Bou jou platform

In vain shall indolent and sluggish persons lament that they had been deprived of that grace which they rejected.– John Calvin

Bou jou platform

Ons hoor leiers praat van dinge soos platform en invloed. Ons moet baie versigtig wees, want in ons pogings om ons platform en invloed te bou, kan ons in werklikheid net ons eie ego bou. Ken Blanchard en Phil Hodges sê: EGO stands for Edging God Out.

In plaas daarvan om ons platform te bou, moet ons eerder ons karakter bou. Luister wat sê Paulus vir Timoteus (1 Timoteus 3:1 – 7 – Die Boodskap):

 

1Wat ek nou sê, staan soos ’n paal bo water: as iemand baie graag ’n leier in die gemeente wil wees, wil hy ’n belangrike en goeie werk in die gemeente doen.

2Daar moet niks slegs oor so ’n persoon gesê kan word nie. Hy moet getrou wees aan sy vrou en nie uitspattig lewe nie. Hy moet nie ongeërg wees en niks omgee vir wat hy doen nie. Hy moet ordentlik leef en ander Christene help waar hy kan, selfs al vra hulle hom vir blyplek. Verder moet hy ’n goeie onderwyser wees, want hy sal ander van God moet leer. 3Hy moet ook nie ’n drinker of ’n bakleier wees nie. In plaas daarvan dat hy die hele tyd skoorsoek, moet hy eerder vriendelik wees. Geld moet ook nie sy baas wees nie. 4Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister. 5(As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?) 6Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink. 7Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen.

Hier praat Paulus oor die eienskappe van leiers in die gemeente. Let wel: hy fokus op karakter.

Maar hoe bou jy jou karakter? Derwin Gray in ‘n artikel in Pastors.com noem drie praktyke wat karakterbou uitdaag en aanmoedig. Hy bespreek nie die klassieke geestelike dissiplines nie.

Praktyk#1: Die teenwoordigheid van mense

  • Hanteer elke persoon met wie jy in aanraking kom asof Jesus vir hulle gesterf het.
  • Hanteer elke persoon asof Jesus die hemel verlaat het om hom te red.
  • Hanteer elke persoon asof hy na die beeld van God gemaak is en vir Hom belangrik is.

Praktyk #2: Wees ‘n dienaar

  • Mense is nie daar om jou te dien nie – jy is daar om hulle te dien.
  • Soek maniere om mense te dien.
  • Jesus het sy dissipels se voete gewas – wie se voete was jy?

Dit sal jou nederig en toeganklik hou.

Praktyk #3: Die teenwoordigheid van Christus

  • Woon in Christus; geniet Christus.
  • Leef in voortdurende afhanklikheid van Christus.

Dit beteken dat jy op Christus as jou bron van krag vetrou.

Leiers bou jou karakter en laat God jou platform en invloed uitbou.