Beginsels vir gebede

 

Your restless heart will only find rest when it rests in the person, presence and promises of Jesus. —Paul Tripp

 

Beginsels vir gebede

Veral in die Evangelie volgens Lukas kry ons heelwat verwysings na Jesus wat bid. Uit hierdie gedeeltes kan ons sekere beginsels aflei.

  1. ‘n Lig gaan op

Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.” (Lukas 3:21 – 22). Hierdie verse verwys na Jesus se doop. Dit is ook die eerste verwysing na Jesus wat bid. Ons sien drie gevolge van Jesus se gebed:

  • Die hemel gaan oop.
  • Die Heilige Gees daal op Jesus neer.
  • Die Vader praat.

Dit is drie gevolge as ons kontak maak met God in ons gebede. Simbolies gaan die hemel oop en ons ontvang God se seën; die Heilige Gees vul opnuut ons lewens; die Vader praat met ons. As ons dit wil ontvang, moet ons gebedslewe met dié van Jesus ooreenstem.

 

  1. Afsondering

Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid (Lukas 5:16). Altyd weer verwys na ‘n gewoonte. Ons moet elke dag tyd met God alleen deurbring. Kry ‘n plek waar jy alleen met God kan wees – waar jy afgesonder is, waar jy hardop met God kan praat en waar jy God kan hoor as Hy met jou praat.

 

  1. Gee aandag

In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God (Lukas 6:12).  Die hele nag deurgebring – soms is dit nodig om lang tye met God in gebed deur te bring. Dit is veral die geval as ons voor belangrike besluite staan. Dan kan jy konsentreer op wat God wil hê jy moet doen.

 

  1. Isolering

Ons lees dat Jesus gebid het terwyl die dissipels by Hom was. Tog vind Hy tyd vir persoonlike gebed. Daar is nie altyd tyd om jou af te sonder om te bid nie. Dan moet jy jouself isoleer van die mense om jou – jy moet die onderbrekings oorkom.

 

  1. Transformasie

Ons lees van Jesus wat vir Petrus, Johannes en Jakobus teen die berg opgeneem het om te gaan bid: Terwyl Hy bid het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit (Lukas 9:28 – 29). Gebed verander ons. Jy kan nie so baie tyd met God spandeer sonder dat jou gesig verander nie. Paulus sê: Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here …Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18).

 

  1. Voorbeeld

Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons om te bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” (Lukas11:1). Hierdie is ‘n gevaarlike gebed, want God gebruik dikwels beproewing en swaarkry om ons te leer bid.

 

  1. Bewaring

Ons glo nie net in gebed nie – ons glo in God. Jesus sit aan God se regterhand waar Hy vir ons by die Vader intree.

 

  1. Voorbereiding

Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied! (Lukas 22:42). Jesus bid ernstig. Hoekom? Hy weet presies wat vir Hom voorlê en Hy wil nie onvoorbereid – sonder gebed – wees nie.

 

  1. Openbaring

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34) Jesus verkeer in pyn, maar tog dink Hy in sy gebed aan ander mense. Gebed openbaar ‘n persoon – dit wys wat in sy hart is.

 10. Tevredenheid

Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23:46). Jesus het vir God tevrede gestel, want Hy het gedoen wat God van Hom verwag het. Hy was ook in Homself tevrede, want Hy het gedoen wat Hy veronderstel was om te doen.

11. Dankbaarheid

Toe Jesus  saam met sy dissipels die brood gebreek het, het Hy eers vir God gedank. Ondankbaarheid is die wortel van baie ander sondes. In gebed vra ons, maar terselfdertyd moet ons dankbaar wees.

12. Seën

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. (Lukas 24:50). Hy lig sy hande met die wonde daarin en seën hulle. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.