Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Die gebed van die gelowige

Not even in this world does sin pay its servants good wages. —C.H. Spurgeon

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Die gebed van die gelowige

 Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring (Jakobus 5:15).

As ons siek is, laat ons die ouderlinge kom, bid vir die sieke en salf hom met olie. En tog, soms sterf die pasiënt. Hoekom gebeur dit? Kom ons begin by ‘n kant.

Eerstens: geloof in Christus is noodsaaklik vir alle aspekte van die Christelike geloof. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (Hebreërs 11:6). Geloof is ‘n belangrike element in genesing.

 

Tweedens beklemtoon die Bybel die belang van gebed. Ons sien dat Jesus se dissipels ‘n seun nie gesond kon maak nie. Toe Jesus daar aankom, genees Hy die seun. Die dissipels wou weet waarom hulle nie kon slaag nie. Jesus antwoord:Omdat julle geloof te klein is (Matteus 17:14 – 21). Jakobus sê self: Julle kry nie, omdat julle nie bid nie (Jakobus 4:2). In die gedeelte van ons teks sê Jakobus dat ons gelowig moet bid.

Hier is twee aspekte van belang:

  • Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Korintiërs 5:7); en
  • Bid gedurig (1 Tessalonisense 5:17).

Nou watter toepassing het dit op Jakobus 5:13 – 16? Moet ek die ouderlinge roep om vir ‘n sieke te bid en hom te salf en hy word gesond? Gewaarborg? Nee, ons moet verder kyk.

Eerstens: die rol van die ouderlinge. Hulle is die geestelike herders van die gemeente en moet omsien na die behoeftes van die kudde. Hulle kan iemand in nood tegemoet snel – soos alle ander Christene ook moet doen. Hulle moet die sieke bystaan in sy geestelike en fisiese sake. Hoekom die ouderlinge? Jy wil iemand wat geestelik volwasse is, hê om te bid – iemand wat die Skrif ken. Hulle moet in staat wees om moeilike situasies te kan hanteer.

Tweedens moet hulle die sieke met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. In Bybelse tye is olyfolie gebruik vir genesing. Lees weer die verhaal van die Barmhartige Samaritaan. Maar olie is ook gebruik om mense af te sonder. Konings en priesters is gesalf om te sê  dat hierdie persoon vir God afgesonder is – vir God se doel. As die ouderlinge ‘n sieke gesalf het, sê hulle in werklikheid dat hierdie persoon afgesonder is vir spesiale aandag van God – Hy word aan God opgedra om al sy vertroue in Hom te stel.

Let wel: alles word gedoen in geloof en onder die aanroeping van die Naam van God. Dit het ernstige implikasies:

  • Dit erken dat Jesus Christus die soewereine Here van alles is. En dat sy doel en wil baie swaarder weeg as ons s’n.
  • Ons erken ons kom na Hom in gebed nie gegrond op enige meriete in onsself nie, maar gegrond op Wie Hy is en wat Hy reeds vir ons gedoen het.
  • Dit verheerlik God: Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes14:13).

Ons erken dat die Here soewerein is en dat Hy ons gebede op so ‘n manier sal beantwoord dat dit Hom verheerlik.

In 2 Korintiërs 12 pleit Paulus dat God die doring in sy vlees moet verwyder. God doen dit nie, maar sê dat sy genade en krag genoeg is vir Paulus in hierdie moeilike tyd. Daarom kan ons nooit sê dat iemand se gebede nie verhoor word omdat hy nie genoeg geloof het nie. Dit is baie onsensitief. Soms is dit God se wil om nie fisies te genees nie: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets so vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra (1 Johannes 5:14 – 15).

Interessant: As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Hierdie belofte van genesing mag hier verwys na geestelike herstel en geestelike genesing. Die enigste genesing wat gewaarborg word, is geestelike genesing wat volg op berou en geloof.