Totsiens, Christelike Amerika; Hallo, ware Christenskap

God often comforts us, not by changing the circumstances of our lives, but by changing our attitude toward them. —S.H.B. Masterman

 

 

Totsiens, Christelike Amerika; Hallo, ware Christenskap

Hierdie is ‘n artikel van Richard Stearns, die President van World Vision.

Daar was ‘n tyd toe ons aanvaar het dat almal Christene was. Daardie tyd is lankal verby. In ‘n onlangse opname deur die Pew Forum on Religion and Public Life, het die aantal Protestante vir die eerste keer onder 50% geval.

20% van Amerikaners sê hulle is nie gelowig nie – geen godsdiens nie. Ons, ook in Suid-Afrika, is op pad na ‘n sekulêre staat. Baie Christene reageer op hierdie kultuurskuif met frustrasie.

 

Wat is die onderliggende werklikheid van hierdie bevindings? Ons moet teruggaan na die basiese sake:  leef soos dissipels van Christus, demonstreer die evangelie op tasbare wyses in ons skole, werkplekke en samelewing.

 

Die soort Christelike geloof waarop die wêreld positief reageer is: Jy moet jou naaste liefhê. Wetgewing of hofsake gaan geen verskil maak nie. Geen wonder almal weet waarteen kerke is nie, maar min weet waarvoor kerke is.

 

Christene moet terugkeer na die roeping wat ons by Jesus gekry het en vir die wêreld ‘n ander manier van lewe wys. Dit is ‘n manier van lewe wat God se karakter weerspieël: sy liefde, sy geregtigheid, sy deernis, sy vergifnis en sy  versoening.




Wat is Afgodery?

Revival only come when He sends it.  He only sends it when His people need it.  Surely we His people need it now. —Richard Owen Roberts

 

Wat is Afgodery?

As ons praat van afgode dink ons aan die Ou Testamentiese beskrywing – mense wat offers, selfs hulle eie kinders, bring vir ‘n beeld. Calvyn definieer afgodery soos volg: om die gawes in plaas van die Gewer self  te aanbid (Institutes of the Christian Religion, 4.17.36).

Ons sien dikwels afgodery in ons voornemens vir 2013. Neem ons hierdie besluite omdat ons God wil verheerlik? Of besluit ons om dinge te doen wat ons beter sal laat voel oor die afgode wat ons aanbid? Om gewig te verloor is ‘n goeie voorneme, maar nie as ons hierdie besluit vir die verkeerde redes neem nie.

 

Ons sien twee soortgelyke definisies van afgodery in Paulus se briewe:

  • Efesiërs 5:5: Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
  • Kolossense 3:5: Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is.

 

In beide gedeeltes word gierigheid gesien as afgodery. Die Griekse woord beteken letterlik “om te begeer om meer te hê as wat jou toekom.” Dit beteken die gierige persoon is nie tevrede met die deel wat God vir hom afgemeet het nie. Dit sluit God self in – hy is nie tevrede met God nie. Daarom kyk hy voortdurend elders vir bevrediging. Klink nogal bekend.

 

Afgodery is soos gierigheid in die sin dat mense ontevrede is of word met wie God is en wat Hy vir hulle doen – hulle soek elders vir bevrediging. Hulle neem hulle oë weg van die Gewer en kyk na die gawes vir hulle vervulling. Dit sluit in fisiese plesier – kos, seks, oefening – wat nie een inherent sleg is nie. Dit sluit ook ontasbare dinge soos ambisie, produktiwiteit, leer en sosiale aanvaarding in. Wat beteken dit? Alles kan en alles was al ‘n afgod, want die mens het al alles in die plek van God gestel.

 

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 2

 

The best use of one’s life is to spend it for something that will outlast it. —Oswald Sanders

 

‘n Nuwe  Kategismus: Vraag 2

Vraag: Wie/Wat is God?

