Baha i Faith – Francois Malan

Peter vra:

1) graag wil ek weet of die Baha i Faith n sekte is. 2) Die 3 susters kerke se noem name soos die Doppers en ek dink daar is ook “ die stoep sitters”

Ek is n Herformer > A] gedoop, B] belydenis, C] en getrou in die Kaapse gemeente. – Ds Brandt gedoop, en Prof PS Dreyer B] en C].

Ek is n Nederlandse Afrikaner – huis taal Engels/Nederlands

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bahai-religie sien homself as ’n openbaring van ’n nuwe weg van hoop en eenheid, wat deur God tot die hele mensdom gerig is.

Dit het ontwikkel uit die leringe wat twee leiers in die 19e eeu in Persië ontwikkel het. Die eerste was Mirza Ali Muhammed (1820-1850), wat homself die Bab (‘hek’) genoem het. Hy het nie veel volgelinge gehad nie. Hy is deur die Persiese owerheid om die lewe gebring omdat hulle beweer het dat hy ’n aandeel aan ’n komplot teen die Sjah gehad het. Die tweede Mirza Hussain Ali ()1817-1892) ’n volgeling van Bab, het homself Baha’u’llah ‘die eer van God’ genoem. In 1863 het hy verklaar dat hy ’n manifestasie van God is, wat deur Bab aangekondig is en gestuur is om die aarde aan die einde van die tyd te red en God se wil vir die nuwe tydperk te vertolk.

Die volgelinge van Bahai aanvaar die goddelike gesag van Bab en Baháu’lláh en hulle opvolgers, lg. se seun Abdu’l-Bahá en kleinseun Shogi Effendi.

Baha’u’llah leer die eenheid van God en godsdiens, die eenheid van die mensdom vry van vooroordele, die inherente goedheid van mense, die progressiewe openbaring van godsdienstige waarheid, ontwikkeling van geestelike kwaliteite; gelyke waarde van mans en vroue, harmonie tussen godsdiens en wetenskap, belang van opvoeding, dinamiek van verhoudings wat indiwidue en gemeenskappe aan mekaar verbind.

Hulle leer dat die geskiedenis van die mensdom in siklusse verloop. Een siklus het 6 000 jaar gelede begin met Adam, die eerste van hulle profete. Sy opvolgers was Moses, Krisjna, Boeddha, Zarathustra, Christus en Mohammed. Die laaste en belangrikste van die groep is Baha’u’llah, terwyl daar nog ander is wat nog moet kom. Baha’u’llah het homself beskou as die vervulling van alle beloftes in alle godsdienste en as die  komende wêreldvernuwer of messias. Hy moes die ware ‘godsdiens van God’ leer, die wêreld met geregtigheid vul en dit verlos van sy verlore staat en die disintegrasie van morele waardes in die moderne beskawing. Die transendente God lewe en wil opnuut met die mensdom praat. Baha’u’llah het gekom om die foute en wanbegrippe van vorige religieë reg te stel, ’n nuwe kultuur in waarheid en eenheid in te lei en die koninkryk van God wat die ander godsdienste verwag, op te rig.  Die Bahai maak daarop aanspraak dat hulle die groot universele religie van die wêreld is, nie ’n klein sektetjie nie. Daar is tans meer as 100 000 Bahai gemeenskappe versprei oor die hele wêreld.

Huidige skrywers lê slegs die woorde van Baha’u’llah uit en maak nie nuwe openbarings nie. Eenheid moet na die mensdom gebring word deur God se universele bedeling soos wat dit aan Baha’u’llah geopenbaar is.

Die christendom getuig egter dat Jesus Christus die Woord van God is, God se openbaring aan die mensdom, dat elkeen wat in Jesus glo kind van God word, en die Vader en die Seun en die Heilige Gees by elkeen wat in Jesus glo sy woning maak (vgl. Johannes 1:1-4;12; 14:15-17;23).

