Bonhoeffer as leier (2)

 

Do not work so hard for Christ that you have no strength to pray, for prayer requires strength. —Hudson Taylor

 

Bonhoeffer as leier (2)

Eberhardt Bethge, Bonhoeffer se beste vriend, skryf oor Bonhoeffer se tyd as leier by Finkenwalde. Hy het sy persoonlike besittings – materieel en geestelik –met sy studente gedeel. Hy was groothartig. Die studente was aanvanklik oorweldig deur die diepte van sy denke. Gou besef hulle dat hy na hulle luister – so intens dat hy vir hulle kon raad gee en eise aan hulle kon stel wat niemand vantevore nog gedoen het nie.

 

Maar Bonhoeffer se denke was net die voorloper tot iets baie belangrik – sy optrede. Hy was ‘n mens vol teenstrydighede. Hy was nie-gewelddadig, maar neem deel aan ‘n plan om Hitler dood te maak. Hy was kosmopolitaans (hy het van musiek die teater en alle soorte literatuur gehou), maar was ‘n denker wat sy studente in afsondering gelei het.

 

Dit was veral Bonhoeffer se teologie wat van hom ‘n unieke leier gemaak het. Sy diep verstaan van die bergrede veroorsaak dat hy dit in die praktyk met sy studente uitgeleef het. Sy studie van die psalms beteken dat hy hard probeer het om die krag van God se woord te verstaan. Daarom het hy almal verbied om soggens te praat voordat hulle eers God se woord gehoor het.

 

Hierdie unieke kenmerke van Bonhoeffer is eienskappe van leierskap. Leierskap beteken dat jy aan die voorpunt is, dat jy dinge sien wat ander nie raaksien nie en om hulle dan met sorg en oortuiging daarheen te lei. Daarom, sewentig jaar na sy dood, inspireer Bonhoeffer steeds mense deur sy skrywes en voorbeeld.