Bybelstudie – Jan van der Watt

Vraag 1: Waarom is bybelstudie belangrik? (Charron)

Kennis van die inhoud van die Bybel is een van die pilare van ons Christelike lewe. Dit was so van die vroegste tyd af – ons sien byvoorbeeld dat die gemeente van 2 Petrus Paulus se briewe (die Bybel – 2 Pet 3:15-17) gelees het en dat die Evangelie van Johannes (ook in die Bybel) deur Johannes se gemeente gelees en in hulle lewens toegepas is (kyk hoe die skrywer van die Briewe gedurig verwys na wat sy gemeente weet, gehoor het of gelees het: 1 Joh 1:5; 2:7, 24; 3:11; 4:21; 5:20 – dit verwys na hulle kennis van die Johannesevangelie). Die rede waarom hulle dit gedoen het en ons ook die Bybel moet lees, is belangrik:

Hoe gaan mens God leer ken of weet wat Hy van jou verwag as jy dit nie in Sy Woord lees nie. Waar gaan jy uitvind hoe redding werk, of wat die toekoms inhou, as ons die antwoorde nie uit Sy Woord kan kry nie. Sonder die Bybel en BybelSTUDIE bly al ons kennis oor godsdiens maar net mensekennis. Die Christelike godsdiens is dus ‘n ‘openbaringsgodsdiens’, met ander woorde, God kom wys vir ons wat ons van Hom en van diens aan Hom moet weet. Ons kan dit nie as mense sommer uitdink nie en as ons sommer ons eie idees as God se idees aan ander verkondig, is dit eintlik laster teen God. Ons mag nooit ons eie idees oor God met God se eie idees oor Homself, soos dit in die Bybel staan, verwar nie.

Om seker te maak dat ons nie op dwaalspore land nie, moet ons dus weet wat in Sy Woord staan. Daarom is Bybelstudie so belangrik.

Vraag 2: Hoe word bybelstudie gedoen help asb (Charron)

As ons praat van bybelstudie doen, dan gaan dit nie oor die lees van die Bybel voor jy gaan slaap nie. Dit gaan oor ’n bietjie meer moeite doen om die boodskap van die Bybel in meer diepte te verstaan. Hier volg ’n paar riglyne (’n Bybel of miskien meer as een Bybelvertaling, ’n notaboekie waarop jy aantekeninge kan maak, asook internet as jy het, is aan te beveel).

  1. Kies ’n volle, samehangende paragraaf (nie net paar verse nie). HULP: Kyk na hoe die gedeeltes in die Bybel opgedeel word. Gewoonlik is die paragraaf tussen twee opskrifte ‘n eenheid. As jy meer as een Bybelvertaling kan gebruik, doen dit. Vergelyk die vertalings en as daar verskille is, moet jy self mooi kyk hoe jy dink die paragraaf lyk.
  2. Lees jou gedeelte deeglik deur. Lees die paragraaf behoorlik deur (met ander woorde, lees elke sin en woord).
  • merk alles wat jy nie verstaan nie (Dit is die dinge waaroor jy meer sal moet uitvind).
  • Skryf neer waaroor jy dink jou gedeelte gaan.
  • Skryf die dinge neer wat jou veral tref.
  1. DIE GEHEIM: Lees die KONTEKS. Kyk nou vlugtig na die gedeeltes wat voor en na jou paragraaf staan. Daar kry jy dikwels waardevolle inligting wat jou kan help om jou gedeelte beter te verstaan. Jy sien miskien dat Jesus net met sy dissipels praat en nie met al die mense nie. Dit beteken dat wat Hy sê net vir gelowiges en nie vir almal bedoel is nie. Of jy sien miskien in Paulus se brief dat Hy van redding in die konteks praat en dan weet jy in watter konteks jy jou paragraaf ook moet lees. Soek dus vir goeie ‘clues’ om jou met die verstaan van jou gedeelte te help.
  2. Die Lekker: Probeer die vloei van die argument verstaan. Elke paragraaf is soos ’n gesprek tussen jou en iemand anders: die gedagtes is nie sommer deurmekaar nie, maar volg (gewoonlik logies) op mekaar. Die uitdaging is nou om te kyk of jy jou paragraaf se gesprek logies kan rekonstrueer, met ander woorde of jy kan kyk hoe een gedagte op die ander volg en waarom. (Hier help dit om die gedagtes, soos hulle op mekaar volg, onder mekaar neer te skryf en dan aan die einde te kyk hoe jy dink dit op mekaar volg). Die doel is om uiteindelik vir iemand anders volledig te kan vertel hoe die gedagtes op mekaar volg en wat die paragraaf dus wil sê. Met verhale soos gelykenisse sal dit makliker gaan as met Paulus se ingewikkelde argumente, maar met altwee moet jy probeer om agter te kom wat word gesê en hoekom.
  3. Die probleem: Daar mag dinge wees wat jy nie verstaan nie – vind dan uit! Omdat die Bybel omtrent 2000 jaar gelede geskryf is, gaan jy dinge kry wat jy nie verstaan nie, miskien soos name (Fariseërs, Sadduseërs, Antichris), of terme (geregtigheid, verdoemenis) of uitdrukkings (idiome – vurig kole op jou hoof ophoop), gewoontes (Jesus spoeg op iemand se oë) en so voorts. Jy sal nie die betekenis van die dinge self kan uitdink nie, met ander woorde, jy sal iewers hiulp moet kry. Daar is ’n paar manier waarop jy hulp kan kry: (i) As jy verklarende Bybels (bv. Eenvolume kommentaar, of Bybel in Praktyk) het, kan dit jou help. [Jy moet hulle egter nie eerste lees voor jou stap (d) nl. die vloei van die argument self gedoen het nie]. (ii) kyk in Bybelkennis op daar nie inligting is nie. (iii) Soek op die internet. Dit is egter gevaarlik omdat soveel persone sommer ongekontroleerde en verkeerde dinge op die internet sit, baie keer om hulle manier van verstaan te bevorder. ’n Mens kan baie maklik op verkeerde paadjies gelei word. Dit is veral waar oor boeke soos Openbaring. Probeer dus seker maak dat jy betroubare webblaaie opsoek. Dit is moeilik om altyd te bepaal of ’n webblad goed is – ’n goeie toets is dat as die webblad dinge sê wat jou ongemaklik laat voel of heeltemal anders praat as dit wat jy in die kerk hoor, moet die rooi ligte aangaan. Nou praat ek nie van ’n klein verskilletjie hier en daar nie.
  4. Pas dit toe: sê vir jouself (of skryf dit neer) wat jy dink die gedeelte vir die oorspronklike lesers wou sê. Vra jouself dan wat dink jy beteken die boodskap van die gedeelte vir jou. Een spesifieke gedeeltetjie of die boodskap as geheel mag vir jou iets spesiaals beteken het. Neem dit met jou saam.

Die goue dop van bybelstudie: Bybelstudie is om met God te gaan praat en Hom toe te laat om met jou te praat. Die Heilige Gees is deel van die gesprek. Jy moet dus biddend (opreg aan die begin en einde bid) met verwagting na God se teenwoordigheid bybelstudie doen

Skrywer:  Prof Jan van der Watt