2 Die naam ‘Doppers’ kom van die dopkeile wat die vroeë predikante van die Gereformeerde kerk gedra het teenoor die hoë keile van die ander kerke se predikante.  ‘Gatjieponders’ is die naam vir die vroeëre NG Kerk predikante wat ’n gat-japon gedra het met ’n gat in die middel van een stuk materiaal om jou kop in te steek. Dit was die vroeëre toga.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die PWL-Bybel – Hermie van Zyl

Jaco vra:

Ek wil graag iets weet omtrent die PWL – “Pad van die Waarheid tot die Lewe”-Bybel, geskryf deur Gerrie Coetzee. 1. Is die Bybel ’n betroubare bron om mense te leer, aangesien die vertaler reken dit is die egste vertaling ooit. 2. Word die PWL-Bybel in die teologiese wêreld (Universiteite en Bybelskole) aanvaar as betroubaar? 3. Word die Bybel in Universiteite gebruik vir naslaan of prediking? 4. Wat is die gevare of waarskuwings rondom die vertaling (indien daar is)? Sal u antwoorde opreg waardeer.

Die rede waarom ek vra is dat ek van die mense wat dit lees en leer as baie verwarrend beskou, weens die taal en beskrywing. Dit is baie Joods gebaseer en iemand het gesê dit is ’n tipe “Hebrew root Movement”-sekte of geloof.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord maak ek onder andere gebruik van die insiggewende akademiese artikel van prof Chris de Wet van Unisa se departement Bybelse en Antieke Studie, met die volgende titel: “ ’n ‘Oorspronklike’ Aramese Nuwe Testament? ’n Kritiese evaluasie van die Pesjitta-voorrangsteorie, Die Pad van Waarheid tot die Lewe-vertaling (Afrikaanse Lamsa-Bybel), en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme”, wat verskyn het in die internet-vaktydskrif, LitNet Akademies, Jaargang 13(2), 2016. Ons vraagsteller kan gerus die volledige artikel daar raadpleeg, hoewel dit nogal tegnies sal oorkom vir enigeen sonder ’n Bybelkundige agtergrond. Nietemin, die artikel bied ’n baie vollediger evaluering van die PWL-Bybel as wat ek hier kan gee. Hieronder konsentreer ek net op die kernaspekte van die PWL-Bybel.

Die PWL-Bybel (hierna PWL) is ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel deur Gerrie C Coetzee van Pretoria. Dit het oorspronklik in 2015 die lig gesien, met ’n heruitgawe in 2017. Daar is ’n webblad (www.padwlewe.ch) waar ’n mens meer oor die vertaling te wete kan kom en dit ook kan aflaai.

Dit is nie my doel om ’n volledige resensie te lewer van die PWL nie. Dan sou ’n mens opmerkings kon maak oor die volgende: Die gehalte van die vertaling; die manier waarop Bybelboeke en ander name weergegee word om die oorspronklike taal se spelling te behou; die rangskikking van veral die Ou-Testamentiese boeke om die volgorde van die Hebreeuse kanon te volg en nie soos dit in die meeste moderne Bybelvertalings voorkom nie; die verhouding tussen die PWL en die Engelse Lamsa-Bybel (kyk onder verder hieroor); ensovoorts. Ek wil slegs op een kenmerk van die PWL konsentreer, naamlik dat dit wat die Nuwe Testament (NT) betref vanuit die Aramese Nuwe Testament – die sogenaamde Peshitta – vertaal is. Volgens Coetzee is die Peshitta die oudste geskrif wat die NT bevat. Oor hierdie aanspraak kan ek onomwonde sê dat dit nie op die beste Bybelkundige navorsing berus nie, nie internasionaal nie en ook nie in Suid-Afrika nie. Laat ek verduidelik.

