Beskerm teen die kultuur

 

Fighting sheep are strange animals, and fighting Christians are self-evident contradictions. —C.H. Spurgeon

 

Beskerm teen die kultuur

Ons lees vandag dat dit nodig is om gelowige families teen die huidige kultuur te beskerm. Dan hoor ons dikwels van die Benediktynse opsie. Bebediktus van Nursia was ‘n Italiaanse “heilige” en die stigter van die Westerse kloosterwese. Hy was die seun van ‘n Romeinse adelike wat Rome as jong man verlaat het om vrede in die platteland te soek. Hy stig 12 godsdienstige gemeenskappe wat uiteindelik in die wêreldwye Benediktynse Orde soos ons dit vandag ken, ontwikkel het. Die kern van die “Benediktynse opsie” is om ‘n manier te kry om mense teen die disfunksionele elemente van die sekulêre wêreld te beskerm. Dit word gedoen deur of nuwe gemeenskappe te bou of deur jou geestelik of fisies te onttrek van die kultuur om jou. Dit is meer as net ‘n vorm van wêreldontvlugting.

 

Augustinus, daarenteen, het ‘n beter model gehad.  Hy was die leier van die kerk in Hippo Regius in Noord-Afrika. Hy werk in die midde van sy mense. As biskop was hy betrokke by die probleme van sy mense – selfs toe die Romeinse Ryk verkrummel het en sy eie stad beleër word.

 

Ons het ‘n keuse. Ons kan ons soos Bebediktus aan die samelewing onttrek. Die beter keuse is om soos Augustinus op te tree.  Ons taak as gelowiges  is om van ons liefde vir Christus en mekaar te getuig. Dit moet ons doen in die tyd en op die plek waar God ons geplaas het. Ons het pligte – eerstens teenoor die Stad van God, maar ook teenoor die stad van mense. Dit beteken ons moet met al ons energie werk om ons nasie weer heel en goed te maak. Ons doen dit al word ons gekritiseer en al misluk ons. Maar ons moet ook besef dat nie een van ons hierdie werk alleen kan doen nie.