Teologie teenoor God

“When Christ is Lord, nothing is secular.” John Stott

 

Teologie teenoor God

In sy boek (Killing Calvinism) skryf Greg Dutcher dat daar ‘n neiging by Christene is om meer beïndruk met hulle teologie as met God te wees. Hierdie is ‘n versoeking wat vir alle godsdienste geld – nie net vir Calviniste nie. Luister net na hierdie gebed van hom:

  

Almagtige God,

Dankie dat U aan my oë, ore, ‘n geheue en ‘n intellek gegee het. U  stel my in staat om die wonder van u soewereine genade dwarsdeur die wêreld raak te sien. As U my nie gekies het nie, sou ek nie u kind gewees het nie. As u my nie eerste liefgehad het nie, sou ek U nooit liefgehad het nie.

 

Mag ek nooit meer beïndruk wees met die teologie wat my hierdie dinge duidelik laat sien as om vir U te sien nie. Vergewe my vir die kere toe ek my verstaan van U ‘n afgod gemaak het.

 

As ander my sien, mag hulle ‘n persoon wat oorweldig deur u heerlikheid en nederig voor u genade staan, sien.

 

Om Jesus se ontwil.

Amen

 

 




Leef uit jou Doop: 5.8 Onderdompeling en besprinkeling

Leef uit jou Doop: 5.8 Onderdompeling en besprinkeling – Adrio König

5.8 Onderdompeling en besprinkeling

Daar is heelwat misverstande in die doopdiskussie.

♦  Die een was dat dit ’n keuse is tussen grootdoop en kinderdoop, ’n ernstige misverstand wat die hele diskussie skeefgetrek het omdat alle kerke natuurlik die grootdoop aanvaar, en die vraag net is of die kinderdoop ook ’n aanvaarbare vorm van doop is.

♦  Die tweede misverstand is dat dit ’n keuse is tussen onderdompeling en besprinkeling.

Natuurlik kan daar geen sprake daarvan wees nie. Die klassieke Gereformeerde doopformulier noem die twee saam, trouens onderdompeling word selfs vóór besprinkeling genoem. Een van die redes vir die misverstand is waarskynlik dat die meeste kerke wat kinders doop ook besprinkel, terwyl die verwerpers van die kinderdoop konsekwent onderdompel, en besprinkeling verwerp.

 

Kom ons kyk een-een na die twee doopmetodes. Maar eers net die opmerking dat daar nie in die Bybel besondere aandag gegee word aan die doop-metode nie, wel uitvoerig aan die doop-betekenis (hoofstuk 2).

 

Onderdompeling

Die verwerpers van die besprinkeling het veral drie argumente waarmee hulle mense wil oortuig dat net onderdompeling regtig doop is. Ons het reeds in 4.6 breedvoerig hierna gekyk. Kom ons som dit net weer kortliks op.

 

Eerstens meen die groepe wat besprinkeling verwerp dat dit duidelik is hoe daar in die tyd van die Nuwe Testament gedoop is. Ons lees dat die Etiopiër en Filippus in die water ingegaan het en weer uit die water uitgekom het (Hand 8:38, 39). Dit sou tog net na onderdompeling kon verwys. Verder lees ons dat Johannes by Enon naby Salim doop “waar daar baie water was” (Joh 3:23). ’n Mens het tog nie baie water nodig vir besprinkeling nie. Verder word die doop ’n “bad” genoem, en ’n mens kan tog nie in ’n paar druppels water bad nie (die Grieks van Ef 5:26; Tit 3:5). Telkens lees ons van die doop as ’n “afwassing” (Hand 22:16; 1 Kor 6:11). Dit alles sou dan op geen manier met besprinkeling in verband gebring kon word nie.

 

Tweedens gaan dit oor die Griekse woord vir doop. Volgens hulle beteken hierdie woord eintlik “onderdompel” sodat ’n mens kon verwag dat oral waar daar in die Bybel “doop” staan, dit eintlik “onderdompeling” moes gewees het.

 

Derdens wys hulle op die betekenis van die doop. Paulus leer uitdruklik dat ons deur die doop saam met Christus begrawe word en opstaan (Rom 6; Kol 2). Om begrawe te word, moet ’n mens tog onder die water verdwyn, en om op te staan, tog weer bo die water uitkom.

