Tien Gewildste verse – 2012

The primary purpose of reading the Bible is not to know the Bible but to know God – –James Merritt

 

Tien Gewildste verse – 2012

Amper sewe miljoen mense het King James Bible Online in 2012 besoek. Wat was die verse wat die meeste na gekyk is (ek is nie seker of hulle gelees is nie)? Hier is die top tien:

  • Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Psalm 23:4)
  • (Filippense 4:13).
  • God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).
  • In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Genesis 1:1).
  • Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind (1 Korintiërs 13:11).
  • En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14).
  • Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting (Jeremia 29:11).
  • Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug (Efesiërs 6:12).
  • Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7).
  • Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef (Genesis 1:2).

 

Wat die betekenis, indien enige, van so ‘n lys is, weet ek nie. Wat my opval is dat vyf van die tien verse uit die Ou Testament kom.




Karl Barth

 

For many in Christian profession today, in politics, in media, lobbying, public intimidation have become the means. Pouring millions of dollars into elections, media events, an almost endless list of political pressure groups, the effort is being made to superficially sanitize America. But the question has to be asked…is this the solution? Is this the Christian mandate? – John MacArthur

 

Karl Barth

Karl Barth het pas ‘n lesing in die Rockefeller-kapel op die kampus van die Universiteit van Chicago voltooi. Dit was in 1962.

Hy was besig om vrae te beantwoord toe ‘n student hom vra of hy sy lewenswerk in teologie in een sin kan opsom. Die gehoor snak na hulle asem oor die student se voorbarigheid. Hulle sê dat Barth nie ‘n oomblik gehuiwer het voordat hy antwoord:  “Yes. In the words of a song I learned at my mother’s knee: ‘Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so’.”

 

‘n Pragtige verhaal. Daar is mense wat die waarheid daarvan betwyfel, maar die les is waardevol en eenvoudig. Probeer ons nie ons godsdiens te ingewikkeld maak nie?




Laat sy Liefde jou Lei: Ons is deel van mekaar

Laat sy Liefde jou Lei: Ons is deel van mekaar – Milanie Vosloo

Ons is déél van mekaar!

Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid. Terwyl jy jou versoeke rig, smeek God se onverdiende goedheid daaroor af en dank Hom. 1 Timoteus 2:1

Ons is nie gemaak om van vergeet te word nie. Ons wil almal op ‘n manier deur mense raakgesien, raakgehoor en raak-liefgehê word. Juis daarom is dit ons liewe Vader se wil dat ons van geboorte af tuis sal voel by ons eie “behoort-aan-iemand-kring”: by ouers wat ons koester, familie wat ons met liefde toevou en mense wat hand aan hand saam met ons loop. Klein-klein begin ons al die waarde van maats besef en soos ons ouer word, is dit vriendinne, ‘n lewensmaat, kollegas en ander kosbare hartsmense wat tot ons lewensvreugde bydra.

 

Wanneer ons Skepper ons nou régtig bederf, gee Hy aan ons ook wonderlike sielsgenote: Mense wat ons diepste wese verstaan en ons, ondanks alles, onvoorwaardelik aanvaar en liefhet. Dan natuurlik weet die Vader ook dat ons ander geesgenoot-engele nodig het om saam met ons deel te neem aan die wedloop van geloof. Van die vroegste tye van die kerk se geskiedenis was dit juis die verbintenis tussen opregte geloofsgenote wat ‘n verskil aan hul eie en anders se lewens gemaak het. Ook jy het opregte geloofsmaats bitter nodig. En ook jy kan ander geloofsvriende met jou ondersteuning, liefde, begrip, aanmoediging en gebede verryk.

 

Bid elke dag dat jou liefde ander in die binnekring van God se genade sal ontvang!

