Bevrydingsbediening – Hermie van Zyl

Wayne vra:

Ek het ‘n paar vrae wat handel oor die sogenaamde bevrydingsbediening wat deur so baie Pinksterkerke verkondig word:

  1. Ek het heelwat boeke oor die onderwerp gelees maar ek sukkel om tekste in die Woord van God te vind wat hulle stellings regverdig. Waar kry hulle hulle inligting dan vandaan?
  2. Hoekom neem die mense wat hierdie bediening aanhang geen verantwoordelikheid vir hulle probleme en sondes nie en blameer hulle altyd die duiwel of die een of ander demoon daarvoor?
  3. Waar kry hulle die name van die demone wat hulle so blameer? Ek vind dit nie in die Bybel nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek sal probeer om ‘n algemene perspektief op die bevrydingsbediening te gee wat hopelik die vraagsteller se vrae sal beantwoord.

Die sogenaamde bevrydingsbediening spits hom toe op die geestelike bevryding van mense wat demoniese binding ervaar, d w s, mense wat so onder die invloed van die duiwel en sy trawante (bose geeste, demone) is dat hulle nie normaal kan lewe nie; hulle ervaar allerlei manifestasies van die Bose. Hierdie manifestasies kan verskillende vorme aanneem: vasgevang in bepaalde sondes (soos ekstreme seksuele wellus of uiterse haatdraendheid teenoor mense), presenteer met geestesversteurings (soos waandenkbeelde, vreemde stemme, maniese depressie, geheime kennis oor situasies en mense), en demonstreer selfs vreemde liggaamlike verskynsels, soos die vermoë tot distorsie (om die liggaam in vreemde posisies te plaas) en levitasie (om jouself sonder enige eksterne hulp te laat sweef bo die grond).

Dis meteen duidelik dat baie van bogenoemde verskynsels anders geïnterpreteer kan word as demoniese binding. Die moderne sielkunde sal dadelik sê dat genoemde sondes eerder as bepaalde fiksasies gesien moet word en met die regte behandeling onder beheer gebring kan word, en dat geestesversteurings niks met demoniese werking te doen het nie maar gewoon die gevolg is van chemiese afwykings of tekorte in die brein en met die regte medikasie goed beheer kan word. En dis presies die dilemma wat ons met hierdie “abnormale” verskynsels het – wat die een as demoniese manifestasie sien, sien die ander as medies behandelbare siektes. Wat meer is, sal sielkundiges sê, om ‘n erkende geestesafwyking met bevrydingsterapie te probeer behandel, kan erge trauma veroorsaak en die persoon in ‘n erger toestand laat as waarin hy of sy voorheen was. Wie dus met ‘n bevrydingsbediening opereer, moet weet wat hulle doen, anders word meer skade aangerig as wat genesing gebring word.

En tog, ons kan nie ontken nie dat die Bose bestaan en werksaam is in die wêreld. Daarvan is die Bybel vol. 1 Petrus 5:8 sê immers dat die duiwel soos ‘n brullende leeu rondloop, op soek na iemand om te verslind. Die vraag is net hoe ons die Bybelse gegewens oor die Bose moet interpreteer, watter status ons aan die Bose toeken, hoe ons sy werking in die alledaagse lewe sien, en veral – hoe ons die oorwinning van Christus oor die Bose ‘n plek gee in ons lewe en aan ander bedien.

Oor die interpretasie van die duiwel se manifestasies in die Bybel is daar vandag twee redelik uiteenlopende sieninge onder Christengelowiges. Die eerste siening aanvaar alle gegewens in die Bybel oor die duiwel en demone as letterlik toepaslik vir vandag. Daar is letterlik ‘n persoonlike duiwel, met sy onderdane (bose geeste, demone), wat daarop uit is om Jesus se koninkryk op enige denkbare manier teen te staan en te ondergrawe. Jesus en die apostels se bediening om mense van demoniese binding te bevry, word gevolglik as die bloudruk geneem vir wat ook vandag gedoen moet word. Hieruit vloei dan die sogenaamde bevrydingsbediening van vandag voort as nie net moontlik nie, maar ook noodsaaklik. Want daar bestaan ‘n bose bonatuurlike geesteswêreld waarteen geestelike oorlog gevoer moet word. Efesiërs 6:10-17 – die Christen se wapenrusting – word gewoonlik as die klassieke teks geneem wat ons oproep tot hierdie oorlog. Allerlei tegnieke en rituele word soms ontwikkel wat aangewend word om mense van demoniese binding te bevry. Dit kan ‘n heel gespesialiseerde bedryf word wat besondere fokus plaas op die teenwoordigheid en werking van die Bose in die wêreld. So word daar soms gepraat van ‘n drank- en rookduiwel: dit is dan ‘n spesifieke demoon wat jou maak rook of drink, en as jy van hierdie demoon bevry is, sal jou drank- en rooklus verdwyn. Hierdie siening kan ook deurgevoer word na toevallige kontaminasie deur amulette of beeldjies van vreemde (Oosterse) oorsprong, waardeur die Bose dan toegang tot jou huis kry, wat op sy beurt weer kan lei tot allerlei rampe of siektes wat jou of jou familie tref. Eers as hierdie ornamente verwyder is, en jou huis gereinig is met allerlei rituele en beswerings, kan jy weer normaal leef.

