Psalm 119:44

 ‘n Vrou vra vir George Whitefield waarom hy so baie preek oor die woorde: You must be borm again.

Whitefield antwoord: Because, Madam, you must.

 

Psalm 119:44

Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou (NAV)

Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd (OAV)

My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê (Die Boodskap)

 

 

Is dit moontlik om God se wet my hele lewe lank te onderhou? In die OAV word die idee van ewige gehoorsaamheid herhaal: altyddeur … vir ewig en altyd. Is die psalmis nie dalk ‘n bietjie naïef nie? Te optimisties nie? Dink die psalmis dat ‘n eed van gehoorsaamheid aan die wet God se guns sal wen?

 

Om hierdie vers te verstaan, moet ons dink aan wat onderhou beteken en dit dan interpreteer in die lig van hoe die psalmis homself, God en God se woord in die res van die psalm sien. Dan maak hierdie vers wat met die eerste oogopslag dalk oormatig optimisties klink, sin.

 

Die woord wat hier met onderhou vertaal word kan ook beteken kyk of waghou wat inpas by die res van die psalm. Die psalmis fokus op God se woord. Kyk net na hierdie gedeelte van hierdie psalm (die Wau-gedeelte van vers 41 – 48):  die psalmis vertrou op God se woord (vers 42); stel sy vertroue op God se bepalings (vers 43);  vra steeds na God se bevele (vers 45); haal God se verordeninge met vrymoedigheid aan (vers 46);  verlustig hom in God se gebooie (vers 47); dink na oor God se voorskrifte (vers 48).

 

Vir die psalmis beteken onderhou dus vertrou op, vra na, verlustig in en nadink oor God en God se gebooie. Hierdie is nie ‘n soort wettisisme nie, maar ‘n passie vir God en sy wet. Hier sê die psalmis dat om God se wet te onderhou ‘n lewenslange obsessie by hom sal wees.

 

As dit is wat die psalmis bedoel as hy sê dat hy God se wet sy hele lank wil onderhou, behoort dit mos ook vir ons ‘n lewenslange doel te wees.

Here, ons het u hulp nodig as ons u wet ons hele lewe lank wil onderhou. Help ons asseblief daarmee. Amen

 

 

 




God se genade

The Christian who has stopped repenting has stopped growing. —A.W. Pink

 

God se genade

 God se genade kom altyd na ons met ‘n maar en nie ‘n daarom nie. Wat bedoel Tullian Tchividjian as hy dit sê. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

  • Die loon van die sonde is die dood … maar die loon van God se genade is vryspraak en lewe (Romeine 6).
  • maar ons wat dood was as gevolg van ons oortredings het God lewend gemaak. Uit genade is julle gered (Efesiërs 2).
  • Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie ... maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en profete getuig, in werking getree (Romeine 3).

 

Werk genade in hierdie wêreld? Robert Kolb stel dit so:

“ God belowe vryspraak en vryheid vir sondaars. Hierdie belofte weerspreek ons normale menslike verwagtings. Sondaars verdien straf en nie vergifnis nie, gevangenskap, nie vryheid nie. Maar God leer sondaars om  hulle oë te sluit vir gewone menslike verwagtings en die gevolgtrekkings van ons kennis en ons ore oop te maak vir die belofte wat lewe en vryheid bied.”

 

 

 

 




Verkondig God se woord

I tell you our strength, whenever we have any, is our greatest weakness, and our fancied wisdom is our real folly. —C.H. Spurgeon

 

Verkondig God se woord

Ons leef in ‘n sogenaamde postmoderne wêreld waar verkondiging met suspisie en skeptisisme bejeën word. Luister na Paulus se opdrag aan die gelowiges in Kolosse: Hom verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring (1:28). Die Griekse woord wat hier met verkondig vertaal word beteken om “openlik en hardop te verklaar.”

 

 Ons kry basies dieselfde in Handelinge 17:2 – 3:  Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen (die sinagoge) gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hy is die Christus.”  Een van die groot probleme in ons gemeentes is dat lidmate glo dat verkondiging die taak/plig van die leraar is – verkondiging is die taak/plig van elke gelowige.