  • Coetzee se argument is dat die moedertaal van Jesus en sy eerste volgelinge Aramees was. Dit spreek dan vanself dat die eerste geskrifte van die NT ook in Aramees sou wees. En die bewys daarvoor, volgens Coetzee, is die bestaan van die Aramese Nuwe Testament, die Peshitta. Met ander woorde, as jy werklik die oorspronklike woorde van Jesus in die Evangelies en van die skrywers van die res van die Nuwe Testament wil hoor, dan moet jy die Peshitta lees en vertaal. Die akademiese wêreld wat die ou manuskripte oor eeue heen versamel en bestudeer het, vertel egter ’n ander, baie meer komplekse, prentjie as wat die PWL voorstel.
  • Op grond van die beskikbare manuskripte (’n manuskrip is ’n handgeskrewe dokument wat die hele NT, of ’n deel daarvan, bevat) is dit die oordeel van die akademiese gemeenskap wat hulle met die ontstaan van die NT besig hou dat die hele NT oorspronklik in Grieks geskryf is, nie in Aramees nie. Daar is byvoorbeeld nog nooit enige manuskrip (ms) ontdek van NT geskrifte in die Aramees van Jesus se tyd nie. Net Griekse manuskripte (mss) bestaan, meer as 5 500 van hulle. Die Peshitta is inderdaad ’n baie belangrike dokument as getuie vir die samestelling van die oorspronklike Griekse NT, maar nie soos die PWL dit wil hê nie. Die PWL stel dit so voor dat die Aramees wat in die Peshitta voorkom die oudste en oorspronklike taal van die NT is en dat die Griekse mss vertalings is van hierdie Aramees. Maar dis presies andersom: die Peshitta is ’n vertaling van Griekse mss. So gesien help die Peshitta ons baie om die oorspronklike Griekse teks van die NT daar te stel, want deur die Peshitta te vergelyk met die Griekse mss kan ons ’n beter oordeel vorm oor watter Griekse mss die mees oorspronklike bewoordings van die NT bevat. Maar die punt is: die NT is oorspronklik in Grieks geskryf – ál die boeke van die NT – en nie in Aramees nie. ’n Mens sou dink dat ’n afwyking van hierdie konsensus onder Bybelwetenskaplikes die PWL sou noop om ’n uitvoerige verduideliking te bied oor waarom hulle meen dat die Aramese NT die oorspronklike NT is. Maar mens soek tevergeefs daarna; daar word alleen die oortuiging gestel dat Aramees die oudste is, met die uitnodiging dat bewyse op versoek voorsien kan word. Maar dit is nie goed genoeg nie; so ’n groot afwyking van die konsensus vereis ’n uitvoerige beredenering in ’n vertaling wat ’n ander siening hierop nahou.
  • Selfs al sou ’n saak daarvoor uitgemaak kon word dat die NT oorspronklik in Aramees geskryf is, kan daar nie maar net kategories gestel word nie dat omdat Aramees Jesus se moedertaal was – wat inderdaad korrek is – die oudste geskrifte ook in Aramees moes gewees het, en dat die Peshitta die bewys daarvan is. Die situasie is veel ingewikkelder as dit. Ons moet ’n onderskeid tref tussen die Aramees in die Palestina van Jesus se tyd en die Aramees wat in die Peshitta voorkom. Eersgenoemde is deel van die Westers-Palestynse Aramees en laasgenoemde verteenwoordigend van die Oosterse Aramees wat in Sirië rondom die stad Edessa gepraat is. Hierdie Aramees word dan ook eintlik Siries genoem. En hoewel die twee dialekte van Aramees groot ooreenkomste vertoon, is hulle nie dieselfde taal nie – eerstens vanweë die dialektiese verskille en tweedens vanweë die tydsverloop tussen Jesus se tyd en die Siriese Aramees wat in die Peshitta voorkom (op sy minste ongeveer 350 jaar). Die punt is: die Aramees/Siries van die Peshitta is nie die Aramees wat Jesus en die ander Palestynse Jode gepraat het nie. Daar is geen reglynige ontwikkeling tussen die Palestynse Aramees van Jesus en die Siries wat in die Peshitta voorkom nie. Die volgende punt sal dit verder verduidelik.
  • Die Peshitta staan aan die einde van ’n lang ontwikkeling van Siriese vertalings, wat illustreer hoe daar geen kategoriese uitspraak gemaak kan word dat die Peshitta die oorspronklike NT bevat nie. Die oudste Siriese vertaling van die NT is die sogenaamde Diatessaron (beteken: “deur vier”), opgestel deur Tatianus in die tweede helfte van die 2e eeu nC. Dit staan bekend as ’n harmonie van die Evangelies. Tatianus het probeer om die vier Evangelies tot net een deurlopende Evangelie te reduseer (te “harmonieer”) sodat geen gebeure of uitspraak van Jesus herhaal word nie. Ons weet verder dat Tatianus eers ’n Diatessaron in Grieks gemaak het en dit toe in Siries vertaal het, wat weer eens wys dat die vroegste mss van die NT in Grieks was. Ná die Diatessaron is daar ’n verdere Siriese vertaling van die Griekse NT gemaak, waarskynlik in die laat 2e tot begin 3e eeu nC. Dit staan as die oud-Siriese vertaling bekend, wat in twee mss aan ons bekend is – die Curetoniaans-Siries en die Sinaïticus-Siries – en wat ook net die Evangelies bevat. Hierdie twee mss verskil in bewoording en omvang. Vanweë die “kompeterende” verhouding tussen dié twee mss het die behoefte aan slegs een standaard Siriese vertaling ontstaan. Dié het in die laat 4e, begin 5e eeu nC tot stand gekom, en is bekend as die Peshitta (letterlik: “eenvoudige weergawe”). Dit was nie ’n nuwe vertaling nie, maar ’n hersiening van die oud-Siries. Dit het net 22 van die huidige 27 NT boeke bevat (die sogenaamde betwiste boeke – 2 Petrus, 2 en 3 Johannes, Judas en Openbaring – is weggelaat). Wat ook kon bygedra het tot die ontstaan van die Peshitta was die behoefte om die Siries op een lyn te bring met latere standaard Griekse mss, laasgenoemde wat veral in Konstantinopel (later Istanbul), die sentrum van die kopiëring van Griekse mss, ontstaan het. Van die Peshitta het daar later ook hersiene uitgawes verskyn, die Filokseniese (begin 6e eeu nC) en Harklensiese (begin 7e eeu nC) edisies. Geleerdes is egter nie seker wat presies die verhouding tussen hulle is nie. Die Harklensiese Peshitta het ook die ontbrekende boeke – uit die Grieks! – vertaal, sodat vir die eerste keer hierdie boeke ook deel geword het van die Siriese kerk se kanon. Slotsom: bloot uit hierdie kort oorsig behoort dit duidelik te wees (a) dat die Peshitta ’n latere ontwikkeling in die Aramees/Siriese tradisie is, waarvan die oorsprong in die Griekse mss lê, en nie andersom nie, (b) dat die Siries vervat in die Peshitta nie direk herleibaar is na die Aramees van Jesus se tyd nie, en (c) dat vanweë die invloed van die Griekse mss die Peshitta ’n uitbreiding ondergaan het van 22 na 27 boeke.
