Bou Christene op die ou manier op

. –C.H. Spurgeon

Bou Christene op die ou manier op

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

 

So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.” (Jeremia 6:16).

As iemand vandag die Joodse geloof wil aanneem, is daar ‘n pad wat geloop moet word. Vir maande ontmoet jy elke week die rabbi wat jou in die Joodse geloof en praktyke onderrig. Daarna volg die mikvah – die rituele onderdompeling. Eers daarna word jy as lid van die Joodse geloofsgemeenskap aanvaar.

Wat gebeur in die meeste van ons gemeentes? As ‘n nuwe besoeker opdaag, word hy verwelkom (as hy raakgesien word) en kry hy iets oor die gemeente. Dit is baie onwaarskynlik dat iemand iets oor sy geestelike toestand gaan probeer uitvind en vir hom die geleentheid bied om verder oor sy geloof onderrig te word.

In ander gemeentes word programme soos Alpha aangebied. Wat opvallend  is, is hoeveel van die bestaande lidmate hierdie kursusse bywoon. Lidmate is honger vir meer kennis.

In die vroeë kerk was kategese baie belangrik. Toe die staat en die kerk nader aan mekaar beweeg het, is kategese verwaarloos. Die gevolg was dat Christene nie eintlik ‘n idee gehad wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie. Die Hervormers, veral onder leiding van Luther en Calvyn, het probeer om dinge weer reg te stel. Beide van hulle druk en versprei kategismusse – klein handboekies om mense te onderrig oor die kern van die Christelike geloof en oor gebed, aanbidding en gedrag. Vir volwassenes was die onderrig meer in diepte. In 1548 skryf Calvyn aan die Lord Protector van Engeland: Believe me, Monseigneur, the Church of God will never be preserved without catechesis. Daar is toe aanvaar dat die leraar se belangrikste plig die onderrig van sy kudde was.

Die kerk in die Weste het grotendeels kategese as normale praktyk afgeskaf. Die woord kategese word selfs met suspisie bejeën. Ons soek altyd nuwe metodes en programme; ons verander voortdurend, want ons wil relevant bly; ons moet gedurig aanpas, want mense se behoeftes verander. Het dit wat ons tot dusver gedoen het vrugte gedra? Nee. Daarom moet ons aanhou verander, want die ou modelle en programme het nie vrugte gedra nie. Daarom soek ons nuwe modelle en programme of kyk wat “suksesvolle” kerke doen – net om hulle  na te aap.

Die antwoord: Die kerk moet weer kategese as ‘n ononderhandelbare praktyk terugbring.