Is ons verbruikers?

In the Lord’s prayer I never doubt that I have prayed according to God’s will – Martin Luther

 

Is ons verbruikers?

Daar word baie geskryf oor die verbruikersmentaliteit in die kerk. Die kritiek fokus gewoonlik op afgodery – die versoeking om materiële dinge en nie God nie sentraal in ons lewens te plaas. Maar ons moet tog dinge verbruik om te lewe. Die probleem is nie verbruik om te lewe nie, maar lewe om te verbruik.

 

 Ons leef in ‘n kultuur wat ons verhoudings en optrede primêr definieer deur ‘n matriks van verbruik. Ons beoordeel ons eie waarde en die waarde van ander op grond van die dinge wat ons koop. Ons identiteit word nou bepaal deur die klere wat ons dra, die motor wat ons bestuur en die musiek op jou iPod – dit wat ons verbruik.

 

As hierdie verstaan van ons wêreld en onsself ons geloof insypel gebeur twee dinge:

  • God word van God na ‘n kommoditeit gereduseer. Sy waarde, soos dié van alle ander dinge, word bepaal deur hoe nuttig Hy vir ons is. Vir verbruikers is persoonlike begeertes en hulle vervulling die strewe. Alles en almal – ook God – is daar om hierdie begeertes te bevredig. Maar die Bybel sê ons moet ons aan God onderwerp en in nederigheid saam met Hom loop. Verbruikers sien God as ‘n middel tot ‘n doel – ‘n nuttige instrument om ons begeertes te vervul. God word nou ‘n terapeut.
  • Jesus Christus is nie meer Here nie, maar ‘n etiket. Toe die vroeë Christene gesê dat Christus die Here is, het hulle die gewilde siening – die keiser is here – van destyds omgekeer. Dit was ‘n verklaring van Jesus se gesag en mag oor alle dinge. Hy is ons hemelse Koning.

 

Vir verbruikers is die kliënt koning. Christene se verwagting is nie meer gehoorsaamheid en trou aan Christus nie, maar die verbruik van allerhande Christelike goedere en ondervindings – musiek, boeke, T-hemde, konferensies, ens. Ons leef nie meer die waardes en etiek van God se koninkryk uit nie, maar dié van ons verbruikerskultuur. Ons identiteit as Christene is ‘n dun lagie vernis.

 

Dit beteken ons moet moeilike vrae oor ons geloof vra. Soek ek werklik ‘n lewe met God of gebruik ek Hom net? Is Christen ‘n etiket wat ek aanplak of beïnvloed dit my lewe en gedrag? Verkondig ons Jesus Christus as die middelpunt van ons lewens? Of word Hy verpak en verkoop as ‘n kommoditeit?

 

 




God sê nee

God sê nee – Francois Malan

Danie vra:

Ons omgeegroep wil gesels oor die onderwerp: “Soms sê God nee.” Het u asb vir my inligting omtrent dit as ‘n tema.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die belangrikste voorbeeld is Jesus in Getsemane, wat begin vra dat die lydensbeker by Hom verbygaan, en met elke volgende gebed al meer aanvaar dat sy Vader nee sê, en Hy hom daaraan onderwerp (Mat 26:39-44; vgl. Mk 14:35-41; Lk 22:42-44.)

 

God sê soms nee vir ons gebede omdat dit nie volgens sy wil vir ons is nie:

So sê die Here nee vir Moses wat gevra het om God se magtige verskyning te sien– dit sou Moses se lewe kos (Eks 33:18-20).

Die Here sê ook nee vir Moses se gesmeek om die beloofde land in te gaan nadat hy destyds nie gehoorsaam was, nie met die rots gepraat het nie, maar uit frustrasie vir die volk se gekerm die rots geslaan het (Deutr. 3:23-29; vgl. Dt 1:37; Num 20:8-12).

 

Die Here het ook nee gesê vir Dawid se gebed vir die lewe van sy kind, wat hy buite-egtelik by Uria se vrou Batseba verwek het (2 Sam 12:15-23).

 

Vir die ballinge in Babel sê die Here nee omdat hulle afgode dien (Eseg.20:3,30-32).

 

Vir Paulus sê God drie maal nee op sy gebed om die doring uit sy vlees te verwyder, omdat die genade van die Here vir hom genoeg is, en God se krag juis tot volle werking kom wanneer Paulus swak is (2 Kor 12:8,9), vgl Paulus se ontberings as apostel wat so die beeld van Christus aan die kruis vertoon (2 Kor 11:23-33).

 

Redes waarom gebede misluk:

 

Ongehoorsaamheid (Deutr. 1:42-46; 1 Sam 14:37; 28:6)

Geheime sonde (Ps 66:18)

Onverskilligheid teenoor God (Spr 12:28)

Geen barmhartigheid betoon (Spr 21:13)    

Minagting van die wet van God (Spr 28:9)

Skuldig aan moord (Jes 1:15)

Onregverdigheid (Jes 59:2; Miga 3:4)

Hardkoppigheid (Sag 7:11-13)

Onstandvastigheid (Jak 1:6,7)

Selfbevrediging (Jak 4:3)

1 Joh 5:14 moedig ons aan om met vrymoedigheid tot God te gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

 

1 Petr.3:7 waarsku dat as ‘n man nie verstandig met sy vrou saamleef nie, sy gebede verhinder sal word. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Druiwesap of wyn

