My bekendes is duisternis

 

 “There are two biblical offices in the NT church: elders and deacons. Elders serve by leading. Deacons lead by serving” H. B. Charles, jr

 

My bekendes is duisternis

[Ek gebruik die Ou Afrikaanse Vertaling]

Baie psalms is midde in vreeslike omstandighede geskryf. In Psalm 88 sien ons erge wanhoop. Die psalmis verkeer in ‘n hopelose situasie. Ons lees die psalmis se siel is sat van teëspoede en my lewe raak aan die doderyk. Hy eindig die psalm met: U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis. Meeste ander klaagpsalms verander en God word weer op die troon gesien – oorwinning. Maar nie Psalm 88 nie – dit word al hoe erger.

 

Hoekom is daar so ‘n psalm in God se woord? Want soms is dit hoe ons lewens voel. Almal van ons gaan deur verskillende hoofstukke in ons lewens. Sommige van hulle voel soos Psalm 88. Maar as ons Psalm 89 lees sien ons dat wanhoop nie die finale sê het nie. Wat doen jy as dit vir jou voel asof die lewe nooit gaan verbeter nie?

  • Bid Psalm 88 vir God

Jy kan met God eerlik wees oor jou pyn en probleme – selfs jou kwaadwees en twyfel. Jy gaan nie God afskrik met jou trane en twyfel nie – Hy kan dit hanteer. As jy jou wanhoop en hopeloosheid aan God gee, sê jy in werklikheid: “God, ek dink u liefde is groter as al my probleme.” Wees eerlik met God, maar moenie daar ophou nie.

 

  • Preek Psalm 89 vir jouself

Die goedertierenhede van die Here wil ek vir ewig besin; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag (89:1). Ons kan egter nie van verlossing uit lyding sing voordat ons eers deur die lyding geloop het nie. As jy in die Psalm 88 seisoen is, moenie die beginsels van hoop en geloof in Psalm 89 vergeet nie. As jy voel dat duisternis jou naaste metgesel is, glo dat God by jou is. As dit voel of jou lewe nooit gaan verbeter nie, glo dat God steeds in beheer is.