Bly aan God toegewyd

 

If you do not die to sin, you shall die for sin. If you do not slay sin, sin will slay you. —C.H. Spurgeon

 

Bly aan God toegewyd

Die versoeking om van God te vergeet, is altyd daar. Maar ons kan ons toewyding aan God behou. Lees net Josua 23:6 – 11.

  1. Gee aandag aan God se woord

Maar julle moet sterk staan aan die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Gedagtes gevul met die Skrif kan die sekulêre samelewing krities evalueer en kan deur die leë waardes van die wêreld sien. ‘n Teken van ‘n gebrek aan toewyding aan God is ‘n verminderde respek vir sy woord. Josua praat van die uitvoering van alles wat geskryf staan. Dit beteken nie dat ons net God se woord moet hoor nie, maar dat ons dit moet doen.

 

  1. Vermy heidense invloede (Vers 7)

Hoe vermy ons om na die beeld van die heidense volke gevorm te word? Deur God se woord te onderhou en te doen. Ons is altyd in die versoeking om te glo die wêreld is beter af as ons. Met God se woorde op jou lippe en God se lof in jou mond sal jy niks anders kan erken nie.

 

  1. Bly getrou aan God

 Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle dit tot nou toe gedoen het. Dit beteken ons moet aan God vashou sodat geen sonde tussen ons kan kom nie. Dit beteken ons beplan tyd met Hom alleen in Bybelstudie en gebed. Ons vertrou op sy beloftes. U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my (Psalm 63:8 – 9)

 

  1. Kweek ‘n diep liefde vir God (vers 9 – 11)

Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. Die klem val hier op ‘n verhouding van liefde. God is nie net God nie – Hy is my en jou God. Sy passie vir ons kan nie geblus word nie.

 

Die vyande waarmee ons vandag te doen het, verskil van dié waarmee Josua te doen gehad het. Die strategie om hulle te konfronteer bly egter dieselfde.