Job se herstel

Walking is man’s best medicine. –Hippokrates, die vader van die geneeskunde  (460-377 vC)

 

Job se herstel

Nadat  Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het (Job 42:10).

Job se herstel was nie net ‘n beloning vir sy geregtigheid nie – dit wat ook God se vrygewigheid wat ‘n groot rol gespeel het.  God skuld ons niks nie, maar dit het Hom nog nooit verhoed om vir ons alles te gee nie.

Geen wonder dat God die blymoedige gewer lief het nie (2 Korintiërs 9:7). Dit is ook interessant om te sien dat Job se herstel kom nadat hy sy vriende vergewe het en vir hulle gebid het. Jesus self beklemtoon hierdie benadering: Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word (Lukas 6:37 – 38).

 

Job se verhaal is ‘n les. Vir die eerste veertig hoofstukke van die boek kom hy voor allerhande vorme van lyding te staan. Soms lyk dit asof hy onder die las buig, maar nooit breek hy nie. Hy het rede gehad om oor homself te twyfel – hy kon selfs sy siening van God verander het – maar hy doen dit nie.

 

Almal wat ‘n vrygewige lewe wil leef, moet Job se verhaal lees. Satan het sekerlik sy antwoord gekry: Job vrees God as hy voorspoedig is, maar ook in tye van teenspoed.  Daar is ‘n paar aspekte in Job se verhaal wat uitstaan:

  • God sê nooit vir Job waarom alles met hom gebeur nie.
  • Aan die einde vind daar ‘n gesprek tussen God en Job plaas waarin Job se karakter bevraagteken word. Ons sou graag wou hê dat, noudat alles verby is, God vir Job sê waarom alles gebeur het.
  • Job word weer voorspoedig.

 

Hier is twee baie belangrike lesse om te leer:

  • Voorspoed is nie altyd die gevolg van harde werk nie. Daar is baie mense wat baie hard werk en nooit voorspoedig word nie. Hier maak God vir Job voorspoedig omdat Job getrou was.
  • Job is voorspoedig, nie net omdat hy sy lyding verduur het nie, maar ook omdat hy vir sy vriende gebid het al het hulle nie veel bygedra om sy lyding te verlig nie.

 

Luister net na Samuel se woorde oor gebed: Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie (1 Samuel 12:23). Bid ons vir ander?

 




Die kerk – Wat is dit?

If all the ignorant need are paintings and images, why didn’t Jesus send out artists with brushes instead of preachers with words? – Huldrych Zwingli

 

Die kerkWat is dit?

Wat is die kerk?  Die kerk is die gemeenskap van alle ware gelowiges van alle tye (Wayne Grudem). Die woord kerk (Grieks = ekklesia) word in die Nuwe Testament gebruik om te verwys na diegene wat deur geloof in die werk van Jesus Christus in een liggaam, ‘n ewige gemeenskap, verenig is. Dit word nie deur tyd en ruimte beperk nie en sal eendag ‘n volmaakte gemeenskap met God deel – vir ewig.

 

 

Hierdie mense is nie net met mekaar verenig nie, maar ook met Christus self. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul (Efesiërs 1:22 – 23). Paulus gebruik ook die beeld van die huwelik: Christus is die eggenoot van sy bruid – die kerk (Efesiërs 5:31 – 32).

 

Dit is die betekenis van die woord kerk wat primêr in Efesiërs gebruik word, maar ook op ‘n paar ander plekke in die Nuwe Testament (soos Matteus 16:18: Op hierdie rots sal Ek my kerk bou.) Die meeste verwysings na ekklesia in die Nuwe Testament verwys na die diverse plaaslike gemeenskap van Christus. Paulus begin verskeie van sy briewe met: Aan die gemeente (ekklesia) van God in Korinte of die gemeente van die Tessalonisense. Openbaring 2:1 – 3:22 bevat boodskappe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Waar na die plaaslike gemeenskap verwys word, word ekklesia gewoonlik met gemeente  vertaal.

