Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (1)

Spiritual disciplines can trim the roots of sin, but only the gospel pulls up the roots (John Owen)

Reading the Bible doesn’t create intimacy with God, but it does make room for it (Paul Miller).

 

Die Ons Vader-gebed:  En vergeef ons ons oortredings  (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

En vergeef ons ons oortredings

Net soos die mens materieel nie sonder brood kan leef nie, kan hy nie geestelik en sosiaal sonder vergifnis leef nie. Vergifnis was die hele doel van Jesus se bediening.

In Jesus se tyd was daar drie kategorieë sondaars:

  • Jode wat kon reken op God se genade en vergifnis;
  • Heidene – hulle kon wel na Israel se God kom, maar hulle hoop om gehoor en vergewe te word, was maar min; en
  • Jode wat soos heidene was – tollenaars, prostitute, ens – was verlore en kon nie op God se genade aanspraak maak nie.

Maar dit is juis diegene in die laaste twee kategorieë wat nou hierdie blye nuus van vergifnis gehoor het. Ons sien dit in Jesus se gelykenisse oor genade – die verlore seun/skaap/muntstuk, die Fariseër en die tollenaar en ander. Dit was beslis nie die norm onder die Jode destyds nie. Geen wonder Jesus word vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt nie (Matteus 11:19). Kyk net wat doen Hy:

  • Hy roep ‘n tollenaar, Matteus, om ‘n dissipel van Hom te wees (Matteus (9:9);
  • Hy belowe die koninkryk van God aan heidene (Matteus 8:11 – 12);
  • Hy genees ‘n melaatse man en maak hom weer deel van die samelewing (Matteus 8:4).

 

Jesus bring ‘n nuwe idee na vore: God is primêr die God van sondaars; die Messias bevry ons van ons skuld en die las van ons gewetes. Diegene wat die Ons Vader-gebed bid besef dat hulle nie self hulle skuld kan betaal nie – hulle draai na God en vertel Hom van hulle probleem. Wat opvallend is, is dat daar baie mense is wat nie eers besef dat hulle skuldig was nie – dink maar net aan die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle het geglo hulle is regverdig en daarom het hulle nie vergifnis nodig nie. Geen wonder dat die meerderheid van Jesus se gelykenisse  oor vergifnis en genade nie aan tollenaars en prostitute gerig is nie, maar aan diegene wat oortuig was dat hulle geestelik gesond was – diegene wat geglo het dat hulle nie ‘n dokter nodig gehad het nie (Markus 2:17).

 

Maar wat vra ons dat God moet vergewe? Die 1933 Bybel verwys na skulde;  die 1983 Bybel na oortredinge. Die oorspronklike woord beteken eintlik skuld van geld, maar dit ontwikkel mettertyd ‘n sekondêre betekenis: dit verwys na die persoon in sy totaliteit. Almal van ons skiet tekort – ons kan nie eers probeer om vir God terug te gee wat Hy vir ons gegee het nie. soos die ryk jongman glo sommige van ons dat wat God vir ons gegee het aan ons behoort. Vergeef ons ons oortredings impliseer basies dat ons verhouding met God herstel word.

 

 




Die Ons Vader-gebed: Gee ons vandag ons daaglikse brood

Religion tells you to go and change; the gospel changes you on the spot – Tim Keller

 

Die Ons Vader-gebed:  Gee ons vandag ons daaglikse brood

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

God wil hê dat ons nie net oor sy sake – sy Naam, sy koninkryk en sy wil – bekommerd moet wees nie, maar ook ons menslike behoeftes. Hoekom sou Jesus nou brood voor vergifnis plaas?

Iemand met ‘n leë maag filosofeer nie oor skuld en vergifnis nie! [Dit is interessant dat Jesus se eerste versoeking in die woestyn ook met brood te doen het.]

