Die gemeente gaan agteruit

We must pray that God will teach us to love those we do not like and then to like those he is teaching us to love. –Jean Vanier

 

Die gemeente gaan agteruit

‘n Mens kry baie kitsoplossings vir gemeentes waar die getalle besig is om af te neem. In baie gevalle fokus die oplossings op mense en metodes. Hulle pas in by enige burgerlike organisasie. Thom Rainer noem ses maniere waarop sekere gemeentes hierdie neiging omgekeer het:

 

  • ‘n Tyd van korporatiewe gebed en vas. Dikwels is dit ‘n kort tydjie – 24 uur. Baie lidmate is bereid om te bid en te vas en God se wil vir die gemeente te soek. Hierdie gemeentes besef dat slegs God die antwoord het.
  • Hulle begin nuwe groepe. Dit mag kleingroepe, huisgroepe, dissipelskapgroepe of ander groepe wees. Dit is belangrik dat die benadering tot die begin van hierdie groep strategies en doelgerig moet wees – nie sommer willekeurig nie.
  • Hulle begin nuwe aanbiddingsdienste. Dit mag op ‘n Sondag wees, maar is dikwels op ander dae. Dit mag selfs op nuwe plekke wees vir mense wat ver van die kerkgebou af woon.
  • Hulle beklemtoon die belang daarvan om mense uit te nooi. Die leraar beklemtoon dit; gedrukte en digitale inligting herinner lidmate voortdurend aan die belang om mense uit te nooi om die eredienste by te woon. Dit word deel van die gemeente se DNA.
  • Hulle beklemtoon die belang van groepe wat groei. Alle groepe moet doelbewus fokus op groei.
  • Hulle dien die gemeenskap. Dit is meer as net mense uitnooi om eredienste by te woon. Lidmate raak betrokke by aktiwiteite in die gemeenskap – hulle verf skole, sopkombuise, ens.

 

Hierdie is nie kitsoplossings nie. Inherent in elkeen van hulle is nuwe denke en gesindhede. Sommige gemeentes gebruik een of meer van hierdie benaderings.

 

 

 




Moet ons ons geloof verdedig?

Next to faith this is the highest art—to be content with the calling in which God has placed you. —Martin Luther

 

Moet ons ons geloof verdedig?

Onlangs het ons gelees van ‘n papirusfragment uit die vierde eeu waarin beweer word dat Jesus getroud was. Die New York Times se opskrif was: The Gospel of Jesus’ Wife. Alhoewel die slim mense sê hierdie fragment was ‘n namaaksel lei dit tog tot twyfel en verwarring by mense. Daarom is dit belangrik om te verstaan wat ons glo en hoekom ons dit glo – apologetiek (= verdediging van die Christendom as studievak – WAT).

  

As ons praat oor die verdediging van ons geloof is daar vyf dinge om te verstaan:

  • Verdediging van ons geloof is nie opsioneel nie. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God  (1 Petrus 3:15 – 16). Paulus skryf aan die Filippense:  Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel as in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan (1:7). Dit kan beide verdedigend (antwoord besware) of aanvallend (maak ‘n saak uit vir) wees
  • Apologetiek is prakties. Dit is nie net vir akademici nie. Almal het vrae. Ook jou kinders, jou vriende en mense wat saam met jou werk. Vrae sal jy nie kan ontwyk nie. Onthou die Christelike geloof betrek jou hele lewe.
  • Die Christelike geloof verhoog die vlak van waar of vals. Ons wil die kategorie van blinde geloof verander in ‘n kategorie waar geloof ‘n werklikheid is. Mense vra dikwels die verkeerde vrae: Sal dit vir my werk of sal dit my beter laat voel? Die vraag wat ons moet vra, is: Is dit waar?
  • Mense is geregtig op hulle eie geloof, maar nie hulle eie waarheid nie. Die feit dat ek glo dat iets waar is, maak dit nie waar nie.
  • Apologetiek versterk ons geloof. Baie gelowiges is onseker oor presies wat hulle glo. Os Guinness sê: “If you have never been given a reason why for faith, there won’t be a reason why not for doubt.”  Christene het meer vertroue om met ander te praat as hulle weet wat hulle glo en waarom hulle dit glo. Hulle is ook minder verdedigend.

 

Christene behoort moeilike vrae en eerlike twyfel te verwelkom.

 

 




‘n Raamwerk vir die evangelie

To be a Christian means to forgive the inexcusable because God has forgiven the inexcusable in you. —C.S. Lewis

 

‘n Raamwerk vir die evangelie

John Stott (The Message of Acts) bespreek die toesprake wat ons in Handelinge kry. Hy kyk veral na Petrus se toesprake vroeg in die boek. Uit hierdie toesprake ontwikkel hy ‘n raamwerk van die evangelie. Hierdie raamwerk bestaan uit:

 

  • Twee gebeurtenisse – Christus se dood en opstanding
  • Twee getuies wat hiervan getuig – die Bybel en die aanvanklike ooggetuies van die opstanding
  • Twee beloftes wat God maak op grond van die gebeurtenisse – vergifnis en die Heilige Gees
  • Twee voorwaardes vir hierdie beloftes – bekering en geloof.

 

Hy voeg dan by: We have no liberty to amputate this apostolic gospel. Ons is so geneig om sekere dele van die evangelie te oorbeklemtoon en min of geen aandag aan ander dele te gee nie. Hierdie raamwerk mag ons help om die volle evangelie te verkondig.

 

 

 




Die klein dingetjies in die lewe

The gospel is good news, not good advice.” – Tim Keller

 

Die klein dingetjies in die lewe

Ons sien elke dag dat die klein dingetjies in die lewe belangrik is. Dikwels sluit ons oë hiervoor. In hierdie moderne lewe druk ons harder en harder … en al wat gebeur ons druk dit wat ons graag wil hê verder en verder van ons af weg. Ons hardloop vinniger en vinniger … en al wat gebeur is dat ons dit wat ons graag wil hê verder en verder agterlaat.

  

Sien ons dit nie elke dag in die lewe – ook ons eie lewens – nie?

 

Ek lees hierdie eenvoudige storie:

‘n Pa stap oor die gras op pad kerk toe. Dit het gedou en die gras was nat. Sy klein dogtertjie was saam met hom. Hy dra haar op sy skouers. Sy praat en lag aanmekaar. Dit is duidelik dat sy dit baie geniet. En hy? Hy het ‘n groot glimlag op sy gesig.

 

Is dit nie die lewe op sy allerbeste nie?