 

As ons aan die globale kerk behoort, impliseer dit dat ons ook aan ‘n plaaslike kerk/gemeente behoort en daar aktief betrokke is – ons geloof en gehoorsaamheid hang immers hiervan af.  Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly, soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:23 – 25).




Nadenke oor die Bybel

                                                                                        

Popularity has slain more prophets of God than persecution ever did. —Vance Havner

 

Nadenke oor die Bybel

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2).

Hoekom sukkel ons om vol te hou met die geestelike dissiplines soos die lees van die Bybel? Smag ons nog na die woord van God?

 

 

Meeste van ons lees die Bybel – ‘n paar verse of dalk ‘n hoofstuk. Dit is ‘n begin. Om God se woord te geniet en daardeur verander te word, het ons nadenke nodig. Nadenke beteken ek  absorbeer die woord van God; ek dink na oor wat ek gelees het. Ongelukkig lees meeste mense net hulle Bybel – hulle dink nie oor wat hulle gelees het nie.  “Ek onthou niks nie, maar ek het my Bybel vir die dag gelees.” Ek het nog iets op my te-doen lysie afgemerk.

 

Nadenke/Meditasie is nie joga nie.

  • Nadenke is Bybels: Maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink ( Psalm 1:2)
  • Dit is diep dink: Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins ( Psalm 77:13); U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys (Psalm 119:15). Hier verwys dit na nadink oor wat God gedoen het en nadink oor sy weë. Meestal praat die Bybel oor nadink oor God se woord. Nadink beteken dat ek vrae vra oor die gedeelte wat ek gelees het.

 

Ons standaard verskoning is natuurlik dat ons skaars tyd het om die Bybel te lees wat nog te sê om daaroor na te dink. Paulus waarsku ons: Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd (Efesiërs 5:15 – 16). Ons kan mos oor dit wat ons gelees het nadink op pad werk toe of selfs by die werk.

 

 Lees die Bybel. Ja. Maar dit is nie genoeg nie – dink diep na oor wat jy gelees het.




Ons lees nie meer die Bybel nie

Whatever your sex or position, life is a battle in which you are to show your pluck, and woe be to the coward. Whether passed on a bed of sickness or a tented field, it is ever the same fair play and admits no foolish distinction. Despair and postponement are cowardice and defeat. Men were born to succeed, not to fail. – Henry David Thoreau

 

Ons lees nie meer die Bybel nie

Daar kom gereeld navorsing na vore wat wys dat mense nie meer die Bybel lees nie. Selfs gelowiges lees nie meer die Bybel nie. Daar is baie redes vir hierdie verskynsel. Hier is ‘n paar:

 

 

  • Mense oor die algemeen lees minder. Hulle mag nog koerante of blogs of kort artikels lees, maar niks meer nie. Leer jou kinders om te lees en boeke lief te hê. Kyk maar net na die bevindings oor geletterdheid in Suid-Afrika.
  • Tegnologie maak ons vermoë om te lees seer. Ons leer om oppervlakkig te lees en te dink; ons kan nie meer vir lang tye aandag gee nie – na 3 bladsye dwaal ons aandag af.
  • Ons skedules is te vol. kyk weer na die gelykenis van die saaier – drie van die vier  plekke waar die saad val, is die probleem ‘n gebrek aan spasie. Ons moet spasie maak om ons Bybel te lees.
  • Ons ken nie die oorhoofse Bybelse verhaal en hoe die dele inmekaar pas nie. Ons het geen raamwerk wat alles bymekaar hou nie. Geen wonder ons word gefrustreer as ons die Bybel lees nie.

 

Om die Bybel gereeld te lees, vereis dissipline; dissipline kom nie van self nie – ons moet daaraan werk. Bepaal ‘n vasgestelde tyd elke dag waar jy jou Bybel gaan lees.