Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (1)

 

The gospel is so simple that small children can understand it, and it is so profound that studies by the wisest theologians will never exhaust its riches.” Charles Hodge

 

Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Eksodus 5:1 – 7:5)

As gehoorsaamheid lei tot lyding word ons bemoedig deur ons te herinner aan die beloftes van ons soewereine God.   In hierdie gedeelte leer ons ‘n baie belangrike les: Gehoorsaamheid aan God se roeping beteken geensins dat alles nou maklik sal wees nie. Dit mag swaarkry, lyding en vervolging beteken. Daar kom oomblikke waar ons selfs vir God bevraagteken. In Moses  se geval lyk dit asof dinge eintlik erger word toe hy God gehoorsaam het. Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur. Om God te gehoorsaam waarborg nie ‘n pynvrye lewe nie; dit beteken nie dat jy gewild sal wees nie; dit beteken nie dat jy nie tye van wanhoop sal ervaar nie. Jy kan probleme verwag. Die vraag is nie: Sal ek ooit ontmoedig word? nie. Die vraag is: Hoe kan ek my ontmoediging hanteer? Waar gaan ek heen vir hulp en krag?

 

Moses was die middelpunt van God se wil. Tog ondervind hy ernstige teenstand. In Eksodus 6 praat God met Moses en maak sekere beloftes aan hom Hierdie beloftes versterk hom vir die taak wat voorlê. In Eksodus 6:6 – 8 gee God aan Moses ‘n aantal Ek sal … beloftes. Hierdie geloftes gaan oor God se genade. God versterk ons deur die evangelie.

 

Beloftes gee vir ons hoop vir die toekoms. Te midde van donkerte herinner beloftes ons aan die heerlikheid van God. In hierdie gedeelte gee God drie beloftes aan Moses.

 

  • God is in beheer (6:1)

Ek is die Here!

God verseker vir Moses dat daar net een soewereine God is … en dit is nie die farao nie. Daarom sal God se plan nie verydel kan word nie. Baie glo dat God soewerein is, maar dit het nog nie in die praktyk na hulle harte deurgewerk nie. God is gedurig besig om omstandighede te gebruik om ons na sy Seun se beeld te vorm. God het sy eie manier van doen en dit op sy eie tyd. As ons ontmoedig is, moet ons dit met hierdie waarheid beveg: God is in beheer.

 

  • God kom sy verbond na (6:2 – 5).

God herinner sy mense gereeld aan sy beloftes. God noem hier twee groot motiewe vir sy verlossing: sy verbond en sy kennis van die onderdruktes. God het het sy verbond in Jesus Christus nagekom. In Christus is ons deel van ‘n ewige verbond. Daarom kan ons rus kry as ons ontmoedig is. Ons het ‘n Verlosser wat uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het; Hy sit aan die regterhand van die Vader van waar Hy vir ons intree. Hy is getrou aan sy mense; onthou sy verbond.

 

Volgende keer kyk ons na nog ‘n belofte van God aan Moses.