Druiwesap of wyn – Francois Malan

Cecil vra:

Ek kan nie saam met professor Francois Malan stem oor sy raad dat druiwesap en/of wyn tydens Nagmaal gebruik mag word. Dit is baie duidelik dat Jesus wyn gebruik het. Ek het nie genoeg ruimte om my standpunt volledig te staaf nie, maar slegs die volgende – In Palestina begin die druiwe in Junie eers ryp te raak terwyl dit gedurende September geoes word. Daar kon dus tydens die paasfees geen druiwe voorhande gewees het om die sap uit te pers nie. Wyn impliseer ook iets wat klaar deur ‘n gistingsproses is. Ek is van mening dat hier verkeerde advies verskaf is.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die nagmaal gaan dit nie oor die wyn of die brood nie, wat slegs tekens is wat heen wys na die bloed en die liggaam van die Here Jesus. Sy bloed wat aan die kruis vergiet is en sy liggaam wat gebreek is, is die uiterlike bewyse van God wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het om die straf op ons sonde te dra, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê (vgl. Joh 3:16; 1:29). Die Evangelie volgens Johannes vermeld nie eers die instelling van die Nagmaal nie, maar beskryf ‘n paar wondertekens en baie woorde van Jesus sodat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

 

Die doel van die instelling van die Nagmaal volgens Mt, Mk, Lk en 1 Kor. is dat ons die offer van God vir ons sondes sal onthou, en ons lewe daarvolgens inrig. Dit kan ons slegs doen as ons een word in sy dood, deur te sterwe aan ons self (Rom 6:5), deur ons self te verloën, en nie vir ons self te lewe nie (Mat 16:24-26), maar uit liefde vir God en ons medemens (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:3-11). Wanneer ons egter konsentreer op wyn of druiwesap en nie op die liefdesdaad van Jesus nie, het ons die betekenis van die Nagmaal verloor. Dit is presies wat in die gemeente in Korinte gebeur het. Die rykes het die armes verneder het deur alles self te eet en te drink, sonder om die liefdesmaal met die armes in die gemeente te deel. Toe word hulle gebruik van wyn en brood ‘n teken van verdeeldheid in die gemeente, en van die rykes se gebrek aan liefde vir God en hulle mede-gelowiges. En so het hulle God se oordeel oor hulle self geëet (1 Kor 11:17-34).

 

Dat Jesus wyn gebruik het, stem ek mee saam, al het nie een van die berigte oor die instelling van die Nagmaal die woord ‘wyn’ gebruik nie: Mt 26:27 verwys na ‘die beker’; so ook Mk 14:23 Lk 22:17 (Mat 27:25 se ‘nuwe wyn’ is ‘n poging om die oorspronklike ‘vrug van die wynstok’ verduidelik; so ook Mk 14:25 en Lk 22:18; Matteus en Lukas het waarskynlik Markus as een van hulle bronne gebruik by die skryf van hulle Evangelies). 1 Kor 11:25-29 gebruik ook die woord ‘beker’, hoewel die rykes hulle te buite gaan en dronk word van wat hulle drink (1 Kor 11:21; die NAV het ‘te veel drink’ om dit effe te versag; maar die Griekse methuoo verwys na dronk word van wyn Ef 5:18, in NAV ‘aan drank te buite gaan’, of figuurlik gebruik soos bv. dronk drink aan  bloed, soos in Openb 17:6).  

 

Die punt wat ek wou maak is dat die Nagmaal deur Jesus ingestel is met ‘n beker (wat waarskynlik wyn in gehad het), maar dat wyn nie spesifiek genoem word in die Evangelies nie, en dat wyn as sodanig nie die belangrike is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy Liefde jou Lei: Jou geloofsreis

Laat sy Liefde jou Lei: Jou geloofsreis – Milanie Vosloo

Jou geloofsreis

Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieёl, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan. 1 Korintiёrs 13:12

Geloof is ‘n reis: ‘n Ontdekkingstog wat ons onderneem vandat ons die eerste keer van “Liewe Jesus” gehoor het totdat ons eendag self voor die lewende God staan. Nou weet ons almal dat ‘n reis nie noodwendig net maanskyn en rose is waarin ons met gemak van punt A na punt B beweeg nie. Heel dikwels gaan ‘n reis gepaard met teenspoed, onverwagse ompaaie, moeilike fases en ernstige verdwaal-tye.

Aanvaar vandag dat jy as gelowige deur fases kán gaan wanneer jy wonder oor die sinvolheid van jou geloof, oor God se goedheid en oor die waarhede van die Skrif. Jy mag selfs van tyd tot tyd hopeloos verdwaal voel in jou geloofswêreld. Boonop het die bose mos ‘n manier om Christene se GPS’e heeltemal deurmekaar te krap in ‘n poging om hulle van koers af te kry. Daarom is dit so belangrik dat ons onder alle omstandighede sal vashou aan die Vader-van-geloof. Dat ons, ongeag al die verskillende geloofsrigtings en invloede op ons lewens, Hóm en Hóm alleen voor oё sal hou. En dat ons elke dag sal bid: Gees van God, help my asseblief om werklik te (blý) glo!

 

‘n Geloofsreis is nie vir sissies nie. Maar ‘n reis sonder geloof beslis ook nie!

 

Ja, Gees van God, help my om wérklik te glo!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo