Psalm 119:47

Jare gelede het hulle vir John Stott gevra waarom die kerk in Afrika, Suid-Amerika en Asië ontplof, maar in Europa en Noord-Amerika agteruitgaan. Sy antwoord was kort en kragtig:

God will go where God is wanted.”

 

Psalm 119:47

In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (NAV)

En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet (OAV)

Ek is so lief vir u woord. Ek is bly daaroor (Die Boodskap)

 

 

In die vorige vers het die psalmis gesê: Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. In die oorspronklike is daar ‘n sterk verband tussen verse 46 en 47. Om jou in God se gebooie te verlustig, of vreugde daarin te vind, is ‘n belangrike tema in Psalm 119 (verse 14, 16, 24, 36, 47, 70, 77, 92, 143, 174). Wat selfs nog meer in die psalm voorkom, is liefde vir God se gebooie.

 

Hoe verlustig jy jou in God se gebooie?  As daar nou een boek is wat vir meeste van ons ‘n probleem is, is dit Numeri. Ons kan nie juis sê dat ons ons in die boek verlustig nie. Na die episode met die goue kalf (Eksodus 32), gee die Here aan Israel ‘n reeks eenvoudige opdragte in Numeri: tel die volk (Hoofstuk 1), die kamporde (Hoofstuk 2) en tel nog mense (Hoofstuk 4). Maar daar is nou ‘n groot verskil: Die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het (1:54 ook 4:49).

 

God se gebooie/opdragte is soms baie eenvoudig.

God, laat ons ons in u gebooie verlustig. Amen.

 




‘n Vriendelike gemeente vir mense met geestesongesteldhede

God’s word has sufficient power to destroy the rebellious.  – John Calvin

 

‘n Vriendelike gemeente vir mense met geestesongesteldhede

‘n Vrou met ‘n geestesongesteldheid skryf onlangs oor wat sy graag in  in ‘n gemeente wil sien – dinge om haar te help.

  • ‘n Stelling oor wat ons oor geestesongesteldhede glo. ‘n Skriftelike dokument wat beskikbaar is en wat dit duidelik stel dat geestesongesteldhede nie sonde of as gevolg van ‘n gebrek aan geloof of iets is wat sommer sal verdwyn as jy jou net regruk nie, is van groot waarde.
  • Nie net Sondae nie. Steungroepe en aktiwiteite gedurende die week is ook belangrik.
  • Aanvaarding. Miskien is my depressie so erg dat ek nie juis ‘n bydrae kan maak nie, maar as jy by my sit en my aanvaar is dit vir my van groot waarde.
  • Hulp as ek in die nood is. Daar is ‘n lys van mense na wie ek kan gaan – mense wat vir my sal bid en met wie ek oor my probleme kan praat. ‘n e-posadres waarheen ek my gebedsversoeke kan stuur help reeds.
  • Mense wat oplet. Party dae voel ek te sleg om die erediens by te woon. Is daar iemand wat sal vra waar ek is? As ek wel die Sondag kom, is daar iemand wat sal vra hoe dit gaan en my tuis sal laat voel?
  • Goeie luisteraars. Mense wat nie sommer instorm en raad gee nie. Mense met geestesongesteldhede kry baie advies. Soms is dit lekker as iemand net luister.
  • Geen kitsoplossings nie. Geestesongesteldhede word selde oornag genees – genesing kom met tyd. Sommige word nooit genees nie. Moenie gefrustreerd word as ek nie vinnig herstel of gereeld terugvalle kry nie.
  • Liefde. Om mense met geestesongesteldhede lief te hê, is nie altyd maklik nie. Onthou altyd hulle kry seer en probeer hulle beste. Daarom wees altyd vriendelik en liefdevol met hulle.

 

Hierdie is waarskynlik die mees verwaarloosde groep in ons gemeente. Is dit nie dalk waar God wil hê jy moet jou bydrae lewer nie?

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Where Christ is truly preached, there is the gospel; and where the gospel is truly believed, there is the church. —Mark E. Ross

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Die kerk: Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.

 

Ons gemeenskappe staan vol kerkgeboue. Om saam met mede-volgelinge van Jesus in ‘n spesiale plek bymekaar te kom, is belangrik vir ons geestelike groei. Dit is ‘n sigbare herinnering dat daar meer aan die lewe is as besigheid, inkopies, vermaak, ens. Ongelukkig kan die gebou ons fokus van wat die ware kerk moet wees, wegtrek. Die kerk is mense.

 

In die ware kerk staan die Heilige Gees sentraal – in ons vergaderings, missie en gebede. Jesus is aan die werk om deur die Heilige Gees sy kerk uit te bou en hiervoor gebruik Hy  mans en vrouens as boumateriaal. Petrus stel dit so: Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Petrus 2:5). In hierdie heilige priesterdom dien ons as God se verteenwoordigers op aarde. N. T . Wright stel dit so: As priests, we are bringing the presence of God into the wider world, carrying forward the mission of declaring God’s powerful and rescuing acts, and beginning the work of implementation the messianic rule of Jesus in all the world.

 

Dit skep vir ons ‘n probleem. Baie mense sien die kerk as die plek waar jy vriende ontmoet en so ‘n ietsie van God leer. Hierdie is ‘n selfsugtige motivering – ons wil ons begeertes gedryf deur ons verbruikersmentaliteit bevredig. Wat nodig is, is dat ons ons priesterlike identiteit aanvaar en God deur die plaaslike gemeenskap dien.

