Luister die gemeente?

You may know God, but not comprehend him. —Richard Baxter

 

Luister die gemeente?

Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie (Openbaring 3:2).

Erwin Lutzer sê dat hierdie woorde van Jesus Christus die opdrag vir vandag se kerk is. Hier het ons opdragte gerig aan ons in ons kultuur.

‘n Tragedie wag op ons as ons nie luister nie.

 

Jesus begin sy boodskap aan die gemeente in Sardis met hierdie diagnose: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Die gemeenskap het hierdie gemeente hoog aangeslaan, maar Jesus plaas sy stetoskoop op die gemeente se hart … en Hy hoor geen hartklop nie. Die goeie werke van die gemeente steek die tekens van die dood weg. Sardis het ‘n reputasie, maar geen lewe nie.

 

Vandag evalueer ons gemeentes op grond van hulle getalle, hulle begrotings of al die verskillende bedienings wat mense in staat stel om te aanbid en te dien. Maar die gemeente se impak op die morele en geestelike agteruitgang van ons hedendaagse kultuur is skaars waarneembaar. Dit is tragies dat party gemeentes moet sluit as gevolg van verdeeldheid, gebrek aan fondse of ‘n gebrek aan belangstelling. God se reputasie in ons samelewing word hierdeur afgetakel. Dit is iets om oor te huil.

 

Maar alles is nie verlore nie. Alhoewel die gemeente in Sardis dood was, wys Jesus dat daar tog tekens van lewe is: Maar julle het darem ‘n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie. As Jesus nie deur die totale gemeente kan werk om die lewe in die gemeente te herstel nie, kan Hy deur ‘n klein groepie wat geweier het om kompromieë met die kultuur aan te gaan, werk. Hy werk deur diegene wie se harte reg is en wat getrou aan hulle roeping is.

 

Jesus skryf nou ‘n genesing vir die gemeente voor:

  • Word wakker; erken die neerdrukkende werklikheid van julle leweloosheid. Hulle moes begin deur hulle eie swakheid en afname in invloed te ondersoek. Hulle moenie langer met die vals versekering dat hulle lewe, maar in werklikheid dood is, saamleef nie. Eerlikheid is die eerste tree.
  • Versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Diegene wat getrou gebly het, moet diegene wat geestelik lam is, help om weer te lewe. Daar is baie mense en programme in ‘n gemeente wat behoue behoort te bly … as hulle maar net nuwe lewe kon kry. In ons gemeentes vandag is daar baie om ons te bemoedig; daar is nog tekens van lewe, maar dikwels is daar ook die tekens van die dood.
  • Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Baie van ons gemeentes het vergeet van die evangelie. Hulle plaas allerhande plaasvervangers in die plek van die evangelie. Dit is aan die voet van die kruis waar die kerk lewe en asemhaal. Net die evangelie kan lewe in ‘n lyk blaas. Dit is alleenlik as lidmate duidelik die evangelie verkondig en uitleef dat die gemeente gered kan word.
  • Bekeer julle. Draai weg van die sonde; draai na Christus. Hulle moet bid dat hulle Christus weer opnuut sal liefhê en van al hulle afgode afstand doen. Dit sal pynlik, maar noodsaaklik, wees as hulle wil hê dat hulle gemeente weer lewe moet kry.

 

Jesus het geleer dat die kerk in die wêreld maar nie van die wêreld moet wees nie. Dit beteken die kerk is soos ‘n skip in die oseaan. As weet dat as die oseaan in die skip kom, is daar moeilikheid. Vandag moet ons erken dat die kerk lek en water stroom in. Ons kan nie mense uit die water red as ons self besig is om onder te gaan nie.

 

Wat sê God vir die kerk vandag? Ons, soos baie gelowiges in Sardis, het ons klere besoedel deur morele kompromieë aan te gaan. Dit verswak ons en weerspreek ons getuienis. Die kerk het hom aan die kultuur uitverkoop. Ons konsentreer op die meer positiewe aspekte van die Christelike leer, maar ignoreer die moeilike sake soos oordeel en hel. Die probleem is dat ons nie meer ons kompromieë en sondes raaksien nie.

 

Wat kan ons doen? Ons moet wat Christus vir die gemeente in Sardis gesê het vir onsself toeeien. Gemeentes moet die stand van hulle geestelikheid in alle nederigheid evalueer. Ons moet toelaat dat Jesus sy stetoskoop op ons harte plaas en vir ons presies sê wat die stand van ons geestelike gesondheid is. Hierna volg belydenis – nie net individueel nie, maar ook die gemeente as geheel. Ons moet die strekpunte wat daar nog is identifiseer. Ons moet voortdurend ons geestelike toestand evalueer.

 

Wat gaan gebeur as ons dit nie doen nie? As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ‘n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle afkom nie. Dit is ‘n waarskuwing aan die gemeente dat Christus die gemeente sal oordeel; Hy sal die gemeente teregwys en dissiplineer. Vandag is daar nie ‘n kerk waar Sardis eens was nie. Dit is ‘n herinnering dat ons nie sommer ons eie toekoms kan aanvaar nie.

 

Maar Jesus maak ook ‘n belofte aan die getroues in Sardis: Hulle sal altyd in wit klere by My wees … Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

 

Jesus sluit sy boodskap aan die gemeente in Sardis af met die woorde: Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees vir die gemeente sê.

