Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Inleiding (2)

The truth of the faith can be preserved only by doing a theology of Jesus Christ, and by redoing it over and over again – Karl Rahner

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Inleiding (2)

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Bybelverse word vandag steeds verkeerd aangehaal en gebruik. Wat glo ons? Ons glo dat kennis die grootste deug is en dat onbeperkte menslike vryheid noodsaaklik is. Dit alles kan ons na Genesis terugvoer. Ons weet wat daarna met Adam en Eva gebeur het – hulle oë gaan oop en hulle sien dat hulle kaal is. Hulle kruip vir God weg.

Dit is die hart van sonde: die mens is trots en wil sy eie god wees; ons wil ons eie bestemming bepaal; ons wil van alle beperkings ontslae raak. Die mens begin nou die betroubaarheid van God se woord betwyfel. En al wat nodig is, is om aan die Bybel ‘n nuwe konteks te gee – om sy betekenis so effens te verdraai.

Niks het nog verander nie. In Lukas 4 lees ons van die versoeking van Jesus. Hy staan aan die begin van sy bediening. Hy is pas deur Johannes die Doper gedoop en die Heilige Gees lei Hom die woestyn in waar Hy deur die duiwel versoek en getoets word. Dit alles is ter voorbereiding van Jesus se aardse bediening. Satan versoek Hom eers met kos – Hy het veertig dae lank niks geëet nie. Daarna versoek die duiwel Hom met mag – hy sal al die koninkryke van die wêreld aan Jesus oorgee. Daarna versoek die duiwel Jesus om van die hoogste punt van die tempel af te spring. Die interessante is dat die duiwel hier Psalm 91:11 vir sy eie doeleindes gebruik: Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm. Daarna haal hy ook vers 12 aan: Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. Satan ken die woord van God. Hy haal dit korrek aan. Hier het ons nie met ‘n verkeerde aanhaling te doen nie, maar die verkeerde gebruik van die Bybel. Psalm 91 is ‘n algemene belofte van God om vir sy mense te sorg, maar Satan gebruik dit om God se soewereiniteit te toets – totaal ontoepaslik. Jesus antwoord hom met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6:16: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

In Efesiërs 6 versoek Paulus Christene om die volle wapenrusting wat God gee, aan te trek sodat hulle staande kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Hierdie wapenrusting sluit in die waarheid as gordel … die vryspraak deur God as borsharnas en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete … geloof as skild in die hand … verlossing as helm … die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Almal behalwe die swaard is wapens om jou mee te verdedig.

Korrek gebruik is die woord van God die bron van die gelowige se mag en krag. Maar, verkeerde aanhaling en wangebruik van die Bybel was nog altyd een van Satan se sleutelstrategieë om die gesag van God in die wêreld te ondermyn. Dit is hoe Satan die mensdom op die vernietigingspad gelei het. As ons vandag die Bybel verkeerd gebruik of manipuleer, sit ons die leuens van Satan voort en lei mense op die dwaalspoor. Ons moet die Bybel in sy regte konteks en so akkuraat as moontlik lees en verkondig.

Met hierdie as agtergrond gaan ons nou na ‘n aantal teksverse kyk wat dikwels verkeerd gebruik word. Ons begin by die oordeel van ander.