 

In hierdie twee gedeeltes leer ons iets van “sterk verkondiging”:

  • Sterk verkondiging is Christus gesentreerd. Hierdie prediking berus op die evangelie; dit verkondig dat Jesus vir sondaars gesterf het; dat sondaars verlos kan word. Dit wys vir sondaars die verlossingspad.
  • Sterk verkondiging is nie bedees nie.  Paulus sê vir die Ateners dat dit wat hulle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Handelinge 17:23). Hy sê ook: Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo … (Romeine 1:16).
  • Sterk verkondiging is vreesloos. Ons is so bang om aanstoot te gee. Daarom gaan ons kompromieë met die werklikhede van die Skrif aan. Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek het (Handeling 20:20). Paulus het vreesloos die volle evangelie verkondig.
  • Sterk verkondiging moet omvattend wees – die hele Skrif en nie stukkies hier en daar nie. Want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (Handelinge 20:27).
  • Sterk verkondiging moet die fondament vir ‘n Christelike wêreldsiening lê. Christus is die middelpunt van alles. God het deur Hom alles geskep (Kolossense 1:16); deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:17); Deur die Seun het ons die verlossing gekry, die vergewing van sondes (Kolossense 1:14); Hy maak alles nuut (Openbaring 21:5). Gelowiges moet die Christelike wêreldsiening verteenwoordig en so ander gelowiges versterk.
  • Sterk verkondiging moet die volle gewig van die Bybelse gesag dra. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend (2 Timoteus 4:4). Maar gelowiges moet hulle teregwys en uitdaag om die waarheid te aanvaar. Gelowiges moet die wêreldse ideologieë konfronteer: Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie (Kolossense 2:8). Gelowiges moet die waarhede van die Skrif met passie en logika verkondig.
  • Sterk verkondiging moet ‘n sin van dringendheid hê. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane (Handelinge 20:31).
  • Sterk  verkondiging moet intens teologies wees. Die gesondheid van ‘n gemeente word bepaal deur diep Bybelse en teologiese oortuigings.
  • Sterk verkondiging moet ‘n blywende verandering in die harte en denke van mense maak. Die persoon wat dit hoor behoort nooit weer dieselfde te wees nie

 

 Verkondiging is belangrik. Doen dit en mense en gemeentes sal verander.

 




My familie eerste

Next to the wonder of seeing my Savior will be, I think, the wonder that I made so little use of the power of prayer. —D.L. Moody

 

My familie eerste

In ‘n wêreld vol disfunksionele of gebroke of enkelouer families is dit verstaanbaar dat Christene dikwels oorreageer en ‘n baie hoë waarde plaas op die fisiese familie. Maar Ben Witherington III waarsku daarteen dat ons nie van ons familie ‘n afgod moet maak nie.

 

Die Bybel, veral die Nuwe Testament, moedig ons nie aan om die familie eerste te plaas nie. Hy bespreek dan enkele basiese boustene van Nuwe Testamentiese denke:

  • Die grootste gebod is om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en siel en verstand en jou naaste lief te hê soos jouself (Matteus 22:37 – 39). Hier word niks van die familie gesê nie. Die hoogste roeping van alle mense is om God lief te hê en dan om alle mense lief te hê Hierdie sluit natuurlik ons familie in, maar prioritiseer hulle nie bokant jou naaste nie.
  • Dwarsdeur die evangelies praat Jesus van sy geloofsfamilie – wie God se wil doen, is Jesus se broer en suster en moeder. Dit is baie duidelik uit Markus 3:31 – 35. Die primêre familie  is nie die familie waarin jy gebore of getrou het nie – jy moet hulle soms verlaat om ‘n ware volgeling van Jesus te wees (soos baie van Jesus se eie dissipels gedoen het).
  • In 1 Korintiërs 7 gee Paulus raad oor die huwelik. Daar sê hy: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar om so te kan leef, vereis ‘n besondere gawe. Paulus sê dus dat die huwelik die normale situasie vir alle gelowiges hoef te wees nie. Om te trou is nie die hoogste doel waarna almal moet strewe nie. Enkel persone is nie soos vyfde wiele aan die wa nie. Ons moet ophou om almal aan te por om te trou; ons moet ophou om die huwelik te verheerlik asof dit die enigste roeping van ‘n ware gelowige is.

 

Die goeie nuus: as jou familie gelowiges is, is hulle deel van die geloofsfamilie saam met jou – vir ewig.

Ek moet sê ek het dit nog nooit so verstaan nie.