Inisiatief: die kenmerk van ‘n ware leier

The world is in greater peril from those who tolerate or encourage evil than from those who actually commit it. -Albert Einstein

Inisiatief: die kenmerk van ‘n ware leier

Per definisie kan leiers nie wag vir iemand anders om eerste te beweeg nie.  Doen hulle dit is hulle eintlik volgelinge.  Inisiatief vereis ‘n element van risiko, geloof en insig.  Wanneer laas het ek iets betekenisvol geïnisieer? As ek nie onlangs myself gedruk het en my gemaksone verlaat het nie, moet ek myself vinnig aan die gang kry.

 

Hoekom neem ek nie inisiatief nie?

Dit is makliker om weg te hardloop van ‘n uitdaging as om op te staan en te waag. As ek die inisiatief neem, verbind ek my aan ‘n rigting.  Ek mag onseker wees oor wat die toekoms inhou.  Wat daarvan as ek my gedagte verander?  Wat daarvan as niemand volg nie?  Wat daarvan as ek voor my volgelinge misluk? Ek hardloop weg van inisiatief en verbintenis.

Rede

Wat is die probleem?

Ek is bang ek sal nie die verbintenis kan nakom nie.

Lae sin van sekuriteit

Ek vermoed dat ek dalk “groener gras” elders sal kry

My wil is verlam

Ek spandeer my tyd en energie net vir persoonlike gewin

Geen oorgawe nie.

My verlede maak vertroue moeilik

Emosionele bagasie

Ek is lui en ongemotiveerd

Apatie en neutraliteit

Ek is bang ek word verwerp

Swak selfbeeld

Ek vrees die onbekende

Lae selfvertroue

Ek wil nie my vryheid verloor nie

Filosofie: ek is daarop geregtig

Ek wil nie anders as ander wees nie

Polities korrek

Ek weet nie regtig wie ek is nie

Gawes en roeping

 

Jona moes inisiatief leer.  Dit begin by onderwerping aan God. As ek my oorgee aan sy roeping vir my lewe en my leierskap, kan ek Hom volg.  Ek kan waag, want my toekoms lê in sy hande.  Toe Jona hom aan God se roeping onderwerp het, sien hy allerhande resultate.  Wat gebeur as ek my aan God se roeping om te inisieer en te verbind, onderwerp?

  • Ek aanvaar gesonde persoonlike verantwoordelikheid (1:12).
  • Ek sal sien dat baie mense tot geloof in God kom (1:13 – 16).
  • Ek kry ‘n Godgegewe tyd en plek om weer perspektief te kry (1:17).
  • My ondervinding van aanbidding en gebed verdiep (2:1 – 9).
  • Ek vorder tot ‘n nuwe vlak van persoonlike vryheid (2:10).
  • Ek geniet gemeenskap met God (3:1 – 9).
  • Ek sien veranderde lewens (3:10).

 

 




Trots kom tot ‘n val

“When you sell a man a book you don’t sell him just 12 ounces of paper and ink and glue, you sell him a whole new life.”  Christopher Morley

 

Trots kom tot ‘n val

Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme  niks oorgehad het nie. Hulle was hooghartig en het voor my oë afskuwelike dinge gedoen (Esegiël 16:49 – 50).

 

Trots beklee ‘n ereplek op die lys van sondes. Esegiël sê dat dit die groot probleem in Sodom was. As Paulus praat oor die vereistes van die ouderling sê hy onder andere van die persoon wat maar onlangs tot geloof gekom het: So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland (1 Timoteus 3:6).

 

C. S. Lewis skryf oor die unieke plek van trots onder die sondes in  Mere Christianity:

According to Christian teachers, the essential vice, the utmost evil, is Pride. Unchastity, anger, greed, drunkenness, and all that, are mere fleabites in comparison: it was through Pride that the devil became the devil: Pride leads to every other vice: it is the complete anti-God state of mind.

 

Volgens Lewis is trots ‘n toestand van die hart waar mense die heerskappy van God in hulle lewens vervang het met die heerskappy van hulle eie wil. In plaas van volkome op God te vertrou, besluit ‘n trotse hart self wat goed en sleg is.

 

Trots is ‘n gesindheid van onafhanklikheid van God – ek het Hom nie meer nodig nie. Dit staan teenoor die nederige, Godvresende gesindheid wat volkome op God vertrou. Die einde van die trotse man is vernietiging.

 Die Here die Almagtige het ‘n dag bepaal teen al wat trots en hoog is … Die hoogmoediges sal verneder word, die selfversekerdes sal tot ‘n val kom (Jesaja 2:12 en 17).

 




Vrygewigheid

The preached Word of God is the foundation upon which everything should be built‘ – Huldrych Zwingli

 

Vrygewigheid

Negehonderd jaar gelede het Maimonides ‘n leer van vrygewigheid opgestel. Die leer loop van die laagste vorm van vrygewigheid na die hoogste.

  • ‘n Persoon gee, maar net as hy gevra word.
  • ‘n Persoon gee, maar hy is maar ongelukkig daaroor.
  • ‘n Persoon gee blymoedig, maar hy gee minder as wat hy behoort te gee.
  • ‘n Persoon gee sonder dat hy daarvoor gevra word, maar hy gee direk aan die armes. Die armes weet nou wie het hulle gehelp en die gewer weet ook wie hy  bevoordeel het.
  • ‘n Persoon gooi geld in die huis van iemand wat arm is. Die arm persoon weet nie wie sy weldoener was nie, maar die gewer weet wie hy gehelp het.
  • ‘n Persoon gee ‘n bydrae op ‘n sekere plek en stap dan weg. Hy weet nie wie hy gehelp het nie, maar die arm persoon weet wie die weldoener was.
  • ‘n Persoon gee anoniem vir ‘n fonds vir die armes. Die arm persoon weet nie wie sy weldoener was nie en die ryk persoon weet nie wie hy gehelp het nie.
  • Geld word gegee om te verhoed dat ‘n ander persoon arm word – soos om vir hom ‘n werk te gee, om vir hom ‘n ambag te leer of om hom te help om ‘n besigheid te begin. Die ontvanger word dus nie gedwing om ‘n hand uit te hou om te bedel nie. Dit is die hoogste sport op hierdie leer.