 

Kom ons kyk nou van ’n ander kant af na hierdie argumente. Maar vooraf net weer: Ons gaan nie nou ’n argument téén onderdompeling voer nie. Die Gereformeerde doopformulier erken onderdompeling al by die 500 jaar lank. Die vraag gaan maar net wees of dit regtig die enigste metode is hoe daar gedoop behoort te word, en verder of die Nuwe Testament regtig enige besondere waarde aan die doop-metode heg.

 

Is daar onderdompel in die Nuwe Testament?

Die verwysing na die Etiopiër se doop is ’n misverstand. Beide gaan in die water in en beide kom uit. Filippus is tog nie ook gedoop nie. Hierdie woorde sê nie hoe die man gedoop is nie, maar net dat albei in die water ingegaan het en die doop toe plaasgevind het. Maar waarom dan in die water ingaan? Vir besprinkeling het ’n mens tog net ’n handvol water nodig. Dis ook ’n misverstand. Daar is inderdaad predikante wat net met ’n paar druppels water doop, maar dit was nie die gebruik in Bybeltye nie. Daar is met baie water gedoop. Daar word immers gepraat van die doop as ’n “bad” en ’n “wassing”, en dat Johannes gedoop het waar daar baie water was. Daarom gaan beide in die water in.

 

Om hoe te doop? Daar is ’n ou rotstekening in Rome waar Johannes vir Jesus doop. Beide staan in die water. Johannes is ’n groter figuur. Hy staan half bo-oor Jesus. Sy hande is ook bo-oor Jesus, en die water stroom van sy hande af oor Jesus. Die verskil tussen onderdompeling en besprinkeling is nie baie of min water nie, dis hoe die water gebruik word. En dis goed moontlik dat die baie water juis nie vir onderdompeling gebruik is nie, maar vir besprinkeling. Immers “bad” en “was” geskied nie deur onderdompeling nie. As ’n mens bad of was, gaan jy nie onder die water in nie, jy spoel/sprinkel die water oor jou.

 

Daar is nie regtig een voorbeeld in die Bybel waar dit seker is dat daar deur onderdompeling gedoop is nie. En dit blyk nou ook waarom. Die woorde wat in die Nuwe Testament vir die doop gebruik word (bad, was), pas nie regtig by onderdompeling nie, maar wel baie goed by besprinkeling. Niemand was of bad deur onder die water te verdwyn nie.

 

Die betekenis van die woord vir doop

Die Griekse woorde vir doop word dikwels in die Nuwe Testament gebruik. ’n Mens kan dus net na die gebruik gaan kyk om te bepaal of dit regtig “onderdompel” beteken.

♦  Jesus verwys na sy komende kruisiging met die woord “doop” (Mark 10:38). Maar sy kruisiging kon moeilik ’n onderdompeling gewees het.

♦  Hy verwys na die koms van die Gees met die woord “doop”: “Maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word” (Hand 1:5). Wanneer die Gees dan kom, word hulle nie in die Gees onderdompel nie, maar sien hulle iets soos vuur wat op elkeen vanhulle kom (Hand 2:3).

♦  Paulus verwys na die deurtog deur die see tydens die uittog as ’n “doop”, maar die Israeliete was nie onder die water nie (1 Kor 10:2).

 

Daar is talle ander voorbeelde waar “doop” gebruik word sonder dat dit “onderdompel” kan beteken. Sommige kritici besef dit, maar dan word die argument verander, en lui: Elke keer wanneer die woord “doop” vir die waterdoop gebruik word, beteken dit onderdompeling. But isn’t that begging the question?

 

Die betekenis van die doop

Kom ons kyk na die argumente dat die betekenis van die doop vereis dat dit deur onderdompeling bedien word. Ons word immers deur die doop begrawe en opgewek. Onthou dit gaan nie om my eie begrafnis en opstanding nie, ek kry deel aan Christus se begrafnis en opstanding. Kan sy begrafnis deur onderdompeling voorgestel word? Hulle het Hom mos nie in ’n graf laat afsak sodat ek nou ook onder die water moet verdwyn as my simboliese vereniging met sy begrafnis nie. Hulle het Hom tog in ’n grot ingedra. Dit gaan dus in sy begrafnis en opstanding nie om ’n vertikale beweging onder die grond in en weer bokant die grond uit nie. Dit gaan om ’n horisontale beweging, ’n sywaartse beweging toe Hy in die grot in ge dra is en uit die grot uitgeloop het. Hoe kan my on der dompeling dit voorstel?

