Bybelstudie

In the fulness of time, God’s two creations, his whole universe and his whole church, will be unified under the cosmic Christs who is the supreme head of both (John Stott).

 

Bybelstudie

Baie van ons sukkel maar met Bybelstudie. Ons wil graag meer lees, maar ek moet eers dit of dat doen; ek het met ‘n leesplan begin, maar dit gou gelos … Kom ons kyk na drie verwaarloosde aspekte van Bybelstudie soos ons dit in Spreuke 2:1 – 5 kry: My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

 

  1. Ons het dringendheid verwaarloos

Hierdie is die woorde van ‘n vader aan sy seun. My seun – daar is ‘n dringendheid in sy woorde. Hy pleit by sy seun om God se woord te bestudeer. Ons moet weer hierdie dringendheid herwin. Dikwels beveel ons aan dat mense die Bybel moet lees – so asof dit opsioneel is. Vandag, vol van al sy aktiwiteite, het ons hierdie dringendheid nog meer nodig. Pleit ons by ons kinders om God se woord te lees? Hulle moet besef dat dit nie ‘n keuse is nie, maar ‘n saak van lewe en dood.

 

  1. Ons het harde werk verwaarloos.

Kyk na die aksie frases in hierdie verse:

  • Neem aan wat ek jou sê
  • Maak wat ek jou voorskryf jou eie
  • Hou jou ore oop vir die wysheid
  • Span jou in om te verstaan.
  • Roep insig by
  • Vra na gesonde begrip
  • Soek dit soos jy silwer sou soek
  • Spoor dit op soos ‘n verborge skat.

Aan die een kant moet ons dringend wees, maar aan die ander kant ook toegewyd. Om die Bybel te lees is nie maklik nie. Dis harde werk. Dit kom nie sommer outomaties nie. Dit is ‘n stryd. Daar is baie hindernisse en jy sal moet baklei om dit te laat gebeur. Ons sal moet volhard; ons sal hulp moet kry. Maar alles is die moeite werd.

 

  1. Ons het verbeelding verwaarloos

Ons sien nie meer God se woord as ‘n skat nie. Hierdie verse leer vir ons dat God se woord soos silwer en ‘n verborge skat is. Ons is op soek na ‘n waardevolle artikel. Baie van ons probleme om die Bybel te lees, sal opgelos word as ons weer besef dat ons hier met ‘n skat te doen het. Jy hoef nie iemand te oortuig om toegewyd na ‘n skat te soek nie!

 

Miskien moet ons meer emosie in ons lees van die Bybel sit. Miskien moet ons meer ons verbeelding as ons rasionele denke aanspoor. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Hierdie is emosionele taal; dit stimuleer jou verbeelding.

 

Hoe dikwels verwaarloos ons nie een van hierdie drie aspekte nie. Ons dink aan Bybelstudie in terme van roetine en kennis. Miskien moet ons weer kyk na dringendheid, harde werk en verbeelding.