Jesus en die Samaritaanse vrou

Whatever the Scriptures do not reveal we do not consider an article of faith. — Martin Luther

 

Jesus en die Samaritaanse vrou

In Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou (Johannes 4) openbaar Jesus sekere hindernisse wat ons van opregte aanbidding van God weerhou.

 

 

Hindernis #1: Die verkeerde put/fontein

Toe Jesus praat van lewende water – water wat meer verfrissend en langdurend is – vra sy ‘n paar vrae: “Is U groter as Jakob? Is U te goed vir hierdie water? Jakob en sy seuns het hier gedrink. Die diere van die Jode drink al lank hier.” Jesus het basies gesê dat daar ‘n fout met die fontein is – dit help net vir die oomblik; jy moet gereeld terugkom vir nog water. Jesus se fontein, daarenteen, les jou dors vir altyd.

 

Ons het ook fonteine  waar ons graag drink: geld en gemak – nuwe dinge; verhoudings en seks – ons verwag te veel van ons verhoudings; respek en sukses. Maar God se fontein is anders. Ten spyte daarvan dat Hy alles van ons weet, sterf Hy vir ons aan die kruis. God besef ons fonteine het nooit genoeg water vir ons dors nie. Ons aanbidding ly, want ons gaan altyd na die verkeerde fonteine terug.

 

Hindernis #2: Sonde wat nie bely is nie

Die Samaritaanse vrou ontken die impak van haar sonde;  sy klou vas aan haar sonde; sy probeer dit bedek. Lees net vs 16 – 19: Jesus sê dat sy haar man moet gaan roep. Sy antwoord dat sy nie ‘n man het nie. Jesus reageer hierop: Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.  Ons wil nie aanvaar dat God ons ken en alles van ons weet nie. Ons hardloop weg van God na dinge wat nie so baie van ons vra nie. As ons sukkel om te glo en te vertrou, moet ons na Hom en nie weg van Hom hardloop nie. Hy weet reeds alles.

 

Hindernis #3: Onkunde

“Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid is in Jerusalem.” Jesus sê toe vir haar: “ Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid (4:20 – 22)

Ons skep graag ‘n God waarvan ons meer hou. Ons hou nie van Psalm 7:12 nie: God is ‘n betroubare regter, ‘n God wat altyd die skuldiges straf. Ons maak Hom vriendeliker – Hy keer nie meer tafels om nie. As ons Jesus se goddelikheid wegneem, neem ons ook sy mag en gesag weg. Kerke eindig met ‘n God wat veilig en swak is. God konfronteer die Samaritaanse vrou: geheimhouding is ‘n mite – God weet,  maar ten spyte reik Hy in genade na haar uit. Aanbidding floreer as ons weet wie ons is en wie Hy is.

 

Hierdie hindernisse geld vir almal van ons. Werk ons daaraan om hulle uit te skakel?




Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet – Adrio König

3.2 Die Jode se interpretasie van die wet

Ons het na die wet in die algemeen en die wet in die Ou Testament gekyk. Dit bring ons by die Joodse leiers se interpretasie van die wet. Die uittog (hoofstuk 9), die verbond (hoofstuk 1), en die wet was die fondament van Israel se verhouding met die Here en met mekaar. Met die uittog het God Homself aan Israel verbind en “die God van Israel” geword, en dus ook die volk gekies as sy volk.

’n Mens kan die uittog as die geboorte van die volk beskou. Deur die verbond het Hy beloof om verantwoordelikheid vir hulle te neem, en van hulle verwag om Hom in liefde te gehoorsaam. Deur die wet het Hy konkreet vir hulle gesê hoe Hy wil hê dat hulle sal lewe.

 

Van hierdie drie het die wet geleidelik vir Israel die belangrikste geword, reg of verkeerd. Baie Israeliete het die wet uit dankbaarheid en met vreugde gehou. Lees ’n keer Psalm 119 aandagtig deur. Ek gee net ’n paar kort aanhalings. Onthou woorde soos bevele, gebooie, verordeninge, insettinge, voorskrifte is almal verwysings na die wet.

  • Om volgens u verordenings te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (v 14).
  • Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie (v 16).
  • Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe (v 32).
  • Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde (v 35).
  • In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (v 47).
  • Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig (v 48).
  • U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde (v 54).
  • Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe (v 56).