In ’n gat In ’n grot

 

Moderne begrafnis Christus se begrafnis en opstanding

Maar hier is meer. Waarom word Jesus se begrafnis en opstanding uitgesonder uit ’n veel langer lys? Immers deur die doop

♦   is ons saam met Christus gekruisig.

♦   het ons saam met Christus gesterwe.

♦   is ons saam met Hom begrawe.

♦   is ons saam met Hom opgewek.

♦   is ons saam met Hom in die hemel opgeneem.

♦   is ek saam met Hom in God verborge (Rom 6; Ef 2:6; Kol 2-3).

Waarom nou uit hierdie lys van betekenisse net twee uithaal: sy begrafnis en opstanding? Dan moet ons mos ’n doopmetode kry wat al hierdie betekenisse voorstel. Hoe moet ons dan doop?

 

En verder, wat van al die ander betekenisse van die doop? (Hoofstuk 2) Dit is mos onmoontlik om die groot Begrafnis Opstanding Begrafnis Opstanding verskeidenheid deur een handeling voor te stel. Kom ons ruim die misverstand uit die weg. Die misverstand is nie dat my doop al hierdie wonderlike betekenisse het nie. Natuurlik skryf Paulus dat ek deur die doop met Hom verenig is; dus met sy kruis, dood, begrafnis, opstanding, hemelvaart. En natuurlik is daar nog al die ander betekenisse ook. Wat ’n heerlike ryk verskeidenheid van betekenisse het my doop! Prys die Here!

 

Maar nou die misverstand. Dit is dat dit alles deur die metode van doop voorgestel moet word. Paulus verklaar nêrens dat die metode van doop die ryk betekenis van die doop moet voorstel nie, en natuurlik sou hy nooit, want die doop het so ’n ryk betekenis dat dit onmoontlik deur een metode voorgestel kan word. Dit is dus nie korrek om te beweer dat die betekenis van die doop die onderdompeling vereis nie.

 

Onthou dat die doopmetode nêrens in die Nuwe Testament beklemtoon word nie. Daarom praat die Gereformeerde doopformulier van twee metodes: onderdompeling én besprinkeling. Maak jou keuse.

Besprinkeling

Net so min as wat die doop net deur onderdompeling mag geskied, kan ons vereis dat dit juis besprinkeling moet wees. Die doopmetode is nêrens regtig aan die orde in die Nuwe Testament nie.

Maar terwyl ons noukeurig na onderdompeling in die Nuwe Testament gekyk het, sal dit interessant wees om dit ook met besprinkeling te doen. Anders as met onderdompeling, is besprinkeling wel in verband met die doop ter sprake. Ons lees twee keer van besprinkeling wat beswaarlik na iets anders as die doop kan verwys. Volgens Hebreërs 10:22 is ons harte deur besprinkeling gereinig van ’n skuldige gewete (kyk 1953-vertaling – al vertaal 1983 en NLV nie so nie), en vervolg direk daarna dat ons liggame gewas is met skoon water. Dit kan beswaarlik om iets anders as die doop gaan. En die argument dat die tweede deel juis na onderdompeling verwys (“gewas”), kan mos juis nie werk nie. ’n Mens was jou nie deur onder die water in te gaan nie, maar deur water oor jou te sprinkel/spoel/gooi. Hier is dus sprake van “was” deur besprinkeling.

 

Die ander voorbeeld is 1 Petrus 1:2. Petrus skryf oor die feit dat God hulle tot geloof gebring het. Hulle is uitverkies om … “besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus”. Waarna kan dit anders verwys as die doop? En maak dit nie volkome sin dat sowel Johannes die Doper as die apostels aanvanklik juis deur besprinkeling sou gedoop het nie? Ons het vroeër daarop gewys dat die doop aanvanklik juis met sondevergifnis en reiniging van sonde verbind is, en dat juis dit terugverwys het na die Groot Versoendag toe die hele volk besprinkel is met die bloed van ’n bul (Lev 16). Dis bekend dat besprinkeling in die Ou Testament met reiniging en vergifnis verband gehou het, en die eerste bekeerlinge was Jode wat uit die Ou Testament geleef het. Esegiël verwys selfs na ’n toekomstige reiniging en vernuwing  deur besprinkeling(“water oor hulle uitgooi” – 36:25).