  • Interessant is verder die inligting in die PWL dat hierdie vertaling naas die Gwilliams-Pinkerton 1920 kritiese uitgawe van die Peshitta ook gebruik gemaak het van die Khabouris-kodeks. (“Kodeks” beteken “boek”, en dit beteken maar net dat hierdie ms in boekvorm was, soos wat die meeste mss sedert die 2e eeu nC was. Voor die uitvinding van die boekdrukkuns in die 15e eeu kan “manuskrip” en “kodeks” dus as sinonieme gebruik word.) Die Khabouris is dus ’n manuskrip wat die Peshitta bevat. Hierdie kodeks het met sy ontdekking in 1966 groot aandag getrek in die VSA, omdat dit so voorgestel is dat die Khabouris-kodeks die oudste NT ms tot op datum was, ouer as enige Griekse ms. Die kodeks self dateer uit die 11e of 12e eeu nC, maar daar is glo ’n aantekening in die ms wat daarop dui dat dit van ’n tweede eeuse ms (164 nC) gekopieer is. Uiteraard versterk dit die aansprake van hulle wat meen dat die oorspronklike NT in Aramees geskryf is en nie in Grieks nie. Die probleem is egter dat hierdie inskrywing ten spyte van etlike ondersoeke nog nie deur streng akademiese ondersoeke bevestig kon word nie. Oor die egtheid van die inskrywing is daar dus geen sekerheid nie. Maar selfs al sou dit eg blyk te wees, bewys die Khabouris-kodeks nog steeds nie dat dit die Aramees bevat wat Jesus gepraat het nie. Hierbo is reeds gewys op die verskil tussen die Siries van die Peshitta en die Aramees wat Jesus gepraat het. Die Khabouris-kodeks, selfs al sou dit kom uit die 2e eeu nC, is dus hoogstens ’n voorbeeld van die Oos-Siries wat in Sirië gebesig is, min of meer in dieselfde tyd as wat die Diatessaron ontstaan het, en nie van die Palestynse Wes-Aramees wat Jesus meer as ’n eeu vroeër in Palestina gepraat het nie. Die Khabouris-kodeks, hoewel op sigself ’n interessante dokument as getuie van die Peshitta, is dus hoegenaamd geen bewys dat die NT oorspronklik in Aramees geskryf is nie. Die verdere lotgevalle van die Khabouris-kodeks is ook duister. Blykbaar is dit tans in private familiebesit. Die vraag is egter: indien hierdie ms so belangrik vir die ontstaan van die NT is, waarom het dit van die toneel van akademiese teksondersoek verdwyn? Dit bly dus ’n hoogs problematiese teks, en geen Bybelwetenskaplike van reputasie sal hierdie ms vandag gebruik as getuie in die samestelling van die oorspronklike Nuwe Testament nie.
  • Daar moet ook op die verwantskap tussen die sogenaamde Lamsa-Bybel en die PWL gewys word. In 1933 publiseer George M Lamsa sy The Holy Bible from Ancient Eastern Manuscripts. Lamsa is eweneens van mening dat die oorspronklike NT in Aramees verskyn het, nie in Grieks nie. Dit blyk egter dat ook hy die Peshitta as sy hoofbron vir die Lamsa-Bybel gebruik het, net soos die PWL. Die afkeer aan Grieks as die oerbron van die NT straal uit al Lamsa se geskrifte, net soos ons dit in die PWL aantref. ’n Mens kan dus konstateer dat die PWL uit dieselfde denkklimaat as die Lamsa-Bybel kom en waarskynlik deur laasgenoemde geïnspireer is, ’n denkklimaat wat Aramees as die moederbodem van die NT Bybelteks voorhou en bewustelik poog om Grieks as oorspronklike taal van die NT te minimaliseer en uit te rangeer. Nou, natuurlik is dit so dat die wêreld waarin Jesus, sy dissipels en die eerste kerk in Jerusalem gelewe het, ’n sterk Aramese en Hebreeus-Ou-Testamentiese onderbou gehad het. Niemand stry daaroor nie. Trouens, die afgelope 50 jaar was daar juis ’n doelbewuste poging onder Bybelkundiges om hierdie Joodse agtergrond van die Bybel te ontgin vir die verstaan en uitleg van die NT. Maar die feit van die saak is dat Grieks die kulturele taal van die destydse Mediterreense wêreld was, en dat volgens die beste getuienis tot ons beskikking die NT oorspronklik juis in Grieks geskryf is sodat dit die grootste impak op die destydse wêreld sou hê. Die meeste mense sou so direkte toegang tot die evangelieboodskap gehad het, selfs al was baie van hulle se moedertale nie Grieks nie. Dis maar baie soos Engels vandag. As jy met die “wêreld daar buite” wil kommunikeer, moet jy dit in Engels doen, of jy nou daarvan hou of nie. So was dit destyds ook met Grieks. Ja, die hartstaal van die eerste Christene in Palestina was Aramees, maar die groot kummunikasietaal was Grieks. Kyk byvoorbeeld die toneel wat deur Handelinge 21:40-22:2 geskets word. Paulus praat met sy Joodse volksgenote in Jerusalem. Hulle verwag eintlik dat hy Grieks sou praat, maar om hulle harte te probeer wen, gaan hy voort in “Hebreeus” (= Aramees). En toe kry hy hulle aandag. Daarom, die poging wat die Lamsa-Bybel en PWL aanwend om die Bybel vanuit die Aramese agtergrond te laat kommunikeer, is nie as sodanig af te wys nie. Maar dit hoef nie op ’n kwasi-wetenskaplike manier gedoen te word deur die Bybel – spesifiek die NT – vanuit ’n vermeende Aramese oermanuskrip te vertaal nie. Hulle sal beter doen deur eerder te aanvaar, soos die konsensus onder Bybelwetenskaplikes vandag is, dat die oorspronklik taal waarin die NT geskryf is, Grieks was. En dan kan jy in jou verstaan, uitleg van en kommentaar op die NT telkens op die Aramees-Joodse agtergronde wys, soos al die Bybelkommentare dit trouens vandag doen.

