanbid, te ontdek. Soms is die God wat so aanbid word die God van die Bybel – soms nie. Maar wat is vals aanbidding?

  • Mens-gesentreerde aanbidding. Nou vertel ons vir mense wat ons dink hulle graag wil hoor – hoe God dinge vir ons kan doen en ons behoeftes kan hanteer. Ons openbare aanbidding is dikwels gerig op die verbruiker. As dit ons benadering is, vereis dit voortdurende innovering, want ons is besig om mense te vermaak. Natuurlik is daar aanvaarbare nuwe aanbiddingstyle. Ons kan egter nie blindweg nuwe style aanvaar net soos ons nie blindweg aan tradisie kan vasklou nie. Dit gaan oor die heerlikheid van God en nie oor verbruikersvriendelike kerke nie.
  • Selfgesentreerde aanbidding. Ek glo dat God vir my bestaan – my geluk en my plesier. Ons kom kerk toe om iets te ontvang en nie te gee nie – ons gee nie lof, danksegging en diens nie. Ons wil passief die gebeure om ons ondervind. God is nie meer die middelpunt van ons bestaan nie. God moet net die vissies en broodjies wat ons vir ons bestaan nodig het, voorsien. Jeremia tree as profeet op vir ‘n volk wat dink dat alles reg verloop. Hy kom en sê dat hulle profete vals verwagtings wek – hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie (23:16). Later lees ons: Elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God (vers 36). ons nie ook vir ongelowiges positiewe dinge net om hulle aan te trek nie? Vals gode is waardeloos, maar ook vals godsdiens en vals aanbidding van die ware God.
  • Verbeeldingryke aanbidding. Die gebruik van ons verbeelding in aanbidding is Godgegewe. Maar ons gebruik dikwels ons verbeelding om ‘n verbruikersvriendelike God te skep. Ons vergeet dat ons geen beheer oor God het nie – ons wil Hom manipuleer, maar dit is nie moontlik nie.
  • Kuns in aanbidding. Mense glo dat hulle meer geraak word deur wat hulle sien en ondervind as wat hulle lees en hoor. Die bedoeling is altyd goed – ons wil mense help om God meer doeltreffend te aanbid. Maar sien en ondervind, kan nie die aanhoor van sy woord vervang nie.
  • Menings in aanbidding. Kontekstualisering beteken dat ons die onveranderlike evangelie in ‘n veranderende kultuur inbring. Dit is noodsaaklik, maar oorkontekstualisering is gevaarlik. Ons ontwikkel ons eie menings oor wat vir God aanvaarbaar is. Die uiteinde is dat daar geen verskil tussen die kultuur binne en buite die kerk is nie.

 

Om verder as God se woord te kyk vir kommunikasie met God is om jou eie aanbidding te skep. Mag ons oor God dink? Beslis, maar dan soos Hy Homself geopenbaar het in die Skrif. Mag ons nadink oor God se karakter en optrede? Beslis, maar dan soos Hy Homself verduidelik het en soos Hy in die geskiedenis opgetree het. Hierdie gebod verbied nie die gebruik van die sintuie nie net so min as wat dit die gebruik van die rede ontmoedig.

 

Moderne Christene word meer deur beelde as woorde aangetrek, meer gefokus op subjektiewe idees en menings as duidelike oortuigings die gevolg van ernstige Bybelstudie en nadenke. Hierdie gebod verseker ons dat God ons vir Homself gekies het; Hy het aan ons die vermoëns gegee om ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te hê. Dit is nie genoeg om die regte God te aanbid nie – ons moet die regte God reg aanbid.

 

Volgende keer kyk ons na die misbruik van God se Naam.

 

 




Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (3)

One living sermon is worth a hundred explanations –  Robert Coleman

 

Die Tien Gebooie: Geen ander gode nie (3)

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2)

 

Wat word van ons in hierdie gebod verwag? Luther het gevoel dat die gevaarlikste vorm van afgodery geregtigheid deur werke is. Want ek kan van hulle getuig  dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig (Romeine 10:2). Ons aanbid ons eie deugde: as ek dit doen, sal God dat doen … Ons verbreek hierdie gebod as ek iets of iemand anders aanbid, vertrou, aanroep of dank in plaas van God. Vertrou ek God volkome of maak ek staat op my eie vermoëns?

 

Wanneer ons in die moeilikheid is, na wie hardloop ons vir hulp? [Dit geld natuurlik onder alle omstandighede en nie net as ek iets nodig het nie.] Sê ons dat ons dit self kan doen; hardloop ons na ons afgode: besittings, vermaak, ens vir hulp? Het ons die regte insig om te besef dat God alleen die antwoord is? Ons moenie vir God dank net vir ons verlossing nie, maar ook vir die gawes wat Hy vir ons gee – ons werk, familie, vriende. Sien ons Hom as die Voorsiener van al ons behoeftes?

 

Dit is baie belangrik dat ons die God wat  in die Bybel beskryf word en sigbaar is in die persoon van Jesus Christus aanbid. In hierdie gebod word ons verbied om ons geloof in onsself of in iets/iemand anders te plaas. Ons moet slegs die een ware God wat Hom met ons in Jesus Christus versoen het, aanbid. Sonder hierdie God is daar geen verlossing nie.

 

Dit bring ons nou by die tweede gebod.