 

Dink jou in Johannes begin met ’n reinigingsgebruik wat geen grond in die Ou Testament gehad het nie – onderdompeling. Sommige godsdienstige leiers was skerp teen hom gekant. Sou hulle die kans laat verbygaan het om hom te beskuldig dat hy afwyk van die bekende reinigingsmetode (besprinkeling) van die Ou Testament? Dus enersyds het besprinkeling beter grond in die Nuwe Testament as onderdompeling (waarvan daar geen sprake in die Ou Testament is nie), maar andersyds word geen metode ooit beklemtoon nie. Daarom moet ons mekaar vrylaat om te kies hoe ons gedoop wil word, of hoe ons ons kinders wil laat doop: die besprinkeling of deur onderdompeling.

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Skrywer: Prof Adrio König




Musici

If it is hard to accept a rebuke, even a private one, it is harder still to administer one in loving humility. —D.A. Carson

 

Musici

Het jy al mooi gekyk na ‘n orkes en hoe hulle saamwerk om resultate te kry?  Wat kan ons by hulle leer?

 

  • Jy moet jou deel leer. As jy nie weet wat gaan aan nie, kan jy nie waarde toevoeg en ‘n bydrae maak nie. Al wat jy kan bydra is geraas en verwarring. Ken jou rol; ontwikkel jou vaardighede sodat jy kan doen wat jy moet doen.
  • Speel jou deel. Jy kan net doen wat jy kan doen – wat jy geleer het om te doen. Jou voorbeeld sal ander aanmoedig om ook hulle deel te doen.
  • Hou die wysie; bly by die ander. Jy kan nie sommer vooruit storm of agterraak nie. Dit beteken mos niks as jy vooruit gaan sonder die ander nie. Gee aandag en hou pas.
  • Die lewe is nie altyd interessant nie, maar dit is ook nie ‘n voorspelbare roetine nie. Jy moet doen wat nodig is wanneer dit nodig is. Lees die situasie en reageer daarop.
  • Eindig goed. As jy jou deel klaar gespeel het, moet iemand opmerk dat jy met passie gespeel het. Iemand moet sien dat jy waarde toegevoeg het – dat jy jou bes gedoen het.

 

Ons lewens op aarde is maar kort. Niemand kan daardie lewe namens my leef nie.

 

 

 

 




God roep my om op te offer

“When Christ is Lord, nothing is secular.” John Stott

 

God roep my om op te offer

Nêrens in die Bybel lees ons dat God se kinders nie gaan swaarkry nie. Jesus maak dit baie duidelik dat die wêreld hulle sal haat (Johannes 17:14). God se wil is nie meer vir die moderne mens belangrik nie. Dit skep spanning by sy kinders. Ons hou nie daarvan as die wêreld ons haat nie; ons wil graag deel van die wêreld wees. Dit is dan wat gelowiges allerhande kompromieë met die wêreld aangaan.

 

 

Christene moet opoffer. As God my roep, gee Hy aan my sekere verantwoordelikhede en verwag Hy van my sekere opofferings. As daar iemand is wat moes opoffer, was dit Jeremia. Lees net weer sy lewensverhaal:

  • Sy roeping was nie maklik nie: Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Jeremia het goed geweet dat as hy hierdie roeping gaan uitvoer hy beslis nie die gewildste persoon in Israel gaan wees nie.
  • Hy mag nie getrou het nie. Seker die belangrikste lewensanker naas God, jou familie, was hom nie beskore nie.
  • Jeremia word gemartel, in die tronk gegooi en in ‘n put gehou. Hier versmoor hy byna.
  • So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek (27:2). Geen wonder Jeremia word gereeld deur die volk gespot nie.

 

Uit hierdie kort skets is dit duidelik dat Jeremia ‘n moeilike pad geloop het. Alles was teen Jeremia, maar hy het nooit sy boodskap of sy roeping versaak nie. Hoe kry hy dit reg: Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red (1:19). Dit hoekom ons kan en moet volhard al gaan dit swaar met ons: ons het die versekering dat God met ons is.