Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

Adults should outgrow the need to be constantly “affirmed.” If a grown man or woman “struggles” with not having emotional pats on the head, then they have a maturity problem. Steve Hays

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed. Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Hierdie gebed het ‘n belangrike plek in die lewe van die vroeë kerk beklee.

Dit weerspieël dus die werklikhede  wat daardie Christene daagliks ondervind het. Opregte gebed is nie ‘n manier om van die werklikhede van die lewe te ontsnap nie, maar is die gevolg van daardie werklikhede. Ons moet onthou hierdie vroeë Christene was eintlik rantfigure in die destydse Romeinse en Joodse gemeenskap: Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie (1 Korintiërs 1:26). Baie was slawe of vissermanne of arbeiders. Die tweede deel van hierdie gebed is veral gerig op mense wat onder moeilike omstandighede geleef het.

 

Ons moet egter die groot geskiedkundige afstand tussen ons en die gebed in sy oorspronklike omgewing in gedagte hou. Ons kan nie daardie woorde sommer so direk op ons omstandighede vandag toepas nie – dan verwring ons die verlede en ons eie situasie. Die vroeë kerk het die boodskap van Jesus kreatief binne die omstandighede van die Christene in Jerusalem, Antiogië, Rome, ens, geïnterpreteer.

 

Ons moet probeer om die gees en etos van die vroeë kerk vas te vang en dit vir en in ons eie konteks te interpreteer. Die praktiese toepassing moet elke persoon individueel maak, maar hy moet dit doen as lid van die geloofsgemeenskap en op so ‘n manier dat dit inpas by die oorspronklike bedoeling van die gebed.

 

Die evangelie volgens Matteus bevat vyf redelike lang preke of besprekings voorafgegaan en gevolg deur ‘n verhalende gedeelte. Die eerste “preek” is die sogenaamde bergrede (Hoofstuk 5 – 7). Reg in die middel van hierdie gedeelte kry ons die Ons Vader-gebed. As ons kyk na hoe versigtig Matteus die evangelie opgebou het, sal ons onmiddellik besef dat dit nie toevallig was nie. Die gedeelte van die bergrede voor die gebed verwys na die onderwerpe van die eerste deel van die gebed: God se koninkryk, sy Naam en sy wil. Die gedeelte na die gebed hanteer aspekte uit die tweede deel van die gebed: skuld, vergifnis en versoeking.

 

In wese is die gebed ‘n opsomming van die bergrede – eintlik die hele evangelie word in hierdie gebed gekonsentreer. Dit is ‘n kaleidoskopiese siening van Jesus se hele boodskap en bediening. Van vroeg af speel dit ‘n belangrike rol in die aanbidding van die kerk – dit beklee ‘n spesiale plek in die liturgie van die kerk. Die gebed het die eenheid en identiteit van die vroeë Christene bevestig. Dit word die simbool van ‘n nuwe lewenstyl van die burgers van die koninkryk van God. Dit is dus tragies dat die gebed feitlik uit die liturgie van die moderne kerk verdwyn het.

 

Volgende keer gaan ons na die struktuur van die gebed kyk.

 




Algemene persepsies van Christene

“Live as if you were to die tomorrow. Learn as if you were to live forever.” – Gandhi

 

Algemene persepsies van Christene

Die jongmense van vandag is aanhangers van Jesus, maar hulle is glad nie opgewonde oor sy kerk en volgelinge nie. Dan Kimball noem ses persepsies van Christene daar buite. Of jy nou hiermee saamstem of nie, jy moet hierna luister. Wat baie interessant is, is dat niemand ooit sê: Die kerk is net agter ons geld aan nie; of: Die preke is irrelevant nie.

 

 

Die ses algemeenste persepsies van die kerk onder die jongmense is:

  • Die kerk is georganiseerde godsdiens met ‘n politieke agenda.
  • Die kerk veroordeel en is negatief.
  • Die kerk word deur mans oorheers en onderdruk vroue.
  • Die kerk is homofobies.
  • Die kerk is verwaand as hy sê dat alle ander godsdienste verkeerd is.
  • Die kerk is vol fundamentaliste wat die hele Bybel letterlik lees.

 

Kimball bespreek daarna drie van hierdie persepsies.

  • Persepsie #1: Die kerk is georganiseerde godsdiens met ‘n politieke agenda.

Mense sien die kerk as georganiseerde godsdiens en dat hulle dit nie nodig het nie. Mense soek na God, maar hulle sien nie die kerk as die plek om te ondersoek wie Hy is nie. Hulle glo hulle kan God verstaan en tot Hom bid sonder die georganiseerde godsdiens.

The Church is about hierarchy, power, and control with a political agenda.  Dit word van almal in die kerk verwag om op ‘n sekere manier te stem – konserwatief. Al besef ons dat meeste gemeentes nie ‘n politieke agenda het nie, is die persepsie buite die kerk anders. Hulle glo ook die kerk is vol leiers wat mag en beheer soek. Kyk maar net na die benamings van jou personeel. Dit het sy ontstaan in die 1980’s toe gemeentes besigheidsbeginsels aanvaar en geïmplementeer het. Maar in ons huidige kultuur klink dit on-Jesus.