 

Maar waarna verwys brood in hierdie versoek? Is dit ‘n simbool van alle noodsaaklike kos? In die Bybel gaan dit gewoonlik gepaard met water, klere, olie en wyn. Luther het gesê dat brood verwys na alles wat nodig is vir die behoud van lewe – kos, ‘n gesonde liggaam, ‘n huis, vrou, kinders, ‘n goeie regering en vrede. Die Heidelbergse Kategismus (Vraag 125) antwoord soos volg: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel. Hierdie gebed vir brood mag uitdrukking gee aan ‘n groot verskeidenheid behoeftes – ‘n werk, ‘n regverdige salaris, gesondheidsorg, godsdiensvryheid, politieke regte, ens.

 

Reeds baie vroeg het die kerk hierdie versoek vergeestelik. Brood sou dan na die woord van God as die brood van die lewe of na die brood wat tydens Nagmaal gebruik word, verwys. Hierdie siening is verkeerd as ons aanvaar dat brood slegs na geestelike sake verwys. Primêr verwys dit na ons liggaamlike behoeftes. Daar mag wel ‘n sekondêre geestelike interpretasie wees. Gewone brood is die oorspronklike betekenis; geestelike brood is sekondêr. Vir Jesus staan aardse brood en die brood van die lewe nie teenoor mekaar nie.

 

Paulus berispe die ryk Christene in Korinte oor onreëlmatighede by die Nagmaal – party ly honger en ander drink te veel. Hy verwys na hierdie optrede as ‘n gebrek aan eerbied vir die gemeente van God (1 Korintiërs 11:22). Ons kan nie mense toegang tot basiese hulpbronne soos kos weier en steeds dink dat ons toegang tot die liggaam en bloed van Jesus – die Nagmaal – het nie.

 

Sterk taal. Sekerlik, maar luister na Jesaja (1:10 – 23). Jesaja sê dat die volk getrou is met die bring van hulle offers – hulle bid, vas, brand wierook en woon gereeld die seremonies by die tempel by. Terselfdertyd verwaarloos hulle hulle plig teenoor hulle medeburgers. Hieroor weier God om hulle aanbidding te aanvaar: Moenie  langer julle nuttelose offergawes bring nie … selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie. Weereens is daar ‘n verband tussen ons aanbidding van God en geregtigheid teenoor mense.

 

Ons kry hierdie verband ook in Jesus se profetiese rede (Matteus 25:31 – 46). Jesus skei die skape en die bokke. Diegene wat God se koninkryk as erfenis in besit sal neem, is diegene wat vir die geringstes van hierdie broers van My iets te ete, iets om te drink en klere gegee het; wat hulle verpleeg het en in die tronk besoek het.

 

Mense wat argumenteer dat hierdie siening van brood verkeerd is, gaan terug na Jesus se versoeking. As Jesus die eerste versoeking – verander hierdie klippe in brood – antwoord, sê Hy: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4). Beteken dit nie dat ons materiële behoeftes nie so belangrik is as wat ons dink nie? Dat God se woord ons brood is? Ja, Jesus het gesê dat die mens nie van brood alleen kan leef nie, maar Hy het dit nooit vir honger mense gesê nie. Vir hulle het Hy gevoed. Die brood waarvoor ons in hierdie gebed bid, word gekwalifiseer: dit is ons brood; ons vra dat God dit vandag vir ons gee; dit is ons daaglikse brood. Dit gaan hier oor brood wat vir oorlewing benodig word.

 

Maar wat beteken hierdie gebed vir ons. Ten minste twee dinge:

  • Ons kan nie sommer al die dinge wat ons het, aanvaar asof ons ‘n reg daarop het nie. Ons bekommernis is gewoonlik wat ons môre gaan eet en aantrek – nie of ons iets het om te eet nie.
  • Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op ons wat het om die minderbevoorregtes te help.

 

Miskien help hierdie gebed uit Latyns-Amerika ons:  “O God, to those who have hunger, give bread; and to us who have bread give the hunger for justice.

