Bileam en Balak

Bileam en Balak – Francois Malan

Jan Smith vra:

In Numeri word drie hoofstukke nl 22, 23 en 24 afgestaan aan die verhaal van Bileam en Balak en het eersgenoemde lang stories om Balak te laat besef dat hy nie die volk Israel kan vervloek nie. En dan eindig die verhaal eintlik op ‘n anti-klimaks met die woorde: Toe het Bileam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan. Daar word wel in die NT na hierdie verhaal verwys maar mens wonder hoekom die verhaal dan so pertinent in die OT in detail vertel word.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Hoofstuk 25 begin met die verleiding van Israel deur die Moabitiese meisies om deel te word van hulle afgodsdiens aan Baäl-Peor en die toorn van die Here oor die sonde van sy volk Israel. In 31:16 word gesê dat dit Bileam se raad was om Israel teen hulle God te laat optree. In 31:8 staan dat Israel vir Bileam doodgemaak het. Deutr.23:5,6 sê dat die Here Bileam se vloek in ‘n seën verander het, omdat Hy Israel liefhet. Josua 13:22 noem hom ‘n waarsêer. Jos.24:9,10 sê dat Bileam teen wil en dank Israel moes seën. So het die Here hulle gered uit die mag van Balak. Miga 6:5 wys op die mag van die Here om Balak se planne te verydel deur Bileam se antwoord. Nehemia 13:2 wys daarop dat die Here Bileam se vloek in ‘n seën verander het. 2 Petrus 2:15,16 sê Bileam was daarop uit om onreg te pleeg vir geld, maar ‘n stom rydier het ‘n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet. Die dwaalleraars in Petrus se tyd het dieselfde pad opgegaan as Bileam. Judas 1:11 noem dit bedrog. Openb 2:12-14 praat van die mense wat die leer aanhang van Bileam, wat vir Israel afvallig gemaak het van die Here, sodat hulle afgodsoffervleis geëet het en onsedelikheid bedryf het (soos in Num 25 beskryf is).

Numeri beskryf die 38 jaar wat Israel in die woestyn moes swerf omdat hulle nie Kanaän wou inval toe die 12 verspieders teruggekom het nie; hoe die Here die volk tot by Kanaän gelei het, ten spyte van hulle gemor en sonde. En toe hulle nie meer die hand van die Here gesien het nie, het die Here deur Bileam, en teen Bileam se wil, die Here se onvergelyklikheid, rykdom, krag en toekomstige heerlikheid geteken in hoofstukke 23 en 24. Die Here is steeds besig met sy volk.

Die geskiedenis van Bileam toon duidelik die mag van die Here oor Israel se vyande. Die kwaad wat hulle teen Israel bedink, het die Here ten goede gebruik (vgl. Gen.50:20). Hy verydel die planne van die nasies (Ps.33:10). Die opmars van die Israeliete na die beloofde land kan nie gestuit word nie.

In Numeri 22-24 is ‘n digter aan die woord, veral in die vyf uitsprake van Bileam wat die Here besing, terwyl sy volk Hom nie meer besing nie (In Luk 19:40 sê Jesus: As hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep).

 

Skrywer: Prof Francois Malan