Reëls vir Gebed

To call a Christian a “theist” is roughly equivalent to calling the space shuttle Atlantis a “glider.” —R.C. Sproul

 

Reëls vir Gebed

Calvyn het geglo dat gebed dissipline vereis. As ons nie ‘n sekere tyd van die dag vir gebed opsy sit nie, vergeet ons om te bid. Hy gee dan sekere reëls vir gebed.

 

1.‘n Opregte gevoel van eerbied

Ons moet onthou dat ons in gesprek met God is. Ons gesindheid moet dit bewys. Calvyn sê ons hart en denke moet gedissiplineerd wees. Ons mag nooit God se majesteit vergeet nie.

2.‘n Opregte gevoel van behoefte en belydenis

Ons moet soos bedelaars wees. Dit beteken nie dat ons vir alles wat in ons gedagtes opkom, moet bid nie. Ons moet volgens God se wil bid; ons moet altyd sy heerlikheid in gedagte hou.

3.‘n Opregte gevoel van nederigheid en vertroue in God.

Ons moet afstand doen van alle vertroue in onsself en nederig pleit dat Hy ons sal verskoon. Ons moet in sy genade alleen vertrou vir seën – geestelike en tydelik. Trots is fataal.

4.‘n Opregte gevoel van hoop

Ons vertrou dat ons gebede verhoor sal word. Hoekom? Deur die werking van die Heilige Gees in ons. Geloof en hoop oorwin vrees. Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie (Jakobus 1:6).

 

Hierdie reëls klink vir ons oorweldigend – selfs onbereikbaar. Calvyn erken dat ons gebede vol swakhede is, maar God aanvaar ons gebrek aan woorde en onkunde. Ons gebedslewe gaan dikwels met twyfel gepaard. Dit is ‘n bewys dat ons moet aanhou bid.

 

 




Onderdanig

I have learned that people will forgete what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel – Mary Angelou

 

Onderdanig

Onderdanig is ‘n slegte woord in ons kultuur – ons moet alles en almal uitdaag en bevraagteken. Ons weet immers beter as hulle. Eintlik moet ons in beheer wees.

 

 

Ons sien dit veral duidelik uit die twisgeskryf oor Efesiërs 5:22:Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos julle aan die Here onderdanig is. Christene word gou beskryf as anti-vrou en patriargaal. Christene self voel verleë oor verse soos hierdie.

 

Die probleem is dat ons nie die groter konteks in gedagte hou nie. Onderdanigheid in die Bybel word nie tot vroue beperk nie:

  • Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is (Romeine 13:1).
  • Kinders moet aan hulle ouers gehoorsaam wees (Efesiërs 6:1).
  • Gelowiges moet gehoorsaam en onderdanig wees aan hulle voorgangers (Hebreërs 13:17).

Hierdie is enkele voorbeelde. Ons kan hierdie lys aansienlik aanvul.

 

Natuurlik as ons van onderwerping praat, is daar sekere voorbehoude. Dit vereis nie dat ons saamstem nie – dan was dit nie onderwerping nie. Dit vereis ook nie dat ons iemand moet gehoorsaam as hy ons vra om te sondig nie – dan moet jy jou juis nie onderwerp nie. Onderwerping beteken ook nie dat ons nie daaraan kan werk om die situasie te probeer verander nie.

 

Hierdie opdrag geld vir mans sowel as vrouens. Mans behoort as modelle vir onderwerping te dien. Die beste model is egter Jesus self. My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi (Johannes 4:34). Uit my eie kan Ek niks doen nie. Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het (Johannes 5:30). Hierdie onderwerping van Jesus aan sy Vader was volledig: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:8).

 

Watter gevolgtrekking kan ons maak? Almal is aan almal onderdanig.