Ten slotte, om in die lig van bostaande uiteensetting op ons vraagsteller se spesifieke vrae te antwoord: Nee, die PWL is nie ’n betroubare manier om mense oor die oorspronklike taal van die NT in te lig nie; die PWL word nêrens in die teologiese wêreld as betroubaar aanvaar of gebruik as basis van die uitleg van die NT nie; en die gevare in die gebruik van die PWL is dat lesers mislei kan word oor hoe die NT ontstaan het. Hiermee spreek ek natuurlik geen oordeel uit oor die werk en lewe van enigeen wat by die vervaardiging van die PWL betrokke is of was nie. My oordeel is gewoon gegrond op my insigte as iemand wat ’n leeftyd van onderrig in die NT in die universiteitsomgewing agter die rug het, insigte wat ek deel met ander Bybelwetenskaplikes wat hulle op ’n streng akademiese manier met die ontstaan van die NT besig hou. Natuurlik, daar kan altyd nuwe ontdekkings gemaak word wat die hele appelkarretjie omkeer. Maar die teks- en manuskripgetuienis, versamel en bestudeer oor baie eeue, is oorweldigend ten gunste van die konsensusmening vandag dat die NT oorspronklik in Grieks geskryf is, nie in Aramees nie. En totdat die teendeel bewys word, bly ek by hierdie konsensussiening.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Besoeke aan die hemel , waar of vals – Jan van der Watt