 

In die afwesigheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid in die kerk, is die kerk stil en sonder lewe. Plaaslike gemeentes moet aanpas soos die kultuur om ons verander. Kerke moet verander om getrou aan Jesus, sy boodskap en sy verhaal te bly. Hierdie kerk wat voortdurend verander, is, volgens die belydenis, ‘n heilige kerk. Heiligheid beteken nie ons kom al die reëls na nie; heiligheid beteken ons word meer soos God: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:48). Dit maak die kerk anders as die kultuur waarin ons leef. Daarom moet die kerk anders as die wêreld lyk – die kerk leef volgens ander waardes.

 

God het die kerk tot stand gebring om vir die wêreld te wys hoe ons moet leef – verhoudings, die huwelik, die gesin, geregtigheid ens. Ongelukkig word die kerk so dikwels deur interne struwelinge gekenmerk. Dit vereis nederigheid en selfopoffering. Sien die samelewing reg en geregtigheid in die kerk?

 

Die kerk is ook ‘n algemene kerk. Dit beteken ons glo aan ‘n groter kerk as net ons eie plaaslike gemeente. Dit bestaan uit mense dwarsoor die wêreld wat in Jesus glo, die Skrif liefhet en die belydenis aanvaar. Maar wat van al die verskillende denominasies? Die belydenisse is die basis waarop ons die eenheid in die kerk behou. Ons kan verskil oor kerkleierskap of die vorm van openbare aanbidding, ens. Ons mag egter nooit toelaat dat hierdie nie-noodsaaklike elemente die belangrikste elemente in die lewe van die kerk word nie.

 




My Roeping: Hoe stel ek dit vas?

Community thus is obedience practiced together (Henri Nouwen)

 

My Roeping

Die kerk sit vol mense wat angstig is om van God te hoor. Om God te hoor en te doen wat Hy sê, is twee verskillende dinge. Baie van ons glo dat God ‘n plan en doel vir ons lewens het, maar hoe stel ons dit vas? Die grootste rede waarom mense nie kan vasstel wie hulle is, is omdat hulle nog nie vir God ontdek het nie, want as jy Hom ken, verander jy.

 

 

Hoe stel ek my roeping vas?

  • Ontdek God

Voor jy jouself kan verstaan, moet jy eers vir God ontdek. Ons fokus op onsself. Of ons nou ‘n goeie of slegte selfbeeld het, ons het probleme. Dit verhoed dat ons ander werklik kan liefhê. Dit verhoed ook dat ons in eerbied voor God staan en Hom aanbid. God het ons gemaak. Ons kan nie veel oor onsself ontdek voordat ons eers ons Skepper ken nie. Om God te ontdek, beteken eenvoudig om tyd saam met Hom te spandeer – tyd in sy woord en tyd in gebed; dit beteken ek laat die Heilige Gee my vervul en die waarheid aan my openbaar.

 

  • Ontdek wie jy in Christus is

As ek God ken, verander Hy my. As die Heilige Gees in ons woon, word ons verander en herstel. Ons word meer die weerkaatsing van Christus – iets wat ons veronderstel is om te wees. Jy is die enigste persoon wat gekwalifiseer is om dit te doen waarvoor God jou geskep het. Sonder Christus verloor ons ons kwalifikasies. As gelowige is jou doel om die koninkryk van God uit te bou, maar in hierdie projek het elke gelowige ‘n spesifieke rol wat hy moet vervul. Dit is hierdie spesifieke rol wat God aan ons moet openbaar. Hiervoor het ons ons geestelike gawes nodig, maar sy Gees moet jou daartoe bemagtig. As jy onseker is of God jou spesifiek lei, gaan jy aan en doen die dinge waarmee jy besig is. Intussen verdiep jy jou verhouding met God. Moet net nie op een plek vashaak nie. Miskien is jy alreeds op jou regte plek.

 

  • Begin

As jy jou roeping begin uitleef, kan jy teenstand verwag. As jy ‘n gemaklike lewe verwag het, sal jy teleurgestel wees. Jy sal swaarkry, maar jy sal leer hoe om dit te hanteer.  Daar sal moeilike tye wees, maar ook ‘n gevoel van tevredenheid en vervulling en ‘n begeerte om vorentoe te beweeg en meer van God en sy plan te wete te kom. Langs die pad sal jy ‘n paar dinge nodig hê:

  1. Mentors om jou raad te gee en te verseker dat jy op die regte pad is.
  2. Mense saam met jou om jou daaraan te herinner dat jy nie alleen is nie.
  3. Mense wat nog nie so ver as jy op die pad gevorder het nie. Dit is belangrik om die volgende geslag te bou.

 

  • Druk deur na jou doel

Soms mag jy verveeld raak; soms voel jy dat jy op een plek stilstaan; soms voel jy dat jou entoesiasme besig is om af te neem. Belangrik om die fokus te hou op die pad waarop God jou lei. Lees gereeld jou Bybel en bid gereeld. Dit hou jou op die regte pad. Onthou altyd wat God reeds vir jou gedoen het. Hy het jou gekoop. Genoeg om oor opgewonde te raak.

 

God roep elkeen van ons. Vind uit wat jou roeping is en leef dit uit.