 




Die Ons Vader-gebed: Die laaste vier versoeke

In life, there are first things (God) and second things (everything else). If you put first things first, you’ll also get the second things. If you put second things first, you’ll not only lose the first things, but you’ll lose the second things too – C. S. Lewis

 

 

Die Ons Vader-gebed:  Die laaste vier versoeke

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Die gebed begin met ons. Die eerste drie versoeke gaan oor God – sy Naam, sy koninkryk, sy wil met geen vermelding van ons nie. Daarna verander die toneel. In die res van die gebed gaan dit oor ons – nie minder as agt keer lees ons ons nie.

  Ons het dus hier ‘n draaipunt in die gebed. Nou is die versoeke op die mensdom en sy behoeftes gerig. Dit verwys na kwellings wat ‘n integrale deel van die mens se lewe is. Daar is geen spanning tussen die twee dele van die gebed nie.

 

Ons word algemeen in Joodse gebede gebruik. Dan verwys dit na Israel – diegene wat die Joodse Messias verwag. Maar in die Ons Vader-gebed verwys ons na diegene wat Jesus van Nasaret volg . Hierdie gebed is nie eksklusief nie, maar verontagsaam alle onderskeidings – die ons staan bokant enige land on volk. Daar is geen grense tussen mense wat hierdie gebed bid nie.

 

Die versoeke wat nou volg, dek in beginsel ons menslike behoeftes, maar op so ‘n manier dat ons nie kan vra dat in ons behoeftes voorsien word in isolasie van ander nie. Ons kan nie bid: Gee my vandag my daaglikse brood nie … ‘n Opregte verhouding met God beteken dat ek ‘n verhouding met ander het. As ons praat van ‘n mens praat ons van verhoudings, wedersydse verantwoordelikhede. ‘n Mens is ‘n mens deur ander mense (Spreekwoord uit Afrika).




Die Ons Vader-gebed: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

The mightiest prayers are often those drenched with the Word of God. —Herbert Lockyer

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Verwysings na God se wil is algemeen in Matteus – meer so as in die ander twee sinoptiese evangelies. Lukas laat hierdie versoek uit in sy weergawe van die Ons Vader-gebed.

Hierdie versoek herinner ons aan Jesus se gebed in die tuin van Getsemane (Matteus 26:36 – 46). Hierdie versoek moet ons daaraan herinner dat ‘n integrale deel van ons Christelike lewenstyl is om God se wil en nie ons eie te soek – ons offer ons eie wil vir sy wil op. Hierdie is nie ‘n fatalistiese versoek nie: “Ag Here, ek het die handdoek ingegooi; daar is niks wat ek aan hierdie probleem kan doen nie. Daarom Here, laat u wil geskied.” Dit is nie ‘n Christelike gesindheid nie. Ons kan hierdie gebed slegs bid as ons bereid is om God se wil te aanvaar – dit ons eie te maak soos Jesus in Getsemane gedoen het.

 

 In hierdie gebed is daar ook spanning: tussen hemel en aarde en tussen die toekoms en die hede. God se wil word reeds in die hemel gedoen. God se wil sal ook volledig en universeel gedoen word as sy koninkryk finaal en volledig kom. Intussen wag ons vir daardie dag – ongeduldig maar tog ook in stille rusteloosheid.

 

Tans word God se wil deur allerhande kragte teengestaan – ons is nog in opstand teen sy wil. Dit is die harde werklikheid. Maar dit is ook ‘n uitdaging: ons as God se kinders moet God se wil doen al is daar baie ander wat dit nie doen nie. Oral in Matteus lees ons dat God se wil iets is wat nou gedoen moet word.

 

Wat is God se wil? Alles wat Jesus ons beveel het. In die Groot Opdrag (Matteus 28:20) lees ons: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. God se wil is om God en ons naaste lief te hê, om geregtigheid te beoefen en om as sy dissipels alles te onderhou wat Hy ons beveel het. God se wil word deur die woorde en dade van sy kinders uitgevoer.