Die sonde wat nie vergewe kan word nie

“I have a friend who regularly reminds me that if you jump off the top of an 80-story building, for 79 stories you can actually think you’re flying. It’s the sudden stop at the end that always gets you.
 — Tom Friedman, New York Times, 15 Oktober , 2008

Die sonde wat nie vergewe kan word nie

Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie, maar bly ewig skuldig aan die sonde (Markus 3:28 – 29).

 Hierdie is ‘n stelling van Jesus wat baie Christene pla. Staan hierdie stelling nie in teenstelling met 1 Johannes 1:9 nie? Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Wat is dan hierdie sonde wat nie vergewe kan word nie?

 

Lee Strobel (in sy Investigating Faith nuusbrief) het na hierdie vraag gekyk. Hy sê dat as jy bekommerd is dat jy dalk skuldig is aan hierdie sonde, is jy feitlik sekerlik onskuldig. Diegene wat skuldig is, sou nie omgee nie, want dit pla hulle nie – geen berou of jammerte nie.

 

Jesus praat ook in Matteus 12:31 – 32 oor hierdie sonde. Jesus praat hier nie met sy dissipels of die skare nie. Hy praat hier met die Fariseërs. Hulle het persoonlik gesien hoe Hy kort vantevore ‘n man wat blind en stom was – ‘n man in die mag van ‘n bose gees – volledig en onmiddellik genees het (12:22). In plaas daarvan dat hulle sy goddelike mag erken, beskuldig hulle Hom daarvan dat Hy met die aanvoerder van die bose magte – Beëlsebul – saamwerk.

 

Hierdie is nie blinde onkunde nie, maar doelbewuste verwerping. Hulle weier om te glo, al weet hulle wat die waarheid is. Is dit nie wat Jesus sê as Hy van die sonde wat nie vergewe kan word, praat nie? Jesus praat hier met mense wat op die rant van ‘n ramp staan, want hulle wou nie hulle harte versag nie.  Laster teen die Heilige Gees is dus nie ‘n eenmalige oortreding nie – dit is ‘n voortdurende gesindheid van opstand. Dit kan nie vergewe word nie, want dit is iets wat doelbewus en onversetlik gedoen word.

 

As jy ‘n Christen is, moet jy jou nie bekommer of jy dalk onwetend hierdie onvergeeflike sonde gedoen het nie. As jy hierdie sonde gedoen het, sou jou gewete jou nie gepla het nie – jy sou jou geensins bekommer het nie.

 




Mans gaan nie graag kerk toe nie

What we are doing to the forests of the world is but a mirror reflection of what we are doing to ourselves and to one another. –Mohandas Karamchand Gandhi (1869-1948)

 

Mans gaan nie graag kerk toe nie

David Murrow het ‘n baie interessante boek geskryf: Why Men Hate Going to Church (2005). Sewe jaar later het nog niks verander nie. Hy het weer oplossings gaan soek en wat hy bevind het, gebruik hy om die boek volledig te hersien: Why Men Hate Going to Church: Completely Revised and Updated. Hier is ‘n paar uittreksels uit ‘n onderhoud wat hy met Drew Dyck gehad het.

 

 Hoe kan kerke mans trek?

‘n Paar eenvoudige veranderinge veral ten opsigte van dekor, taal en kultuur. Voorbeeld: Bring elke week ‘n voorwerp na die preekstoel/verhoog en bou jou preek om die voorwerp. Dit is niks nuut nie. Jesus se onderrig was baie konkreet. So vra hy as voorbeeld ‘n geldstuk en vra: Wie se gesig sien julle op hierdie geldstuk? Hy loop deur die koringland en sê die koring is wit vir die oes. Hy sê vir Petrus om uit die skuit te klim en die wind in sy gesig te voel. Jesus het konkrete beelde gebruik. Leer van Hom – Hy sal nie omgee nie.

 

Megakerke is veral suksesvol om mans te trek. Wat kan kleiner kerke doen?

Die oorgrootte meerderheid van kerke is klein – 90% van kerke se erediensbywoning Sondagoggende is minder as 150. Baie van hulle sit vol senior lidmate; hulle sukkel om jongmense aan te trek. Hulle probeer jongmense trek deur na jong vroue uit te reik – beter fasiliteite vir kinders, Bybelstudie vir vroue, ens. Natuurlik is daar niks hiermee verkeerd nie, maar jy gaan nie mans so trek nie.

 

Het jy ‘n macho-tipe leraar nodig om mans te trek?

Nee. Rick Warren huil dikwels op die verhoog. Hoekom is hy dan gewild by mans? Hy is iemand met ‘n groot visie. Dit maak hom geloofwaardig by mans. Jy moet mans kan inspireer of deur visie of deur moed.