 

Uiteindelik het hulle ontrou aan die wet egter oorheers ondanks die vermanings en waarskuwings van die profete, en uiteindelik het hulle weens hulle ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here in die vernietigende ballingskap beland. In die ballingskap het hulle alles verloor wat vir hulle waarde gehad het. Dit is dus te verstane dat hulle ná hulle terugkeer uit die ballingskap alles in hulle vermoë gedoen het om ’n herhaling daarvan te probeer voorkom. Hulle wou nou ten alle koste die wet hou. Veral Esra en Nehemia het groot nadruk daarop gelê.

 

Op sigself was daar nog niks daarmee verkeerd nie. Hulle het immers nog die wet gehou omdat hulle die volk van die Here was en aan Hom gehoorsaam moes wees. Maar geleidelik het al meer van hulle die wet begin hou om by God aanneemlik te word, om op hierdie manier in ’n verhouding met God te kom. Daarom het hulle geleidelik ook die wet meer as God self verheerlik. Die wet het hulle behoud geword. In plaas daarvan dat hulle die volk van die Here was wat deur Hom aan die wet gebind was, het hulle ter wille van die wet begin leef.

 

Dis nie vreemd dat die “skrifgeleerdes” of rabbi’s juis in hierdie tyd na vore gekom het nie. Vroeër het die priesters die taak gehad om die volk die wet te leer. Maar ná die ballingskap kom daar so ’n konsentrasie op die wet dat ’n gespesialiseerde studie van die wet nodig word. Ons lees: “Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer” (Esra 7:10). Hieruit het die hele tradisie van intensiewe studie van elke fyn bepaling van die wet gegroei en die nuwe amp van skrifgeleerde of rabbi ontwikkel, die teoloë van Israel in die tyd van Jesus. Die neiging was om in al fyner detail in te gaan en al voorskrifteliker te word, sodat die hele lewe van die Israeliet later deur fyner onderdele van die wet gereël is.

 

Dit is teen hierdie oormatige “wetsverfyning” wat Jesus uiteindelik geprotesteer het in een van die skerpste oordeelshoofstukke in die hele Bybel (Matt 23). Ons kyk later daarna. Dis verder interessant om na te gaan hoe hulle siening en waardering van die wet in hierdie tyd voor Jesus ontwikkel het. Hulle het altyd die Pentateug of die Torah gesien as die eintlike openbaring van God. Maar geleidelik het hulle alle ander boeke wat daarna gekom het, aan die wet begin meet. Alle verhoudings tussen God, mense, Israel en die wêreld is aan die wet onderwerp. Die wet sou dan die instrument wees waarmee God alles geskep het.

 

Maar hulle het later selfs geleer dat God voor elke skeppingswerk eers die wet geraadpleeg het. Trouens die wêreld, die mense en Israel self sou net terwille van die wet geskep wees. ’n Mens kan skaars anders as om te dink aan wat die Christene later oor God self bely het: Uit Hom, deur Hom, en tot Hom is alle dinge. Dit is omtrent wat die wetsgetroue Jode later oor die wet geglo het.  Wie die wet gehoorsaam, ontvang God se goedkeuring, die geregtigheid, die lewe self, en ’n aandeel in die nuwe wêreld van God. Hulle was oortuig dat dit vir ’n mens moontlik is om die hele wet volkome te hou. Dit was inderdaad ook nodig, want net só het hulle die goedkeuring van God gekry. Hulle het geglo Abraham het dit gedoen selfs nog voor die wet regtig by Sinai afgekondig was. Hiervolgens was dit nie meer die geval dat Israel die wet moes hou omdat hulle God se volk was nie. Dit was eerder só dat hulle die wet moes hou om God se guns te verdien. Dit is hierdie oortuiging wat die apostels later verwerp.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk Jesus se houding teenoor die wet.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament – Adrio König

3.1 Die wet in die Ou Testament

Ons woord “wet” is nie regtig ’n goeie vertaling van die Hebreeus Torah nie. Hierdie Hebreeuse woord kom meer as 200 keer in die Ou Testament voor en word in verskillende verbande gebruik. Oorspronklik kan dit iets beteken soos “rigtingwyser” of “aanwysing” of “onderrig”.

