Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

We are more concerned about looking stupid (a fear of people) than we are about acting sinfully (fear of the Lord). —Ed Welch

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Vader: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

 

Die belydenis begin met vier lewensveranderende woorde: Ek glo in God … Die res van die belydenis vloei uit hierdie stelling voort. Om te glo dat God bestaan, beïnvloed ons elke gedagte, ons optrede en ons verhoudings. Hy is almagtig en staan oor en bokant die aktiwiteite van die mense op aarde. Geen verhouding met Hom is moontlik voordat ons eers glo dat Hy bestaan nie. Maar om te sê ons glo in God en om Hom toe te laat om ons lewens te vorm, is twee verskillende dinge. Die belydenis lei ons om meer van hierdie God in wie ons glo, te ontdek.

 

In hierdie openingsreël is daar twee basiese beskrywings van God: Hy is Vader en Skepper. Dit wys vir ons dat die God in wie ons glo, leef in verhoudings – Hy is Vader. Hy is nie ‘n beweginglose God nie. God die Vader wys vir ons Hy is ‘n persoonlike God – nie ‘n abstrakte geestelike energie nie; nie ‘n stel idees of beginsels nie. Ons kan Hom ken. God as Skepper wys vir ons Hy is magtig en aktief – Hy skep.

 

Ons leer baie van God as ons sy handewerk in die skepping bestudeer. Dit het egter ‘n Persoon vereis om vir ons te wys dat God ook ‘n Vader is. As Jesus mense geleer het oor God se koninkryk of oor hoe om te bid, verwys Hy na God as Vader: Ons Vader in die hemel … Ander godsdienste beskryf hulle god as magtig en verhewe, maar nie as ‘n vader nie.

 

Om te verhoed dat ons nou nie te familiêr word met God nie, herinner die belydenis ons daaraan dat Hy die Almagtige is. God se krag kan nie deur mensgemaakte grense aan bande gelê word nie. Ons kan Hom nie manipuleer nie; ons kan Hom nie dwing om te doen wat ons verlang nie. Dit beteken nie dat ons in vrees moet wegkruip nie – Hy is mos ons Vader.

 

God is die magtige Here van hemel en aarde, maar dit beteken nie dat ons Hom nie kan nader nie. Ons kan Hom nader, met Hom praat, na Hom luister en Hom ken. Jesus het God aan ons geopenbaar, nie as ‘n rots soos ons in die psalms lees nie, maar as ‘n Persoon. Daarom kan ons ‘n persoonlike verhouding met God hê, maar dan moet ons verstaan dat Hy die Vader en die Almagtige is. Ons verhouding met Hom is op sy voorwaardes en volgens sy waardes.

 

Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik (Jesaja 40:28) As ons glo dat God die Skepper van hemel en aarde is, ontdek ons betekenis in die lewe.

 




Verhoudings: Gesonde Bondgenootskappe

Stoning prophets and erecting churches to their memory afterwards has been the way of the world through the ages. Today we worship Christ, but the Christ in the flesh we crucified.”    Mahatma Gandhi

 

Verhoudings: Gesonde Bondgenootskappe

‘n Seuntjie probeer ‘n swaar stomp uit die paadjie na sy den wegsleep – sonder sukses. Sy pa staan sy pogings so en kyk. “Seun, hoekom gebruik jy nie al jou krag nie,” vra die pa. 

Ontsteld antwoord die seun: “Maar ek gebruik al my krag – alles wat ek het.”

 

Pa: “Nee, seun jy gebruik nie al jou krag nie. Jy het my nog nie gevra om te help nie.”

Doeltreffende leiers gebruik al hulle kragte deur die mense om hulle te erken, te ontwikkel en te gebruik. Hulle smee gesonde bondgenootskappe. 

 

In 1 Samuel 22:1 – 5 vlug Dawid vir Saul. Vier kilometer van die stad Gat is ‘n reeks heuwels en valleie. Oral waar jy kyk is grotte. Een grot is naby die antieke stad  Adullam en in daardie grot skuil Dawid. Terwyl hy daar is, het elkeen wat in die moeilikheid was … by hom aangesluit. Uiteindelik is daar 400 man by Dawid. Maar hy was ook bevriend met die koning van Moab wat verblyf vir Dawid se ouers gegee het. Dawid het besef dat hy nooit alleen sou oorleef nie. Hy bou ander se vertroue in sy leierskap. Sy manskappe was getrou aan hom en hulle verslaan die Filistyne, Israel se groot vyand, en bevry Keila (23:1 – 5).

