Kinderopvoeding

I do believe, I really do believe, that we can be better than we are, but the price is enormous, and few of us are ready yet – James Baldwin

 

Kinderopvoeding

Susannah Wesley het 19 kinders gehad – tien sterf voor die ouderdom van twee jaar. Twee van dié wat oorleef het, het God gebruik om ‘n nasie wakker te skud. John en Charles Wesley het die evangelie verkondig, liedere geskryf en ‘n nuwe geloof  gevestig (die Metodisme) wat oor die Westerse wêreld versprei het.

 

 Luister wat sê Susannah Wesley van kinders grootmaak:

  • Moenie toelaat dat hulle tussen etes eet nie.
  • Leer elke kind bid sodra hy kan praat.
  • Alle kinders moet doodstil wees tydens huisgodsdiens.
  • Moenie vir ‘n kind iets gee waarvoor hy huil nie – gee slegs vir hom dit waarvoor hy beleefd vra.
  • Om te verhoed dat hulle leuens vertel, moenie ‘n fout straf wat bely is en waarvoor hulle berou het nie.
  • Moet nooit toelaat dat sondige optrede ongestraf bly nie.
  • Moet nooit ‘n kind twee maal straf vir dieselfde oortreding nie.
  • Beloon goeie gedrag.
  • Prys enige poging om tevrede te stel – al word dit swak uitgevoer.
  • Kom alle beloftes streng na.
  • Moenie van ‘n dogter verwag om te werk voordat sy goed kan lees nie.
  • Leer kinders om bang te wees vir die rottang.

 

Susannah het nie geleerdheid of titels gehad nie. Ons moet altyd onthou dat die belangrikste mense die kortste titels het: ma, pa, seun, dogter! Kort na sy bekering skryf Charles Wesley:

Amazing love, how can it be

That Thou my God would die for me!

 




Moslems vir Christus (2)

The church lies at the very center of the eternal purpose of God. It is not a divine afterthought. It is not an accident of history (John Stott).

 Moslems vir Christus (2)

J. D. Greear (Breaking the Islam Code) skryf oor ons benadering tot Moslems. In Galasiërs 2:7 praat Paulus van Petrus se taak om die evangelie aan die Jode en sy eie taak om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig. Wat ons nodig het, is ‘n evangelie wat aan die Moslems verkondig moet word. Natuurlik word almal – ook Moslems – deur een evangelie gered. Soms, om die meer verstaanbaar te maak, moet hierdie evangelie op verskillende maniere uitgedruk word.

 

Drie woorde beskryf die Westerse benadering tot die evangelie: formule, vergifnis, dood. Die evangelie word tipies as ‘n aantal stellings oor God (‘n formule) aangebied. Hierdie stellings hanteer ons behoefte aan vergifnis. Die basis van hierdie vergifnis is die dood van Jesus Christus. Daar is niks hiermee verkeerd nie.

Vir Moslems stel Greear drie ander woorde voor: storie, reiniging, oorwinning.

1. In plaas van die evangelie as ‘n formule aan te bied, laat die storie van die evangelie voor hulle oopvou. As ons kom met stellings oor die evangelie, kom hulle terug met hulle eie stellings Hulle is egter nuuskierig oor die Bybel, want dit bevat die stories van die profete wie se name hulle al gehoor het. In hierdie stories word Christus geopenbaar. Dit maak in hulle ‘n begeerte wakker.

2.Beklemtoon die reinigingskrag van die evangelie. Moslems verstaan die noodsaaklikheid vir reiniging. Hulle ondergaan self ‘n reinigingsritueel. Hierdie reiniging is net uitwendig, maar God bied reiniging vir die siel aan.

3.In plaas daarvan om Jesus se kruisdood te beklemtoon, moet ons Jesus se oorwinning aan die kruis en sy opstanding beklemtoon. Moslems glo God is almagtig en genadig – hulle verklaar dit elke keer as hulle bid. Watter groter demonstrasie van mag is daar as juis God se mag wat sonde en die dood oorwin het?

Die Bybel is die storie van ‘n God wat oorwin en ons reinig sodat ons vir altyd saam met Hom kan leef.




Leef uit jou Doop: 4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie

Leef uit jou Doop: 4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie – Adrio König

4.6 Besprinkeling is nie regtig doop nie

Hier gaan dit oor die metode van doop. Maar die meeste Christene wat die kinderdoop verwerp, is oortuig die metode het alles met die betekenis te doen. En besprinkeling is heeltemal onaanvaarbaar.

Die Skrif self is duidelik oor die metode as indompeling of onderdompeling, en heg

geweldig groot betekenis daaraan.

Daar word veral drie argumente gebruik ten gunste van onderdompeling en teen besprinkeling.

♦  Die eerste is dat dit in die Bybel duidelik is dat mense onderdompel is.

♦  Die tweede is dat die Griekse woord vir doop eintlik “onderdompel” beteken.

♦  En die derde is dat die betekenis van die doop vereis dat dit deur onderdompeling gedoen word.