 

Dankie vir die onbreekbare band waarmee u bloed ons as gelowiges aan mekaar bind, Vader.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo




Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4)

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4) – Adrio König

2.3.4 Die ewige lewe

Ons het hier, net soos met die opstanding, een van die opvallendste verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe. Net soos in die geval van die opstanding, kom die begrip “die ewige lewe” net in Daniël 12:2 voor. En ons weet reeds Daniël is deel van die oorgangsliteratuur tussen die twee Testamente. Daar is dus vroeër in die Ou Testament geen sprake van ewige lewe nie.

Ons het reeds gekyk na die dood in die Ou Testament (2.2), en na die feit dat die gelowiges die heil in hierdie lewe geniet het omdat die dood die beëindiging was van hulle gemeenskap met God. Dis tog ’n aangrypende gedagte dat om te lewe en om die Here te loof vir hulle direk aan mekaar verbonde was. As die Here nie meer aan die dooies dink nie, kan die dooies Hom nie meer loof nie, en dan leef hulle nie meer regtig nie al het hulle nog ’n soort skimbestaan in die chaotiese duisternis van die doderyk. “In die doderyk kan niemand U loof nie … Net hulle wat nog lewe, kan U loof … ” (Jes 38:18-19).

 

In die tyd van die Nuwe Testament het die verwagting van die opstanding alreeds sterk na vore gekom, ook onder sekere groepe onder die Jode soos die Fariseërs. In die meeste gevalle is dit in die Nuwe Testament nog ’n toekomsverwagting, maar by Johannes is dit nou al die gelowiges se deel (Joh 3:36).

 

Wat is die ewige lewe? Dit is natuurlik om die heil vir ewig in  gemeenskap met God te geniet, en Hom ewig daarvoor te dank. Maar hiermee is al dadelik sekere beskouings oor die ewige lewe afgewys. Die ewige lewe is baie meer as om net altyd aan te hou lewe. Dit moet onder sekere omstandighede ’n verskrikking wees om te dink jy moet ewig aanhou lewe. Dink maar net aan mense wat aan ’n smartlike siekte ly of in ’n onhanteerbare verhouding vasgevang is, vir wie die toekoms uitsigloos is. Hulle sal ineenstort as hulle ewig daarmee moet aanhou. Sulke mense sou ewige lewe net sinvol vind as hulle lewensomstandighede en lewenskwaliteit radikaal sou verander. En dit is inderdaad wat ewige lewe is.

 

Veral volgens Johannes is die ewige lewe direk verbonde aan Jesus self. Hy is self “die lewe” en wie in Hom glo, het die ewige lewe. Ook elkeen wat sy liggaam eet en sy bloed drink, het die ewige lewe (Joh 14:6; 3:36; 6:54). Dit beteken dat die ewige lewe lewe-in-gemeenskap-met-Jesus is. En dit kan ons maklik verstaan. Hy is die lewe, Hy het die dood oorwin, deur die geloof en die doop deel ons in sy sterwe vir die sonde en in sy oorwinningslewe oor die dood (Rom 6). Wat is dit anders as die ewige lewe waaraan ons deel het omdat ons aan Hom deel het?

 

Maar ook in gemeenskap met sy Vader. Let op na Johannes se “definisie” van die ewige lewe: “Dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:3).

 

Omdat die ewige lewe dus in werklikheid die gemeenskap met Jesus en sy Vader is, is dit vanselfsprekend dat dit nie net iets is wat net in die toekoms lê nie. Ons leef nou reeds deur die geloof aan Hom en sy Vader verbonde, en in daardie sin deel ons nou reeds in die ewige lewe. Die ewige lewe is dus nie maar net ewig aanhou lewe nie. Dis ewig in die gemeenskap van God en sy Seun op die nuwe aarde om sy gawes van rykdom en oorvloed te geniet en Hom daarvoor te loof en te dank.

Dit is heil, aardse heil, heil soos God dit van die begin af bedoel het. Alle paaie, óók die pad van die heil, lei na Jesus.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König