Hierteenoor is daar die tweede siening dat die beskrywing van die duiwel en demoniese werking in die Bybel deel is van die “antieke verpakking” waarin die evangelie van Christus tot ons kom; dit verteenwoordig die antieke wêreldbeeld wat nie meer deel van ons belewing en uitkyk op die lewe is nie. Mediese kennis rakende die oorsake en manifestasies van byvoorbeeld geestesafwykings was destyds uiters beperk. Daarom, gegewe die algemeen aanvaarde opvatting in daardie tyd dat die lug vol bose geeste is wat daarop uit is om mense gevange te neem, is abnormale gedrag by mense summier as ‘n eerste opsie in terme van duiwelbesetenheid verklaar. Selfs gewone liggaamlike siektes, soos blindheid, stomheid (Matt 9:32; 12:22) en ruggraatverkromming (Luk 13:11,16) is dikwels aan demoniese werking toegeskryf. Maar vandag, so word geredeneer, weet ons van beter. Ons eerste verklaringsopsie vandag is daarom nie duiwelbesetenheid nie, maar dat ons met ‘n behandelbare siekte te doen het wat ons na ‘n dokter, sielkundige of psigiater moet verwys.

Die verlengde van hierdie tweede siening is dat soms die hele bestaan van ‘n bonatuurlike geesteswêreld as oudmodies afgewys word. ‘n Persoonlike duiwel, met sy uitgebreide leërmag van demone en bose geeste, word as behorende tot ‘n vergange wêreldbeeld gereken. Die duiwel, so word gesê, hoef daarom nie meer deel van ons verwysingsraamwerk te wees nie; dit behoort tot die mitologiese wêreldbeeld van antieke tye wat ons hoef nie meer hoef te glo nie. Myns insiens is dit egter ‘n riskante afleiding. Ja, dit is wel so dat ons nie al die besonderhede van ‘n antieke wêreldbeeld hoef te aanvaar nie. En in elk geval, so leer die Bybel ons, moet die oorwinning van Christus oor die Bose voorrang geniet. Ons hoef dus nie duiwelbehep te wees nie; die duiwel is inderdaad ‘n oorwonne vyand. Ons hoef nie beangs te lewe dat die duiwel ons enige oomblik in sy mag kan kry nie. Ons hoef ook nie aan ‘n persoonlike duiwelfiguur met ‘n naam, pylstert en ‘n drietandvurk te glo nie. Ons mag nie in die duiwel glo soos ons in Christus glo nie. Dit is alles waar, maar daarmee is die werklikheid van die Bose nog nie van die tafel gevee nie. Want dat daar ‘n bose mag is wat bo mense se persoonlike keuses en aanvaarding van eie verantwoordelikheid uitgaan en wat besit kan neem van mense, instellings, strukture en denke, op so ‘n manier dat mens die gevoel kry dat hier iets bo-natuurlik boos aan die gang is, moet ons ook erken. Die onnoembare wreedhede waarmee ideologiese denksisteme soos die nazisme en kommunisme – en sommige sou ook apartheid wou byvoeg – geskep en in stand gehou is, is genoegsame bewyse dat boosheid meer is as net menslike keuses, gebrokenheid en sonde. Dis asof die Bose vlees geword het in hierdie stelsels. En dit geld ook op persoonlik-menslike vlak. Sommige mense tree eenvoudig met sulke irrasionele, destruktiewe boosheid op dat mens dit nie met normale mediese kategorieë kan verklaar nie.

Die vraag is net hoe die Bose beveg moet word. Myns insiens moet dit nie gebeur deur duiwel-gefokus te lewe nie. Ons beveg nie die duiwel deur voortdurend met hom besig te wees nie. Ons beveg hom deur hom te weerstaan (Jak 4:7; Ef 6:10-17) en op Christus te fokus (Heb 12:3). ‘n Christus-gefokusde lewe het nie regtig plek vir die duiwel in sy of haar lewe nie. Persoonlik is ek dus nie baie opgewonde oor ‘n bevrydingsbediening, in die sin van eksorsismes nie. Die fokus is verkeerd, en dit kan so maklik ontspoor. Die meerderheid kerke is blykbaar ook van hierdie oortuiging. Want mens moet diep delf om van kerke te verneem wat ‘n volskaalse bevrydingsbediening naas ‘n Christusbediening het. Tog moet mens ruimte laat vir verskillende kontekste en spiritualiteite. Dit mag wees dat byvoorbeeld in ‘n tradisionele Afrika-konteks en in ‘n bediening onder Hindoes daar ‘n behoefte aan ‘n spesifieke bevrydingsbediening mag wees. Maar ook hier sal so ‘n bediening met groot verantwoordelikheid en binne sekere parameters beoefen moet word, wat die volgende kan inhou: Tipiese psigiatriese afwykings mag nooit aangesien word vir duiwelbesetenheid nie. Daar moet genoeg kundigheid wees om tussen die twee soorte verskynsels te onderskei. Die eerste opsie moet altyd wees om iemand met sulke manifestasies by ‘n dokter, sielkunde of psigiater te kry. Eers as ‘n laaste uitweg kan duiwelbesetenheid en bevrydingstrategieë oorweeg word, en dan moet dit ook deel wees van ‘n spanbenadering. Verder, menslike verantwoordelikheid mag nooit ondermyn word nie. Dit is ‘n bedenklike bediening wat vir elke probleem ‘n duiwel verantwoordelik wil hou, terwyl dit eintlik die persoon self is wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy of haar probleme en dit met die nodige erns en oorgawe aan Christus te bowe moet kom. Die Bybel leer ons immers dat die mens self verantwoordelik is vir die meeste van sy/haar probleme. Dis deel van die gebrokenheid van die lewe en van ons sondige natuur. Daarom moet skuldbelydenis, aanvaarding van God se vergifnis in Christus, restitusie en ‘n verantwoordelike lewenstyl altyd deel wees van die Christen se dankbaarheidslewe en die hooffokus vorm van enige kerklike bediening.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl