Bedek onder die bloed van Jesus, en versoekings – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Jacqueline vra:

Ek wil graag uitvind:  As ‘n mens jou bekeer het en jy het die ou mens gelos en ‘n nuwe mens geword onder die bloed van Jesus – wat gebeur as daar ‘n versoeking kom? Ek vra namens ‘n vriendin. Sy is getroud, maar die huwelik is nie regtig so vol liefde nie. Sy het kinders, maar sy sê sy voel leeg in haar binneste. Een van haar ou mansvriende het weer haar pad gekruis. Hulle het begin liefdesboodskappies stuur. Hy het haar al twee keer gesien, maar na drie weke toe praat hy glad nie meer met haar nie. Hy sê hy kry nagmerries en wil homself hang, en ek weet nie wat nog alles nie. Hy het haar net begin ignoreer. Wat kan die oorsaak wees? Kan dit die Here wees wat aan hom die nagmerries gee omdat sy gedek is onder die bloed van Jesus, of is dit die werk van Satan? Die man wil haar nie antwoord nie; dis net nadat hy ewe skielik die nagmerries begin kry en hom onttrek het. Sy is baie hartseer en ek weet nie wat om vir haar te sê nie.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kern van ons vraagsteller se vraag is of die gelowige wat bedek is onder die bloed van Jesus nou gevrywaar is van versoekings en die aanvalle van Satan. Ek maak graag ‘n paar opmerkings hieroor. Dalk help dit ons vraagsteller om groter helderheid te kry en so haar vriendin ook te help.

Kom ons praat eers oor die uitdrukking “bedek onder die bloed van Jesus”. Dit verwys na tekste soos Handelinge 20:28; Efesiërs 1:7; Hebreërs 9:12,14, 1 Petrus 1:18-19 en Openbaring 1:5. Hierdie tekste sê almal dat ons verlos word van ‘n sondige leefwyse deur die bloed van Jesus. Maar wat beteken dit? Die agtergrond hiervan lê in die Ou Testament. Die priesters moes versoening doen by God vir die sondes van die volk deur ‘n bok of bul te offer in die plek van die mense. Die opvatting was dat die lewe of siel van die dier in die bloed gesetel is. As die dier geslag word, dan vloei sy bloed en so gee hy sy lewe of offer hy sy lewe op. Daar is dan geglo dat die dier se bloed/lewe in die plek van mense se bloed gevloei het, en so bedek die bloed/lewe van die dier die sonde van mense. Mense het dus nie nodig om te sterf vir hulle sonde nie omdat die dier reeds sy lewe gegee het in hulle plek. Maar nou leer die Nuwe Testament ons dat toe God ‘n nuwe verbond met die mens aangegaan het, Hy het sy Seun – Jesus Christus – se lewe in ons plek gegee het. Dis nou nie meer diere se bloed nie, maar die Seun se bloed/lewe wat ons bedek en maak dat ons nie gestraf word deur God se regmatige toorn oor die sonde nie. Verder, Jesus se dood was ‘n eenmalige offer, dit hoef nie oor en oor gedoen te word, soos met die diereoffers in die OT nie. Christus het eens en vir altyd in ons plek gesterf (Heb 9:12). Al wat ons moet doen, is om dit in die geloof te aanvaar en dan te lééf as verloste mense. Dis wat 1 Pet 1:18-19 bedoel as dit sê dat ons losgekoop is, dit wil sê, gered is deur die kosbare bloed van Christus van ons vroeëre sinlose bestaan. Nou kan ons as nuwe mense leef, verlos van ‘n sinlose lewe, en vir God en ons naaste leef.

“Bedek onder die bloed van Jesus” is dus nie iets magies of toweragtig wat oor ons spoel en ons onaangeraak laat nie. Dis eintlik net ‘n manier van sê dat ons glo dat Jesus in ons plek vir ons sonde gesterf het, en dat ons nou bevry is van ‘n ou, sondige leefwyse, en dat ons deur die Heilige Gees die hartlike begeerte het om na al God se gebooie te lewe. Want ons wil graag uit dankbaarheid vir ons verlossing nou die bewys lewer dat ons aan Hom behoort, dat ons deel van sy familie op aarde is, en dat ons nou ‘n nuwe leefstyl het. En dit bring ons by die tweede belangrike saak wat ons vraagsteller aanroer: Wat van versoekings? Is ons wat “bedek is onder die bloed van Christus” nou gevrywaar van versoekings? Nee, hieroor is die Bybel baie duidelik. Die feit dat ons God se kinders is, beteken nie dat versoekings geen vat meer op ons het nie. Inteendeel, dis nou dat die duiwel alles in sy vermoë doen om ons weer vir hom terug te wen. Hy loop daarom soos ‘n brullende leeu rond om te kyk en te soek wie hy kan verslind (1 Pet 5:8). Ons moet daarom nugter, wakker en standvastig wees (1 Pet 5:8-9), en ons bewapen met die volle wapenrusting van God, waarvan in Efesiërs 6:10-20 gepraat word. Ons mag nie vir ‘n oomblik laat slap lê nie, want die Bose is listig. Verder, ons eie hart – hoewel vernuwe deur die Gees van God en hoewel ons bedek is onder die bloed van Jesus – vat ‘n leeftyd om ingeoefen te raak in ‘n nuwe leefstyl waarvan God hou. Dit kom nie sommer vanself nie; dit vra inspanning en inoefening. Daarom, vir seker gaan ons nog struikel, val en oortree, maar nou doen ons dit nie meer as slawe van die sonde, sonder hoop uitgelewer aan en vasgevang in sy strikke nie, maar as mense wat leef uit die versoening met God en uit die voortdurende vergifnis van die Here. Ons is as nuwe mense op weg na ons ewige tuiste wat God vir ons saam met Jesus aan die voorberei is.

