Bevry deur genade (3)

Your goals are only as big as your God. —Rick Warren

Bevry deur genade (3)

In die vorige blog het ons wettisisme gedefinieer. Ons kyk nou na hoe ons wettisisme kan vernietig. In Galasiërs 1 kry ons twee fundamentele waarhede wat wettisisme vernietig – die evangelie is gratis en die evangelie bevry. Ons het reeds gesien dat genade en die evangelie gratis is. Ons kyk vandag na ‘n ander waarheid: die evangelie bevry.

 

In Galasiërs 1:4 lees ons dat Jesus Christus  ons uit hierdie goddelose wêreld verlos het. Verlos beteken dat ons verlos is van die skuld van ons sonde, maar dit sê ook dat ons van ‘n mag verlos is – hierdie goddelose wêreld. Dit verwys na die wêreld waarin ons woon. Ons leef steeds in hierdie wêreld, maar ons hoef nie langer soos hierdie wêreld te leef nie – ons is vry.

 

Die Judaïseerders beskuldig Paulus daarvan dat hy ‘n evangelie verkondig wat tot ‘n “los lewe” lei. Omdat hulle die Ou Testamentiese wet beklemtoon het, glo hulle dat as die wet weggeneem word dit tot ‘n wettelose lewe sal lei. Maar ons word nie bevry in niks nie – ons word in Christus bevry wat ons deur sy Gees ons van binne na buite verander. Ons is vry om te lewe in Christus se krag wat in ons werk. Ons werk nou in sy krag en volgens sy reëls.

 

  • Deur sy genade is ons vry van sonde in hierdie wêreld. Ons is vry van die goddelose wêreld. Christus leef in ons; deur sy Gees bemagtig Hy ons; ons is vry om sy woord te gehoorsaam.
  • Deur sy genade is ons vry om met hierdie wêreld te deel. God gee aan ons sy genade om Hom te verheerlik. Hy sê dat God hom al voor sy geboorte vir Hom afgesonder het en hom geroep het sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig (Galasiërs 1:15 – 16). Ons kry hier ‘n private openbaring vir openbare kommunikasie. Hierdie genade maak ons vry om te vertel. Ons as mense wat God se genade ontvang het, het die voorreg om sy evangelie met ander te deel.

 

Ons moet nooit die bevrydingsmag van genade onderskat nie.