Antwoord: God is die Skepper en onderhouer van almal en alles. Hy is ewig, oneindig en verander nie in sy mag en volmaaktheid, goedheid en heerlikheid, wysheid, geregtigheid en waarheid nie. Niks gebeur behalwe deur Hom en volgens sy wil nie. [Onderstreep is antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Daar is geen god soos U nie, Here, niks kan met u werk vergelyk word nie. U het al die nasies gemaak; hulle sal voor U kom buig, Here, en aan u Naam die eer gee, want U is groot en doen magtige dade, U alleen is God … U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou (Psalm 86:8 – 10 en 15)

 

Kommentaar:

God is ‘n ewige, onafhanklike wese … Hy gee bestaan aan alle skepsels … God is ‘n ewige, onveranderlike wese … sy wese is sonder enige perke. Engele en mense het hulle eie wese, maar hulle is gebonde en beperk … maar God is ‘n enorme wese  wat nie binne grense geplaas kan word nie … Daar was nog nooit en daar sal ook nooit ‘n tyd wees waarin God nie van Homself kan sê “Ek is” nie. Hy gee bestaan aan alle dinge … Hy is die Wese van alle wesens wat op sy eie bestaan … “Ek is wat Ek is en so sal Ek tot in ewigheid wees” … Hy is oneindig in mag, soewerein in heerskappy en nie gebonde soos skepsels is nie … Hy is so sterk dat Hy almagtig is, vir Hom is niks onmoontlik nie … Hy wil niks hê nie, maar is geseënd met die oneindige volmaaktheid van sy heerlike wese … selfonderhoudend, allesonderhoudend, absoluut volmaak … daar is geen variasie in God nie, maar Hy is dieselfde tot in ewigheid … God was en is en sal vir ewig wees.  Alhoewel die manifestasies van Homself  aan die mense tydgebonde is, word sy wese nie deur tyd gebind nie. Kyk terug na agter  of kyk na vore, God van ewigheid tot ewigheid. God is ‘n selfonderhoudende, oneindige, volmaakte en geseënde wese Hy is dié rede vir ons bestaan, maar sonder dat daar ‘n rede vir sy bestaan is.  Wat God is, was Hy van ewig af en wat God is, sal Hy wees tot in ewigheid.

 

Hierdie kommentaar is deur Thomas Brooks (1608 – 1680) ‘n Engelse Puriteinse prediker, geskryf. Hy het meer as ‘n dosyn boeke geskryf. The Mute Christian Under the Smarting Rod  was waarskynlik sy bekendste boek. Hierdie aanhaling kom uit Christ’s Eternal Deity Proved uit The Complete Works of Thomas Brooks, onder redaksie van Eerw. Alexander Balloch Grosart, Volume 5 (Edinburgh: James Nichol, 1866), 150–157.

 

Verdere Leeswerk:

 “Self-existence”, “Transcendence”, and “Almightiness” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Ek glo, o oppermagtige Goedheid, o magtige Wysheid, dat U alle dinge orden en beheer, selfs die kleinste dingetjie, selfs die verderflikste, vir u heerlikheid, en ten goede van diegene wat U liefhet. Ek glo, o Vader van die families van hemel en aarde, dat U alle dinge so hanteer dat dit u goedheid teenoor u kinders beklemtoon veral dié wat op U wag. Ek pleit nederig by U dat ek al u weë kan liefhê al verstaan ek hulle nie; leer my om bly te wees dat U koning is en om U te dank vir al die dinge wat my oorkom; dat ek besef dat U dit vir my gekies het en daardeur u seël daarop geplaas het – dit is goed. En vir dit wat nog kom, gee aan my die genade om in alles te doen dit wat U tevrede stel, en dan, in absolute onderwerping aan u wysheid, dit in u hande te laat.

 

 

Hierdie gebed is van John Wesley (1703–1791). Hy was ‘n Engelse prediker en teoloog. Saam met sy broer, Charles, het hulle die Engelse Metodiste beweging gevestig. Hy het wyd gereis, gewoonlik te perd, en het twee of drie maal per dag gepreek. Dit word beweer dat hy meer as 40 000 preke gepreek het. Hy was ook ‘n bekende skrywer van liedere.