 

Doeltreffende leiers besit die vermoë om bondgenootskappe aan te gaan met mense wat hulle sal help om hulle saak te bevorder. Het jy bondgenootskappe wat wedersyds voordelig is? Wat doen jy om hierdie bondgenootskappe te bevorder? Dink aan die storietjie aan die begin.  Is daar nie mense wat staan en kyk hoe jy swoeg nie? As leier moet jy hulle aanmoedig om jou te help. Hierdie benadering het twee voordele: dit verlig jou las en ontwikkel ander leiers.

 

Wie met wyse manne omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg (Spreuke 13:20).

Sonder oorwoë leiding val ‘n volk; die redding lê in baie raadgewers (Spreuke 11:14).

 

 

 




Psalm 119:45

Frugality is good, if Liberality be join’d with it. The first is leaving off superfluous expenses; the last bestowing them to the Benefit of others that need. William Penn, Some Fruits of Solitude

 

Psalm 119:45

My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is (NAV)

En in die ruimte wandel, want ek soek u bevele (OAV)

Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap (Die Boodskap)

 

 

Wat beteken dit om in die ruimte te wandel of te stap? Hoekom is dit nou juis ‘n goeie ding? Om in die ruimte te wandel, sal die Israeliete herinner aan God se belofte aan Moses in Eksodus 3:8: Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.  Om die beloofde land te beskryf gebruik God dieselfde woord as wat die psalmis hier gebruik. Daar word dit met uitgestrek en hier met oop ruimte vertaal. Oop ruimtes herinner dus aan ‘n land van melk en heuning.

 

Die psalmis sien hier ‘n sterk verband tussen vra na God se bevele en die beloftes wat God aan sy mense maak as hulle Hom gehoorsaam.

God, laat ons in oop ruimtes lewe  as ons u bevele gehoorsaam. Amen.

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (2)

We must wrestle earnestly in prayer, like men contending with a deadly enemy for life. —J.C. Ryle

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (2)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Geloofsbelydenis … Ek glo

 

Glo maak van ons mense. Almal glo aan sekere dinge; daar is nie so iets soos mense wat nie glo nie. Hierdie geloofsisteem mag godsdienstig of nie-godsdienstig wees. Ons glo nie almal dieselfde dinge nie. Een van die probleme in ons samelewing is dat sulke geloofsisteme soms met mekaar bots. Dit kan wees oor politieke, sosiale, opvoedkundige of godsdienstige sake. Dit wat ons glo, kry sy tuiste in ons harte. Dit wat ons glo definieer wie ons is – ons identiteit. Wat ons glo, bepaal ons waardes, skep ons wêreldsiening, ons verhoudings en die werklikheid. Wat ons glo bepaal hoe ons dink, besluit en hoe ons ander mense hanteer.

 

Dit wat ons glo vorm ons. Ons kan nie enigiets word deur in onsself te glo nie. Wat ons glo, is ‘n diep gesetelde oortuiging. Maar as ons dit nie in die werklikheid fundeer nie, word ons verwronge mense. In hierdie wêreld waar wat ons glo konflik veroorsaak, kom Jesus Christus. Hy wys vir mense ‘n nuwe lewenswyse – ‘n lewenswyse in die regte verhouding met God. Hy sterf. Hy word begrawe. Hy staan op uit die dood. Hy vaar op na die hemel. Dan word die Heilige Gees uitgestort. Gou kom skrywers wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en skryf wat ons vandag as die Nuwe Testament ken. Dit is die onderrig van die oorspronklike volgelinge van Jesus. Die vroeë kerk som hierdie onderrig van die apostels op in ‘n aantal stellings – onder andere die Apostoliese geloofsbelydenis.

 

Die Latynse woord credo, waarmee die Latynse Apostoliese Geloofsbelydenis begin, beteken “ek glo.” Aanvanklik het dit ook as “die simbool van geloof” of “die reël van geloof” bekend gestaan. Volgelinge van Jesus is uitgeken omdat hulle dit wat in hierdie belydenis staan, geglo het.

 

Die oorsprong van die belydenis is nie so duidelik nie. Dit het gedurende die eerste eeue na Christus ontstaan. Reeds vroeg is dit gebruik om te bepaal of iemand ‘n Christen was of nie – hy moes die belydenis kon opsê voor hy gedoop kon word. Die belydenis groei uit die dooppraktyk in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Gelowiges ontdek hulle uniekheid in die woorde van die belydenis. Maar dit bind ons ook onlosmaaklik aan die geloofsgemeenskap.

 

Die belydenis begin met Ek. Dit word ‘n manier vir mense om hulle geloof in die openbaar te verbaliseer voor hulle gedoop word. Die belydenis is dus persoonlik en intiem, maar nie privaat nie. Ons het die belydenis ontvang om in ‘n gemeenskap met ander gelowiges te lewe. Hierdie is die minimum, basiese vereistes vir diegene wat hulle volgelinge van Jesus noem.