Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Geld is die wortel van alle kwaad

Whatever and whenever God blesses, Satan curses. What God creates, Satan counterfeits. —Sam Storms

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Geld is die wortel van alle kwaad

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad.  Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal (1 Timoteus 6:10).

Dit is waarskynlik die eerste vers waaraan mense dink as hulle gevra word oor die Bybel se siening van geld – God verag die rykes en geld self is die bron van al die kwaad op aarde. Beide idees is verkeerd.

 

Paulus verwys hier na geldgierigheid – die liefde vir geld. Nêrens lees ons in die Bybel dat om geld te besit, verkeerd is nie. Om ryk te wees, is nie sonde nie. Die Bybel waarsku ons oor die spanning en druk en versoekings wat ons sal ondervind as ons baie geld het. Die Bybel sê dat ons verantwoordelik en vrygewig moet omgaan met ons geld. Julle kan nie vir God en Mammon dien nie (Matteus 6:24). Beide diegene wat baie en diegene wat min het, kan deur ‘n passie vir geld verteer word. Daarteen waarsku Jesus ons – net Jesus moet ons Heerser wees. Die eerste probleem is die liefde vir geld.

Paulus sê hier dat geldgierigheid ‘n wortel van allerlei kwaad is. In die King James Version lees ons egter: For the love of money is the root of all evil. Kyk ons na die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel lees ons: Want liefde vir geld is die wortel van allerhande soorte kwaad. Paulus wil beslis nie hier vir ons sê dat geld die wortel van alle kwaad is nie.

Kom ons gaan een vers terug: Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in die verderf en ondergang gestort word. Hier praat Paulus van die begeerte om ryk te wil wees en die versoeking wat dit tot gevolg kan hê. In vers 10 sê Paulus dat dit mense van die geloof kan laat afdwaal en hulle baie ellende op die hals kan haal.

Ongelukkig het die mensdom in ‘n verwronge selfliefde verval en vir baie is baie geld onontbeerlik om aan hulle begeertes te voldoen – geld is noodsaaklik in hulle najaag van hulle eie eer. Ons moet geldgierigheid veroordeel, want dit het al baie lewens vernietig – net soos oorlog, moord en ander misdade.

Hier is ‘n baie belangrike les vir ons om te leer. Ons moet die Skrif versigtig – in konteks – lees om te verstaan wat die oorspronklike skrywer bedoel het. Net so belangrik is dit om seker te maak dat as iemand die Skrif aanhaal hy dit akkuraat doen. Luister wat sê Paulus aan die jonge Timoteus: Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15).

Volgende keer gaan ons na 1 Korintiërs 10:13 kyk.