Susan vra:

Mens hoor dikwels van mense wat sterf en dan terugkom met ‘n getuienis dat hulle in die hemel was. Is dit Bybels? Watter Skrif in die bybel verwys daarna?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag raak ’n interessante onderwerp aan wat oor die jare al baie bespreek en oor gedebateer is. Daar is basies twee groot sienings, naamlik, mense wat getuig dat hulle in die hemel was, sekere dinge gesien het (bv. helder ligte, figure wat soos engele lyk) en toe weer lewend geword het – dit word dikwels ’n naby-dood-ervaring genoem. Dan is daar die siening dat dit ’n fisiologiese reaksie is van iemand wat besig is om dood te gaan en weens ’n gebrek aan suurstof in die brein so ’n ervaring van lig wat gesien word kry. Die verskynsel is ook skynbaar ook al waargeneem by lootse wat vinninge vliegtuie vlieg en dan in suurstofnood raak. Soos hulle breine gebrek aan suurstof kry begin hulle soortgelyke dinge sien as wat die mense sien wat naby die dood is. Daar word dan gesê dat die gemeenskaplike die gebrek aan suurstof is.

Hierdie is maar net die breë buitelyne van die debat. Aan albei kante is daar mense wat met verfynde argumente kom wat nie hier verder bespreek gaan word nie.

Wat die Bybelse getuienis betref is daar nie gedeeltes wat na so naby-dood-ervaring verwys nie. Daar word wel van visioene of drome gepraat, of mense wat dood was en byvoorbeeld deur Jesus opgewek is uit die dood, maar nie een van die verhale stem ooreen met wat ons met die naby-dood-ervarings sien nie. Dit lyk dus nie of die Bybel spesifiek daaroor praat nie.

Ons kan wel noem dat die Bybel twee tipes lewe na die dood beskryf. Die een is van iemand wat dood was en deur Jesus lewend gemaak word om so Jesus se mag oor lewe en dood te illustreer. Lasarus (Joh 11) is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat al 4 dae dood was en toe weer lewend gemaak is. Daar word egter niks oor Lasarus se ervarings in die dood vertel nie. Die tweede tipe lewe is wat die Bybel die ‘ewige lewe’ noem. Jesus was die eerste een wat gesterf het aan die kruis en toe opgestaan het uit die dood – Hy het nie net na die gewone lewe teruggekeer nie, maar het die dood oorwin en het nou die ewige lewe. Die lewe word aan elkeen wat glo beloof. Wie dit kry, sal nooit weer sterf nie – veral die Johannesevangelie beskryf dit mooi – Joh 3:16, 17, 11:24-25, ens. Wat mooi is, is dat die opgestane Here, met ander woorde, Jesus wat die nuwe ewige lewe leef, tog deur sy Gees by ons is en vir ons voortdurend (bv. by die nagmaal) herinner aan die wonder van die hemel. Openbaring vertel ons hoe dit daar lyk!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die Handelinge van die Apostels: Die vraag oor die besnydenis word verwys na ’n vergadering in Jerusalem (Hand 15:1-4a) – Francois Malan

Die vraag of die besnydenis en die onderhouding van die wet van Moses noodsaaklik is vir verlossing word in Antiogië verwys na ’n vergadering in Jerusalem.

