Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ’n doopviering

Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ‘n doopviering – Adrio König

6.1 Die lewe as ’n doopviering

Dit is nie ’n ou gebruik in ons kringe om jou doop doelbewus te vier nie. Trouens veral in die Gereformeerde tradisie is die doop eintlik verwaarloos. Een van die redes mag wees dat omtrent net babas gedoop is. Dit het die doop eintlik weggeneem uit die lewe van volwassenes, en die groot saak wat ter sprake was, was die regte opvoeding van die kinders, “om hulle vir die Here groot te maak”. Natuurlik het dit sy eie onvervangbare waarde, maar dit het nie regtig die volwassenes aangespreek oor hulle eie doop en hulle eie lewe nie.

In die Nuwe Testament was dit heeltemal anders. Dáár het veral Paulus die gemeente direk en ernstig aangespreek as hy oor die doop geskryf het. Hy het die wonderlike ryk betekenis van die doop in besonderhede uitgespel. Dink maar net aan Romeine 6 en Kolossense 2-3. En daar is talle kort verwysings na die doop wat ook die lewe van gelowiges direk aanspreek, soos 1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 3:26-29; Titus 3:4-6.

 

Paulus spreek eintlik sy verbasing uit dat die gemeente nie besef hulle is deur hulle doop dood vir die sonde nie (Rom 6:1-3). In ons tyd sal die meeste Christene dalk hulle verbasing uitspreek dat iemand kan beweer hy/sy is vir die sonde dood, en dit boonop nog met die doop in verband bring. Ek het dit soms uitgetoets in ’n gemeente: “Wie van julle is vir die sonde dood”, en dan omtrent geen reaksie gekry nie. Dit is eenvoudig nie die terme waarin mense aan hulle doop dink nie, indien hulle ooit werklik aan hulle doop dink!

 

Maar vir Paulus lê dit in die hart van die evangelie. Hy roep die gemeente op om dit die uitgangspunt van hul lewe te maak. Nee, eintlik beveel hy hulle dat dit die uitgangspunt van hulle lewe moet wees! (Rom 6:11) In Romeine 6 verduidelik hy in besonderhede die een aspek van die betekenis van die doop: Ons is verenig met Christus.

 

Dit beteken:

♦  Ons neem aan sy hele lewe deel.

♦  Ons is dood vir die sonde omdat Hy vir die sonde gesterf het.

♦  Ons lewe net vir God omdat ons verenig is met sy opstandingslewe wat Hy net aan God wy.

 

Twee dinge is nog belangrik. Paulus sien dit as die uitgangspunt van ons hele lewe. Eintlik gee hy dit as ’n opdrag: Ons moet só oor ons lewe dink (6:11). En daarna vloei sy vermanings oor ons lewe dan soos ’n stroom daaruit voort: Ons moet end kry met ons diens aan die sonde, ons moet ons lewe volkome aan God wy deur elke deel van ons lewe in sy diens te stel (6:12-14).

 

Wat kan dit alles anders beteken as dat ons ons hele lewe in terme van ons doop moet leef, dat ons doop die uitgangspunt van ons lewe moet wees? Natuurlik beteken dit in werklikheid dat God se reddende genade die uitgangspunt van ons lewe moet wees, dat Jesus se kruis en opstanding die uitgangspunt van ons lewe moet wees, want dit is waaroor dit in die doop gaan.

 

Die tweede ding is dat Paulus eintlik verbaas is dat dit nie alreeds die geval met die gelowiges is nie. Trouens hulle verstaan nog nie eens regtig die volle betekenis van hulle doop nie. Luister na sy inset: “Weet julle dan nie … ?” (6:3). Dis byna iets van ’n verwytende opmerking soos die woorde van die skrywer aan die Hebreërs: “Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig” (5:12).