Kenmerkend is dat dit spesifiek vir uitsprake van die Here gebruik word. Die wet dra dus die gesag van die Here. Soms word net die Tien Gebooie die Torah genoem, maar soms ook die hele boek Deuteronomium, en selfs die hele Pentateug, dit is die eerste vyf boeke, waarin daar natuurlik nie net wette/ voorskrifte opgeneem is nie, maar die wonderlike geskiedenisse van die skepping en God se begin met die volk Israel, en waarin selfs die oordele van die Here aangekondig word (Deut 4:44; 28:61; Neh 8:3).

 

Wanneer daar in die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys word, kom dit dikwels voor in die kombinasie van “die wet (Torah) en die profete” (Matt 5:17; 7:12; 22:40). Soms word ook na ’n derde groep verwys. Jesus praat van “die wet en die profete en die Psalms” (Luk 24:44), maar later was dit meer algemeen om te verwys na “die wet en die profete en die geskrifte”.

 

Watter boeke het hulle onder hierdie drie dele ingedeel? Nie presies wat ons vandag daaronder verstaan nie.

  • Die wet was die eerste vyf boeke (die Pentateug), of soms die eerste ses (die Heksateug) as Josua ook daarby kom.
  • Die profete is al die ander geskiedenisboeke van Rigters af tot by Konings, met die uitsondering van Ester en Rut, en dan ook die boeke wat ons vandag nog die Profete noem.
  • Die geskrifte is die derde groep, en dis nogal ’n “deurmekaar” groep wat wysheidsboeke (Job, Spreuke, Prediker) insluit, maar ook digterlike boeke (Psalms, Hooglied, Klaagliedere), ses historiese boeke (Ester, Rut, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia) en dan nog Daniël ook.

 

In die tyd van Jesus was daar nog groot verskil onder die Jode oor die gesag van hierdie groepe boeke. Die Sadduseërs was ’n baie “konserwatiewe” groep wat net die Torah as gesaghebbend erken het, en omdat daar niks van die opstanding in staan nie, het hulle ook nie aanvaar dat daar ’n opstanding sal wees nie. Die Fariseërs was die meer “liberale” groep wat ook die ander twee groepe boeke aanvaar het en daarom geglo het daar sal ’n opstanding wees. Dit kom immers duidelik in Daniël 12:2 voor.

 

Dit was een van die belangrike take van die priesters om die volk te onderrig in die wet en om die wet te interpreteer. Ons het in Haggai 2:10-12 ’n mooi voorbeeld van hoe die priesters genader is met ’n vraag hoe die wet verstaan moes word. Maar ons kan ook uit hierdie besonderhede aflei hoe radikaal hulle die wet in hierdie tyd (na die ballingskap) geïnterpreteer en toegepas het.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk hoe die Jode die wet geïnterpreteer het.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet – Adrio König

Hoofstuk 3

In die volgende aantal artikels gaan ons na die wet uit verskillende hoeke kyk,

naamlik:

  • Die wet in die Ou Testament
  • Die Jode se interpretasie van die wet.
  • Jesus se houding teenoor die wet
  • Die wet in Handelinge
  • Paulus: Die wet en ons saligheid
  • Paulus se verwerping van die wet
  • Die wet in Hebreërs
  • Verskillende houdings teenoor die wet
  • Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

 

Die wet

Vir baie jare van my lewe het “die wet” my allermins ’n interessante onderwerp gelyk. Maar ek het onlangs my fout uitgevind. Trouens ek begin wonder of daar enige van die groot temas in die Bybel is wat nie opwindend is nie, veral omdat ek al meer besef hoe hulle met Jesus in verband staan.

 

Dink aan die een kant daaraan dat Jesus die wet volkome ernstig geneem het en selfs verklaar het Hy het gekom om die wet sy volle betekenis te gee. Maar aan die ander kant het Paulus geskryf Jesus is die einde van die wet, en elkeen wat nog die wet wil hou, verbreek die band met Christus en verbeur die genade. Paulus kan skryf die wet is heilig en reg en goed, maar intussen is dit eintlik deur die wet wat Jesus gekruisig is. Hoe werk die dinge oor die wet?

 

Kom ons begin by die begin, en kyk waar ons uitkom. Is dit nie lekker nie om te probeer om nie vooropgestelde idees en oortuigings te hê nie, en sover moontlik met ’n oop gemoed na die Bybel te gaan en te kyk wat ’n mens kry.

 

Waar begin ons? By die wet in die Ou Testament.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König