Hoofstuk 15 is die middelpunt en die keerpunt in Handelinge. Die hoofstuk begin reg in die middel van die boek Handelinge.  Maar dit is ook ’n keerpunt in die geskiedenis van die kerk: 1. Jerusalem is ná die vergadering nie meer sentraal en rigtinggewend in die lewe van die kerk nie. 2. Petrus word hier vir die laaste maal in die boek genoem. Ook Barnabas word, na sy breuk met Paulus, vir die laaste maal in hoofstuk 15 genoem. Paulus word die sentrale figuur in die res van die boek. 3. Die apostels word nog slegs in 16:4 genoem in verband met hoofstuk 15 se besluit, maar die ouderlinge word deur die Here gebruik as die leiers in die Christusgemeentes (16:4; 20:17; 21:18). 4. Die sending na die heidene word die fokus van die res van die boek. 

Die vraag waaroor die vergadering moes besluit, is van sentrale belang vir die Christus-beweging: word heidene toegelaat tot die kerk deur geloof in Christus alleen, of moet hulle besny word en die wet van Moses volg om legitieme Christene te word? Die vraag gaan om die vryheid van die evangelie en die eenheid van die kerk. Daaroor word ’n paar sentrale punte genoem: 1 God ken die mens se hart en het sy goedkeuring gegee aan gelowiges uit die heidendom deur aan hulle die Heilige Gees te gee net  soos aan die Joodse Christene. 2 God het geen onderskeid gemaak in die vergifnis van die sonde van die heidene en die Jode nie. 3 Jode en heidene word van sonde gered deur die genade van die Here Jesus. Om verdere eise aan die Christene uit die heidendom te stel, is om God te beproef. 4 God het sy goedkeuring gegee aan die ontvangs van die heidene in die Christelike gemeenskap deur wonders en tekens onder heidene soos onder Jode.

Die finale besluit van die vergadering is gebou op God se uitsprake in die Ou Testament. Die besluit word in ’n brief aan die gemeentes uitgestuur saam met Paulus en Barnabas wat die vraag na die vergadering toe gebring het. [Paulus behandel die saak breedvoerig in sy brief aan die Galasiërs waar die probleem ook in daardie gemeentes opgeduik het, en later in sy brief aan die Romeine]

15:1 Met ’n vae aanduiding verwys Lukas na  ‘sommige mense’ wat van Judea af na Antiogië gekom het, waar Paulus en Barnabas toe gewerk het, volgens 14:28. Dié Judaïste het in Antiogië se noue gemeenskap van Christusgelowiges (onder die versamelnaam ‘broers’ wat die susters en kinders insluit) die vrede in die gemeente kom versteur (15:24). Hulle het begin verkondig ‘julle kan nie gered word as julle nie besny is volgens die gebruik wat voorgeskryf is in die wet wat deur Moses gekom het nie.’ Om toegang tot die volk van God te verkry moet heidene eers besny word as teken van die verbond van God – so sê die Fariseër Judaïste-gelowiges in Jerusalem. Hulle is wel Christusgelowiges wat as Fariseërs nog toegewy is aan die studie van die Wet (15:5) en ’n lewe volgens die Wet vereis vir redding uit die oordeel van God. 

15:2 Paulus en Barnabas het ’n warm  (Lukas sê: nie klein nie) meningsverskil en woordewisseling met die Judaïste gehad teen hulle vereistes vir verlossing. Vir Paulus en Barnabas was dit duidelik dat ’n bekeerde heiden onbesnede bly en vry is van die verpligting om die wet te vervul om jou self voor God te red met goeie werke. Vir die Judaïste is die besnydenis die teken van God se verbond, en kan jy nie deel word van God se volk daarsonder nie. Volgens hulle moet die wet wat die Here deur Moses gegee het vervul word om gered te word.