 

Die doop behoort die uitgangspunt van ons hele lewe te wees. Dit kan tog niks anders beteken nie as dat ons hele lewe ’n bewuste belewing van ons doop sal wees, wat natuurlik beteken ’n bewuste belewing van God se werk in ons lewe, van ons deelname aan Jesus se lewe. Paulus se behandeling van die doop in Kolossense 2-3 is eintlik nog aangrypender. Ook hier begin hy met die doop as die uitgangspunt van ons lewe (2:11-12). En dan word die hele deel wat hierop volg tot by hoofstuk 4 hierop gebou. En die inhoud van hierdie deel is eenvoudig hoe ons moet lewe. Hierdie hoofstukke is ’n deurlopende geheel wat deur ’n aantal voegwoorde as eenheid saamgebind word. Onderstreep die volgende voegwoorde, en kyk dan hoe ons hele lewe uit die doop voortvloei: Daarom (2:16); dus (2:20); aangesien (3:1); daarom (3:5); want (wat ongelukkig weggelaat is in sommige vertalings in 2:9); daarom (3:12). Kort saamgevat loop die beskrywing wat Paulus van ons lewe gee, dan só:

Omdat julle gedoop is en deur die doop met Christus verenig is sodat julle klaar is met julle ou lewe en aan Christus se lewe deelneem:

Daarom is julle nie meer gebonde aan die feesgeleenthede van die Ou Testament nie (2:16-19).

Dus moet julle nie wetties allerhande reëls probeer hou nie (2:20-23).

Aangesien julle deur die doop met Christus verenig is, moet julle julle gedagtes op Hom rig. Hy is immers julle lewe (3:1-4).

Daarom moet julle breek met die aardse dinge, die sonde (2:5-8).

Want julle lewe nou die lewe van die nuwe mens waar Christus alles en in almal is (2:9-11 – die “want” is on gelukkig soms weggelaat).

Daarom moet julle ’n lewe lei van ’n bepaalde kwaliteit en styl (3:12-4:1).

 

Ons totale lewe moet gebou word op ons doop, omdat ons doop God se werk in ons lewe is, ons vereniging met Christus.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Laat sy Liefde jou Lei: Waarom glo jy?

Laat sy Liefde jou Lei: Waarom glo jy? – Milanie Vosloo

Waarom glo jy?

Maar ek, ek weet dat my Verlosser leef en dat Hy aan die einde op die aarde sal staan. Job 19:25

Glo en dien jy God oor die voordeel wat jy uit Hom kan kry of glo jy in jou hemelse Vader omdat jy onwrikbaar wéét dat Hy die enigste Gód is … dat Hy jóú Here is?

Job was ‘n man wat rede gehad het om ernstig met sy geloof te worstel. Alles wat hy gehad het, is immers in ‘n oogwink van hom af weggeneem. Toe Job op sy weerlooste is, was dit vir Satan dan ook die ideale geleentheid om hom te probeer wysmaak dat hy God net dien vir die voordeel wat hy uit Hom kon kry. Job slaag hierdie geloofstoets egter met vlieёnde vaandels wanneer hy erken dat Hy God dien vir wat God ís. Hy kies om in sy God te glo selfs toe hy die dood in die oё staar. Job verklaar onomwonde dat hy, ondanks al die teёspoed in sy lewe, sy Verlosser met sy hele hart vertrou en onomwonde wéét dat Hy – die God van ewige liefde – hom nooit in die steek sal laat nie. Job glo nie omdat sy geloof vir hom voordelig is nie, maar omdat hy met ‘n visie op die hemelse toekoms leef.

 

Job het geglo omdat hy vasgehou het aan dié wete dat God áltyd Gód sal bly en hom daarom altyd sal vashou. Is dit die rede waarom jý glo?