 

Luister ons?

 

 




Neigings wat ons onrustig moet maak

The one indispensable requirement for producing godly, mature Christians is godly, mature Christians. —Kevin DeYoung

 

Neigings wat ons onrustig moet maak

Verskeie studies toon aan dat evangelicals in die VSA oor die algemeen nie weet wat hulle glo en hoekom hulle dit glo nie. Meeste van hulle glo in die goedheid van die mens – soos die res van die samelewing. Hulle is ook nie oortuig van die noodsaaklikheid van God se verlossende genade in Jesus Christus nie. Meeste evangelicals glo ons word gered omdat ons goed is. Daar is baie paaie van verlossing afgesien van geloof in Jesus Christus!!

 

 Michael Horton identifiseer vier neigings in die hedendaagse kerklewe wat ons onrustig moet maak.

1.Ons het te veel vertroue in ons eie woorde

Kerke volg klakkeloos die nuutste neigings in pop sielkunde, bemarking, politiek, vermaak en die leierskap van entrepreneurs na. Ons moet ons vertroue in die Drie-Enige God herwin. Ons moet weer luister as Hy ons met gesag leer – in sy Woord.

2.Ons het te veel vertroue in ons eie metodes

Ons glo in ons eie metodes om sukses te behaal. Dit geld ook vir persoonlike, sosiale en kerklike transformasie. Ons moet weer leer om op God se oordeel en genade te vertrou – sy optrede in genade.

3.Ons het te veel vertroue op ons eie goeie werke.

Ons glo dat ons goeie werke is wat God van ons verlang voor Hy ons verlos. Ons moet weer bely en op ons knieë gaan, nie alleen vir ons sondes nie, maar ook vir ons gewaande geregtigheid.

4.Ons is te bekoor met ons eie heerlikheid

 Die koninkryke wat ons besig is om te bou, bekoor ons. Die Hebreër-skrywer waarsku ons: Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil (12:28). Wat van belang is, is God se koninkryk en nie ons eie koninkrykies nie.

 

Dit is tyd dat ons ophou luister na die vals beloftes van die wêreld en weer na God se Woord luister – na sy verlossingswerk in Jesus Christus en die heerlikheid van die Drie-Enige God. Dit moet ons enigste doelwit wees. Dan sal ons ‘n herlewing in Christelike dissipelskap,  aanbidding en sending in die wêreld sien.

 

 




Geestelike droogte

Since the primary motive of evil is disguise, one of the places evil people are most likely to be found is within the church. What better way to conceal one’s evil from oneself, as well as from others, than to be a deacon or some other highly visible form of Christian within our culture? Martin Buber, Good and Evil

 

Geestelike droogte

Henri Nouwen:

Soms ondervind ons ‘n erge droogte in ons geestelike lewe. Ons voel nie lus om te bid nie; ons is nie bewus van God se teenwoordigheid nie; die eredienste verveel ons. Soms is dit so erg dat ons dink dat alles wat ons oor God, Jesus Christus en die Heilige Gees geglo het, net ‘n feëverhaal was.

  

Dan moet ons onthou dat hierdie gevoelens en gedagtes net dit is – gevoelens en gedagtes. Die Gees van God beweeg verder as ons gevoelens en gedagtes.

Dit is ‘n groot genade as ons God se teenwoordigheid in ons gevoelens en gedagtes ervaar. As ons dit nie ervaar nie, beteken dit nie dat God afwesig is nie. Dikwels beteken dit dat God ons tot groter trou en gehoorsaamheid oproep. Dit is juis in tye van geestelike droogte wat ons moet vasklou aan ons geestelike dissipline. Dan ervaar ons ‘n nuwe intimiteit in ons verhouding met God – ons groei geestelik.

 

 




Ondankbaarheid

 “Sow a thought, reap an action: Sow an action, reap a habit; Sow a habit, reap a character; Sow a character, reap a destiny.”  —Samuel Smiles 

 

Ondankbaarheid

Op 29 May 1754 skryf George Washington aan Goewerneur Dinwiddle as daar een sonde is wat hy haat dit that black and detestable one, ingratitude is. Washington het die vernietigende krag van ondankbaarheid verstaan.

In Numeri 21 lees ons dat die Israeliete weer ongeduldig geword het en teen God en Moses uitgevaar het: Hier is nie behoorlike kos of water nie. Ons is nou al siek en sat vir hierdie walglike kos (Die Boodskap). Maar in die voorafgaande gedeelte lees ons dat God hulle gehelp het om die Kanaäniete te verslaan. Dit was ook nie die eerste keer dat hulle gekla het nie.

 

Ses dae per week kry hulle manna uit die hemel, maar hulle was ondankbaar – hulle wou iets anders gehad het om te eet. God reageer deur giftige slange onder die volk in te stuur – baie van hulle is dood.  Dit lei tot berou en ‘n belydenis van die volk. Hulle smeek God om genade. Weereens red God hulle – deur die koperslang.

 

Johannes 3:14: Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ‘n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ‘n kruis opgelig word. Net soos met die koperslang sal mense genees word deur op te kyk na die kruis. Die ondankbaarheid van die Israeliete het letterlik tot die dood gelei. Hulle het brood uit die hemel gehad om aan hulle behoeftes te voldoen, maar hulle het dit verwerp. Geestelik sal die verwerping van die ware Brood van die Lewe ook lei tot die dood.