 

Pous Johannes Paulus II het gesê dat armoede nie so seer oor geld gaan nie, maar dat die arm persoon uitgesluit word uit die netwerk van produktiwiteit. Baie mense het ‘n materialistiese siening van die armes. Hulle wil geld herversprei van diegene wat het na diegene wat nie het nie (dinge soos kos, klere en huisvesting). Hierdie siening is dat mense primêr verbruikers is.

 

Miskien moet ons weer na Maimonides kyk. Om geld te gee aan armes is dikwels noodsaaklik, maar ons mag nie daar ophou nie. Ons moet mense in staat stel om hulleself te help as dit enigsins moontlik is.

 

 

 




Jesus se “vrou”

My happy conviction is that pastors ought not to be experts on everything. —John Piper

 

Jesus se “vrou”

Sedert die ontdekking van die sogenaamde gnostiese evangelies by Nag Hammadi in 1945 kry ons kort-kort ‘n alternatiewe siening van Jesus se lewe. Ons dink byvoorbeeld aan die evangelies van Tomas, Petrus, Maria en Judas. Vrae ontstaan: Is verhale van Jesus doelbewus uit die Nuwe Testament uitgelaat? Was alternatiewe sienings van die Christendom onderdruk? Gee die evangelies in die Bybel werklik ‘n akkurate prentjie van Jesus?

 

 

Nou is nog ‘n nuwe manuskrip ontdek. Dit is ‘n fragment uit die vierde eeu geskryf in Kopties. Op een plek lees ons: Jesus sê vir hulle, ‘My vrou …’ Hierdie fragment is klein (4 X 8 cm). Karen King van Harvard Universiteit het hierdie manuskrip bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat dit eg is.

 

Wat moet ons van hierdie manuskrip maak? Michael J. Kruger sê dat daar ‘n paar dinge is wat ons moet oorweeg:

  • Egtheid

Vervalsings is baie algemeen as ons na antieke dokumente kyk. In hierdie dokument is daar dinge wat pla. Daar is kenners wat die egtheid van die fragment bevraagteken veral omdat van die letters vreemd gevorm is. Hierdie skeptisisme word vererger omdat daar onsekerheid is oor waar die dokument ontdek is en die identiteit van die anonieme eienaar. Alhoewel daar vraagtekens oor die egtheid van die dokument is, kan dit nie sommer as ’n vervalsing beskou word nie – meer kundiges moet dit eers ondersoek.

 

  • Samestelling

As hierdie dokument eg sou wees, is daar vrae oor die samestelling daarvan:

  • Met watter soort dokument het ons hier te doen? Dit lyk soos ‘n “evangelie” wat stories en gesegdes van Jesus bevat. Dit lyk asof Jesus, soos in baie ander tekste, hier met sy dissipels praat.
  • Wat is die datum van die storie in hierdie fragment?  King sê die datum is die middel van die tweede eeu, want daar is ooreenkomste tussen hierdie dokument en die Evangelies van Tomas en Filippus wat tydens hierdie tyd geskryf is. Dit is natuurlik nie noodwendig die geval nie. Die dokument kon heelwat later geskryf gewees het – daar is net van hierdie ouer dokumente gebruik gemaak. Wat wel duidelik is, is dat daar niks is wat sou dui op ‘n datum in die eerste eeu nC nie. Dit is dus lank na die tyd van die apostels geskryf.

 

  • Historiese waarde

Vertel hierdie  dokument vir ons enigiets van hoe Jesus werklik was. Bewys dit dat Jesus ‘n vrou gehad het? Verskaf die dokument betroubare geskiedkundige inligting? Nee. Dit is laat geskryf; dit is nie op die getuienis van ooggetuies gebaseer nie. Waarskynlik kry dit sy inligting van ander apokriewe tekste soos Tomas en Filippus.

 

Daar is nie ‘n enkele geskiedkundige bron uit die vroeë Christendom wat daarop dui dat Jesus getroud was nie – nie in die evangeliese of apokriewe evangelies nie, niks in die geskrifte van die kerkvaders nie, niks elders nie.

 

  • Sameswerings en die kanonieke evangelies

Almal hou van goeie samesweringsteorieë. Die apokriewe boeke is deur die vroeë Christene verwerp. Die kanon is nie sommer arbitrêr deur die kerk in die vierde of vyfde eeu saamgestel nie. Die kerk het slegs bevestig wat reeds vir baie jare die geval was – reeds van vroeg af is die vier evangelies wat ons in die Bybel kry deur die Christene aanvaar. Net die vier evangelies in die Bybel se datum van oorsprong is in die 1ste eeu nC. As ons wil weet hoe Jesus was, is dit beter om te kyk na die evangelies wat geskryf is toe daar nog ooggetuies van Jesus se tyd geleef het. Net vier evangelies voldoen aan daardie standaard.

 

Wat is ons gevolgtrekking? Op hierdie stadium moet ons aanvaar dat ons hier met ‘n latere dokument te doen het en dat die inhoud daarom nie betroubaar is nie. Ons kan dus aanvaar dat Jesus nie getroud was nie.