Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek luister uit die hemel uit

“We are not cisterns made for hoarding, we are channels made for sharing.” – Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Ek luister uit die hemel uit

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel uit en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14)

As ons die Skrif reg wil interpreteer, moet ons nie net die literêre konteks nie, maar ook die historiese konteks oorweeg. Baie van wat in die Bybel beskryf word, het in antieke bevolkings gebeur. Intussen het taal, leefstyl, regeringstelsels en kultuurwaardes van tyd tot tyd verander.

Die stories in die Bybel het met werklike mense wat eeue gelede in kulture wat drasties van ons s’n verskil geleef het, te doen. Hierdie vers word dikwels gebruik in gebedsbyeenkomste, want dit bevat ‘n dramatiese belofte. Daar is groot geestelike waarhede in hierdie teks – die nodigheid van nederigheid, gebed, berou, vra God se wil. Die vers beloof dat  God luister, vergewe en  genees.

Salomo was die koning en hy  bou ‘n ongelooflike tempel vir God. By die inwyding van die tempel bid hy. Toe hy klaar gebid het, kom daar vuur uit die hemel en verteer die offers – en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. Israeliete kniel – oorweldig deur die gebeure – en aanbid God met sang, offers en feeste wat nog ‘n week duur. Hulle keer met vreugde in hulle harte na hulle huise terug. Jare gaan verby en nou  verskyn die Here privaat aan Salomo. Wat volg is God se reaksie op die openbare gebed van Salomo by die inwyding van die tempel jare vantevore. Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel  (7:12 – 14).

Hierdie reaksie is spesifiek aan Salomo gegee – die koning wat God se mense verteenwoordig en lei. Die plek waarna die Here verwys is die tempel. Hierdie belofte is aan hierdie koning en hierdie mense op hierdie tyd op hierdie plek gegee. Dit is nie ‘n algemene belofte nie. God se Naam is oor geen ander nasie uitgeroep nie; geen volk het ‘n tempel waar die lewende God bly nie.

God aanvaar sy volk gaan sonde doen en Hy gaan hulle straf – droogte, hongersnood, sprinkane peste. Hierdie oordeel sal van korte duur wees as God se mense berou het, bid en omdraai. God doen dan ‘n verbasende ding – nie alleen vergewe Hy hulle sonde nie, maar laat die land herstel.

Ons ruk dikwels hierdie teks uit konteks. Hierdie is ‘n bindende belofte vir ander mense van ‘n ander tyd en ander plek. Die herstel waarna hier verwys word, is die herstel van die fisiese land.

Volgende keer kyk ons na Kolossense 1:15.