 

Immanuel-God, help my om my geloof te behou, selfs wanneer dit onmoontlik lyk.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

 

 


 

 

  

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Die Doodsengel – Vraag

Die Doodsengel – Francois Malan

Whitey vra:

Ek is nie seker nie maar … Iewers het ek gelees van ‘n man wat op ‘n dag besig was en gedurende sy take het die doodsengel hom besoek en aan hom gesê dat hy hier is om hom te kom haal…Die man het toe oor die saak nagedink en toe na ‘n ver land gegaan om van die doodsengel af weg te kom maar ‘n dag of wat later was die doodsengel ook daar om hom te kom haal…….Was die gelese gedeelte skriftuurlik en indien nie is ek jammer maar indien kan jul my meer inlig oor waar in die woord van ons Vader kan ek dit oplees en wat presies het daar gebeur

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

Nee, die storie staan nie in die Bybel nie.

Die Bybel sê dat die Here besluit wanneer iemand sal sterwe.

  • 2 Samuel 24:16 sê dat die Here sy engel gestuur het om Israel met pes te tref, en ook vir die engel later beveel het om daarmee op te hou (vgl. ook 1 Kronieke 21:15)
  • 2 Kronieke 32:21 vertel hoe die Here sy engel gestuur het om al die Assiriese soldate wat Jerusalem omsingel het dood te maak (vgl. Jesaja 37:36).
  • Handelinge 12:23 vertel van die engel van die Here wat Herodes met wurms laat verteer het tot hy gesterf het, omdat Hy nie die eer aan God gegee het nie, maar aanvaar het dat die mense hom ‘n god noem.
  • Vir die ryk dwaas sê God: Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het (Lukas 12:20)

 

Vir die Here kan jy ook nie wegvlug of wegkruip nie. Hy is oral teenwoordig. Lees maar Ps 139.

 

Maar die goeie nuus is dat Jesus vir ons sonde gesterf het, en dat ons nou kan uitsien daarna om by Hom te wees wanneer ons sterf (Filippense 1:20-23), en niks, selfs nie die dood ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:38,39). Deur Jesus se sterwe word die dood vir ons ‘n deurgang na die ewige lewe by God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Vir die mense

I beseech Christ for this one thing only, that He will enable me to endure all things courageously, and that He break me as a potter’s vessel or make me strong, as it pleases Him.  –  Huldrych Zwingli

 

Vir die mense

In die bergrede verwys Jesus na drie spesifieke gebiede waar ons as mense geneig is om vir die pawiljoen te speel – sodat die mense ons raaksien. Al drie, reg gebruik, is baie goeie dinge. Kom ons kyk na hulle.

 

 1.Blaas jy jou eie basuin?

Moenie Julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat (Matteus 6:1 – 4). Jesus verwys hier na die godsdiensleiers wat hulle goeie dade uitbasuin – en Hy noem hulle skynheilig. Al beloning wat hulle sal kry, is die aandag van mense. God wil niks weet van hulle skynheiligheid nie.

 2.Die aandagsoekende bidder

 As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie (Matteus 6:5 – 6).  Weer verwys Jesus na die skynheiliges – mense wat bid sodat die mense hulle kan sien.  Natuurlik is daar niks mee verkeerd om in die openbaar te bid nie. Wat van belang is, is die motivering.

 3.Hoekom vas ons?

As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas … Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig, sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie.  Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matteus 6:16 – 18). Natuurlik is vas nie verkeerd nie. Wat belangrik is, is hoekom jy vas.

 

Wat leer ons uit hierdie drie voorbeelde? As ons dinge doen om mense te beïndruk, het ons ons beloning klaar weg. Al gee jy baie vir die armes en jy basuin dit uit – maak seker dat almal sien jy offer op vir armes – het jy jou beloning weg – volledig. Wat moet ons dan doen? Ons moet deur ‘n ewigheidslens na ons optredes kyk en sien wat belangrik is en wat nie belangrik is nie. Ons moet optree asof ons weet dat God kyk.

 

Die beloning wat ons van mense kry, laat ons goed voel – vir ‘n kort tydjie. Dit gaan verby. Net God se belonings het ewigheidswaarde. Enigiets wat nie deur liefde gemotiveer word nie, sal nie vir ewig duur nie.