Christelike Tevredenheid

It takes more grace than I can tell

To play the second fiddle well

Anoniem

 

Christelike Tevredenheid

Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het (1 Timoteus 6:6).

Ware tevredenheid beteken dat ek God se wil in elke aspek van my lewe aanvaar. Dit is ‘n gawe wat ons dikwels nie waardeer nie. Daar is net een manier om tevredenheid te ontdek: leer dit. Dit is deel van die proses waarvan Paulus praat: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe (Romeine 12:2). Dit is nie die produk van ‘n reeks optredes nie, maar van ‘n veranderde karakter.

  

Christelike tevredenheid beteken dat my tevredenheid nie deur my omstandighede bepaal word nie. Vir Paulus was tevredenheid die vrugte van ‘n voortgaande, intieme verhouding met Christus: Ek is tot alles in staat deur hom wat my krag gee (Filippense 4:13).

 

In Psalm 131 gee die psalmis vir ons ‘n pragtige beeld van tevredenheid: Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Maar waarmee het die psalmis gesukkel wat hom so ontevrede gemaak het: Selfverheffing en hoogmoed. Natuurlik is ambisie nie altyd verkeerd nie. Maar om geduldig vir God se regte tyd te wag, maak ons soms ontevrede. Tevredenheid is om geen groter ambisie te hê as om geheel en al aan God te behoort en tot sy beskikking te wees nie – op die plek wat Hy bepaal, die tyd wat Hy kies en met die voorsiening wat Hy maak.

 

Maar die psalmis gaan verder: Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Tevredenheid beteken dat ek my beperkings ken. Ek sal nooit tevrede wees as ek presies wil weet wat God besig is om te doen nie of presies wat Hy alles vir my toekoms beplan nie …

 

 




Onderskeidingsvermoë en ons lewens

The providence of God is like Hebrew words – it can be read only backwards – John Flavel

 

Onderskeidingsvermoë

Ware onderskeidingsvermoë is meer as om te onderskei tussen goed en kwaad. Ons moet ook onderskei tussen dit wat primêr en dit wat sekondêr is; dit wat noodsaaklik is van dit wat nie noodsaaklik is nie; dit wat permanent is van dit wat verbygaande is; selfs tussen dit wat goed en dit wat beter is. Daarom bid die psalmis: Gee my goeie insig en kennis (Psalm 119:66).

  

Wat is onderskeidingsvermoë? Dit is die vermoë om diskriminerende oordele te maak; om te onderskei tussen en die morele implikasies van verskille situasies te besef. Jesus waarsku ons om nie te oordeel nie, maar Hy waarsku ons ook om nie dit wat heilig is vir die honde te gooi nie (Matteus 7:1 en 6). Onderskei sonder om veroordelend te wees. Die enigste onderskeidingsvermoë wat ons het, kry ons by Christus, die Heilige Gees en in God se woord.

 

Maar watter impak het onderskeidingsvermoë op ons lewens?

  • Dit beskerm ons sodat ons nie geestelik mislei word nie.
  • Dit is ‘n instrument vir genesing as ons dit in genade gebruik.
  • Dit is die sleutel tot Christelike vryheid. Die ywerige Christen sonder onderskeidingsvermoë word ‘n slaaf aan ander, sy gewete en ‘n onBybelse lewenswyse.
  • Dit dien as katalis vir geestelike ontwikkeling: Al soek die ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie; ‘n verstandige mens doen maklik kennis op (Spreuke 14:6). Die Christen met onderskeidingsvermoë gaan na die kern van die saak.

 

Hoe kry ons onderskeidingsvermoë? Deur die Heilige Gees, deur die verstaan van God se woord, deur ons ondervinding van God se genade, deur ons besef van die ware toestand van ons harte.

 




Agter geslote deure

A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to every one – Martin Luther

 

Agter geslote deure

Wie is ons agter geslote deure? Ons hoor dikwels die vraag. In hierdie vraag identifiseer ons drie elemente

 

  • Dit is in die geheim dat dit wat ons as Christene werklik is duidelik word. Dit is nie my sigbare diens so seer nie, maar my geheime lewe van aanbidding wat ‘n maatstaf van my Christenskap is. In die bergrede waarsku Jesus sy dissipels teen valsheid voor mense en moedig hulle aan om deursigtig voor God te wees. Maar ons glo dat dit wat ons in die openbaar sien, dit is wat saak maak. Maar die lewe is geneig om hierdie masker af te ruk en ons te openbaar soos ons werklik is.
  • Die Christelike lewe berus nie op ons gevoelens nie, maar hoe ons ons pligte vervul. Heiligmaking is nie ‘n gemoedstoestand nie, maar die onderwerping van my wil aan dié van God. In die Nuwe Testament lees ons van spesifieke pligte wat uit ons verhouding met Jesus Christus voortspruit. Liefde vir God en plig is twee kante van dieselfde muntstuk. Ons moet weet wat ons Christelike pligte  is en hulle vervul.
  • Leef voor die aangesig van God – coram Deo. Doen ons dit, raak ons ontslae van alle pogings om te mislei. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee (Hebreërs 4:13). Besef ek dit?

 

Beïnvloed dit my optrede? Leef jou hele lewe asof jy in die teenwoordigheid van God is.

 




Gasvryheid

No creature that deserved redemption would need to be redeemed. —C.S. Lewis

 

Gasvryheid

Het jy al mooi gedink wat gebeur as ‘n gas vir die eerste keer die Sondag by die kerk opdaag? Hulle het hulle moed bymekaar geskraap om na ‘n vreemde plek te kom; hulle probeer ‘n paar nuwe mense ontmoet; hulle probeer hulle pad kry in ‘n vreemde omgewing met sy eie sosiale kodes.

  

Dikwels, in ‘n kamer vol mense, word hulle geïgnoreer – mense kyk hulle suspisieus aan. Wat Sondae binne die vier mure van die kerk gebeur, is uiters belangrik. Elke deur wat ons oopmaak en elke glimlag wat ons deel, wys na iets groter. In Hebreërs 13:1 – 2 lees ons: As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie … Gasvryheid was ‘n kenmerk van die vroeë kerk en het hulle dikwels onderskei van die ongelowiges in die samelewing.

 

Dit is juis ‘n omgewing van gasvryheid wat koue harte warm laat klop en mense na die evangelie toe lei. Is gasvryheid nog ‘n kenmerk wat ons kerke onderskei?