Paulus en Barnabas en sommige van die Judaïste en van die lede van die gemeente is toe deur die gemeente aangewys om na die apostels en ouderlinge in Jerusalem te gaan om uitsluitsel oor hierdie dispuut/strydvraag te kry vir vrede en eenheid in die kerk. [Galasiërs 2:1-10 word ook gesien as ’n verwysing na hierdie vergadering, hoewel die besonderhede nie in alles ooreenstem nie. Die leer wat die Judaïste in die gemeentes in Galasië verkondig, het Paulus deeglik in die brief aan die gemeentes in Galasië behandel, en ook in Romeine].

15:3 ‘Daarom het hulle as die gemeente se gestuurdes deeglik deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig vertel van die bekering van die heidene. So het hulle groot vreugde aan al die broers en susters verskaf. ‘ Dit is die eerste keer dat Lukas die gemeentes in Fenisië noem, die kusstrook noord van Galilea met o.a. die stede Tirus, Sidon  en Ptolomaïs. In Hand 11:19 is egter reeds genoem dat die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het in Fenisië die evangelie aan Jode gaan vertel het. Dit is die gebied se mense vir wie Herodes Agrippa I woedend was (Hand. 12:20). Van die gemeentes in Samaria is reeds in Hand 8:1-25 vertel. Lukas gee nie ’n volledige verslag van die uitbreiding van die kerk nie, maar gee enkele steekproewe. Die woord wat Lukas gebruik om Paulus-hulle se deurreis (diérchomai) deur die twee streke op pad na Jerusalem te beskryf het die implikasie dat dit ’n uitgebreide reis met deeglike werk is, wat besoeke by die gemeentes langs die pad insluit. Daarby is dit ’n reeks besoeke wat groot vreugde gebring het in die gemeentes van die Samaritane en Fenisiërs. Die vreugde van die Joodse gemeentes is oor die bekering van die heidene in Galasië en omstreke. Aan die einde van Paulus se derde sendingreis bly hy sewe dae by die gemeente in Tirus en een dag in Ptolemaïs (Hand 21:3-7). As gevangene op pad na Rome het Paulus ook by sy vriende in Sidon oornag (Hand 27:3). Mense uit Tirus en Sidon het al na Jesus kom luister (Mark 3:8) en het Hy in die gebied van Tirus die onrein gees  uitgedryf uit die dogter van die Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms (Mark 7:24-30). Toe die gemeentes hoor hoe God die Heilige Gees ook aan die bekeerlinge uit die heidendom geskenk het, het die Heilige Gees hulle ook met ’n groot vreugde gevul (vgl. Gal 5:22 dat blydskap deel is van die vrug van die werk van die Heilige Gees). Hier gaan dit oor die uitbreiding van God se koningskap in die lewens van soveel mense wat in Jesus en sy verlossing begin glo het.  

Lukas vertel graag van vreugde (chará vreugde 8 maal in sy Evangelie teenoor Johannes se 7, Mattheus 6, Markus 1, Handelinge 4 maal; makários gelukkig wees 15 maal in Lukas, 2 in Handelinge; chairō vreugde geniet 11 in Luk, 7 in Hand; sunchaírō saam gelukkig wees 3 in Luk; asménōs vreugdevol ontvang 1 Hand; euphraínō bly maak 5 Luk, 2 Hand; agallíasis met ekstreme blydskap Luk 2, Hand 1; agalliáō om groot vreugde te beleef Luk 2; Hand 2; skirtáõ om te dans/opspring van vreugde Luk 2; totaal 67 maal in Luk-Hand).

15:4 Toe hulle in Jerusalem aankom is hulle vriendelik ontvang (paradéchomai) deur die gemeente, apostels en ouderlinge. Ná die dood van Herodes Agrippa I is die vervolging van die leiers blykbaar gestaak en kon van die apostels weer vryelik na Jerusalem toe kom, die gemeente kon openlik vergader.  Onder leiding van die ouderlinge is dit ’n gemeente-byeenkoms wat oor ’n ernstige vraag vir die hele kerk kon besluit. In die loop van die vergadering kom die apostel Petrus aan die woord, maar die besluit van die vergadering word deur die leierouderling Jakobus geformuleer.

Skrywer:  Prof Francois Malan