Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Gee leiding aan ‘n jongmens

God dwells in eternity, but time dwells in God. He has already lived all our tomorrows as He has lived all our yesterday­s – A. W. Tozer

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Gee leiding aan ‘n jongmens

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 

Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie (Spreuke 22:6).

Niemand het nog ooit gesê dat om ‘n ouer te wees maklik is nie. Dit vereis geduld, nederigheid en opoffering. As ons eers kinders het, besef ons hoe selfgesentreerd ons vantevore was – dit herinner ons dat die lewe nie net oor ons gaan nie. Die Bybel het baie oor ouerskap te sê – veral oor hoe mense hulle kinders se geloof beïnvloed. ‘n Goeie voorbeeld is noodsaaklik – kinders doen wat hulle ouers doen.

Maar ouers moet ook doelbewus vir hulle kinders die Bybel leer: Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deuteronomium 6:7).

Daar is nie so iets soos ‘n volmaakte ouer nie – almal maak foute. Ons moet egter ‘n kultuur van genade in ons huise vestig – gesonde kommunikasie , Bybelse beginsels en geestelike vorming geniet almal aandag.

Spreuke 22:6 is ‘n vers waaraan ouers van ouer kinders vasklou as hulle kinders opstandig word of probleme ondervind. Dit is hartverskeurend om jou kind te sien afdwaal van die pad wat jy hom geleer het, want jy voel daar is niks wat jy nou daaraan kan doen nie. Hoe sou die ouers van die verlore seun gevoel het toe hulle hom sien wegstap het?

Beteken Spreuke 22:6 dat as ‘n kind afdwaal dit net ‘n kwessie van tyd is voor hy na sy ou weë sal terugkeer? Spreuke maak dit baie duidelik dat daar ‘n regte en ‘n verkeerde pad is – die pad van die wyse en die pad van die dwaas. Die “regte pad” vereis harde werk, onderrig en dissipline van die ouer. Dit is harde werk, want die kind se natuurlike neiging is gewoonlik na die verkeerde pad.

Ons moet bewus wees van die persoonlikheid van ons kind en ons benadering daarvolgens aanpas. Dit is nie wat hierdie vers sê nie. Sê die vers dat as die kind  op die regte pad onderrig word dit ‘n waarborg is dat hy altyd daarna sal terugkeer – dat die opstand net tydelik is? Dit is nie ‘n waarborg nie. Meeste spreuke is beginsels en nie beloftes nie. Hulle is insigte en waarnemings, maar nie waarborge nie. die doel van hierdie spreuk is om ouers te vermaan om leiding aan hulle kinders te gee oor die weg van wysheid – oor hoe hy moet leef. Dit is God se pad. Deur waarneming sê hierdie spreuk vir ons dat as die regte leiding gegee word dit gewoonlik positiewe resultate tot gevolg het – veral as die kind ouer word.

Wie ons vandag is, het baie te doen met ons opvoeding – veral in ons vroeë vormingsjare omdat kinders maklik beïnvloedbaar is. Harte en denke word op ‘n vroeë ouderdom gevorm. As ouers dus in die huis ‘n kultuur skep waar gesonde dissipline gehandhaaf word, sal dit waarskynlik lei tot gesonde denke en gedrag soos die kinders ouer word. Hierdie is nie ‘n belofte nie, maar ‘n beginsel wat uit jarelange waarneming voortspruit. Hierdie vers moedig ouers aan om hulle kinders reg te leer. Hierdie vers is nie bedoel om skuldgevoelens by ouers op te wek as hulle kinders afdwaal nie. Hierdie vers mag ook nie ‘n bron van trots wees as die kinders goed doen nie. Dit is bloot ‘n aanmoediging om die regte ding te doen as jy jou kinders grootmaak.

Ouers moenie moed verloor nie; hou aan om die geloof te modelleer – selfs as die kinders al uit die huis is.

Volgende keer kyk ons na Filippense 4:13.`