Wat duidelik is uit bogenoemde is dat niks in die verhouding met God outomaties is nie. Net omdat jy aan Hom behoort en gedek is onder die bloed van Jesus beteken nie dat jy outomaties van alle versoekings vrygestel is, dat jy kan doen wat jy wil net omdat jy deur sy bloed gered is nie. Die verbond wat God met ons aangaan, het twee kante: God se kant, en ons kant. So was dit reeds onder die ou verbond. Die feit dat daar ‘n offerkultus was en Israel bedek was onder die versoeningsbloed van die offerdiere het nie ingehou dat hulle outomaties vrywaring teen gevare en versoekings geniet het nie. So wys die profete en die psalmdigters die volk voortdurend daarop dat dit nie help om te sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel …” (Jer 7:4) nie. Hulle moet ook dóén wat die Here se wil is (Jer 7:22-23; Ps 40:7-9; 50:13-14; 51:18-19). Hy vra nie méér offers en rituele nie; Hy vra gehoorsaamheid. En dit is nog meer so in die Nuwe Testament. Daar was byvoorbeeld gelowiges in Rome wat die standpunt gehuldig het dat jy eintlik maar die sonde kan opstapel, want dan word God se genade outomaties net al hoe meer (Rom 6:1). Paulus wys egter daarop dat hierdie ‘n drogredenasie is. Hy beklemtoon dat om te leef onder die genade/bloed van Jesus juis inhou dat jy ‘n nuwe lewenswyse begin wat pas by jou redding: Jy is nou dood vir die sonde en het saam met Christus opgestaan tot ‘n nuwe lewe (Rom 6:2-14).

Dit bring my by die derde saak wat ek as antwoord vir ons vraagsteller wil gee. Wat haar vriendin doen – om nog bande te probeer hou met ‘n vorige mansvriend – is duidelik verkeerd. Dis nie die wil van God nie, maar haar eie vorige – sondige – begeertes wat haar probeer wysmaak dat haar lewe ongelukkig is saam met haar man en dat dit baie beter saam met haar vorige mansvriend gaan wees. Dis nie die lewe wat God vir haar kies nie, maar haar eie sondige begeertes wat dit wil hê. As getroude vrou en ma van kinders moet sy haar toewy aan haar man en kinders as iemand wat bedek is onder die bloed van Christus en daarom losgekoop is uit ‘n vorige lewenstyl. Dít is God se wil. Mens kan nie voetjie-voetjie speel met die Bose nie; jy gaan tweede kom. Die Bose oefen immers nog ‘n groot suigkrag op ons uit vanweë die feit dat ons steeds brose, sondige mense is. Maar ons is ook nuwe mense, en as nuwe mense is ons geroepe om die Bose te beveg en ons toe te wy aan ons nuwe lewe in Christus. En gaandeweg sal ons ervaar dat dit al hoe makliker word om hierdie pad te loop, want die Gees staan ons by in ons swakheid. En daarby weet Christus wat ons deurmaak en versterk Hy ons, want Hy is net so versoek soos ons, maar het nie daarvoor geval nie (Heb 4:15).

En terloops, dis geen wonder dat die vrou se vorige mansvriend nagmerries kry nie. Dis ‘n skuldige gewete wat so maak, want hy weet hy doen verkeerd. Daar is ook niks van waar dat dit God is wat die vriendin beskerm omdat die bloed van Jesus haar bedek nie; dis ‘n totaal verkeerde afleiding oor wat dit beteken om bedek te wees onder die bloed van Jesus. Dis gewoon die man se gewete wat hom aankla, en dis ook reg so. Trouens, die vriendin behoort ook skuldig te voel dat sy ‘n ou vriendskap wil laat herleef. My raad aan ons vraagsteller se vriendin is dus: Los daardie vorige mansvriend; moet jou nie verder oor hom verknies nie, en leef jou nuwe lewe saam met jou man en kinders. Dan sal jou hartseer verander in vreugde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...