Boerdery in die Ou Testament (1)

Boerdery in die Ou Testament (1) – Coen Slabber

Die Israeliete was hoofsaaklik boere of ambagsmanne. Feitlik almal was op een of ander wyse by die landbou betrokke. Selfs die beroepsmense, soos pottebakkers, het ‘n stukkie familiegrond en ‘n paar diere gehad. Net die heel rykes het nie die lande bewerk of die vee opgepas nie. As grondeienaars was hulle wel betrokke by die landbou. Daar was veral drie tipes boerdery: veeboerdery, saaiboerdery en vrugteboerdery. Ons gaan na elkeen van hulle kyk. [Daar is artikels oor etes en kosse op die webblad wat by hierdie reeks artikels aansluit.]

Veeboerdery

Skape is ongeveer 10 000 jaar gelede in Sentraal-Asië mak gemaak. In ongeveer 3 500 vC het die mens geleer om wol te spin. Veeboerdery is van die vroegste beroepe vermeld in die Bybel. Abel was ‘n veeboer (Genesis 4:2). Aanvanklik was dit ‘n seminomadiese bestaan, want die boere moes lang afstande met hulle vee trek om goeie weiveld te kry. Die aartsvaders was veeboere. Toe die farao Josef se broers ontmoet, wou hy weet wat hulle nering was. Hulle antwoord: Ons is kleinveeboere, ons en ons voorvaders (Genesis 47:2).

Skaapwagters was dus van die vroegste tye af belangrik. [In die Nuwe Testamentiese tyd was die skaapwagters nie gereken deur die samelewing nie.] Veral in die droë somer moes hulle lang afstande trek om geskikte water vir hulle kuddes te kry. Elke aand is die skape getel en in ‘n kraal gejaag. Die skaapwagter het self voor die opening geslaap. Hy word dus letterlik die “deur” vir die skape. Daarom sou die mense van destyds goed verstaan het wat Jesus bedoel het toe Hy van die goeie herder gepraat het (Johannes 10:1 – 16).

Om skaapwagter te wees, was ‘n gevaarlike werk. Daar was destyds nog leeus en bere in Palestina. Toe Dawid aanbied om teen Goliat te veg, was almal maar huiwerig om sy aanbod te aanvaar – hy was jonk en het geen ervaring van oorlog gehad nie. Hy verdedig homself: As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ‘n leeu of ‘n beer en dra ‘n lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan (1 Samuel 17:34 – 36). Amos, die skaapboer uit Tekoa, skryf: So sê die Here: Soos ‘n skaapwagter twee pootjies of ‘n stukkie oor weggryp uit ‘n leeu se bek …

Die kuddes was dikwels gemeng – skape en bokke. Die bokke kon die skaapwagter aanjaag, maar die skape moes hy lei – hy stap voor en hulle volg. Die grond waarop die vee gewei het, was minder produktief as die grond wat vir saaiboerdery gebruik is. Dit was gemeenskaplike grond.

Veeboerdery was baie belangrik:

1.       Wol en bokhaar is gebruik vir klere.

2.       Bokke het melk gegee.

3.       Bokke en skape was ‘n bron van vleis.

4.       Daar is baie van bokke en skape gebruik gemaak as offers in die tempel.

Die skaapwagter en sy skape is ook in die Nuwe Testament belangrik. Jesus is die goeie herder wat sy lewe vir sy skape aflê. Hy vertel die gelykenis van die verlore skaap (Lukas 15:1 – 7). Die skaapwagter was ‘n beeld wat algemeen van God en Jesus gebruik is. Dink aan die bekende Psalm 23: Die Here is my herder. God sê: Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei (Jeremia 3:15). As ontroue herders net vir hulleself en nie vir die kudde sorg nie, tree God teen hulle op: Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug (Esegiël 34:10). God is die herder vir Israel en sorg vir elke aspek van hulle welstand. Petrus skryf dat die ouderlinge die kudde wat God aan hulle toevertrou het goed moet oppas. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang (1 Petrus 5:4).

In die volgende artikel gaan ons na saaiboerdery in die tyd van die Ou Testament kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber