Boerdery in die Ou Testament (3)

Boerdery in die Ou Testament (3) – Coen Slabber

Ons het reeds na vee- en saaiboerdery verwys. Ons kyk nou na vrugteboerdery. In ‘n artikel oor etes en kos op die webblad is daar reeds na die verskillende vrugtesoorte verwys en waar in die Bybel ons van hulle kan lees. Daarom beperk ons ons hier tot wingerde.

Vrugteboerdery

Ook ten opsigte van wingerdboerdery was daar sekere reëls wat die Israeliete moes nakom.

(1)    Jy mag nie ‘n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom (Deuteronomium 22:9).

(2)    Wanneer jy jou buurman se wingerd ingaan, mag jy net soveel druiwe eet as jy wil om jou honger te stil, maar jy mag niks in jou sak sit nie (Deuteronomium 23:24 – 25).

(3)    Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. Julle moet ook nie die wingerde ‘n twee keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge (Levitikus 19:9 – 10).

Druiwe en wingerde word dikwels in die Bybel genoem – letterlik en figuurlik. Ons weet druiwe is in Egipte gekweek. In Genesis 9:20 lees ons: Noag was ‘n boer, die eerste wat ‘n wingerd geplant het. Melgisedek het vir Abram kos en wyn gebring (Genesis 14:18). Ons lees ook van die groot druiwetros wat die verspieders is Kanaän gekry het: Twee van hulle het dit aan ‘n stok gedra (Numeri 13:23). Wyn is ook verhandel – eintlik was dit ruilhandel (Esegiël 27:18).

In Jesaja 5 lees ons van die voorbereiding voordat ‘n wingerd geplant kan word: die grond is omgespit, die klippe is verwyder, ‘n wagtoring is gebou en ‘n parskuip is uitgekap. Gewoonlik is ‘n heining om die wingerd gebou om diewe en diere uit te hou. Die heining was of van klip of van takke gemaak. Die druiwe is in rye geplant en gereeld gesnoei.

Sodra die druiwe ryp was, is dit na die parskuip geneem. Daar is die druiwe getrap en die sap opgevang in ‘n tweede houer – gewoonlik uit klip gekap. Dit was ‘n feesgeleentheid waar daar baie gesing is. Die wyn is of in kanne van klei of nuwe leersakke geberg.

Jesus het dikwels wingerde as agtergrond vir sy gelykenisse gebruik: die arbeiders in die wingerd (Matteus 20); die twee seuns (Matteus 21); die boere en die wingerd (Markus 12); ens. In Johannes 15 word die wingerdstok simbolies gebruik.

 

Oestye

Die oestye was:

  • Olywe – September – November
  • Vlas – Maart/April
  • Gars – April/Mei
  • Koring – Mei/Junie
  • Vye en druiwe – Augustus/September

Israel se hele kalender wentel om hierdie oestye.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber