Boom van kennis, goed en kwaad – Francois Malan

Martiens vra:

God die Vader het saam met Adam en Eva in die tuin gewandel, maar hulle mag nie van die boom van kennis goed en kwaad geëet het nie.

Eva en Adam het toe van die boom se appels geëet. beteken dit dan dat die duiwel: klaar uit die hemel gegooi is aarde toe voor Adam en Eva se tyd en hoekom is die duiwel uit die hemel gegooi?

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die 72 wat Jesus voor Hom uitgestuur het na die dorpe wat Hy nog wou besoek, het teruggekom en met vreugde kom vertel dat selfs die demone hulle aan hulle, sy gestuurdes, onderwerp het op grond van Jesus se Naam. Die dissipels spreek Jesus aan as ‘Here’(kurios), wat die seggenskap het in God se koninkryk en selfs oor die demone, soos hulle dit, as sy gesante, self beleef het. Jesus sê toe vir hulle: ‘Ek het Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val’(Lukas 10:17-18).

 Die naam vir die duiwel ‘Satan’ is afgelei van die Hebreeuse woord wat ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ beteken, (vgl. sy aanklag en teenstand teen Job en teen alle gelowiges; Job 1:6-12; 2:1-7; Openb 12:7-12).  Sy blitssnel skielike val uit die hemel, soos ’n weerligstraal, beteken dat hy nie langer enige aanklag teen ’n mens aan God kan voorlê nie, want Jesus het alle aanklagte teen mense op Homself kom neem toe Hy, die Seun God, mens kom word het, en ‘die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit vir altyd weggeneem het toe Hy dit die kruis vasgespyker het (Kol 2:14). In Rom 8:33-34 vra Paulus wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree (vgl. Ps 110:1). As God ons dan vrygespreek het, kan Satan ons nie meer by God aankla nie.

 Deurdat die groot aanklaer uit die hemel uitgewerp is omdat hy niemand meer by God kan aankla nie, kon die 72 dissipels die duiwels uitdryf en het die demone hulle aan die dissipels onderwerp op grond van Jesus se Naam, die Jesus wat al die versoekings van die Satan weerstaan het (Luk 4:1-13). Die Satan is eers uit die hemelse toegang tot God uitgewerp deurdat Jesus die sonde van die wêreld op Hom geneem het en die straf op al ons sonde namens ons gedra het. Joh 1:29 noem Jesus ‘die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’

 Omdat die Satan uit die hemel uitgegooi is, en nou saam met sy engele op die aarde neergegooi is, probeer hy   sy heerskappy hier uitoefen (Openb 12:9). In Mattheus 12:24 word hy genoem Beëlsebul, die aanvoerder van die demone. 2 Kor 4:4 noem hom die god van hierdie bedeling. Maar dit beteken nie dat hy toe eers begin het om die mens te verlei nie. Daarmee is hy van die begin af besig, maar nou sonder dat hy die mens by God kan aankla. In Johannes 8:44 sê Jesus ‘die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie. Wanneer hy ’n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar en die vader daarvan is.’

 Voor Jesus se koms kon die duiwel vir Job by God aankla (Job 1:9-10; 2:4-5), en het Hy reeds op aarde die mense met leuens verlei, soos vir Eva vir wie hy gesê het: ‘Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles sal kan ken’ Gen 3:4-5. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee (Gen 3:6). Die vrou wou soos God wees om alles te kan ken. Dit beteken dat sy self god wou wees. En van daardie dag af leef ons mense almal vir onsself terwyl God ons gemaak het om vir Hom te lewe en vir mekaar, as God se verteenwoordigers in sy skepping (Gen 1:27-28).

 SkrywerProf Francois Malan