Uit “Forms of Prayer: Thursday Morning” in The Works of the Reverend John Wesley, Volume 6 (New York: J. Emory & B. Waugh, 1831), 392.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die inhoud vertaal.

 

 




Nuwe Kategismus: Vraag 1

To expect Christian conduct from a person who is not born again is rank heresy – –D. Martin Lloyd-Jones

 

Nuwe  Kategismus: Vraag 1

Vraag:  Wat  is ons enigste hoop in lewe en dood?

 

Antwoord:  Dat ons nie op ons eie is nie, maar liggaam en siel, beide in lewe en dood aan God en aan ons Verlosser, Jesus Christus, behoort[Onderstreep is antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers: Niemand van  ons leef tog vir onsself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Romeine 14:7 – 8)

Kommentaar:

As ons dan nie ons eie nie, maar die Here s’n is, is it duidelik vir watter  mistasting ons moet vlug en op Wie ons al ons pogings moet rig. Ons is nie ons eie nie: daarom, moenie dat ons rede en wil ons planne en dade bepaal nie. Ons is nie ons eie nie: daarom moet ons doel nie wees om dit te soek wat vir ons voordelig is nie. Ons is nie ons eie nie: sover as dit moontlik is moet ons van onsself en alles wat ons s’n is vergeet. Ons is God s’n: laat ons daarom vir Hom lewe en sterwe. Ons is God s’n: laat sy wysheid en wil ons optrede bepaal en beheer. Ons is God s’n: laat ons hele lewe na Hom streef as ons enigste wettige doelwit.

 

Hoeveel het dit die man wat geleer het dat hy nie sy eie is en daarom die oorheersing en heerskappy van sy eie rede weggeneem het sodat hy dit aan God kan oorgee, nie gebaat nie. Om ons selfbelang voorop te plaas, is ‘n ramp wat tot ons vernietiging lei. Die enigste toevlug vir ons verlossing is om wys in niks te wees en om niks vir onsself te wil nie, maar om slegs die leiding van die Here te volg.

 

Hierdie kommentaar kom uit Johannes Calvyn se Institutes of the Christian Religion. Calvyn, teoloog, administrator en pastor is in Frankryk gebore. Sy familie was streng Rooms-Katolieke. Dit was egter in Genève waar hy die grootste deel van sy lewe gewerk het en van waar hy die Gereformeerde Kerk georganiseer het. Behalwe die Institutes het hy ook die Geneefse Kategismus en baie Skrifkommentare geskryf.

 

Gebed:

Here hier is ek; doen met my wat U wil, skryf op my soos U wil. Ek gee myself oor aan U om te gebruik … Die ambisieuse man gee homself oor aan sy eer, maar ek gee my aan U … mense gee hulle oor aan plesier, maar ek gee my oor aan U …mense gee hulle oor aan hulle afgode, maar ek gee my oor aan U. Here, lê watter las U ook al wil op my, maar laat net u ewigdurende hande onder my wees. Ek onderwerp my aan u wil. Ek sê amen op u amen – U belangstelling in my is meer as my eie belangstelling in myself en daarom gee ek myself aan U oor. Ek is tot U beskikking en is bereid om te ontvang wat U vir my gee. Here, het U nie weer en weer vir my gesê: “Jy is myne; Ek wil jou red; my genade is joune om jou te vergewe; my bloed is joune om jou te reinig; my gawes is joune om jou vry te koop; my geregtigheid is joune om jou te klee; my Gees is joune om jou te lei; my heerlikheid is joune om jou te beloon.”  Daarom kan ek my aan U onderwerp. Here, hier is ek, doen met my soos U goeddink . Ek weet die beste weg vir my is om my aan u wil te onderwerp en om amen op u amen te sê.

 

Hierdie gebed is deur Thomas Brooks (1608 – 1680) ‘n Engelse Puriteinse prediker geskryf. Hy het meer as ‘n dosyn boeke geskryf. The Mute Christian Under the Smarting Rod  (Waaruit hierdie aanhaling kom) was waarskynlik sy bekendste boek.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het hierdie materiaal slegs vertaal.