 Tim Keller is nie ‘n macho-man nie – hy is ‘n man vir groot idees wat in die hoofstad van idees – New York – werk. Mans in Manhattan is denkers. Hulle verdien nie geld deur handearbeid te doen nie – hulle verdien hulle geld met hulle verstand. Hulle soek ‘n leraar wat soos hulle dink. Dit doen Keller. Hy beklemtoon uitreike en om dinge gedoen te kry – dinge waarvan mans hou. Mans wil nie 30 jaar in die kerk sit en na preke luister en liedere sing nie. Hulle bereik ‘n stadium waar hulle sê: “Ek het gehoor. Wat is daar om te doen?”

 

Hoe reageer vroue op wat hy sê?

Vroue besef die behoefte aan meer mans in die kerk. Hulle sien hulle mans verveeld daar sit. Hulle sien hulle seuns wat net ophou kerk toe gaan. Hulle sit in die bank met nege ander vroue. Hulle besef die situasie. Die probleem is die mans wat reeds in die kerk is en gelukkig is daar. Hulle is die mense wat sê: “Wel mans moet die liedere leer sing.” “Mans moet gemaklik wees om hande vas te hou en mekaar te druk.”  Hierdie mans is gemaklik en hulle groot bekommernis is om hulle mag in die huidige struktuur te beskerm.

 

Is dit nie tyd dat ons gaan sit en spesifiek beplan om meer mans Sondagoggende in die kerk te kry nie? Ons moet iets doen.

 




Voorspoedsteologie

“The temptation to be relevant is difficult to shake since it is usually not considered a temptation, but a call. We make ourselves believe that we are called to be productive, successful, and efficient people whose words and actions show that working for God’s Reign is at least as dignified an occupation as working for General Electric, Mobil Oil, or the government.” – Henri Nouwen

 

Voorspoedsteologie

Voorspoedsteologie verdraai die evangelie van Jesus Christus. Hier is drie dinge wat die voorspoedsteologie doen.

  

  • Dit maak genade goedkoop

Die evangelie van Jesus Christus berus op die feit dat sonde gestraf moet word. Dit is hoekom Jesus aan die kruis gesterf het. Hy het nie ons materiële welsyn in gedagte gehad toe Hy gely en gesterf het nie. Jesus het ons ewige toekoms in gedagte gehad. Ons materiële status word deur ander mense beoordeel; die welstand van ons siel word deur God beoordeel. Genade word uitgestort, want ons word in geestelike armoede gebore – sonder hoop. Maar Paulus sê ons is meer as oorwinnaars in Jesus Christus.

 

  • Dit verheerlik materialisme

Ons is behep met geld en status. In die Bybel lees ons dat gelowiges dikwels materieel swaar gekry het. Hoekom?  God wil hulle leer om hulle standaarde volgens sy standaarde te herfokus. Rykdom is nie ‘n sonde nie. Ons moet dit net nie najaag asof ons daarop geregtig is nie.

 

  • Dit maak moralisme belangrik

Die voorspoedsteologie leer dat jy geseënd is as jy ryk is. Luister hierna: “Is jy bankrot? Het jou kar nuwe bande nodig? Dit is omdat jy nog nie God se plan vir jou ontsluit het nie.” So ‘n prediker gaan selfs verder en sê dat as jy dit of dat doen, sal God jou seën. Hoe gaan Hy jou seën? Met geld! Jy het tog niks meer nodig om gelukkig te wees nie. Maar wat is God se seën? Hyself. Jy kry vir Hom sonder enige bepalings.

 

Oppas vir voorspoedsteologie. Dit klink so aantreklik, maar dit verdraai die evangelie van Jesus Christus.

 

 




Die toring van Babel

Forgiveness is God’s command. –Martin Luther

 

Die toring van Babel

In Genesis 11 lees ons die verhaal van die toring van Babel. Die hoogste gebou in die wêreld vandag is die Burj Khalifa in Dubai. Dit het meer as 160 verdiepings, dit het vyf jaar geneem om te bou en het $1,5 biljoen gekos om te bou.

  

Die toring van Babel was ook ‘n indrukwekkende konstruksieprojek. Die motivering vir die bou van die toring was menslike trots en afgodery. In plaas daarvan dat hulle die taal, wat op daardie stadium deur alle mense gebruik is, gebruik het om God te aanbid en te gehoorsaam, gebruik hulle taal  om Hom nie te gehoorsaam nie en hulleself te verheerlik. Hulle bou die toring om vir hulle ‘n naam te maak (vers 4).

 

God sorg dat hierdie projek gestaak word – Hy bring verwarring in hulle taal sodat die een nie die ander verstaan nie. Toe dit gebeur kan hulle nie die projek voltooi nie. Soos in die tuin van Eden moet God die mens van homself red – Hy moet die mens se sondes en die gevolge daarvan beperk. Die bouprojek word gestaak en God verstrooi die mense oor die hele aarde. Die naam Babel beteken verwarring. Babilon is steeds ‘n Bybelse en historiese simbool van trots.

 

Die bouers van Babel gebruik die gawe van taal om ongehoorsaam aan God te wees en om hulleself te verheerlik. Gebruik ons ons taal om God te eer en te verheerlik? Ons moet oppas wat ons sê – ook op dinge soos Facebook. Ons begeerte:  My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof (Psalm 35:28).