 

Ons kan natuurlik die persepsies ignoreer, maar ons moet altyd onthou dat dit is hoe die mense van buite ons sien en daarom moet ons dit hanteer. Ons moet dus kommunikeer hoe ons gemeente georganiseer is en hoekom dit so is; ons moet bewus wees van ons vooroordele; ons moet luister na die jongmense; ons moet die titels wat ons gebruik vir ons leiers deeglik evalueer.

 

  • Persepsie #2:  Die kerk veroordeel en is negatief

Om die waarheid te praat, is belangrik, maar hoe jy dit doen is ook belangrik. Die kerk fokus te veel op die negatiewe – almal weet waarteen die kerk is, maar nie waarvoor die kerk staan nie. Die kerk moet meer klem lê op dit waarvoor hy staan. Christene moet ook uit hulle omgewing kom en in die gemeenskap kom – ons moet weet wat daar buite aangaan voordat ons sommer kritiseer.

 

  • Persepsie #3: Alle ander godsdienste is verkeerd.

Mense van ander godsdienste is bereid om na hierdie eksklusiewe gedeeltes in die Bybel te luister, maar dan moet ons eers ‘n verhouding met hulle opbou – en hulle geloof verstaan. Ons moet ‘n basiese kennis van die verskillende wêreldgelowe kry. Maar ons moet ook ons eie geloof beter ken. Kan ek vir ander verduidelik waarom alle paaie nie na God lei nie? Mense soek feite – gee dit vir hulle.

 

Die kerk moet voorbereid wees om op hierdie persepsies sinvol te reageer Om dit kan doen moet ons uit ons Christelike gemaksone kom en verhoudings met mense buite die kerk bou.

 




Die kerk in Handelinge

“If I can’t trust you, then I can’t work with you – end of story.” – Dan McCarthy

Die kerk in Handelinge

Daar is veral vier dinge oor die kerk wat die gemeenskap verbaas het – wat die evangelie ten toon gestel het. Ons kry dit in alle gemeentes waar die evangelie sentraal staan.

  • Liefde en eenheid in die kerk. Dit was ‘n tyd van dramatiese sosiale, ras en klasseverskille. Die kerk was die enigste instelling wat eenheid tussen klasse en rasse gebring het. Die gemeentes wat Paulus gevestig het was divers – Jode en heidene, jonk en oud, arm en ryk. Dit was een van die faktore wat tot die groei van die vroeë kerk bygedra het.
  • Vrygewigheid. Keiser Julianus kla in ‘n brief dat hy nie die groei van die kerk kan keer nie, want hulle versorg nie alleen hulle eie armes nie, maar ook ons armes. In die vroeë kerk het almal kos en skuiling gehad. Mense het gedeel … en die omliggende gemeenskap was verbaas.
  • Blydskap te midde van vervolging. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense (Handelinge 4:13). Om bly te wees as alles goed gaan, is maklik. In Handelinge 16:25 – 31 lees ons van Paulus en Silas in die tronk in Filippi: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.
  • Wonderlike verhoring van gebede. 39 van die 40 wondertekens in Handelinge vind buite die kerk in die gemeenskap plaas. Watter groot nasie se volk is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? (Deuteronomium 4:7).

 

As ek nou my gemeente teen hierdie vier kenmerke van die kerk in Handelinge vergelyk, hoe lyk dit?

 

 




Hoe lyk ‘n evangelie-gesentreerde gemeente?


God does not ask if we are able. God asks if we are available – Baie verskille mense het variasies op hierdie spreekwoord geskryf.

 

Hoe lyk ‘n evangelie-gesentreerde gemeente?

Hoe lyk so ‘n gemeente?

  • Prediking van die evangelie is die hoogste prioriteit. Die evangelie is nuus: dit gaan oor wat God reeds vir ons gedoen het. Die evangelie is ‘n aankondiging dat Jesus die Here is en dat Hy die stryd vir ons verlossing reeds gewen het. Die evangelie is nie goeie raad nie, maar goeie nuus. Jesus het sy dissipels beveel om sy getuies te wees. Hulle lewens sou beslis die veranderinge wat sy krag in hulle lewens teweeg gebring het, gedemonstreer het, maar hulle moes voortdurend getuig van wat hy gedoen het om hulle lewens te verander. Mense kan nie na ons lewens kyk en die verhaal van Christus ken nie – ons moet dit oral verkondig.
  • Die klem van die boodskap is op dit wat God gedoen het en nie op wat ons moet doen nie. Die enigste ding wat ware geestelike groei tot gevolg het, is om in Christus te bly. Daar is baie goeie dinge wat Christene kan doen, maar dit mag nooit die noodsaaklike ding – wat God vir my gedoen het – afwater nie.
  • Die lidmate demonstreer die evangelie in die gemeenskap. Die evangelie is primêr ‘n boodskap, maar dit gaan altyd gepaard met demonstrasies van daardie boodskap. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring (Efesiërs 3:10 – 11). In Handelinge 2 toe die vroeë kerk eenvoudig net kerk was sonder ‘n klomp programme, lees ons dat almal met diep ontsag vervul was en die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. Deur net te doen wat gesonde gemeentes doen – bid, met mekaar deel, voortdurend die woord verkondig, ens – evangeliseer hulle die hele gemeenskap. In ‘n gesonde gemeente moet die gemeenskap die heerlikheid van die evangelie kan sien.

 

Laat my dink aan die ou vraag: As my gemeente vandag sou toemaak, sal die gemeenskap dit agterkom?