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

Kindness makes a person attractive. If you would win the world, melt it, do not hammer it. —Alexander MacLaren

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Geboorte: En in Jesus Christus … wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria

 

Jesus se geboorteverhaal in Betlehem gryp steeds die verbeelding van mense aan, want dit was ‘n ongewone verhaal. Hy is ontvang van die Heilige Gees. In Matteus 1 lees ons dat ’n engel van die Here vir Josef sê: Moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Josef is nie Jesus se biologiese vader nie. God is die Vader van die Seun deur die Heilige Gees. Hierdie drie vorm ‘n eenheid al is hulle drie persone.

 

Die belydenis verwys na die maagd Maria. Maria verdien die eer dat sy die persoon is wat deur God die Vader gekies het om deur die krag van die Heilige Gees aan Jesus geboorte te gee. Deur haar gehoorsaamheid het die Seun hierdie gebroke wêreld betree. Luister net na Maria se woorde toe die engel vir haar vertel het dat sy swanger sal word en die seun Jesus in die wêreld sal bring: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het (Lukas 1:38).

 

Die maagdelike bevrugting van Maria bly een van die groot geheimenisse van die verhaal van Jesus Christus. Luister na Augustinus se preek tydens Kersfees:

Hy lê in ‘n krip en tog rus die wêreld in sy hande. As baba was Hy sprakeloos, en tog was Hy die Woord self. Hom wat die hemele nie kon vashou nie, lê rustig in die skoot van ‘n enkele vrou. Sy dra Hom wat haar oor die heelal dra, op haar heup.

 

Hoe kan die almagtige God ‘n klein babatjie wees? Maria, ‘n mens van vlees en bloed, gee geboorte aan Jesus, ‘n ware menslike wese. Hy het nie ‘n bonatuurlike, geestelike liggaam gehad nie; Hy lyk soos enige ander baba. Wat dit wonderlik maak, is dat Hy ‘n mens geword het terwyl Hy God gebly het. Hy is nie ‘n halwe mens en ‘n halwe God nie – Hy is volledig mens en volledig God.

 

As dit so is, moet ons nie dit wat Hy sê ernstig opneem nie? As dit so is, is Hy is tog die middelpunt van ons geloof – die middelpunt van ons hele bestaan. Jesus lyk soos ons – Hy het ‘n menslike gesig, hande en voete; Hy het menslike emosies. Al verskil is dat Hy nooit gesondig het nie. Hy is, soos ons versoek, maar anders as ons het Hy nooit aan versoeking toegegee nie. Jesus se menslike geboorte bring God naby aan ons – Hy kan die mensdom red.

 

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 




Luister en geloof

Whenever I see myself before God and realize something of what my blessed Lord has done for me at Calvary, I am ready to forgive anybody anything. I cannot withhold it. I do not even want to withhold it. –Martyn Lloyd-Jones

 

Luister en geloof

Die verhouding van kalium en natrium is jou daaglikse dieet is belangrik. ‘n Onlangse studie het bevind dat as jy twee maal meer kalium as sout inneem, verminder jy die risiko van fatale hartsiektes. Meeste van ons neem te veel natrium (sout) in.

 

 

Die luister-doen verhouding is ‘n aanduiding van jou geestelike gesondheid. Woorde en optrede kan nie geskei word nie. Daar is ‘n tyd om aan Jesus se voete te sit en te luister, maar daar is ook ‘n tyd om sy woorde in die praktyk toe te pas. Jakobus stel dit so: Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (1:19).

 

Ons moet oppas om onsself nie te mislei nie: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders  bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk. Om reg te luister is nie genoeg nie – dan is ons soos mense wat in ‘n spieël kyk en onmiddellik vergeet wat hulle gesien het. In hierdie geval is die inligting verskaf deur die spieël nutteloos. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in al wat hy doen.  Ons moet onthou dat die woord ‘n spieël is –  dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Hebreërs 4:12). Ons moet mooi luister en bepaal waar ons tekortskiet.

 

Die Brief van Jakobus is bekend vir sy geloof in aksie. Maar Johannes het ook geen kompromieë aangegaan nie. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie (1 Johannes 2:4 – 5). Optrede/dade is konkrete bewyse van gehoorsaamheid en berus op God se liefde en waarheid.