 

Onderdompeling is duidelik in die Bybel

As ’n mens na die doopvoorbeelde gaan kyk, lees jy telkens hulle het in die water ingegaan en na die doop weer uitgekom (Hand 8:38, 39). Jy lees dit ook van die doop van Jesus (Matt 3:16). Verder word die doop ’n “bad” genoem, en ’n mens kan tog nie in ’n paar druppels water bad nie (die Grieks van Ef 5:26; Tit 3:5). Telkens lees ons ook van die doop as ’n “afwassing” (Hand 22:16; 1 Kor 6:11). Dit alles kan op geen manier met besprinkeling in verband gebring word nie.

 Verder is dit belangrik op watter plekke hulle gedoop het. Dit was gewoonlik in ’n rivier, soos Johannes wat Jesus in die Jordaan gedoop het. Ons lees selfs dat Johannes ook by Enon naby Salim gedoop het “omdat daar baie water was” (Joh 3:23). ’n Mens het nie baie water nodig vir

besprinkeling nie.

 

Die Grieks vir “doop” beteken “onderdompel”

Dit word soms so sterk gestel dat mense selfs sê oral waar “doop” in die Nuwe Testament voorkom, moet dit eintlik  “onderdompel” wees. Jesus se sendingbevel moet dus eintlik lui: “Maak dissipels en onderdompel hulle … ” Dikwels word ook die argument gebruik dat ons almal weet “doop” is “onderdompel”. Ons gebruik die woord self só. Ons praat van ’n “doopsous” en dan bedoel ons iets moet in die sous ingesteek word. Iemand “doop” die beskuit in die koffie.

 

Die betekenis van die doop vereis onderdompeling

Dink maar net aan die bekende betekenis dat God ons deur die doop met Christus verenig sodat ons saam met Hom begrawe is en opgewek is. Om saam met Hom begrawe te word, moet ’n mens tog onder die water verdwyn, en om saam met Hom op te staan, moet jy dan weer uit die water uitkom. Om onder die water te verdwyn, is ook ’n mooi simbool dat ons saam met Hom sterf.

Dit is die sterk argumente teen die kinderdoop. Dit is argumente wat doelbewus met Bybelse stof werk, en daarom moet ’n mens ernstig daarna kyk. Dit is opvallend dat hierdie hoofstuk ’n baie kort hoofstuk is, en dit is ’n aanduiding hoe maklik dit is om die kinderdoop te verwerp. Daar is nie lang en ingewikkelde redenasies nodig nie. Dis “straight forward”. Lees net die Bybel met ’n oop gemoed, en die uitkoms is duidelik.

 

Kom ons vat dit alles kortliks saam.

Die hoë betekenis van die doop wat juis in hierdie boek ontwikkel word, maak die kinderdoop in beginsel onmoontlik. Daar is geen manier om die hoofbetekenisse van die doop op ’n baba toe te pas nie. ’n Baba se sonde kan nie vergewe word nie, ’n baba kan nie ’n nuwe lewe kry nie, ’n baba kan nie met Jesus verenig word, saam met Hom begrawe word en weer opstaan nie. Verder is die Bybel duidelik dat daar ’n volgorde is: eers geloof en dan doop. Die doopvoorbeelde in die Bybel is ook duidelik: Almal wat gedoop is, het eers tot geloof gekom.

 En na alles is Jesus ons voorbeeld en wil elke Christen Hom getrou navolg. Dit moet ons ook met die doop doen. Ons moet Jesus ook deur die water volg. Die pogings om die kinderdoop met die besnydenis te red, is ongegrond. Die besnydenis was deel van die ou verbond, of op sy beste deel van die vleeslike kant van die verbond met Abraham. Daar is ook geen sprake in die Nuwe Testament van ’n oorgang tussen die besnydenis en die doop nie. Die Joodse gelowiges wat self gedoop is, het aangehou om hulle seuntjies te besny.

En ten slotte is die besprinkeling wat die metode vir die kinderdoop is, ook onbybels. Die doop kan nie anders as deur onderdompeling bedien word nie, behalwe in uiterste omstandighede soos ’n gesondheidskrisis. Die doopvoorbeelde in die Bybel is onderdompeling, die Griekse woord vir “doop” beteken eintlik “onderdompel”, en die betekenis van die doop vereis dat dit deur onder dompeling bedien word.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

 




Die verlore seun

Christ is the cause of the greatest division, but he is also the medium of the greatest union – C. H. Spurgeon

Die verlore seun

Weer ‘n stukkie van Henri Nouwen. Hierdie keer kyk hy na die gelykenis van die verlore seun. [Hy het ‘n uitstekende boek oor hierdie gelykenis geskryf: The Prodigal Son.]

 

 

In hierdie gelykenis is daar twee seuns (Lukas 15:11 – 32). Die jonger seun hardloop weg van die huis na ‘n vreemde land; die ouer seun bly by die huis en doen sy plig. Die jonger seun vergryp hom aan drank en seks; die ouer seun werk hard en vervul pligsgetrou al sy take. Beide is verlore. Hoe is dit moontlik? Hulle vader treur oor beide, want met nie een van hulle ervaar hy die intimiteit wat hy begeer nie.

 

Beide wellus en koue gehoorsaamheid kan verhoed dat ons ware kinders van God kan wees. Of ons nou soos die jonger seun of soos die ouer seun is, ons moet terug huis toe kom – ‘n plek waar ons in die arms van God se onvoorwaardelike liefde kan rus.